Loyisa Gola Live

  • 0

Loyisa Gola Live

Baxterteater 21–23 November 2013

Loyisa Gola, wat beter bekend is vir sy televisiereeks Late Night News, verskyn vir die eerste maal in ‘n lang ruk as ‘n skerpskertser (“stand-up”-komediant) op die verhoog. Hiermee bedoel ons égte “stand-up”, waarby die oorspronklike definisie van die woord steeds geld: geïmproviseerde grappe, uit die mou geruk en spontaan vertel. Alhoewel dit ‘n benaming is waaronder die meeste komediante te staan kom, is dit iets wat ‘n gehoor selde die voorreg het om te sien; inteendeel: ons het al so gewoond geraak aan ‘n stel grappe (‘n “set”, soos wat dié in die bedryf dit noem) wat vinnig en glad op mekaar volg, soos ‘n goedgerepeteerde “farce”. Die stel word egter wel elke nou en dan onderbreek met ‘n ligte grappie oor daai gehoorlid wat net té hard lag, om jou te laat voel asof sy/haar grappe uit die niet ontstaan.

Moet ons nie verkeerd verstaan nie: Gola het definitief hierdie grappies al aan iemand anders vertel, maar ‘n verfynde, afgeronde teks is dit beslis nie. Hy erken dat hy graag vir ‘n slag agter die skerms wou uitkom en met “‘n paar mense” (‘n vol Baxter-teater) grappe wou deel. Gola se laatnag satiriese nuusprogram, wat tans in sy agste seisoen is, is onlangs benoem vir ‘n Emmy-toekenning. Hy skram egter weg van enige politieke grappies of kommentaar, ten spyte van die gehoor se aandrang daarop. Hy stel dit so: “Ek is nie passievol oor politiek nie; ek wil glad nie nou daaroor praat nie.” ‘n Mens sou veronderstel dit is bietjie soos om aan die etenstafel te gesels oor werk, só voel Gola oor politieke praatjies op die “stand up”-verhoog.

Na aanleiding hiervan het ons baie respek vir Gola se waagmoed. Eerstens, omdat hy die kans gewaag het om nie ‘n stel goedgerepeteerde grappies te kom opsê nie, maar liewer spontaan te kom vertel van die komiese in die alledaagse; en tweedens, omdat hy nie in sy gemaksone gebly het nie, nl satiriese politieke kommentaar. Hy verval egter steeds in die lokval waarin so baie Suid-Afrikaanse komediante vasval: rassegrappe. Dit waaraan die Suid-Afrikaanse gehoor al uitgeluister is, of ten minste ons. Hieruit volg ‘n hewige volgende debat: As ‘n Suid-Afrikaanse komediant nie oor politieke leiers of rasseverskille grappe maak nie, waaroor dan? Dit is immers nie die geval dat elke Jan Rap en sy maat op ‘n nasionale verhoog kan staan en die gek skeer nie – dit verg talent en spesiale vaardighede, soos elke ander kunsvorm. Waarom hoor ons dan so gereeld dieselfde stel grappe van verskeie komediante? Seer sekerlik is ons politieke vryheid en demokratiese regte nie bloot gelyk aan veralgemenende grappies oor blanke mense wat nie kan dans en swart mense wat nie kan swem nie?

Ten spyte hiervan sorg Gola vir ‘n uur en ‘n half se lekker lag. Dit is verfrissend om ‘n komediant op sy tone te sien, met persoonlike en plaaslike verhale. Gola is tot Saterdag 23 November in die Baxterteater te sien. Kaartjies is teen R80 by www.computicket.co.za beskikbaar.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top