Luna Paige gesels oor liedjieskryf

  • 5

As ’n mens op 'n klein dorpie woon, loop jy gereeld bekende gesigte raak, en Luna Paige se vriendelike groet kan jy onmoontlik in Stellenbosch se strate mis.

Ons ontmoet by een van haar gunsteling-eetplekke. Die bekende 5 Ryneveld is ook die gereelde gig spot van baie plaaslike musikante, soos Schalk Joubert en Basson Laubscher. Dis 12-uur en Luna se werksdag het nou eers begin. "Ek werk vir myself, so ek mag maar so nou en dan laat slaap," kom sy met 'n hoop plakkate die binnehof in. Sy bestel 'n koppie koffie en glas water.

Te oordeel aan Luna se blog geniet sy dit om in koffiewinkels en restaurante uit te hang en dit maak net sin dat sy vyf jaar gelede op Melkbosstrand haar eie besigheid, Groovy Concerts, gestig het. Sy het ook onlangs uitgebrei na Stellenbosch, waar sy plaaslike musiekgeleenthede reël. Hierdeur bied sy optreegeleenthede aan ander kunstenaars en wil sy hulle graag die moeite bespaar om venues te soek en kontakte te bou. "Kunstenaars is altyd op soek na nuwe plekke om te speel en ek help om hierdie geleenthede te skep," sê sy.

Wanneer kry sy tyd om self op te tree?

"Wel ek het myself belowe om elke drie maande die pad te vat en 'n punt daarvan te maak om so nou en dan die klein dorpies in ons land te besoek." Dis immers hier waar Luna haar grootste gehore bekoor met haar ongelooflike stem en saggeaarde persoonlikheid. "Die mense op die platteland is honger vir goeie musiekkonserte. In die stede is mense soms bederf met te veel opsies en raak hulle blasé."

Sy het pas van Parys in die Vrystaat teruggekeer. En binnekort pak sy haar tas om die Voor Het Afrikaanse Fees in Den Haag met haar jongste en vierde album, Storielied, by te woon. Sy tree 15 Junie by die Theater aan het Spui op.

"Ek is verskriklik opgewonde om ’n geleentheid te kry om op die 13de Junie ook by die bekende Melkweg Teater in Amsterdam op te tree," sê sy. Maar sy is baie op haar senuwees, bieg sy, want sy moet ook saam met Bittereinder en Van Coke Kartel by hierdie MK-aand optree. Luna gaan een van haar Afrikaanse liedjies op die Storielied-album verwerk tot 'n agtminuut-woordkuns-item.

Sy gaan ook in Utrecht 'n paar solo-gigs speel, en die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert tree saam met haar by die fees in Den Haag op.

Storielied is haar eerste Afrikaanse projek in die tien jaar wat sy al in Engels sing. Die lewendige DVD-opname en album bestaan uit liedjies wat sy met Afrikaanse letterkunde as inspirasie geskryf het. Sy het onder meer Ingrid Winterbach, André P Brink, Margaret Bakkes, Elias P Nel en Dana Snyman se werk in liedere omskep.

Luna noem haarself nie verniet 'n singer-songwriter nie. Moet ook nie die besigheidsvrou- titel miskyk nie. Maar haar  produktiwiteit as liriekskrywer is merkwaardig. Terwyl Storielied nog nie eers afgekoel het nie, is Luna al klaar besig met die volgende “kreatiewe projek” soos sy dit noem. “Daar is geen rede hoekom ek as sanger my moet toespits op een genre nie.” En danksy haar goeie vriend en medemusikant Gerald Clark is sy tans hooked op blues en country. “Ons het onlangs baie saam opgetree en dit het definitief my styl begin beïnvloed.” Sy skryf nou weer in Engels en eksperimenteer met folk, blues en country. Maar sy belowe om nie te lank die Afrikaanse musiek opsy te sit nie.

