Littekens

  • 1

Foto: Canva

Littekens
(as eggo van “Die VN-hoofkwartier in die hoëkommissaris se huis in Jerusalem”)

Die mediators, vredemakers, kompromis-fatsoeneerders, vertroosters
se regeringshuis is wit
soos ’n olifant
bring hy sy wapens uit die verte
uit die onuitputlike bron van sy mense

sy diplomate het klinkklaar antwoorde by elke persindaba:
 “We stand by them. We stand by a people without a country!”
maar tot almal se ontsteltenis moes die wêreld besef
dat daar redelik baie mense in die land is
wat – by die VN-vergadering – bemark is
as ’n land sonder ’n mense

én alhoewel húlle in ’n gemaak soewereine staat
kon hoop – soos wat Afrika-groeperinge ook gehoop het –
op die droom wat hulle land oop sou maak vir ál sy mense
– ’n staat wat soos man en vrou een kon word –
sonder om die hoofweg van pas-in-hand te volg,

het die land sonder ’n mense
’n plek geword waar stootskrapers nie nét huise
omdolwe en in die woestyn begrawe nie,
maar waar kinders en moeders se lyke
in kollektiewe massagrafte verdoesel word

en die seun wat ek eens was, lees die berigte
in Kodachrome op Al Jazeera en BBC
gee my oor aan pyn se kleur soos ’n Paul Simon-lied
dit wat ontwikkel word in die donker kamers van verdriet:

sal die kinders wat uit veld toe is
ooit weer in die skaduwee
van die olyfbome speel?
sal hulle bloed ’n olyf van vrede daar kan stel?

vertel vir óns, die mense, watter diplomatieke hofnar
sal hierdie voltydse wurggreep aan my keel:
van vergewe ons, vergewe ons
vergewe ons

(want ons weet presiés wat ons doen ... ) kan laat los

ons het by Amichai se eiland aangekom
vir ’n paar dekades daar oorwinter
en toe weer verder gevaar

om die bloudruk van die verlede
vir nog ’n generasie digters te bewaar

  • 1

Kommentaar

  • Anne-Marie Bartie

    Hierdie vers het my stil gemaak, my hart opstandig en my siel, stukkend. Wat treffend is, is die woorde "die seun wat ek was"...
    Dankie vir 'n ongelooflike iets.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top