Luister

  • 1

Foto: Canva.com

Luister
Daar is gerugte in die omte
van ’n eeue oue kremetart
haar skadu wyd en wys
haar gevestigde wortels het krag;

hou jou oor op die grond,
daar is onrustigheid en die blare ritsel.
Roofdiere en luistervinke rus in haar mikke
aandagtig en geduldig op wat wag;

kinders sien nie die gevaar
wat in haar lower wydheid skuil.
Kinders is onskuldig;
Kinders is sieners wat die toekoms in lag

hoor jy nou die magtige dreuning?
Dit klink soos opstand teen die opset na die leeus brul
want daar is een kind minder:
gevang uit die donker en uit ons mag

Die kremetart bly staan, wyd en wys
soos eeue se geskiedenis wat herhaal:
soms speel kinders in die skadu van haar takke
soms verskuil haar takke dooddoeners in die nag

Hoor jy dié wat skree?
Die pyn is rou en loop soos bloed,
van een generasie na ’n ander
want hulle kinders word verkrag

die gerugte word uitroepe om die kremetart af te kap;
maar ’n kremetart is net ’n kremetart
en ’n leeu bly ’n leeu
Die noodlot, egter, is ’n dobbelsteen, prewel een oumens sag

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top