![]() Foto: Die foto is deur Annora Eksteen verskaf. Dit is in 1993 in Boston Massachussetts geneem en Louis wys na 'n plaatjie met 'n inskripsie oor Noam Chomsky teen die muur van die Kendall/MIT-stasie van die Boston T-trein rooi lyn in Cambridge.
|
|
Sêgoed van Louis Eksteen "Baie van my verse gebeur net en ander het weer heelwat skaafwerk nodig. Daar is verse wat laaie vol lê en hulle sal seker die een of ander tyd nagesien en gepubliseer word." (Hoofstad, 15 Februarie 1977) In 1977: "Ons hier in Suid-Afrika skryf deesdae veels te veel en daar word oneindig baie gepubliseer. Ons bloei ons leeg!" (Hoofstad, 15 Februarie 1977) Oor die aanslae op die Afrikaner: "Dit is ’n erkenning van ons vyande dat die Afrikaner ’n verskynsel is wat belangrik genoeg is om van kennis geneem te word. Ek keur dit af dat die Afrikaner verantwoordelik gehou word vir verstarring en daarvan beskuldig word dat hy nie aangepas het nie. Die Afrikaner het meer aangepas as baie ander mense in hierdie land." (Hoofstad, 15 Februarie 1977) Oor die toekoms van Afrikaans in 1990: "Ek glo daar is ’n toekoms vir Afrikaans. ’n Mens moet egter nooit Afrikaans verbind as die taal van ’n sekere groep witmense nie." (DieTransvaler, 14 Junie 1990) Oor Pretoria: "Ek het in Pretoria in die Staatsdiens gewerk, en ook maar goed, want niemand ken Pretoria as hy nie die ramifikasies kan peil van sy klerklike koninkryk nie." (SAUK-Bulletin, 23 Oktober 1972) |
Gebore en getoë
Louis Cornelius Eksteen is op 20 Oktober 1930 in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gebore. Louis se pa was ook Louis Eksteen en was een van ’n tweeling. Sy broer was Koosie Eksteen.
Hy was van vroeg af al ’n swerwer en as kind het hy in die Noordweste gewoon, later in Volksrust en ook in Vryheid en Newcastle in KwaZulu-Natal.
Toe Louis vier jaar oud was, kon hy al lees en skryf. Louis Eksteen se dogter, Annora, vertel op LitNet dat Louis se neef (ook Louis, maar is Nefie genoem) en Louis saam deur Koosie Eksteen se vrou, tant Bertie, geleer lees en skryf het. Tant Bertie was ’n baie goeie onderwyseres en, het Hannes Horne in Hoofstad (15 Februarie 1977) vertel: "Sy het haar seuntjie en die jonge Louis so tussen die speel en koeldrank drink taalbewus gemaak."
Annora vertel verder: "Van toe af was my pa ’n boekwurm en op ’n ou foto kon ek sien hy was beeldskoon, mooi en verfynd, met so ronde vermoedelik goueraam-brilletjie."
Toe die tweetjies op Volksrust vir die eerste keer moes skool toe gaan, is hulle die tweede dag na graad twee oorgesit omdat hulle "kennis" te gevorderd was vir graad een. (Annora Eksteen is nie seker of die feite korrek is nie.)
Daar was nie ’n boek wat hy as seun in die hande kon kry, wat Louis nie gelees het nie. Hy het sy laerskooldae in Windhoek geslyt, maar het gereeld by die familie in die Kaap, Natal en die Vrystaat gekuier.
Hy het sy hoërskoolopleiding ontvang aan die bekende Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Die Huisgenoot het daardie jare ook ’n belangrike deel uitgemaak van die jong Eksteen se verwysingsraamwerk en hy het veral die artikels oor die letter- en taalkunde daarin baie interessant gevind.
Horne het verder geskryf dat wanneer hy opstelle geskryf het, Louis sy spelstyl op dié van prof JJ Smit van Stellenbosch geskoei het. Die Latynse invloed daarin was vir hom iets besonders. Maar sy Afrikaansonderwyser het gou daarin geslaag om hom tot ander insigte te bring.
Met die besoek van Roland Holst en Bloem, die twee Nederlandse skrywers, aan Suid-Afrika het die jong Eksteen hom tussen die volwassenes as toehoorder bevind. Letterkunde was dus vroeg sy groot belangstelling. Mnr Senekal, sy Afrikaansonderwyser, het hom daar raakgesien en ’n groot rol gespeel om hom te help om sy kennis te verbreed en het ook sy belangstelling aan te wakker.
Behalwe natuurlik Afrikaans, het Louis ook ’n wakker belangstelling in die Nederlandse sowel as die Engelse letterkunde gehad. Al sy Engelsonderwysers op skool was goed, maar dit was eers toe mnr Senekal op die toneel verskyn het, dat hy tydens sy laaste skooljare ook die Afrikaanse klasse opwindend gevind het.
