Louise Behrens (1903–1994)

  • 0

Gebore en getoë

Louise Elizabeth Behrens (gebore Van Rensburg) is op 4 Mei 1903 op Winburg in die Vrystaat gebore. Sy was die oudste dogter van Johannes van Rensburg, ’n landmeter op die dorp, en ’n suster van Hans van Rensburg, eertydse kommandant-generaal van die Ossewa-Brandwag.

Louise het in haar kinderjare ’n liefde vir lees ontwikkel toe haar vader gesorg het dat sy kinders soveel leesstof as wat hul harte begeer, tot hul beskikking gehad het. Sy het baie genotvolle kinderjare op hul groot erf in Winburg deurgebring. “Die wêreld was vol wonderlik interessante dinge vir my vader. Hy het belanggestel in die sterre, insekte, gras, diere, die geskiedenis, mense, in alles. Ons huis was altyd vol boeke. Op tienjarige ouderdom het ek al die bybel van die Mormone deurgelees” (Transvaler, 13 Junie 1962).

Haar vader het ook geglo dat as sy kinders saam met hom rondry en die omgewing se boere so leer ken, hulle meer sou leer. Gevolglik het Louise die Vrystaat plat gery saam met haar pa.

Louise wou altyd skryf. “En ek hou van skryf. As kind het ek saam met my suster ’n maandblad uitgegee wat nogal ’n taamlike mate van sukses in familiekringe geniet het. Ek moet erken dat dit gewoonlik verskyn het as ons geld dringend nodig gehad het vir lekkers en dat die oorhandiging daarvan aan my vader gewoonlik uitgeloop het op ’n toeloop van jong Van Rensburgs na die Griek se kafee,” het sy aan Fleur vertel (Januarie 1948).

Sy het haar skooljare op Winburg deurgebring, waar sy dan ook gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Ná skool is Louise Bloemfontein toe, waar sy aan die Grey Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat studeer het. Na die verwerwing van haar BA-graad was sy ’n tyd lank werksaam by die Winburgse munisipaliteit.

In 1934 is sy in die redaksie van Die Volkstem in Pretoria aangestel. Twee jaar later, toe Die Vaderland ’n dagblad geword het en na Johannesburg oorgeplaas is, het sy saamgegaan as hoof van die vroueredaksie, ’n posisie wat sy tot 1938 beklee het toe sy ’n soortgelyke pos by Pretoria News aanvaar het. As vroueredaktrise het sy so tussen die skrywers en aspirantkunstenaars beweeg dat sy, byna sonder dat sy dit agtergekom het, self begin skryf het, en haar eerste kortverhale het dan ook gedurende daardie tyd verskyn.

In 1941 is Louise met HPH Behrens getroud, destyds nuusredakteur van Pretoria News en later skakelbeampte van die stadsraad van Pretoria. Hulle het hulle op ’n klein plasie buite Pretoria gevestig, waar sy ’n vol lewe gelei het met die grootmaak van hulle drie kinders, Johann Heinrich, Anna Louise en Hildegard.

Louise se eerste dogter, Anna Louise, en haar eerste roman, Die verwaaide vlam (1945), het op dieselfde dag die lewenslig gesien. Hoewel dit ’n eerste roman was, het die boek die Afrikaanse Persboekhandel-prys vir die beste roman met dié van ’n ander skryfster gedeel. Die roman het in die lig gestaan van die volgende aanhaling uit Ernst van Heerden se Weerlose uur:

Wydstralend het ons jeug die gloed gelaai
en helder vuurseile teen die nag gebou;
maar haat en onrus het die vlam verwaai,
en deur die vaal as woel die winde nou.

Abel Coetzee het gemeen dat die roman ’n groot leserskring verdien.

Na Die verwaaide vlam het die nog ’n roman, Verminkte jare, gevolg en toe het sy haar na die speurverhaalgenre gewend en is Erfenis van onheil en Die dood keur die manuskrip gepubliseer.

Oor Erfenis van onheil het die resensent M in Die Vaderland van 21 April 1950 geskryf: "Ons het hier ’n vindingryke skrywer aan die woord. Die tema wat sy gekies het, het groot moontlikhede gebied en sy het beslis haar kans waargeneem om hierdie moontlikhede te ontgin en dividende te laat lewer. Die verhaal is goed gemotiveerd en verantwoord, en die leser kry nêrens die indruk dat die skrywer teen wil en dank die gebeure uitrek en nodelose, swak-gemotiveerde of selfs verspotte vals spore skep nie.
"Dit was duidelik," het die resensent verder gesê, "dat Behrens hier op ’n gebied beweeg waar sy haar, met ’n bietjie verdere oefening, maklik behoort te onderskei. Daar was ’n paar kleinighede wat effe steurend was, maar die taal was goed versorg en die skrywer het deurgaans die indruk geskep dat sy met haar werktuig goed vertroud is."

