“Maar Pa het geweet” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die geluid van die stoele wat skuur op die teëlvloer van die skoolsaal elke keer as ’n kind opstaan of kom sit, laat my dink aan die geluid van die windpomp op die plaas as die rem nie heeltemal losgemaak was nie.
Dit het Pa geïrriteer.
“Wie het nou weer halwe werk gedoen,” sou hy dan ergerlik vra en self opklim om die rem behoorlik los te gaan maak.
Hoekom dink ek aan die halfgeremde windpomp? En aan oorlede Pa?
Oor die man wat by die beoordelaarstafel sit? Die een met die silwer spikkels in sy netjiese bokbaardjie. Die bokbaardjie wat lyk nes Pa se bokbaardjie gelyk het.
Hy is ’n afgetrede professor. Ek weet. Oor ek gaan google het. Ek het sy van op die kunstefeeskennisgewing gelees. Daar is nie baie mense in die musiekgemeenskap in Suid-Afrika met daardie van nie.
My eerste gedagte was om my leerlinge summier te onttrek. Toe dink ek weer. Almal het kant en klaar eenderse T-hemde en oranje tekkies en oranje-en-pers sokkies gekry. Almal het mooi geoefen. Almal kan wel nie ewe mooi speel nie. Maar almal het geoefen. Sou dit regverdig wees teenoor die kinders om hulle nou te onttrek net omdat ek te bang is om die verlede in die oë te kyk?
Nou sit ek hier. Ek wonder. Kruip ek weg? Of wil ek gesien wees? Sal hy my herken? Wil hy? Onthou hy?
Ek onthou ’n seuntjie wat met groot bruin oë in vervoering na my verjaardagkoek staan en kyk. Ek onthou die vrou wat die seuntjie kom weghaal het en iets baie ernstig vir hom gesê het. In ’n vreemde taal. Ek was drie. Jare later sou ek uitvind die seuntjie het ’n week tevore drie geword.
Maar die antwoord op my vraag oor onthou of nie onthou nie, kry ek eers aan die einde van die week by die pryswennerskonsert. Langs die tafel met eetgoed tydens teepouse. Ek staan en kyk na die goudbruin koeksisters en my mond water asof ek nie tweedefasediabeties is nie.
Ek herken sy stem sonder dat ek nodig het om te kyk.
“Hoeveel keer was ons twee in die moeilikheid oor ons koeksisters gesteel het?”
“Ma Lenie se koeksisters,” sê ek en kyk op. Is dit heimwee wat ek in sy oë sien?
“Ma Lenie se varsgebakte koeksisters,” bevestig hy.
Ek behoort weg te kyk. Ek wil nie.
“Nonnôki …”
My byna vergete noemnaam is ’n vraag in sy mooi mond.
“Dat ons nou na al die jare mekaar hier kom raakloop.”
Raak ’n mens ooit te oud vir seks? wonder ek onsinnig en voel ’n giggel wat ek genadiglik in my keel vasvang. Hy praat ongestoord voort.
“Die klompie wat so mooi kleurvol aangetrek is, is hulle joune?”
“Jip, hulle is myne.”
“Dit lyk of jy baie moeite met hulle doen.”
“Wel, ek het niks anders om te doen nie.”
Terstond wonder ek vir wat ek dít gesê het. Sy kop kantel ’n aks. Is dit deernis in sy oë? Of sommer net bejammering? Ek wag nie om uit te vind nie. Maak my uit die voete. Vir bejammering het ek nie krag nie. Ek sal nie weet wat om daarmee te maak nie.
Na die kunstefees is dit skoolvakansie. Ek is ledig. En ledigheid is ou Niek se oorkussing, so het pa my geleer. Ek loop kaalvoet in die tuin en sê vir myself dis oor ek na die plaas verlang. Maar ek lieg. Daar is niks op die plaas om na te verlang nie. Die waarheid is, ek verlang na iets wat nooit daar was nie.