Louis se een vriend wat saam met hom krieket gespeel het, se suster het gesien dat Louis versot was op boeke en het die wêreld van DH Lawrence, GB Shaw en Joyce Kerry aan hom bekendgestel. Skrywers soos Hemingway en baie ander was nog bokant sy vuurmaakplek en hy kon hulle op daardie stadium in sy lewe nog nie na regte waardeer nie, maar mev Walker se bydrae tot die uitbreiding van sy letterkundige kennis het hom altyd bygebly.
Net voor sy matriekjaar is hy ook ingelyf in die wêreld van die Russiese skrywers en dit was vir hom gedurende sy matriekjaar ’n "groot vreugde". Horne het verder geskryf: "Die waarde van die geskiedenis om die letterkunde beter te verstaan, het ook nou tot die jongeling se verstand deurgebring toe hy Shakespeare met erns begin nader trek. Al hierdie nuwighede het in Louis se lewe gebeur toe hy die meeste daarvoor toeganklik was, naamlik sestien en sewentien jaar oud."
Vir al hierdie invloede waarmee hy al van jongs af in aanraking gekom het, was hy baie dankbaar.
Hy het in 1948 in Pretoria gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Ná skool is Louis, weens gebrek aan fondse vir verdere studies, na die staatsdiens, of soos Louis dit self genoem het, het hy "as klerk met Homo Staatsdiensiensis kennis gemaak het". (inligtingstuk by NALN). Daar het hy vir vier jaar geld bymekaargemaak en kon hy hom uiteindelik as eerstejaar aan die Universiteit van Pretoria inskryf.
Gedurende sy tyd aan die UP het hy met die radio kennis gemaak en ’n "spelerstoets" by die SAUK geslaag, het hy aan Hannes Horne vertel. Hy het ’n rol in verskeie radioteaters vertolk en dit het ook ’n ekstra inkomste verseker, waarmee hy darem vir party van sy boeke kon betaal.
Merwe Scholtz en prof SA Louw het albei ’n groot indruk op die student Louis Eksteen gemaak. Hy het sy BA voltooi met vier hoofvakke, naamlik Afrikaans, Engels, sosiologie en Afrikaanse en Nederlandse kultuurgeskiedenis. Hy het sy akademiese studies in 1965 afgesluit met die verwerwing van ’n MA- en DLitt-graad oor die maak van woordeboeke. Hy het albei die grade met lof behaal.
Nadat hy sy studies aan die UP voltooi het, het vertaalwerk by die Staatsdiens gedoen en na agtien maande is hy aangestel as terminoloog by die taaldiensburo. Dit is hier waar die eerste saadjie vir sy werk aan woordeboeke gesaai is.
Louis is intussen met Liona Pienaar, ’n musiekonderwysers, getroud en hulle is na Nederland waar hy aan sy meestersgraad gewerk het. Hulle het vir twee jaar in Hilversum in Nederland gewoon waar hy as radio-omroeper in die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland Wêreldomroep gewerk het. Hy het ook daar gestudeer en was onder andere vertaler, terminoloog, scenarioskrywer en radiospeler.
Uit Louis Eksteen se huwelik met Liona is vyf kinders gebore: Nerina, Karin, Annora, Louis en Charlotte. Hulle het elf kleinkinders en vyf agterkleinkinders met nog een op pad. (Dankie aan Annora Eksteen vir hierdie bygewerkte inligting oor Louis Eksteen se familie.)
Hy is in 1961 na Stellenbosch as redaksielid van die Afrikaanse woordeboek en dit is vir sy werk as woordeboekmaker wat Louis Eksteen die bekendste geword het.
Hy was skrywer en medewerker van onder meer die Groot woordeboek, Verklarende Afrikaanse woordeboek, Afrikaanse sinoniemwoordeboek met antonieme, Beknopte verklarende woordeboek, Genetiese en statistiese woordeboek vir veekunde, Eensillabige rymwoordeboek van Afrikaans, Afkortingswoordeboek en Nasionale woordeboek.
Terug in Pretoria in 1965 het hy taalwetenskap aan die Universiteit van Pretoria gedoseer waar hy in 1974 as professor in Afrikaans aangestel is.
Gedurende sy werkstermyn aan die Universiteit van Pretoria het Louis Eksteen in die komitee van deskundiges van die Appèlraad vir Publikasies gedien. In September 1979 het hy egter bedank omdat hy gemeen het dat daar nie ag geslaan is op die komitee se werk nie. Hy het hierdie besluit geneem nadat hy genooi is om vir nog ’n termyn in die komitee te dien.
Hy het aan Die Burger van 11 September 1979 gesê dat sy besluit om in die komitee te dien, geneem is omdat hy gemeen het dat hy iets goeds kan beteken. Die destydse voorsitter van die Appèlraad, Lammie Snyman, se onsimpatieke houding het ook bygedra tot sy bedanking.