M (Vaderland, 7 November 1950)was ook van mening dat in Die dood keur die manuskrip “die spanning ’n elektrisiteit bevat”. "Die skryfster het deeglik besef dat sielkundige motivering noodsaaklik is in die uitbeelding van misdadige neigings en die voltrekking van misdaad. Daarom dat haar hantering van so ’n verhaal die leser deurgaans bevredig. In die Afrikaanse speurverhaal van daardie jare, oor die algemeen geneem, het hierdie motivering, wat gebou is op kennis van die moderne sielkunde, alte dikwels ontbreek.

"In Die dood keur die manuskrip het die leser die geleentheid om die geleidelike disintegrering van die karakter en persoonlikheid van die misdadiger te volg. Soos in elke goeie speurverhaal het die leser hier ook die kans om sy eie vernuf in die spel te bring om uit te maak watter karaktertrekke by die karakters uitgebeeld word wat hulle moontlik kan leen tot die soort ontaarding wat op ernstige misdaad kan uitloop. Die resensent het die speurverhaal beskou as die beste van dié soort wat ons in Afrikaans het."

FJBM het in Die Kerkbode van 19 Oktober 1955 geskryf dat Louise se Die kinders van Alida Fourie (1955) beslis beter is as die normale Afrikaanse roman van daardie tyd. "Dit vertoon vaardigheid en behendigheid waardeur die belangstelling van die leser tot aan die einde behou word. Die gebeure word geknoop aan die volksgeskiedenis gedurende die laaste 30 tot 40 jaar van die 19de eeu in die voormalige Transvaal. Die skryfster het ’n duidelike en oortuigde opvatting van wat daardie geskiedenis ons te leer het, veral met betrekking tot die botsing tussen die Afrikaners en die Engelse."

Ons lees in Die kinders van Alida Fourie van Alida Zondagh wat verlief is op Robert Wynne. Hierdie liefde is wederkerig, maar daar is ook ’n Ier, Michael Fury, wat dolverlief is op Alida. Robert word deur ’n olifant doodgemaak en Alida trou met Michael, wat klein Robert as sy eie aanneem. Michael en Alida het ses kinders van hulle eie en die storie neem dan die lewens van hierdie kinders verder.

Izak le Roux het in Die Huisgenoot (12 September 1955) geskryf dat hoewel Die kinders van Alida Fourie die leser se gedagtes prikkel, daar ongelukkig enkele gebreke op letterkundige vlak is, "soos dat die karakters, nes die geskiedkundige agtergrond, van buite af beskryf word eerder as om van binne uitgebeeld te word, en dat die verhaal dikwels traag word. Maar oor die algemeen laat die boek ’n treffende geheelindruk van mense en dinge."

In 1967 het Louise die verhaal van Roeland, Ridder van Karel die Grote uit verskillende bronne vir kinders in Afrikaans verwerk. Dit vertel die verhaal van die ridder wat so roemryk in die pas van Roncesvalles in die stryd teen die More gesterf het. "Die verwerking is netjies uitgevoer en dit word ingelei deur ’n insiggewende verduideliking van die tyd van Karel die Grote en die latere opbloei van die riddertyd toe die heldesange oor Wes-Europa bekend geword het. Die vertelling was egter té prosaïes," het PG in Die Burger van 20 September 1968 geskryf.

Vir EV (Volksblad, 28 Maart 1969) was die trant van die verhaal van Roeland eenvoudig en het dit hom bekoor, maar die inleiding kan dalk vir jong lesers een te veel wees. EV het gevoel dat dit eerder deel van die verhaal kon gevorm het.

Louise het in 1969 een van die grootste Germaanse eposse, Das Nibelunglied, uit Duits in Afrikaans verwerk onder die titel Die vloek van koning Nibelung. "Die gegewe waarom alles draai in hierdie epos, is die skat van koning Nibelung, die dwergekoning, waarop ’n vloek rus. Veral die een wat die koning se ring dra, word getref: dit maak hom besonder heb- en heerssugtig en lei tot sy val. Hieruit blyk die aanwesigheid van twee elemente dikwels aanwesig in die ou verhale: die besef van die onwrikbare loop van die lewe, wat die individu verdwerg en die klem op die begrip: tragiese skuld," het Anna van Zyl die verhaal opgesom. (Volksblad, 18 Desember 1969)

"Op die eerste vlak is dit ’n boeiende avontuurverhaal met genoeg aksie en spanning om jong lesers se aandag te behou. Ek het verbaas gestaan oor die literêre kwaliteit van die verhaal wat eeue gelede reeds bestaan het. Die baie avonture en vinnig wisselende gebeure en intriges kry eenheidsbeslag deur die ring van koning Nibelung wat die oorsaak en gevolg is van alles wat gebeur en gevegte word gemotiveer. Dit is nie maar ’n losse gesoek na ’n oorsaak vir ’n geveg nie; alles pas pragtig. Daar was ook onder andere verbasend heldere karakterbeelding te vind. Elk van die hoofkarakters word duidelik ’n individu in eie reg met sy eie persoonlikheid en karaktertrekke.

"Die vloek van koning Nibelung is ’n voortreflike verwerking wat ’n mens volledig terugplaas in ons eie vroegste geskiedenis, en dit is belangrik dat ons kennis sal dra van die ou Germaanse eposse. Hierdie boek is ’n prageksemplaar van die Middeleeuse letterkunde om ’n mens ’n beeld te gee van hoe die verhale gelees het," het Anna van Zyl geskryf.