Om die tyd te verwyl, bel ek my broer.
“Is jy siek?” vra hy terstond.
“Hoekom vra jy dit?”
“Jy bel my nooit. As ek jou nie bel nie, sal ek nooit iets van jou hoor nie.”
Hy is reg. Ek weet. Ek wil nie skuldig voel nie. Ek blaker uit sonder dat ek dit beplan het: “Ek het vir John raakgeloop.”
Hy is ’n oomblik stil. Vra dan versigtig: “En?”
“En niks,” sê ek so ongeërg as moontlik. As ek nie kort duskant sestig was nie, sou ek sweer dat ek staan en bloos.
Die gesprek met my “in die kas” gay broer wat weier om oorlede Pa se spogplaas te gaan oorneem, is meer ontstellend as die duiwel se oorkussing. Ek gaan sit by die rekenaar. Ek sal Candy Crush speel om myself van my eie gedagtes te red.
Ek sien daar is ’n nuwe e-pos. Wanneer ek dit oopmaak, weet ek dat wat ek ook al so graag in sy oë wou lees, was bloot onthou se kullery. Sy e-pos is ordentlik onpersoonlik:
Mejuffrou Le Roux
Ek hoop nie jy gee om nie. Ek het jou e-pos-adres by die organiseerder van die kunstefees gekry.
Kan ons gaan koffie drink? Enige dag dié week. Enige tyd. Enige plek wat vir jou werk. Ek is mos ’n pensioenaris. My tyd is my eie.
Al wat enigsins persoonlik lyk, is die afsluiting:
Mooi dag, Nonnôki.
Groete.
John
Ek speel Candy Crush tot ek al my lewens opgebruik het en die bewerasie in my binneste effens bedaar het. Eers dan antwoord ek terug. Verander die boodskap ’n paar keer. My doel is om so onpersoonlik soos hy te klink. Maar elke keer as ek dit oorlees, voel dit vir my of elke woord stampvol emosie is. Uiteindelik besluit ek, soos Pa sou sê, wat de hel, en ek send.
Ek gaan lê met klere en al op die bed. Voel vir die eerste keer die week hoe slaap na my toe aankom. Wie was die stommerik wat gedink het net tieners raak verspot.
Hy wag al by ’n tafel in die koffiewinkel in die sentrum naby my meenthuis. As hy my sien inkom, staan hy op en kom my tegemoet.
“Waar sal ons sit?” vra hy en ek beduie met my kop na die tafel waar hy pas opgestaan het. “Lyk vir my goed.”
Hy wag totdat ek sit voordat hy weer gaan sit, en vra dan: “Hoe gaan dit met jou?”
Ek wil dadelik sê dat dit goed gaan, maar die kyk in sy oë laat my dink dis nie ’n sommer-net vraag nie. Nou huiwer ek. Na soveel jare. Kan mens net aangaan waar jy opgehou het? Waar hét ons opgehou? Die dag toe hy kom sê het: “Jou pa weet.”
Ons was toe negentien. Ek was op die PUK. Hy by Wits. Dit was vakansie. Die volgende dag was hy weg. Ek het sy ma gaan vra.
“Hy gaan sy oom help by die garage. Om ‘n bietjie sakgeld te verdien vir universiteit.”
“Hy het altyd hier gewerk vir sakgeld,” het ek gestry.
“Sy oom betaal beter.”
Hy het nooit weer teruggekom nie.
Ek voel die voosheid in my binnekant. Glimlag nietemin. Praat bo-oor alles.
“Dit gaan goed met my. Eergister met Pierre gepraat. Hy was verras om te hoor ek het jou raakgeloop.”
“Waar is Pierre en wat op aarde doen hy?”
“Pierre bly in Gauteng. Hy ontwerp webwerwe.”
“Hy is nie op die plaas nie?”
“Nee, boerdery is nie vir my broer nie.”
“En die plaas?”
“Thys du Toit huur. Ek weet nie of jy hom onthou nie. Hy was saam met Pierre in die skool.”