En as daar 'n liedjie op pad is, is daar geen keer nie, vertel sy asof sy geen beheer daaroor het nie.

"Ek kan dit voel aankom, soos 'n skaduwee wat van ver af kom en jou vang. Net nou die dag het dit gereën en ek stap deur die dorp terwyl ek die mooi herfskleure geniet en lus kry vir roomys. En toe kom dit net daar. Ek gaan koop toe dadelik 'n notaboeke en gaan sit en skryf die lirieke by 'n restaurant. En die volgende dag, toe gaan sit en komponeer ek die wysie. En vir 'n paar dae daarna word ek elke dag met die wysie in my kop wakker. Dis weird en dit gebeur nie die heeltyd nie."

Luna wou hierdie passie vir liriekskryf met ander deel en het ook die Songwriter Sessions op Stellenbosch begin. Die sessies vind een keer 'n maand op Sondagaande in die Dorpstraat Teater se Cigar Lounge buite Stellenbosch plaas. Hier kan aspirant- en gesoute liriekskrywers bymekaarkom en hulle geheime deel.

“Daar is te min mense wat bewus is van die belangrikheid van liedjieskrywers. Sonder hulle is daar nie 'n industrie nie. Dis hoekom ons hulle moet oppas en ondersteun.”

En selfs al skryf jy nie lirieke nie, is dit 'n lekker geleentheid om jou gunsteling-musikante te ontmoet. “Die gesprekke is incredible,” voeg Luna by. “En aan die einde van die jaar wil ons al die kunstenaars weer nooi om op te tree en ook aspirant-liedjieskrywers die geleentheid gee om hulle liedjies te sing.” Daar sal drie liedjieskrywersgekies word. “Die deelnemers moet demos instuur en ons gaan so die bestes kies,” sê Luna. “Die sluitingsdatum is einde Augustus en enigiemand wat wil deelneem kan hul demos by die Dorpstraat Teater inhandig.”

Sy bestel nog 'n koppie koffie en kyk af na haar selfoon se rooi liggie wat flikker. Sy lag.

"Ek begin altyd 'n ding met die korttermynplan en as ek weer kyk, is dit nóg 'n groot projek."

Die volgende Songwriter Session vind plaas op 28 April, met Les Javan en Melissa van der Spuy as gassprekers. Deure open 18:00 en die sessie begin om 19:00. Jy moet bespreek om 'n sitplek te kry. Skakel 021 889 9158. Kaartjies kos R100.

Vir meer inligting, besoek die Songwriter Sessions se Facebookblad of besoek Luna se Facebookblad.

 

Wenners aangekondig: Klik hier!

 

 

 

 

 

 

Uit die argief: Luna Paige se Storielied vat vlam

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 5

Kommentaar

  • Opwindende konsep, die storieliedere.
    Luna kan gerus kyk na "Die fees van Gent" deur Nicole Jaekel Strauss (Maal, 2010). Sterk verhaal. En sy kan die kontras tussen lawaai en stilte wat in die verhaal beklemtoon word lekker weergee in die musiek.

  • Avatar
    Jasper van Zyl

    Ek was nege jaar oud en krieketmal, in 'n bedompige houtvloerklaskamer in Upington, toe die juffrou die eerste hoofstuk van Elsabe Steenberg se Rooi Kanarie Hoepelbeen vir ons voorlees. Soos ek dit onthou, het die ander kinders aan die slaap geraak (dit was seker die idee), maar ek het kiertsregop gesit en my oorgegee aan die omsingeling van taal. 

     
    Ek kan dit nie beter as die stofomslag beskryf nie: "Sy klere is maar ander se ou klere, hy slaap in die kinderhuis se bed, kry boeke by die skool — alles behoort aan iemand anders, net die voëltjie is syne."
     
    Obskuur, ja, maar essensieel. Dalk vind jy nog 'n kopie in 'n solder of 'n plattelandse laerskooltjie.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top