In Die Transvaler (28 Julie 1969) het JB geskryf dat dit ’n goeie ding is dat die epos hier in ’n vrye verwerking en oorvertelling verskyn het, aangesien dit toeganklik moet wees vir die jonger leser. Dit lees ook lekker vlot en ook lesers wat nie in die ouderdomsgroep 12 tot 16 val nie (vir wie dit bedoel is), behoort dit te geniet.

JB het voortgegaan: "Die vloek van koning Nibelung is ’n boeiende en spannende verhaal van heldemoed, avontuur, eer en trou. Vir die leser wat bloot in die storie belangstel, is daar dus oorgenoeg, maar die ernstige leser sal, benewens die verhaalfeite, veral geboei word deur die lig wat hierdie verhaal werp op ’n stuk verre verlede, veral die sedes en gebruike daarvan. Wie die latere roman of die kultuurepos wil begryp, móét eenvoudig kennis dra van die ou heldeverhale, en ons moet nie net eposse van Homeros ken nie, maar eerder ons eie Germaanses. Vir die nog meer gevorderde student is ’n verhaal soos hierdie die sleutel tot die ou Germaanse mentaliteit en lewens- en wêreldbeskouing, byvoorbeeld die vermenging van heidense en Christelike elemente in sy godsdiens en regspraak."

Louise was volgens joernaliste nie iemand wat daarvan gehou het om “banale” gesprekke te voer nie, en sy het voorgekom as ’n simpatieke mens wat in fyn aanvoeling met die “gees van haar medemens” verkeer het. Dit is dan ook een van die redes waarom sy nie soseer geïnteresseerd was in die gebeure in die speurverhaal nie, maar eerder in die psigologiese redes wat die moordenaar gedryf het om sy daad te pleeg en die gevolge van daardie dade. Sy is geboei deur die mens se geestesaktiwiteite wat nie normaal is nie. (Transvaler, 13 Junie 1962)

Sy het in die laat 1950’s en vroeë 1960’s opgehou skryf, omdat “ek nie glo dat ek ’n groot roman kan skryf nie”. Sy het geen hoë agting gehad vir populêre skrywers van Afrikaans wat “goedkoop sentiment soos worsmasjiene produseer nie”. Die gemis vir haar in Afrikaans aan werklik indringende romans wat ’n ware beeld van ons tyd gegee het, was groot. Die intellektuele leser was, volgens Louise, genoodsaak om sy toevlug tot Engels, Duits of Frans te neem. (Transvaler, 13 Junie 1962)

Louise was ook bekend as ’n boekresensent en het oor ’n tydperk van tien jaar na skatting ongeveer 1 000 resensies vir onder andere Die Vaderland geskryf. “En,” het sy vir Die Vaderland gesê, “kan jy maar gaan sê, ek het vir jou op my katterige manier gesê, ek dink die resensies in ons tydskrifte en koerante lees beter as die deurslag ligtere ontspanningsboek wat ons lesers moet verduur.”

Sy was in die 1950’s en 1960’s bekend as iemand wat oor ’n verbasend wye algemene kennis beskik het en het gereeld aan radiovasvrawedstryde deelgeneem. Hierdie kennis het sy deur haar onversadigbare leeslus opgedoen. Haar deelname aan sulke wedstryde was vir haar prikkelende intellektuele ontspanning.

In ’n onderhoud wat in Die Transvaler van 13 Junie 1962 verskyn het, het sy gesê dat dit vir haar “byna onverklaarbaar” is dat die Afrikaanse prosa in die “swangere tydsgewrig van die atoomeeu” steeds soveel oppervlakkigheid weerspieël. “Is dit dalk dat ons sin vir waardes verkeerd is, of skiet ons tekort aan ’n begrip van ons tyd? Waarom is dit dat die koerante ’n ophef maak van seuns wat op sportgebied presteer, maar slegs een keer per jaar, wanneer die matriekuitslae kom, foto’s plaas van jongelinge wat waarlik groot belofte inhou, naamlik dié wat intellektueel presteer?”

Op 18 Januarie 1994 is Louise Behrens in die ouderdom van 90 jaar in Nazareth House in Pretoria oorlede. Sy is oorleef deur haar drie kinders en nege kleinkinders.

Publikasies

Publikasie

Die verwaaide vlam

Publikasiedatum

1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Afrikaanse Persboekhandel-prys vir beste roman

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verminkte jare

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Erfenis van onheil

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die dood keur die manuskrip: ’n moordroman

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wie die verlange ken

Publikasiedatum

1953

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sewe stuur geskenke

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die kinders van Alida Fourie

Publikasiedatum

1955

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lys Afrikaanse vervolgverhale en verhale waarin dieselfde persoon/persone optree

Publikasiedatum

1965

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Transvaalse Provinsiale Biblioteekdiens

Literêre vorm

Bibliografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die ryk Van Raaltes

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Roeland: ridder van Karel die Grote

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die vloek van koning Nibelung

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 


Artikels oor Louise Behrens beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top