Maa hoe stiek mens die rienboeg weg?

  • 0

Foto van Olivia M Coetzee: Jeremeo Le Cordeur

Ek’t altyd gewonne hoekô was dit norag vi my om uit die kas uit te klim.

Ek kan onthou as kind was ek gesê ek moet ’n boyfriend het, ’n langarmdans-partner het, ek moet ’n man het wat my kan stuur, al wou ek net op my eie dans, op my eie langarm, op my eie keuses maak, al wou ek ’n vrou vat en vi haa stuur. Maa daai was nie deel van hoe my storie moes wies nie. Die wit troue en drie kinnes, and all that. Toe ek deur puberty begin gan het, het ek “snaakse” gevoelens begin kry vi anne meisies. Gevoelens wat my tjommies vi boys gehad het. Maa ek het myself begin sien as die een wat meisies op velief geraak het, die een wat an die hoof van die tafel gat sit, die “young man” wat al die jong meisies mal oo is. Maa dit was maa net fantasies in my kop, en ek het altyd al daai gevoelens proebee weg druk, wan ek kon dit nie beskryf nie. ’n Mens moet mos iets ees ’n woord gie voo djy dit kan invat, en rêrig sense maak daavan voo dit kan meaning het, al is dit nie altyd norag nie.

Die dag toe ek gelabel was as ’n “lesbian”, het die natuurlike gevoelens wat ek gehad het, ’n naam gekry, en met daai naam-kry het dit my oek gehelp vertaal hoe ek my liewe moes liewe, maa dit het oek my lat voel soes dit wat ek voel nie natuurlik is nie. Want daa was ’n stigma op die woord “lesbian”. Dit was/is ’n veil woord wat my buite die “normale” boks gesit het. Ek was 13, en som dinge het beginte sense maak vi my, maa volgens daai woord “lesbian” het anner my gesien as siek, en soe moes ek oek myself sien as siek, of soes daa iets vekeed is met my. Maa ek het met my kop hoeg gestap, nevermind wat mense dink en sê van my tomboyskap.

Toe ek 19 jaa oud was, het ek gekuier by ’n vriendin van my. Hulle het op ’n appelplaas gebly. Ôs was jonk en dom, en het in die ronte gehaloep op soek na die grootmenswêreld met lang biere en los entjies, waa ôs soes diewe kon sit en drink in huise met gebriekte mure waa dit nie jou ouderdom was wat praat nie, maa die rand in jou hand wat jou stem dik gemaak het. Na ek en my vriendin daai een bier klaa gedrink het, en die twie losse Craven A-entjies klaa geroek het, het ôs half dronk die pad tussen lang boeme opgestap trug na hulle huis toe.

Ek sê toe: “Jacky, ek is lesbian!”

Ek het daai woord gebruik because dis ’n woord wat op my gebruik was, al kon ek nie heeltemal sense maak van dit nie. My lippe het nog gewoond geraak an daai uitheemse ritme. Jacky se reaksie was wat ek vewag het. Sy het ees gevoel-voel na die betekenis van daai woord in haa kop, voo sy my gevra het: “Is dit ommat djy moederlike liefde soek?”

En daai het my geruk, my lat wonne of dit rêrig is waantoe dit verwys. Sy vetel my van die sielkundige wat sy op TV gesien het wat gepraat het van lesbians, en hoe hulle hulle maens soek in anne vroue in. Ek kan onthou ek het stil geraak soes ek in my kop geklim het, en soes ek wonne maa is dit rêrig wat dit was: “Is daai rêrig my siekte, dat ek soek moederlike liefde?” Maa volgens my was ek die kind wat die mieste moederlike liefde gekry het. Ek dink al drie my susters sal stem, al het ôs almal, volgens my, dieselle liefde van Margie af gekry.

Ek sê toe vi haa maa ek wietie of dit soe issie.

Sy sê toe: “Maa dis oukei. Djy is wie djy is. Ek anvaar jou.”

Toe sy daai woorde sê, toe sy my lat wiet dat dit oukei is, dat sy my anvaar, toe kon ek myself begin anvaar.

Maa daai anvaring soek van buite af het ’n kruk geraak. Die ding is, ek het vi anvaring gesoek van iemand annes af, maa ek het gestruggle om dit van myself af te kry. Ek het die waarde van myself gebase op wie my seksualiteit anvaar en wie nie.

En hoe liewe mens met ’n kruk soes daai?

As grootmens het ek altyd gewonne maa hoekô moes ek uit die rienboegkas uitklim wanne dit baie clear was vi anne mense watte kleur my liefde is. En ek het kô realise dat dit wassie vi anne mense nie, maa vi myself. Ek moes vriede kon maak dat ek ’n vehouding met ’n vrou wou hê en nie met ’n man nie. Ek moes vriede maak met die feit dat my liefde ’n rienboeg is. Al het ek altyd gewonne maa hoekô is mense dan soe negatief towards LGBTIQ-mense – wat maakit saak wat ek in my slaapkamer doen, because dis tog al wat dit na verwys, seksuele oriëntasie.

Rienboegliefde was in Afrika en oek in die res van die wêrelde voo kolonisasie en indringers uit die Weste hulle kultuur op amal kô forseer het. Die kleur van liefde was nie ’n issue gewies vi mense nie. Die geskiedenis van homoseksualiteit en hoe dit ’n issue geraak het, is ’n diep een, en mens moet maa net wil vêder navors dan wat die Bybel ôs vetel oo homoseksualiteit, en wat die pastore en die kultureel vasgehokte presidente van nog te veel lande in Afrika en in die wêreld ôs vetel oo wat die “regte” kleur van liefde is.

Haat baat niemand nie.

Ek wens tog weer vir ’n tyd waa mense kan mekaa lief hê sonne die haat wat oo mense se koppe hang. As ek dit alles moet oodoen, dan sal ek myself net anvaar soes ek is. Want ek is geskape deur Got en ek is gemaak soes ek is, en ek is dankbaar daavoo. En ek sal anhou liewe, en onthou dat ek is meedere dan net my seksualiteit, maa om my seksualiteit nog steeds deel te maak van my daaglikse politiek, wan al soek ek daai Utopia waa alles net lekke is, wôd ôs nog daagliks doodgemaak en tien gediskrimineer, wan ôs liefde kô uit die rienboeg uit, en daai is die realiteit dat ôs liewe in ’n straight wit man se wêreld, en hy maak die reëls en regulasies.

Maa kyk hie, hoe stiek ’n mens die rienboeg weg?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top