Liza Grobler gesels oor haar jongste uitstalling, geïnspireer deur Eugène Marais

  • 0

Liza, vertel asseblief bietjie meer oor jou keuse van medium – hoekom hekel, brei en krale? Wat is dit omtrent hierdie mediums wat jou aantrek?

Ek het nog altyd gebruik gemaak van kunsvlyttegnieke, en vind aanklank by die klein, herhalende aksies wat uiteindelik kan lei tot 'n monumentale voorwerp. Dit sluit ook aan by die "white termite"-konsep (oftewel Siel van die mier-boek), waar volgehoue aksie natuurlik bydra tot grootse natuurlike argitektuur, naamlik dié van 'n termietnes.

Jou jongste uitstalling (of installasie?) is getiteld White Termite – vanwaar die titel en wat probeer jy as kunstenaar hiermee sê?

Dit is losweg gebaseer op Eugène Marais se Siel van die mier wat tans weer wyd aandag trek. Ek skep basies 'n fiksionele “nes” waar die toeskouer 'n wêreld kan betree waartoe ons nie gewoonlik toegang het nie. (Die galeryruimte is ook onder grondvlak, wat hierdie ruimtelike parallel verder versterk.)

 Hoe lyk die uitstalling fisies? Ek verneem die galery is blou?!

Die hele tentoonstelling is blou – dit is 'n monochromatiese tentoonstelling; by uitstek blou. Die toeskouer betree hier 'n ruimte met vyf opblaasswembaddens (“wishing wells”) wat toegehekel is in skakerings van blou; die hekelwerk sprei oor die vloer uit en mens moet letterlik oor dit klim om na die muurwerke te kyk. Werk wissel van groot olie op doek tot klein draadbeeldhouwerkies met kristalinsette. Al die dele werk saam om 'n ervaring te skep waar al die sintuie betrek word ... met dank aan Plascon vir die Greek Island blou verf!

Ek vind jou Fleeting Thoughts-reeks fassinerend. Kan jy asseblief meer oor hulle skeppingsproses praat?

Hierdie reeks tekeninge is amper net gedagtes - dis abstrakte werke wat herinner aan water, of landskappe, en miskien ook hare ... Dis asof elke tekening 'n brokkie van 'n idee is. In 'n mate het hierdie reeks die weg gebaan vir die netwerk wat een werk met 'n ander verbind.

Tot wanneer is White Termite aan die gang en wat gaan jy daarna doen? Waar kan mense jou werk volg?

Die tentoonstelling is nog tot 20 Junie te sien. Daar is ook 'n pragtige klein katalogus/boekie te koop wat die werke dokumenteer. Hierdie Saterdag (19 Mei om 11h00) en Vrydag 8 Junie om 11h00 word die hekelvertoning herhaal met die drie blonde mans – kom kyk gerus vir "proses in aksie"!

Dan gaan ek en Hannah Paton na die Grahamstad Kunstefees met 'n produksie Taming the Terroir (wat op 29 Junie daar open). Ek het ook pas 'n tweetalige kinderboek, Tando die tandemuis van Muizenberg, saam met Sybrandus Adema uitgegee wat van hierdie week af op die rakke is.

Om meer van Liza se kunswerke te sien, besoek die galery se webwerf by www.brundyngonsalves.com, en ook www.lizagrobler.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top