"Mnr Snyman het onlangs weer in die openbaar onsimpatieke uitlatinge oor die Afrikaanse letterkunde gedoen. ’n Mens kry daaruit die indruk dat die Publikasieraad onsimpatiek staan teenoor die Afrikaanse skrywer en by implikasie teenoor die letterkunde in die algemeen. Die goeie bedoelings waarmee die komitee van deskundiges ingestel is, strand op die onsimpatieke houding teenoor die Afrikaanse skrywer," het Eksteen gesê.
Lammie Snyman se kommentaar hierop was: "Ek ken prof Eksteen nie eers nie en is nie seker of hy in die advieskomitee van die Appèlraad gedien het nie. Sy bedanking sal hoegenaamd geen verskil maak aan die werking van die Appèlraad en sy advieskomitees nie."
Louis Eksteen het egter steun ontvang van Afrikaanse skrywers en letterkundiges soos onder andere André P Brink en Jan Rabie.
Hy het by die Universiteit van Pretoria gewerk totdat die departement van buitelandse sake hom gevra het om teen die einde van September 1990 as Suid-Afrika se kulturele attaché na Londen te verhuis. Hy is deur die UP na buitelandse sake gesekondeer en het einde 1990 amptelik as professor afgetree tydens sy dienstermyn in Londen.
Oor die loopbaanverskuiwing het Louis Eksteen aan Oosterlig (28 Mei 1990) se joernalis gesê dat hy "baie treurig" voel oor die akademiese loopbaan wat afgesluit word. "Die kontak met die studente oor die jare heen sal my altyd bybly. ’n Mens kom met die jong mense in aanraking en sien hoe oor drie jaar ontwikkel. Dit was ’n baie verrykende ervaring."
Hy en sy vrou Liona het einde 1992 na Suid-Afrika teruggekeer nadat besluit is om kulturele attaché’s na Suid-Afrika terug te roep weens besparingsmaatreëls. Charlotte het nie saam met hulle teruggekeer nie, aangesien sy ’n beurs van die Royal College of Music gewen het. Sy het later ’n gevierde tjellis in Londen geword en woon nog steeds in Londen.
Louis het al sedert sy skooldae gedigte as ’n stokperdjie geskryf, maar dit was eers in die laat 1950’s dat hy ernstig begin dink het om ’n bundel na die uitgewers te stuur. En só is sy eerste digbundel, ’n Fluit in die riet, in 1963 deur Nasionale Boekhandel uitgegee.
In Die Vaderland van 15 Mei 1964 het AP Grové geskryf dat daar in "’n Fluit in die riet gedigte is wat 'geen model' in Afrikaans het nie. Daar is wel hier en daar iets wat aan Gorter herinner soos die sintuiglike oopwees vir die wêreld met sy wind en wolke, sy berge en grond, gepaardgaande met die strewe om die natuurimpressies in te slyp in die taal".
Grové het Eksteen se spel soms "effe geforseerd" gevind, maar daar is wel gedigte in die bundel wat bewys dat die digter oor die "vermoë beskik om sy strewe poëties in vervulling te laat gaan".
Hierdie debuutbundel van Eksteen het aan WEG Louw (Die Burger, 5 Junie 1964) by die lees daarvan heelwat plesier verskaf. "Hierdie verse, wat oënskynlik – maar slegs oënskynlik, glo ek – so spontaan klink, omspeel álles wat hy waarneem en tower hulle om tot taal. Daarom is die titel wat hy gevind het, so treffend. Want soos ’n kind met ’n fluit in die riet of selfs ’n fluit van fluitjiesriet sou speel – sommer oor álles wat ’n mens op ’n mooi dag in die tuin of op straat kan sien – só speel hy ook met die taal.
"Ek het by die lees van dié verse, nooit kop gekrap nie; nooit vir my oor 'lae' van sin en simboliek bekommer nie; maar dié verse eenvoudig aangehoor en van tyd tot tyd byna saam begin speel. (...)
"Ek sou nie in dié stadium weet wat ’n mens van so ’n digterskap sou kan verwag nie. Dat dit 'groot' sou wees, betwyfel ek. Maar in sy soort is dié poësie verrassend en mooi, helder en suiwer. En as daar één plek waar die huis van die Vader vele wonings het, dan is dit die poësie!"
Ook in Volksblad (8 April 1964) was FIJ van Rensburg positief oor die nuwe digter aan die "firmament". Baie van die gedigte is ’n "vereniging van aardsheid en speelsheid, en dan kry ’n mens ’n vers wat ernstig is in sy spel, speels in sy erns. Die resultaat hiervan is dikwels die slim, meerduidige vers waaraan die geslagte ná Veertig ons gewoond gemaak het. En Eksteen se vers het veel meer lyf as die meeste dinge wat deesdae so virtuoos en in alle knapheid by ons gepleeg word."
