Maar wat word van al die leë rakke?

  • 1

Die dag se prestasie: stapels woorde.

Foto's en teks: Jean Meiring

Boekeman Stephen Gray se huis word tydelik ’n boekwinkel.

Met drie takke (in Melville, Melrose en Rivonia) is die boekverkoper Bookdealers ’n Johannesburgse instelling. In die afgelope aantal jare bedryf Doron Locketz ook elke dan en wan ’n opwipwinkel in ’n onlangs ontslape boekliefhebber se biblioteek of studeerkamer.

Al is hulle uiteraard onvoorspelbaar – daar’s eers ’n hartseer afsterwe nodig – is hierdie tydelike boekwinkels al iets van ’n instelling onder die Goudstad se bibliofiele. Hulle kom uitgerus en geslyp, met oë wat blink, bymekaar om hul teenstanders met sagte elmboë uit die pad van gesogte boeke te du.

Op 27 Augustus 2021 was dit weer so, toe die ontslape skrywer, kritikus en akademikus Stephen Gray, wat by die eertydse RAU klasgegee het, se hele woonstel by Brenthurst Court 307, op die hoek van Derde Straat en Killarneyweg in Killarney, ’n boekwinkel geword het.

Oor Gray se woonstel is daar al heelwat geskrywe. Dit was wat ’n mens Dickensiaans sou noem: berge boeke wat wankelrig hemelwaarts opgestapel staan. Papiertjies en notas oral.

Gray self, lees ’n mens, was êrens tussen al die boeke op outydse briewe en ’n landlyntelefoon aangewese. E-pos was iets te byderwets vir hom.

’n Stapeltjie in Stephen Gray se voorkamer.

Reeds vroeg die oggend kry ek ’n elektroniese herinnering dat ek my lendene moet begin omgord. Weens die steeds teenwoordige regulasies kan ’n mens nie net aanklop nie. Jy moes vooraf op ’n aanlyn program ’n tydgleuf bespreek het. Gulsig – en met my asem opgehou ... sal die stelsel dit duld? – bespreek ek twee tydgleuwe: 9 én 9:45 vm. Sekerlik sal dit my genoeg ruimte bied om na hartelus te kies en te keur.

By die woonstelblok se voordeur staan ’n wag. Jy gee jou naam, en soos ’n wafferse uitsmyter by ’n dansklub bekyk hy die gastelys deur skreefoë. Ja, knik hy. En gee my aanwysings om die woonstel te bereik.

By die woonstel se deur bied Doron ’n woord van verwelkoming, bly om nóg ’n smulpaap binne te laat. Hy noem die naam van ’n vriend wat ook altyd opdaag. Ek sê ek’s seker hy sal later sy opwagting maak.

’n Boek oor die kleurryke Stellenbosse kunstenaar Neville Lewis, die skilder van die blomme in die teenwoordigheid waarvan die boeke tuis uitgepak is.

Die woonstel, ’n ruim en tipiese Killarney-eenheid, met donker parketvloere, is betreklik leeg. Byna al die meubels is al uitgeruim. Wat oorbly, is klein en beskeie rakke uit dennehout. Teen byna elke stuk oop muur staan hulle, kophoogte, soos soldate aangetree. In gelid staan hulle teen elke muur in die ruim voorkamer, waar ’n mens uit die buitegang die Gray-woonplek binneval. Ook in die smal binnegang. En in twee agterkamers.

Die boeke is netjies volgens tema en taal georden. In die voorkamer is daar ’n tafel waarop etlike kopieë van sekere van Gray se eie titels staangemaak is. Hy het romans en kortverhaalbundels die lig laat sien. Ook toneelstukke en sewe bundels poësie. Dan was hy natuurlik ook die samesteller van talle versamelbundels verhale en gedigte.

Op my hopie kom die Gray-romans Time of our darkness (1988) en Born of man (1989) gou, en die versbundel Apollo Café and other poems (1989). Ook C Louis Leipoldt se Engelse roman Stormwrack, wat in die Anglo-Boereoorlog afspeel, en wat in 1980 onder Gray se redakteurshand uitgegee is.

Ek stapel boeke uit die pen van die Brits-Suid-Afrikaanse digter en romanskrywer William Plomer in my arms en dra hulle die gang uit na my groeiende toring boeke in die voorkamer. (Wat Doron versigtig teen die aanslae van medestryders beskerm.)

Dan sien ek rye en rye Fernando Pessoa. Gray was Portugees magtig en had ’n intense belangstelling in die grootste digter uit Portugal ná Camões, wat ’n dekade of wat van sy grootwordjare in Durban deurgebring het, maar in sy digkuns, vreemd, nooit ’n enkele woord oor Suid-Afrika gerep het nie.

Daar is verbasend min Afrikaanse boeke op die rakke.

Ek buit ook boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oor postkoloniale letterkundes en oor die plastiese kuns en die argitektuur.

En in die agterkamer is ’n tafel met etlike uitgawes van Izwi, die tweetalige little magazine waarby Gray, saam met onder meer Phil du Plessis, Wessel Pretorius, Wilma Stockenström, Sheila Roberts en Peter Wilhelm, in die jare sewentig betrokke was.

Om deur hulle te blaai is om wonderbaarlik af te kom op ingebinde kunswerke – oorspronklike drukwerk – deur onder meer Casper Schmidt, Walter Battiss en Wopko Jensma. (Sien vir meer oor Izwi en ander randpublikasies die uitmuntende https://colophon.co.za/portfolio/izwi.)

Wanneer ek later tuis talmend en liefkosend my drie dose boeke soos lekkergoed uitpak, luier ek tussendeur op die internet om agter die kap van die byl van van die vir my minder bekende tekste te kom en om meet te lees oor aspekte van Gray se eie skrywerslewe.

Al die dag se verlekkering in die rykheid van Gray se boekery ten spyt, is dit soos ’n skoot yswater oor my wanneer ek sien dat Gray, wat in Oktober 2020 oorlede is, se private dokumenteversameling na die Harry Ransom-sentrum by die Universiteit van Texas is. Om by onder andere JM Coetzee se dokumente aan te sluit.

Die beeld van ’n leë Killarney-woonstel met dennehoutrakkies sonder boeke spook nou nog by my.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het die artikel met groot belangstelling gelees, veral aangesien ek onlangs Leipoldt se 'Chameleon on the Gallows', edited by Stephen Gray en prequel to 'Stormwrack', by 'n boekstalletjie by 'n plaaslike mark gekoop het.
    Ek voel ook hartseer dat Stephen Gray se geskrifte land uit moes gaan om bewaar te word. Dis moontlik die enigste manier om dit te bewaar, gegewe die minagting deur studente aan sekere van ons universiteite.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top