Lucinda van Die Melktert Kommissie gesels

  • 0

Die Melktert Kommissie het onlangs ’n kraakvars snit – boonop in Engels – vrygestel. Lucinda Strydom, sanger, beantwoord ’n paar vrae.

Hallo Lucinda, hoe’s dinge?

Hallo! Gaan baie goed dankie!

Eerste dinge eerste: Die Melktert Kommissie het nou onlangs ’n eerste Engelse snit, “Karma”, vrygestel. Wat het tot die besluit om dié taalskuif te maak gelei?

Wel, ons het nog altyd daaroor gesels. Ons almal luister baie Engelse musiek en ons wou nog altyd eksperimenteer daarmee. Ek het die song geskryf in 2009 ... Baie dinge het daardie jaar verander, persoonlik en in die band ... Dit het net toepaslik gevoel om sommer iets in Engels te skryf!

Die groep was lank buite aksie – waarom?

Soos ek sê, baie dinge het in 2009 gebeur. Ek het begin BCom studeer by Tukkies, Jean-Marie en Jan-Adriaan het in Augustus Kaap toe getrek, en toe trek Tim ook in April 2010. Ons het eintlik al minder begin gig, en toe maar net besluit om op te hou. Ek dink dit was nodig. Ons het Die Melktert Kommissie begin toe ek en Jean-Marie nog op skool was en dit voltyds gedoen na skool. Sewe jaar later het dit net reg gevoel om bietjie te fokus op ander drome.

Is die vrystelling van hierdie snit en die onlangse “reunion”-optredes ’n aanduiding dat die groep weer mik om in een mate of ’n ander weer betrokke te raak by die musiektoneel en/of -bedryf?

Definitief ja! Ons mis dit. Ons mis die musiek, die live shows, die fans en vriende ... en ons mis mekaar ook. Dit mag dalk moerse corny klink, maar as mens so lank saam bly en saam toer, word mens soos familie – die tipe familie wat mens baie wil sien!

Ons wil graag shows doen wanneer ons kan – die logistieke is net bietjie moeilik noudat ek in Pretoria bly en die res in die Kaap. Ons sal dit maar vat soos dit kom.

Jare terug – ongeveer tien, as ek dit nie mis het nie – het Die Melktert Kommissie die Rockspaaider-kompetisie vir jong Afrikaanse bands gewen. Hoe het dit destyds jul idees oor ’n loopbaan in die bedryf geslyp?

Ons het eintlik die groep begin juis vir die Rockspaaider. Ons het almal bymekaar gekom, geoefen en die naam uitgedink juis net vir die kompetisie. Dit het alles nogal vinnig gebeur, en toe ons wen was ons regtig egtig baie verras. Ons het glad nie die bedryf geken nie. Dit was eers na al die shows wat ons toe by Aardklop daardie jaar gedoen het (wat ingesluit was by die prys) en al die mediablootstelling, dat ons besef het dat ons dit wel as ’n loopbaan kan nastreef. Ek het nog twee jaar skool oorgehad, en die res het intussen studeer en gewerk. Tydens daardie twee jaar het ons baie geleer, maar dit was nog alles baie "dreamy", omdat dit net ’n deeltydse ding was.

Was daar ’n mate van “ontnugtering” betrokke in die jare daarna waartydens julle as ’n meer voltydse band gefunksioneer het?

Ja ... definitief. Ons het Gauteng toe gekom en was vir die eerste keer nét musikante. Dis nogal ’n skok as mens skielik met so ’n inkomste moet klaarkom ... maar ons sal dit met niks wou ruil nie!

Die dinamiek tussen lede van ’n groep wat al lank bestaan – veral wanneer ’n “reunion” te sprake is ... Hoe werk hierdie dinamiek in DMK en hoe het dit oor die jare verander?

Ons ken mekaar ... baie goed. Ons weet al hoe om te kommunikeer en ons respekteer mekaar se doelwitte in die lewe. Ek dink dis baie makliker as ’n klomp mense van ’n jong ouderdom saam in ’n band is. Mens mature saam ... 

DMK het oor die jare heen drie albums vrygestel. Hoe het die sukses van die albums vergelyk met mekaar en hoe het ’n immer wisselende klimaat in Afrikaanse musiek hierop ingespeel?

Die klimaat in Afrikaanse musiek het nie regtig ’n rol gespeel in hoe ons musiek maak nie – ons het nooit regtig trends gevolg nie. Die wyse waarop ons musiek verander het deur die jare was maar meer agv natuurlike groei; instrumental en emotional. Daar is natuurlik mense na wie ons opkyk, en by wie mens inspirasie tap. Met Volroom was mense soos Karen Zoid, Valiant Swart, Gert Vlok Nel en Mr Fat van Brasse van die Kaap ons groot idols ...

Volroom was baie onskuldig, en ek dink dit was toepaslik vir daardie tydperk. Eerlikwaar is dit ons almal se least favourite album, maar mense vra nou nog by shows vir songs soos “Tevrede” en “Sticks and Stones”.

Ek dink Wonderwoorde is DMK se mees ikoniese album. Baie jongmense het met Wonderwoorde se songs relate; baie mense het na my toe gekom en gesê: "Daai is my song ... dit beskryf my situasie so goed." En dit was vir my nice, want dis wat musiek vir my is. 

Teen die tyd wat Vergewe en Vergeet uitgekom het, was Afrikaanse rock baie in aanvraag, en ek weet nie lekker of ons meer "in" genoeg was nie. Dit het goed gedoen, maar dit was nie soos Wonderwoorde nie. Ek dink baie van die jong bands het gevoel hulle moes hardcore en cool wees en het baie ander bands nagemaak ... en ek hou net nie daarvan nie. Ek dink nie mens hoef te skok om gesien te word nie, en ek dink mens moet uniek wees. Ek glo in eerlikheid as dit kom by lirieke en musiek – en ons is eerlikwaar net nie hardcore nie. 🙂

Julle het natuurlik al verskeie toere gehad en oraloor opgetree … Enige plekke waarheen julle altyd sal terugkeer? En in dieselfde asem, enige plekke wat julle eerder wil vergeet?

Jeffreysbaai is natuurlik ons hometown ... so ons sal altyd teruggaan om daar te speel. Dorpstraat Teater (Stellenbosch), Die Boer (Durbanville) en Café Barcelona (Pretoria) is ook van ons favourites. Die plekke wat ek wil vergeet, is die venues by feeste wat bands geboek het, maar wat dan net toegerus was vir backtrackers. Jan-Adriaan het al ’n drum cymbal op ’n mike stand gesit sodat ons net een song soort van kan speel – en na baie gevloek en gesukkel sal ons dit nooit weer wil ervaar nie. 

Wat is die sin van die lewe soos oorgedra deur DMK?

Doen wat jou happy maak ...

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top