Tussendeur sy digwerk en woordeboekwerk was Louis ook ’n toneelkritikus. Sy liefde vir die teater het van lank terug gekom, het hy aan Horne vertel. "Ek onthou nog goed hoe Anna Neethling-Pohl en André Huguenet ons by Seuns Hoër kom toespreek het in 1947. Dit was so dinamies en vol vuur dat ek eenvoudig meer daarvan wou leer en ervaar."
Hy het self ook toneel gespeel en in 1964 het hy as amateurtoneelspeler ’n trofee van die ATKV ontvang as die beste speler tydens ’n toneelfees.
Hy het daarvan gehou om toneelkritikus te wees, want dit het hom "gedwing om onder woorde te bring wat jou mening is".
Louis se tweede digbundel, Verse van ’n landloper, het in 1969 by Voortrekkerpers verskyn. Daar het wel resensies in Die Transvaler, Die Beeld en Die Nataller verskyn, maar die resensies is nie onder oë geneem nie.
Eers weer in 1982 (13 jaar na Verse van ’n landloper) het daar weer ’n digbundel van Louis Eksteen verskyn, naamlik Skuilhoek by Perskor. PH Roodt het die keurverslag vir Skuilhoek geskryf en sy bevinding was dat Skuilhoek "artistiek" beter is as Eksteen se eerste twee bundels. "Die bundel maak ’n keurig en beplande indruk" (Oggendblad, 17 Desember 1982).
Oggendblad het Eksteen se verse beskryf as nie "eng ek-verse nie, maar poësie wat wyd reik, meestal oor die konkreet aardse dinge. Deurgaans is ’n vakman aan die werk; iemand wat verse komponeer, met ’n sin vir balans en stukrag. Hy word bestempel as ’n knap en vindingryke digter wat ’n steeds stygende gehaltelyn handhaaf."
In Ensovoort van Desember 1984 skryf Johann de Lange dat Verse van ’n landloper ontsier is deur grafiese afdrukke, en dat dit vir hom ’n insinking in Eksteen se oeuvre was met slegs ’n paar verse wat die moeite werd was.
Maar met Skuilhoek het Eksteen vir hom sy beste bundel tot op daardie stadium gelewer. "Hy openbaar hom weer eens as natuurdigter met ’n skerp oog vir detail en die fyn taalaanvoeling en -hantering wat daarmee saamhang. (...) Skuilhoek is ’n plesierige bundel met iets vir elkeen, verál ook ’n uitdaging. Ek vind dit jammer dat die inhoudsopgawe agterin die bundel nie in ooreenstemming gebring is met die bundelindeling nie."
Vir M Nienaber-Luitingh (Volksblad, 9 Maart 1983) is Skuilhoek ’n bundel met party mooi "onderdele, maar dit bevat geen groot en oorspronklike poësie nie".
Vir André P Brink (Rapport, 26 Junie 1983) was Skuilhoek ’n "yslike teleurstelling, soms iets van ’n verleentheid". Ná die lang digterlike stilte van Eksteen het Brink van so ’n "geslypte en geslepe taalman" baie meer van hom verwag. Daar is oomblikke wat meer geslaag is soos die gedig "Tydperk" wat vir Brink "werklik knap gedaan is, wat die vervlietende aard van selfs die gedugste vernuftig in taal én visuele aanbod saamvat", maar dit is nie vir hom ’n bundel nie.
Henning Snyman se resensie van Skuilhoek het in Standpunte van Augustus 1984 verskyn. Vir hom is die titel ’n soort versamelterm: "die skuilhoek van menswees, die digkuns, die land en die satire téén die aanslae van menswees, digkuns ... Die gedigte in Skuilhoek is wesenlik ongekompliseerd, geskryf deur iemand wat die taal goed ken. Dit word dan ook die opvallendste kenmerk van die bundel: die behendigheid van die taalgebruik. (...) Skuilhoek het gebreke én winste, maar die goeie taal, die wrange vernuf en die byt van satire laat ’n mens hieraan met genot lees."
