Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort boeiend en stimulerend

  • 0

Ons ongehoorde soort
Louise Viljoen
SUN PReSS, Stellenbosch
Sagteband
240 bladsye
R175
ISBN: 9781920109981

Louise Viljoen is nie net ’n erkende en gerekende akademikus nie, sy word ook allerweë beskou as ’n kenner van die poësie in die algemeen en van die werk van Antjie Krog in besonder. Sy is bekend as iemand wat goed nadink en oorwoë skryf, sowel in inhoud as in formulering, maar sy is ook teoreties uitstekend onderlê en ’n baie goeie interpreteerder. Met al hierdie eienskappe kan ’n mens verwag dat ’n boek van Viljoen oor die oeuvre van Antjie Krog ’n boeiende en deeglike publikasie sal wees.

In Ons ongehoorde soort word ’n aantal van Viljoen se artikels oor die werk van Antjie Krog byeengebring. Die artikels verteenwoordig nie net ’n aantal belangrike fasette van Krog se oeuvre nie, maar is “in ’n sekere sin ook ’n outobiografie van die skrywer daarvan aangesien die artikels oor ’n aantal jare ontstaan het” (Viljoen 2009: vii). Op dié manier word nie net veranderinge en aksentverskuiwinge in die skrywer se sienings van Krog se werk weerspieël nie, maar ook die literêr-teoretiese ontwikkelinge wat die Afrikaanse literêre gesprekke beïnvloed het in die tydperk tussen 1989 en 2009.

Die volle verskeidenheid van Krog se oeuvre word in hierdie artikels en essays weerspieël. Daar is artikels oor die poësiebundels en oor tematiese fasette van die poësie in verskillende bundels. Die prosatekste – sowel die fiksie en die outobiografiese as die joernalistieke werk – kom aan bod. Daar is ook ’n artikel oor die verwerkings van inheemse poësie wat as vertalings, omdigtings en herdigtings uit ander tale beskou kan word. Verder word die tekste en literêre aspekte van Krog se werk vanuit verskillende teoretiese invalshoeke benader en daar word aan prominente tematiese verskynsels in die oeuvre aandag gegee. Die resultaat is ’n versameling artikels wat werklik aan die belangrikste aspekte van Krog se oeuvre laat reg geskied, en die boek bevat dus ’n uitvoerige studie van die oeuvre van een van die belangrikste kontemporêre digters in Afrikaans.

Die insiggewende en belangrike artikels en ander akademiese bydraes wat Louise Viljoen oor baie jare oor Krog geskryf het, toon dat sy met reg as ’n kenner van Krog se oeuvre beskou kan word. Die versameling essays/artikels wat hier byeengebring is, toon haar insig in en groeiende begrip vir Krog se kreatiewe denke en die poëtika wat haar skeppende werk ten grondslag lê. Viljoen gee dan ook deeglik aandag aan die belangrikste temas en veral aan die ontwikkeling in Krog se oeuvre. Sy ondersoek die outobiografiese grondslag van die oorgrote meerderheid van die verse en van die prosatekste wat sy dan interpreteer vanuit die postmodernistiese siening dat alle selfrepresentasies basies fiksioneel van aard is, sodat die outobiografiese nooit die literêre aspekte van hierdie tekste ondermyn en uitkanselleer nie. Viljoen gee deeglik aandag aan die politieke betrokkenheid en ideologiese inslag van Krog se werk en toon aan hoe Krog by uitnemendheid daartoe in staat is om altyd grense te verskuif en so steeds vernuwend en uitdagend te skryf. Hierdie grensverskuiwende aspek van Krog se werk strek veel wyer as net die politieke of ideologiese, want sy daag ook die grense van vroulikheid en selfs van die ouderdom en die lewe self uit. Die artikels gee in besonder aandag aan Krog se plek in die literêre tradisie deur haar in gesprek te plaas met haar literêre vroulike voorgangers, maar ook deur haar gesprek met vroue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te ondersoek. Dit lei dan noodwendig tot besprekings van Krog se intense bemoeienis met identiteit, haar Suid-Afrikaanse en Afrikaanse identiteit, spesifiek die besonder komplekse aard van die Afrikaanse identiteit in verhouding tot die Suid-Afrikaanse ruimte en die politieke belastheid daarvan.

Afgesien van die interessante vergelykings wat in die artikels gemaak word, word daar ook aandag gegee aan kontensieuse kwessies in Krog se werk, veral haar gemoeidheid met die liggaamlike en haar onbeskroomde omgaan met vroulike liggaamlikheid en die belewing daarvan. Hierdie tendens kulmineer in die bundel Verweerskrif, waarteen daar ook heelwat kritiek was vanweë die openlike konfrontasie met die lyflikheid van die menopousale vrou. Viljoen stel die problematiek helder en plaas dit dan in perspektief.

Hierdie publikasie lewer ’n belangrike bydrae tot die werke oor Afrikaanse skrywers en behoort van groot waarde te wees vir studente van die Afrikaanse letterkunde. Daar het die afgelope aantal jare min boekpublikasies oor die Afrikaanse letterkunde en letterkundige figure verskyn en dit is verblydend dat daar sulke boeke soos hierdie een op die rak kom. Dit is egter ook belangrik dat hierdie artikels toeganklik geskryf is, en gewone lesers sal ook die boek insiggewend vind as ’n sleutel tot Krog se oeuvre.

Dit is duidelik dat Viljoen soms as apologeet vir Krog optree. Sy stel plek-plek die kritiek wat teen Krog uitgebring is en antwoord dan subtiel daarop. Sy bewonder die digter en konsentreer op daardie kenmerke van Krog se oeuvre wat haar teken as die onverskrokke vernuwende vroulike digter wat telkens weer nuwe grense oorskryf. Viljoen gaan dus uit van die standpunt dat vernuwing en grensoorskryding belangrike en voortreflike eienskappe van die verskuns is, iets wat in Krog se geval inderdaad waar is, maar tog nie algemeen-geldend is nie (dit word egter ook nie so aangebied nie). Die bundel gee uiteindelik verslag nie net van Krog se oeuvre nie, maar ook van die ontwikkelende teoretiese en poëtikale beskouing van die literator wat op sigself belangrik is om geboekstaaf te word, ook en juis omdat elke artikel teoreties deeglik verantwoord is en op funksionele wyse by die literêr-teoretiese gesprek aansluit.

Hierdie bundel strek die akademiese sowel as die kreatiewe skrywer tot eer. Dit het groot waarde vir akademiese studie en sal ’n standaardbron wees vir studente wat Krog se werk bestudeer. Dit tree egter ook op ’n wyer basis in gesprek met lesers van die poësie en veral van Krog se werk. Dit sal ongetwyfeld daartoe meewerk dat mense tot ’n beter begrip van Krog se omvattende oeuvre en die kompleksiteit en die verstommende veelsydigheid daarvan kom. Op hierdie manier kan die boek op die akademiese mark ’n plek verwerf, maar ek is oortuig daarvan dat intelligente en geïnteresseerde lesers van die verskuns dit ook boeiend en stimulerend sal vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top