Living Things: Handspring Puppet Company Now – Poppe vol lewe en energie

  • 0

Basil Jones en Adrian Kohler van Handspring Puppet Company is vanjaar die feeskunstenaars op die Absa KKNK. Handspring Puppet Company is een van Suid-Afrika se mees suksesvolle uitvoerprodukte binne die kunstewêreld en dit is selde dat ’n Suid-Afrikaanse gehoor die geleentheid het om dié unieke poppekuns te ervaar. Die Handspring Puppet Company se produksies en poppe is internasionaal in aanvraag en die geselskap het al etlike toekennings ontvang, onder meer die Olivier Award, Evening Standard Theatre Award en die London Critics’ Circle Award.

Sandra Hanekom, kurator: visuele kuns, het die Handspring Puppet Company as feeskunstenaar gekies om haar leuse vir vanjaar se fees, Die taal van kyk – Die begrip van sien, te verbeeld:

Die keuse van Basil Jones en Adrian Kohler van die Handspring Puppet Company as feeskunstenaars is gebore uit my geloof in die integrasie van die kunste en die behoefte om dit ’n sigbare platform te gee tydens die Absa KKNK. Jones en Kohler het tydens hul lang en suksesvolle loopbane die visuele kunsvorm van die “poppespel” na nuwe hoogtes binne die uitvoerende kunste gevoer. Hul skeppings verpersoonlik nie net binne die opvoerings nie, maar ook as folterende metafisiese figure buite die teater. Die ongelooflike patos wat hierdie “poppe” bewoon en die deernis waarmee hulle die menslike bestaan parodieer, laat die individu weerloos en ontbloot. Living Things: Handspring Puppet Company Now is ’n uitstalling wat geen feesganger durf misloop nie. Dit is waarlik visuele towery!

Volgens Janni Younge, kurator van hierdie uitstalling, is die kriteria vir die keuse van poppe vir hierdie uitstelling drieledig. Poppe is gekies wat nog nie voorheen in Suid-Afrika uitgestal is nie, wat kontemporêr is en wat die verlede, hede en toekoms van die Handspring Puppet Company uitbeeld.

Poppeteater is ’n duur en eksklusiewe kunsvorm en die Handspring Puppet Company stuur hul werke oorsee sodra dit voltooi is. Volgens Younge is dit ’n besonderse eer om deur die Absa KKNK uitgenooi te word om as feeskunstenaar by die fees uit te stal, aangesien dit ander Suid-Afrikaanse kunstenaars en die ABSA KKNK-feesgangers blootstel aan hulle werk.

Die uitstalling is in seksies verdeel wat elk ’n produksie uit hul werk verteenwoordig. Die opspraakwekkendste hiervan is Warhorse. Warhorse, wenner van ’n Tony Award vir die Broadway-produksie, behels lewensgroot en -getroue perdepoppe. Hierdie manjifieke gediertes is wêreldwyd in aanvraag en ’n volledige produksielyn van twintig werkers by die “stud farm” in Kaapstad neem tot 18 maande om twee op ’n slag te voltooi. Volgens Younge sal die huidige aanvraag eers oor vier jaar afgehandel wees. Die perd op uitstalling se meganismes is nog onvoltooid, maar dit doen geensins afbreuk aan die visuele ervaring nie.

Warhorse

Woyzeck on the Highveld (1992) is gebaseer op die dramateks deur Georg Buchner en is in samewerking met William Kentridge geskep. Hierdie uitstalling verteenwoordig die begin van die Handspring Puppet Company se sukses en word steeds in verskeie wêreldstede opgevoer.

Woyzeck on the Highveld

Or You Could Kiss Me is geskep in samewerking met Neil Barnett en vertel die intieme geskiedenis van twee karakters.

Or You Could Kiss Me

Ouroboros (2011) vertel ’n liefdesverhaal van ’n danser en digter. Janni Younge het die poppe ontwerp en is daarvoor bekroon met die Standard Bank Young Artist Award vir Teater in 2010. Met hierdie produksie het Younge se rol binne die Handspring Puppet Company realiseer. Younge is vanjaar bekroon met ’n Fleur de Cap vir hierdie produksie.

Die Ouroboros-poppe is ontwerp om hul manipuleerders in noue kontak te bring met die poppe om sodoende lewe te gee daaraan. Younge wys daarop dat die poppe in poppeteater so gemanipuleer moet word dat die gehoor dit ervaar as ’n lewende wese met sy eie lyftaal en energie. Dit is ’n baie presiese kuns en die Handspring Puppet Company is deurlopend betrokke by die opleiding van die manipuleerders vir elk van die internasionale produksies.


Ouroboros

Die uitstalling vind plaas in die Victoria Memorial Hall (Anglikaanse Kerksaal), Baron van Reedestraat. Dis daagliks oop, gratis en is ’n moet vir oud en jonk. Vir eers moet die Suid-Afrikaanse gehoor tevrede wees om die poppe slegs op uitstalling te sien, maar hou moed! Die belofte is dat Warhorse in 2014 in Suid-Afrika sal toer.

Besoek die Absa KKNK se virtuele kunsgalery.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top