Besprekings van enkele van Louis Eksteen se taalkundige publikasies en woordeboeke:
- Die Afrikaanse woord: kort stukke oor die woordeskat uit die radiorubriek, Weeklikse woordeboek(1978): "Die Afrikaanse woordis ’n besondere publikasie waaraan ’n mens met veel genot kan lees." (Hilda Grobler, Hoofstad, 30 Junie 1978)
- Afrikaanse sinoniemwoordeboek met antonieme(1981): "In Afrikaans het ons ’n behoefte aan hele aantal naslaanwerke. In die behoefte aan ’n sinonieme-woordeboek het die bekende taalkundige dr Louis Eksteen nou voldoen. Dis ’n werk wat met groot vreugde bekend gestel en verwelkom word. (...) Hierdie sinonieme-woordeboek toon hoe ryk die Afrikaanse taal is, nie net aan blote 'woorde' nie, maar ook aan die weergee van nuanses – en tewens hoeveel elke luttele woord kan 'beteken'." (Karel Schoeman, Oosterlig, 1 Desember 1981)
- Eensillabige rymwoordeboek van Afrikaans(1981): "Hierdie rymwoordeboek dek slegs die eensillabige woorde wat in Afrikaans opgeneem is, met ook ’n groot aantal eensillabige eiename. Dit sal seker hoofsaaklik deur universiteite gebruik word, vir die beskrywing van die fonologiese en morfologiese struktuur van woorde. Digters en advertensie-skrywers sal dit ongetwyfeld ook nuttig vind." (JNJ Kritzinger, Beeld, 23 Junie 1981)
- Die gebruik van die hoofletter in Afrikaans(1980): "Met die verskyning van Louis Eksteen se boek, Die gebruik van die hoofletter in Afrikaanslaat hy onnoembare sorge soos môre-mis voor die son verdwyn. In sy soort is dit beslis die beste boek wat die afgelope dekade verskyn het en haas geen huis in Suid-Afrika behoort daarsonder te wees nie." (Jeanne Goosen, Hoofstad, 1 Februarie 1980)
- Groot woordeboek(1997): "Die Groot woordeboekbly ’n onmisbare stuk vertaaltoerusting. Die feit dat woordeboeke soos hierdie, kennelik na aanleiding van aanvraag, nog verskyn, getuig op meer as een manier van die lewenskragtigheid van Afrikaans." (Willem Botha, Insig, Januarie 1998)
Louis Eksteen was nie net ’n woordeboek- en taalman by uitstek nie, maar was in die 1970’s die onbetwiste kampioen van die radiovasvraprogram "Kampioenvasvra". Anton Prinsloo vertel in sy huldeblyk aan Louis Eksteen "Min woorde vir ’n woordman" (Taalgenoot, Januarie/Februarie 2002) dat hy Louis Eksteen in 1988 ontmoet het toe Radio Suid-Afrika destyds met ’n nuwe taalvasvraprogram, "Tel jou woorde", begin het. Louis Eksteen was die eerste man aan wie hulle gedink om saam met Alewyn Lee die noorde te verteenwoordig teen die taalkundiges van die suide.
Lee vertel hoe hy hom kon verlustig het in Eksteen se uitgebreide kennis van die taal en sy ongelooflike algemene kennis wat hy in hom rondgedra het. Hy was ook een van die staatmakers van die program "Klop die kampioene".
Terwyl Anton Prinsloo voorsitter van Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was, is daar op die eenparige aanbeveling van die Taalkommissie van die Akademie ’n besondere erepenning aan Louis Eksteen toegeken vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans as vakdissipline en as taal van die openbare medium.
In 1990 het die FAK ook ’n prestigetoekenning aan hom oorhandig vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans.
Louis Eksteen is op 13 Oktober 2001 aan komplikasies ná longontsteking in Pretoria oorlede. Hy het sy vrou, vyf kinders, nege kleinkinders en twee broers agtergelaat. Sy begrafnisdiens is in die NG gemeente Lynnwood waargeneem deur dr Willie de Koker.
Tydens die diens het Elize Botha gesê dat sy heengaan ons armer gemaak het. "Dit is moeilik om woorde te vind vir ’n man wat só ryk aan woorde was en wat so gul gedeel het. Dis moeilik om kleure uit sy kaleidoskopiese verrassende lewe te neem. Hy was ’n vriend wat geen voordeel uit vriendskap geëis het nie. Hy was ook iemand met ’n onuitroeibare nuuskierigheid en ’n legendariese geheue wat van hom ’n vasvrakampioen gemaak het. Sy nuuskierigheid was eintlik ’n verwondering, wat die lewenshouding van ’n ware wetenskaplike is."
Huldeblyke:
-
Die Burger hoofartikelblad 19 Oktober 2001: "Die dood van prof Louis Eksteen het die Afrikaanse wêreld ’n gees van formaat ontneem. As akademikus, taalkundige, woordeboekmaker, radioman, digter, skrywer en – ’n ruk lank – ook Suid-Afrika se kultuurattaché in Londen het op uiteenlopende terreine bydraes van groot waarde gelewer tot ’n ryker en wyer Afrikaanse kultuurlewe.
"Eksteen se wye belesenheid en belangstelling in feitlik elke onderwerp onder die son, sy fenomenale geheue en sy vermoë om in woordverklarings en vertaalekwivalente tot die kern van ’n woord of begrip deur te dring, het hom by uitstek toegerus vir die monniketaak van woordeboekmaker.