“Ek onthou, die bure bo teen die rant se seun.”
“Einste.”
“Pierre nooit getroud nie?”
“Hoe het jy geraai?”
“Ons was seuns, saam op die plaas. Ek sou nog ’n paar goedjies oor Pierre kon raai as ek dapper was.”
“Ek dink jy sou reg geraai het. Ek verstaan nie hoekom hy dink niemand weet nie.”
“Het ons nie maar almal iets wat ons nie hardop wil sê nie?”
Ek wil nie daaroor praat nie. Vat ’n paar slukke koffie om my gedagtes kans te gee om te bedaar. Maar helaas, kans vir bedaar is daar nie, want John vra: “Jy is ook nooit getroud nie. Ek wed dis nie om dieselfde rede as jou broer nie.”
“Ek kon nooit eers ’n boyfriend nadersleep nie – waar sou ek tog aan ’n man kon kom?”
Dit was ’n dom ding om te sê, besef ek. Hy lag gemaklik en vra: “Wat sou die rede daarvoor wees, Nonnôki?”
Nou is ek sommer lus vir baklei.
“Dalk oor ek lelik was en nooit geweet het wanneer om my mond te hou en wanneer om te praat nie. En oor my pa die enigste Sap in die dorp van Nattes was. Die gemeenskap het hom gehaat daaroor. En toe sommer vir my en Pierre op die koop toe.”
Hy vra amper versigtig: “Weet jy wat hulle jou pa genoem het?”
Ek knik bevestigend.
“Daai woord kan ’n mens vandag in die hof laat beland.”
“Ek weet, ek weet.”
Ek lag.
“Ek wou wonder hoe ek en Pierre so normaal anderkant uitgekom het. Maar helaas, nie ek of Pierre kan onsself uitgee vir normaal nie.”
Nou lag hy heerlik en sê dan: “Wel, ek het ’n ander storie oor jou gehoor. Iets van te slim en te upstairs om met die plebs te assosieer.”
“Jy maak dit op.”
“Nee. Glad nie.”
“Jy sal my nooit oortuig dat dit die waarheid is nie. Dus kan ons netsowel oor iets anders gesels.”
Ons gesels oor iets anders. Drink drie koppies koffie.
Toe ons uiteindelik huis toe gaan, loop ons saam buitentoe. Ek sien hy ry ’n bakkie.
“‘n Bakkie vir ’n musiekprofessor?” vra ek. “Nie ’n Merc of ’n Audi of iets nie?”
Hy staan ’n oomblik doodstil asof hy wonder wat om te antwoord.
“Het jou pa ooit ’n Merc of ’n Audi of ’n ding gery?”
“Nee, maar wat het dit met jou en jou bakkie te doen?”
“Jy weet nie?”
Wat is ek veronderstel om te weet? wonder ek. Hy beantwoord my onuitgesproke vraag. “Jou pa was my doelwit. As ek net soos hy kon wees. Ek wou selfs landboukollege toe, maar my ma het haar voet neergesit. Sy betaal nie vir ’n kind om te loop leer hoe om te boer nie. Die enigste ander ding wat ek wou doen, was musiek maak.”
Ek staan nog en dink wat om met dié inligting te maak toe hy sê: “Maar ek het darem ’n plaas gekoop. Nie baie groot nie. Maar dis ’n plaas. Daar is ’n paar koeie en so tien hoenders. As jy wil, kan jy Sondag op die plaas kom eet. Dan sien jy my plaas en ontmoet my kinders.”
“En jou vrou …”
“My vrou is oorlede.”
Dis ’n oomblik stil. Natuurlik het ek dit geweet. Google weet allerhande goed. En Google gee nie om om inligting te deel nie,
“Ek sal die pin vir jou stuur sodat jy dit maklik kry. Maar jy moet nie te vroeg kom nie. Want ek gaan eers kerk toe. Ek is ouderling in die NG Kerk. Nes jou pa.”
