
ma se kinners
ma dwing ons op die riempiesbank
onder ons swart dorpsentralefoon
om arm-om-die-nek askies te sê
honde byt mekaar, nie kinners nie raas ma
arm kinners pluk ook nie al die groen nartjies
van die bome af nie
en net helsemskinners vloek so lelik
so as dit weer gebeur was ek jou mond
met sunlightseep
fokkit sug ma julle kinners maak my op
ek's sommer lus en neuk die hele lot
nog ’n ding
jy mag eers vloek as jy groot en donnnerswil
moeg is
en ja ma is lief vir jou


Kommentaar
So eerlik, Susanne
Ek is mal oor humor in gedigte. En hierdie een illustreer die teenstrydigheid in haar "lessie" wat sy haar eie kinders wil keer.