-
Francois Odendal: "Louis Eksteen was ’n man van só baie fasette dat dit moeilik is om te weet waar om te begin en waar om te eindig. Hy was bekend vir sy humorsin wat veral na vore gekom het in die blitsvinnige kwinkslae en gevathede wat hy skaars in toom kon hou. Hy was ’n mens-mens en was op sy gelukkigste omring deur sy vriende – veral as daar dan uiteenlopende punte gestel kon word. Verstommend was sy algemene kennis: sy dit gesteentes in die natuur, posseëls of biografieë.
-
Anton Prinsloo: "En as ek my diepe meegevoel aan Liona Eksteen, die kinders en kleinkinders oorgedra het vir die vriend en radiokollega wat ons verloor het, wat bly oor om te sê? As ons kyk na sy digbundels, sy verklarende woordeboek, sy vertalende woordeboek, sy sinoniemwoordeboek, sy rymwoordeboek, sy afkortingswoordeboek en ander werk, en na Louis Eksteen as mens, net dit: vra nie waar die monument vir Louis Eksteen is nie – sy monumente is om ons, en in die harte van sy familie en vriende." (Taalgenoot, Januarie/Februarie 2002)
-
Elize Botha: "Louis Eksteen se wonderlike, ligte nuuskierigheid oor die wêreld wat hom ’n algemenekennisman van sy tyd gemaak het, sal my bybly. Dit was ’n kinderlike soort nuuskierigheid. Dit het nie swaar op hom of ander gelê nie. In ons vriendskap van 50 jaar was hy nie ’n soort vriend wat ooit iets vir homself geëis het nie, maar hy het met dubbele hande gegee. Ons was jare lank kollegas en ek moes van tyd tot tyd taalkunde doseer, nie my vakgebied nie. Louis moes my dikwels ’n bietjie deurdra en met sy kenmerkende pragtige glimlag het hy dinge duideliker gemaak. ’n Mens sou kon reken dat Louis (met al sy belangstellings en kennis) ’n gans ander loopbaan ook met onderskeiding sou kon volg. Maar hy was lief vir die woord. Louis het homself verloor in sy verbintenisse met mense. Maar dit was nie net vir hom belangrik nie, dit was plesierig." (Beeld, 17 Oktober 2001)
-
Johan Degenaar, filosoof: "Eksteen was ’n waardevolle en waardige gespreksgenoot (in Degenaar se gespreksgroep) en ek het nie ’n ander keuse gehad as om hom te nooi nie. Dan het hy telkemale verras met die invalshoek in ’n gesprek. Dis waar sy sin vir humor gelê het. Hy het nie ’n ding in algemene terme gesien nie. Lag was vir ons ’n raakpunt. Mense het altyd gesê ons is skaars bymekaar, dan begin ons al lag." (Beeld, 17 Oktober 2001)
-
Dawid van Lill, aanbieder van "Klop die kampioene": "Hy kon met woorde spéél. ’n Antwoord was nooit ’n antwoord nie. Hy het die storie by sy wortels gaan haal. Dit was interessant as iemand hom kon vasvra met ’n woord uit sy eie woordeboeke. Maar dit was nooit vir hom ’n probleem nie. En tussen die fyn woordspelings deur het hulle altyd die antwoord gekry." (Beeld, 17 Oktober 2001)
-
André Bartlett, mededeelnemer aan "Klop die kampioene": "Hy was ongelooflik welbelese en het van alles iets geweet. Boonop was hy ingestel op mense en stories. Daar was ook ’n groot stuk nederigheid. Hy was nie iemand met ’n houding nie en jy het nooit deur sy kennis oorweldig gevoel nie." (Beeld, 17 Oktober 2001)
-
Louis Eksteen, jr, sy seun: "My pa het dit geniet as mense hom ’n vraag vra, omdat hy self ook daaruit geleer het. Hy het nooit neergesien op iemand nie – ’n tannie van iewers was vir hom net so belangrik soos die universiteit se rektor. Dit het ’n groot indruk op ons gemaak. En hy was ’n Blou Bul-aanhanger. Naas Botha, wat ook een van sy studente was, kon in sy oë niks verkeerd doen nie. (...)
-
Wilhelm Jordaan: "Die taalmens prof. Louis Eksteen se lewenstyl is gekenmerk deur ’n 'onuitroeibare nuuskierigheid; ’n verwondering oor die wêreld', het sy oudkollega prof Elize Botha in haar huldeblyk by sy begrafnis gesê. Daarom was hy ’n alkantman wat konvensies kon klop. Hierin lê nie net hulde aan ’n enkele besondere mens nie, maar lewenswysheid vir almal jonk en oud. (...) Dit was die filosoof René Descartes wat in die 15de eeu die mens se reg op lewensnuuskierigheid as ’n beginsel gevestig het met sy aanspraak: 'Ek dink, daarom is ek'.''
Hoe ek opgevoed is.
(Verskoon die eerste persoon
maar dit sorg vir ’n persoonlike toon.)
Nou, soos ek sê:
ek, en die ander van my geslag,
moes bang wees vir God,
vir ons ouers, die onderwysers,
die predikant, almal wat
oor ons gestel is: die owerheid in toto.
