Lusitania-ramp (en so ietsie oor genl Hertzog)

  • 0
Foto voorsien

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die keldering van die Britse passasierskip Lusitania deur 'n Duitse duikboot in Mei 1915 het 'n indirekte maar tog interessante nasleep in ons lasterreg gehad.

Dit was in die middel van die Eerste Wêreldoorlog en die waterdood van byna 1 200 van dié luukse skip se passasiers het wêreldwyd verontwaardiging uitgelok. Toe die nuus in Suid-Afrika bekend geword het, het anti-Duitse onluste daardie aand in onder meer Bloemfontein uitgebreek.

Die Bloemfonteinse koerant The Friend het die volgende dag onder die volgende banieropskrif oor die onluste berig:

Bloemfontein Riots. German business places
attacked. Fichardts and Dalldorfs the chief
sufferers.

Nou, soos elke Bloemfonteiner weet, is die Fichardts 'n baie bekende sakefamilie in die Rosestad. Maar hulle is nie Duitsers nie, en in dié opsig was The Friend se berig dus vals.

Die maatskappy GA Fichardt Bpk het vervolgens 'n aksie om skadevergoeding teen die koerant ingestel, op grond daarvan dat die banieropskrif die indruk gewek het dat GA Fichardt 'n Duitse maatskappy was. Die gevolg, so is geargumenteer, was dat die maatskappy in onguns by sy klante verval het, en dat sy sake daardeur skade gely het. Die eisbedrag was 20 000 pond – destyds 'n aardige som.

Die saak het uiteindelik in die appèlhof gaan draai, en op 13 Januarie 1916 is GA Fichardt se eis met koste van die hand gewys.1 Die hof het, by monde van onder meer hoofregter Innes en appèlregter Solomon, beslis dat die gewraakte woorde in The Friend se banieropskrif per ongeluk en sonder die bedoeling om te krenk geplaas is.

As jy met 'n lasteraksie teen iemand wil slaag, sal jy onder meer moet bewys dat die gewraakte woorde gepubliseer is met die opset om jou goeie naam, reputasie of aansien in die gemeenskap aan te tas. Regsgeleerdes praat van dié vorm van opset as die animus iniurandi – die opset om te krenk. En dit is dié skuldvorm wat nie deur die eiser bewys kon word nie.

Ek het reeds verwys na twee interessante persoonlikhede wie se name aan die Fichardt-saak gekoppel word, naamlik dié van hoofregter Innes en appèlregter Solomon – later self hoofregter van die destydse Unie van Suid-Afrika. Maar daar was ook 'n derde bekende rolspeler. Ek lees in die hofverslag dat Fichardts se advokaat in die appèlhof ene JBM Hertzog was – geen twyfel nie die latere eerste minister. Dat generaal Hertzog self ‘n juris van formaat was, blyk onder meer uit die feit dat hy op jeugdige ouderdom 'n doktorsgraad in die regte in Nederland verwerf het. Daarna het hy vir 'n kort rukkie as advokaat gepraktiseer voordat hy in 1895 op 29-jarige leeftyd regter in die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat geword het.2 Na Uniewording in 1910 het hy die aktiewe politiek betree, maar klaarblyklik ook nog in daardie jare as advokaat gepraktiseer, soos uit hierdie saak – wat in 1915 verhoor is – blyk. Trouens, ek het onlangs in besit gekom van ‘n Nederlandse handboek oor die strafreg wat aan Hertzog behoort het – altans, ek glo van harte dit is sy handtekening van 1917 voor in die boek (die foto verskyn hierbo).

1 GA Fichardt Ltd v The Friend Newspapers Ltd 1916 AD, bl 1.

2 Vgl in die algemeen: CM van den Heever: Generaal JBM Hertzog, 1943.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top