
Foto: Canva
ongenooid en onverwags
word jou beste luiperdsprong
’n stram skuifel strompel
en jou hoogste toppe
blink gladkaal of gryswit
drentel jy in denke verstrengel
meer na binne as buite
op soek in dowwe sirkels
na nou-nou lank vergeet
na wegkruip-name en -woorde
glip jy terstond verby vaal vlaktes
deur sprinkaanplaak verteer
tot by ’n spesiale plek
waar sinapse nooit ophou flits
in die kleurvolle kamp
waarin die goeie ou dae van
soepel vrye kindwees leef
maar waggelaar
moenie dag na dag daar vertoef
daai speelplek raak ’n tronk
struikel strompel eerder voet vir voet
na ver buite waar nuwe avonture wag


Kommentaar
Pragtig!