Sondagoggend neem die pin en die GPS my na ’n skilderagtige plaas genestel tussen koppies. Die huis is wit geverf. Daar is ’n uitnodigende stoep. En ’n windpomp. Ek ry verby ’n gronddam met ’n paar ganse wat lyk of hulle uit ’n Grimm-sprokie kom. Daar is mense op die stoep, sien ek as ek onder ’n groot peperboom stilhou.
Daar is ’n oor en weer voorstellery en groetery. Ek kry nouliks kans om ongemaklik te voel. Dis ’n gemoedelike groepie mense, en die ete verloop so normaal dat ek verbaas is. Is ek die enigste een hier wat wonder?
Sy kinders kuier nie lank nie en oplaas is ons twee alleen op die stoep.
“Dan moet ek seker ook nou huis kry,” sê ek.
“Nee,” sê hy en sleep ’n stoel nader.
“Kom sit. Ek het Maria in die kombuis gevra om vir ons koffie te bring.”
Ietwat onwennig gaan ek sit. Bekyk die windpomp wat lui draai in die effense bries.
“Hoeveel keer het jy en Pierre deurgeloop oor die windpomp se rem ?”
Hy lag gemaklik. “O, meer kere as wat ek kan onthou. Maar dink jy ons twee het geleer?”
“Hoekom was jy nie by my pa se begrafnis nie?” vra ek.
“Ek was daar.”
“Ek jou nie gesien nie? Hoekom het jy nie kom groet nie?”
“Uit respek vir my ma.”
Hy skuif vorentoe op sy stoel, laat sy kop in sy hande rus voordat hy verder praat.
“Daardie vakansie toe jou pa uitgevind het, het ek ’n belofte aan my ma gemaak. Dat ek nooit weer my voete op die plaas sal sit nie.”
“Maar Ma Lelie is lank voor my pa dood. Sy was nie meer daar nie.”
“Ek weet. Ek het nietemin gevoel ek kan haar nie teleurstel nie. Sy het my laat sweer.”
Vir ’n oomblik wil ek nie verder hieroor praat nie. Ek wou nog nooit nie. Hoekom nou. Dan dink ek nee, ek is te oud vir bog. Laat ons dan nou maar die feite op die tafel kry. Dan hoef ek nie te wag tot anderkant die spieël en die raaisel nie. Daarom vra ek: “Ek weet nou nog nie, hoekom het jy daardie dag gesê my pa weet?”
“Hy het geweet. Hy het my gesê hy weet.”
“My pa het geweet?” En skielik verstaan ek die gesprek met Pa op sy sterfbed.
“Jou broer het nie vir my kleinkinders gegee nie. Hy gaan ook nooit. En hy gaan nooit ooit kom boer nie.”
Pa was nie meer sterk nie, maar hy het gepraat soos ’n man wat weet wat hy sê.
“Jy het nooit getrou nie. En jy gaan ook nie. Dis jammer hy is getroud. Anders kon jy hom gaan soek het en plaas toe gebring het.”
Ek het gedink Pa begin nou die kluts kwyt raak.
“Wie, Pa?”
Pa het my hand in syne gevat. In my oë gekyk en gesê: “Jy weet. Jy weet goed. Dalk kom daar ’n dag in hierdie land dat jy hom kan liefhê soos dit hoort.”
Ek verbreek die Sondagmiddagstilte op die koel stoep. “Is daar ’n verskil tussen liefde en seks?”
“Jy het my al gevra. Toe ons sestien was,” sê hy sag, en ek kan sien hy weet dis nie wat ek vra nie.
Ek kyk in professor John Mohlala se oë en sien die antwoord waarop ek al so baie jare wag.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
Kommentaar
Elna Jordaan lewer uitstekende voorbeelde van hoe om inhoude te verhul en te openbaar sodat die leser deurgaans betrokke en geboeid bly en die einde volkome oortuigend vind. Hoop dat sy al 'n bundel gereed het vir publikasie.