Ma, waar is Ma nou?

  • 0

Foto: Canva.com

’n Ma is nie iemand wat sommerso wegraak nie. Altans, nie sover ek weet nie. Ons het maar meestal geweet waar ons ma is, en haar gou gekry as ons moes. En nog gouer as ons nie moes nie.

Na Ma se begrafnis het ons geweet waar sy nou rus. Die kopsteen was op, die grasperkie geplant en alles was in orde. Sy, Pa en Ouboet is baie ver van mekaar af ter ruste gelê – maar hulle kon darem op ’n afstand oor die kinders en hulle eie vrot beplanning murmureer.

Wie dit eerste opgemerk het, Lydia, Sandra of ek, weet ek nou nie meer nie. Maar, dit was baie duidelik dat die grafnommers nie oreenstem nie. ’n Jaar of wat na die begrafnis bel Lydia een aand en sê dat Sandra se foto’s wat sy geneem het, nadat sy blomme opgesit het, ’n ander nommer wys as die een wat sy het en wat Pa gegee het. Siende dat hy kort na haar oorlede is, kan ons hom nie juis vra nie. Ek weet die nommers verskil, maar het ook nie gedink daar is veel wat ons aan die sakie kan doen nie.

So verdiep die raaisel. Foto’s word van alle kante ge-SMS, ge-email en bekyk, en nou blyk daar drie verskillende nommers te wees. Nommers 3851, 3852 en selfs eenmaal 3857. Die snaakse gevoel as jy by die graf sit en dit voel nie of Ma daar is nie. Sy het nogal ’n sterk teenwoordigheid gehad, jy het van haar geweet. 

Ons almal gaan sporadies begraafplaas toe om blomme op te sit en stuur dan gedienstig ’n foto aan een van die ander, wat dit weer aan een van die ander kinders sirkuleer. Avbob het al lankal die steen met nommer 3852 opgesit, maar intuïtief voel ons aan daar is fout – groot fout. Maar, behoorlike bewyse ontbreek.

Die vraag is: Wat staan ’n mens nou te doen? Ek begin deur die begraafplaas se kantoortjie te bel. Is hulle seker dat Ma in grafnommer 3852 lê? Pa het dit eers as 3852 opgeteken en toe na 3851 verander. Hy sou tog nie so ’n fout gemaak het nie?

Die verskimmelde karakter in die begraafplaaskantoor se nekhare rys opsigtelik oor die dom vraag en hy is adamant. Dit is beslis reg, hulle maak nie sulke foute nie. As die register sê dít is die nommer, dan is dít die nommer en so is dit dan.

Okay dan, kom ons probeer Avbob. Is hulle seker Ma is in 3852 begrawe? Drie dae later kom die antwoord: Uhm, nee. Hulle rekords dui dit nie aan nie, so hulle is nie 100% seker nie.

Ons familie is maar effe skepties oor hulle vermoëns, want toe Pa en Lydia vir Ma by Avbob moes gaan uitken en hulle die kis se deksel oplig, moes Pa mooi kyk want hy was seker dat sy oë nie reg sien nie. Nee, sê Lydia toe sy ook kyk, Ma lyk dan skielik so jonk en nou baie kleiner as wat sy was. Almal besigtig van nader. O sorry, sê Avbob se mannetjie, verkeerde kis. Die dogtertjie in die kis word vinnig toegemaak en in ’n japtrap word ’n ander kis gepresenteer. Gelukkig dié keer die regte een en jip, daar is Ma.

In alle geval, so kontak ek toe die Ekhurhuleni-munisipaliteit, wat my na die Parkeraad verwys. Niemand blyk te verstaan wat my probleem is nie, dit is net te ondenkbaar. Ek staan vas, is hulle seker wat die nommer en ligging is? Ek heg sommer ’n klomp foto’s aan wat ons onsekerheid verduidelik.

Genadiglik kom ek, na ’n magdom oproepe, by ’n uiters behulpsame en bekwame dame uit wat baie moeite doen en die graf besoek, gewapen met ons foto’s en ander offisiële dokumente. Dae later bel sy terug. Nee, sê sy, sy was self daar met alles en sy kan ook nie kop of stert uitmaak wat daar aangaan nie. Kan ek haar nie in Vanderbijlpark-begraafplaas ontmoet nie? Nouja, van Mafikeng af is dit ’n stywe trippie, maar ek doen dit toe en daar kan nie ek óf sy uitmaak wat aangaan nie. Die grafnommers is deurmekaar en daar lê selfs ’n naambord van ’n onlangse intrekker in die lang gras. The plot thickens, so to speak.

Ek is nou heeltemal oortuig Ma lê nie waar die grafsteen sê sy lê nie. Ma is weg en niemand weet met sekerheid waar sy is nie. 

Ek word dan ook ingelig dat, as die graf oopgemaak word en ek is verkeerd, die kostes R20 000 beloop – vir mý rekening. Skriftelike toestemming word vanaf die familie vereis, en ek stuur briewe vir al die formaliteite namens die familie. Ousus Monica word op hoogte gehou, Lydia van tyd tot tyd en teenoor die res van die familie swyg ons soos die dood.

Om almal vir so ’n aksie daar te kry, is nie ’n grap nie. Dit verg ’n mengelmoes van beamptes van die SAPD, Parkeraad, Gesondheidsdepartement, begraafplaas-personeel, familie, ensovoorts, ensovoorts. ’n Hele kontingent van mense. Uiteindelik is almal vir Maandagoggend half-sewe gereël. Ekhurhuleni sal oopmaak, sodat finaliteit verkry kan word en ek van hulle nekke kan afklim. Ek bid hartlik dat ek reg is en nie ’n klein fortuintjie vir my fout hoef op te dok nie.  

Drieuur die Maandagoggend vertrek ek uit Mafikeng en is net na ses daar. Dit is ’n grou oggend en die mis loop straaltjies teen die grafstene af. Gewis nie ’n oggend vir die onplesierige ritueel nie. Teen half-sewe is die res van die afgevaardigdes daar, niemand juis verheug om daardie tyd van die oggend grafte te moet oopmaak nie. Die grafgrawers begin so ’n halwe meter links van die graf en werk stelselmatig hulle pad ondertoe oop. En so tref hulle die kis.

Nadat almal vort is en ek Ma se naamplaatjie op die kis kon eien, het Avbob verleë om verskoning gevra en onderneem om die kopsteen op die regte plek te plaas. 

Ons familie is bekend daarvoor dat ons sleg kan verdwaal. Gelukkig was Ma darem nie ver weg nie en ten minste het ons haar gekry, al was dit drie jaar later karplaks in die middel van die paadjie tussen twee grafte.

Ek is seker sy lag daar van Bowe af vir ons spulletjie wat nie eens kan sorg dat dié wat na die hiernamaals verhuis, se stoflike oorskot behoorlik rigting hou nie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top