Vir die busse vir die trems
vir vuilsiekte en die Bantoe
vir Johannesburg, vir heidens,
en vir die gewone verkoue.
Vir drank en die musiek
veral vir Jazz
vir omtrent al wat boek is
vir die dagblad vir die Sondagblad
vir die geel gevaar, die swart ge-
vaar
vir die Jood wat smous
vir kapitalis vir arbeider
vir Duitser
Amerikaner
en veral
die Engelsman.
Die Jode floreer
Die Franse hoereer
Die Duitsers beheer
Die Amerikaners oordonder
En die Ingelse oorheers
imperialiseer.
Ai, en ja, hoe bang moes ek nie is
vir die kommunis.
Vir vrymesselaars
vir sosialis
vir die sons- en maansverduiste-
ring
vir besmetting van ’n wond
vir jou liggaam as hy gesond is.
Bang vir die water
Bang vir die son
Bang vir die reën ook
En bang vir die bom.
Bang vir my bang vir jou bang vir
hom.
Vir suidewind en haelstorms
vir harde reën en sagte stuif
vir nat voete
en vir seks.
Verskoon die persoonlike toon
maar dis hoe ek opgevoed is.
-
Joan Hambidge: "Die dood van die taalman Louis Eksteen noop hierdie huldeblyk. Nie net behoort daar hulde gebring te word aan hom as taalkundige nie, maar ook as taalmens. As woekeraar met die woord. Eksteen was ’n taalkundige wat onbaatsugtige werk vir die Afrikaanse digter gelewer het. Sy bekende rymwoordeboek en sinoniemwoordeboek is handleidings waarsonder geen digter kan arbei nie. Hoeveel aande het hy nie al ’n mens gehelp om ’n ander woord of rym te vind nie! En boonop bedank hy sy studente gul voor in die sinoniemwoordeboek, maar die leser weet dat hy verantwoordelik was vir die finale ordening en afronding.
wat ooptrek in die dou.
Ek rol my op: ek duisendpoot
wiel-wiel in die paadjie af:
hopla oor ’n klip
hiepla deur ’n knik –
ek trek my regop, langdun uit:
erdwurm natterig deur die grond
ug-ug die duister deur
waar kom ek uit?
Ek kom nie uit,
’n deel bly in die grond, nederig,
en ek helfte-helfte nou as mier
dan as spinnekop
dan as gogga-dit en gogga-dat
en ek bêre my so dan en wan
in die miklyf van ’n nagmuskiet.
-
Liona Eksteen: "Ek dank God dat ek my man vir 50 jaar kon ken en 45 jaar met hom getroud kon wees. Hy het vir my die wêrelde van kuns en die Afrikaanse en Engelse letterkunde oopgemaak. Ek het altyd op hom staatgemaak wat sy kennis betref. Ek gaan hom verskriklik mis. Aan ons vyf kinders wil ek net sê dat jul tuiskoms altyd vir jul pa vreugde gegee het en hy was baie trots op julle." (Beeld, 18 Oktober 2001)
Publikasies
|
Publikasie |
Groot woordeboek: Afrikaans-Engels; Engels-Afrikaans = Major dictionary: Afrikaans-English; English-Afrikaans |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
|
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Beknopte verklarende woordeboek. Saam met MSB Kritzinger |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
’n Fluit in die riet |
|
Publikasiedatum |
1963 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Die leksikale definisie: ’n leksikografiese ondersoek |
|
Publikasiedatum |
1965 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: LC Eksteen |
|
Literêre vorm |
Taalkunde (tesis) |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Werkboek by die fonetiek. Saam met MC van Rensburg en S Strydom |
|
Publikasiedatum |
1967 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Nasou |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Verse van ’n landloper |
|
Publikasiedatum |
1969 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Taalstudie vir die laerskool. Standerd 5: onderwysersuitgawe. Saam met AJJ Botes en CP van der Walt |
|
Publikasiedatum |
1970 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Afrikaanse taalatlas. Saam met SA Louw |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Universiteit van Pretoria |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Taalstudie vir die middelbare skool. Standerd VI |
|
Publikasiedatum |
1975 (volledig en bygewerk) |
|
ISBN |
0628007906 |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Taalstudie vir die middelbare skool. Standerd 10. Saam met CP van Aardt en JC Combrink |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0628008023 (hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Nasionale woordeboek: Afrikaanse woordverklaring |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Kaapstad: Nasou |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Die Afrikaanse woord: kort stukke oor die woordeskat uit die radiorubriek, Weeklikse woordeboek |
|
Publikasiedatum |
1978 |
|
ISBN |
0868740152 (hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Academica |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Die gebruik van die hoofletter in Afrikaans |
|
Publikasiedatum |
1980 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Academica |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Afrikaanse sinoniemwoordeboek met antonieme |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Eensillabige rymwoordeboek van Afrikaans |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0628019106 (hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Lex Patria |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Afkortingswoordeboek: Afrikaans-Engels; Engels-Afrikaans = Dictionary of abbreviations: Afrikaans-English; English-Afrikaans / saam met JG du P Pretorius |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0628019238 (hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Taalstudie vir die middelbare skool. Standerd 7, 10. Saam met CP van Aardt en JC Combrink |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Skuilhoek |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0628023219 (hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Genetiese en statistiese woordeboek vir veekunde: met definisies in Engels en Afrikaans. Saam met DR Osterhoff |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0627012817 (hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
’n Beeld van Afrikaanse woorde |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Academica |
|
Literêre vorm |
Radiopraatjies oor Afrikaans |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
ASA: Afrikaanse sinoniemwoordeboek met antonieme |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
0627023570 (hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
|
Publikasie |
Groot Afrikaanse sinoniemwoordeboek. Saam met Lorraine du Pré |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0627020127 (sb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Woordeboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Louis Eksteen as vertaler
- Van der Walt se ensiklopedie vir kinders. Pretoria: Van der Walt, 1977 [ISBN 0799302791 (hb)]
Louis Eksteen as redakteur
- Afrikaans: objek en metode/ saam met Réna Pretorius. Pretoria: Van Schaik, 1983 [ISBN 062701314X (hb)]
Artikels oor en deur Louis Eksteen beskikbaar op die internet:
- Bekende professor sterf ná longkomplikasies
- Breytenbach, Phillippa: Taalman se gesprek oor byname kielie die lagspiere
- De Bruin, Philip: Eksteen se versameling Africana opgeveil
- Eksteen, Liona en gesin:
- Eksteen, Louis:
- Dan word taal self draer van sulke vooroordele [brief]
- Tuin [gedig]
- Fourie, Carien:
- Fritze, Celesté: Sê groete vir die ander groot visse, prof Louis
- Hambidge, Joan: Kleinvis-digter & woordwoekeraar
- Jackson, Neels:
- Jordaan, Wilhelm: Verwonder nuuskierig aan lewe se sonkant
- Krüger, Elsa: Britte kan leer van SA se literatuur
- Lötter, François: Attaché werk nou aan sy eie boek
- Louis Eksteen
- Louis Eksteen na Londen
- Louis Eksteen (70) sterf ná kort siekte
- O’Connor, Michelé: Bekende taalman oorlede
- Swanepoel, Thalyta:
Louis Eksteen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-12-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk. Die nuwe foto
Bronne
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.



Kommentaar
My pa was 'n groot digter. Lank lewe pappa. We LOVE you!
Ek is tans besig om deur Verse van 'n landloper te lees en te herlees, beter te waardeer en vandaar die weer gou kom kyk hier.
My pa se neef (ook Louis Eksteen), wat Nefie genoem is en op 21 oorlede is in 'n karongeluk, was nie deel van 'n tweeling nie. Nefie se pa, Koosie Eksteen, en my pa se pa (ook Louis Eksteen, wat net standerd 3 gehad het volgens 'n gedig deur my pa nagelaat), was wel 'n tweeling. Oom Koosie se vrou, tant Bertie, het inderdaad vir hulle leer lees en skryf, en van toe af was my pa 'n boekwurm en op 'n ou foto kon ek sien hy was beeldskoon, mooi en verfynd, met so ronde vermoedelik goueraam-brilletjie.
Dit maak nie vir my sin dat hy graad 1 gespring het as hy in 1948 op 18 gematrikuleer het nie. Ons het ook met die storie grootgeword. Dit hang natuurlik af van hoe oud hy was in graad 2.
In 1965 was hy verbonde aan die toe pasgestigde Universiteit van Port Elizabeth, waarin ek in een gedig in Verse kon sien hoe die plek hom erg geaffekteer het na sy werk aan die woordeboek in die pragtige Stellenbosch.
Charlotte (G. 1971) het in 1989 Londen toe vertrek, want sy het 'n beurs gewen van The Royal College of Music vir haar tjello. Sy het nie saam met hulle teruggekeer nie en woon nou al 33 jaar daar.
Ons ander kinders is: Nerina (G. 1957), Karin (G. 1958), Annora (G. 1961) en Louis (G.1963).
Nerina, Karin en ek het elkeen twee dogters en een seun, en Charlotte het twee seuns. Elf kleinkinders dus, en tans is daar vyf agterkleinseuntjies en 'n dogtertjie op pad. Karin het viertjies, die vyfde enetjie op pad; Nerina enetjie in Londen, en ek het nog geen.
Nou is ons die ouer garde.
Baie dankie vir die inligting. Ek sal die regstellings aanbring.
Groete
Erika Terblanche
Dankie Erika, en ook vir al die ander skrywersprofiele. Dit is meer as goud werd vir nou, en ook vir toekomstige geslagte.