LitNet Eerste slukkie: Sink deur Brett Michael Innes

  • 1

LitNet publiseer voortaan uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

Brett Michael Innes

Proe nou aan Brett Michael Innes se Sink, in Afrikaans vertaal deur Elna van der Merwe.


 

Sink
Brett Michael Innes

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081340

Rachel, ’n huiswerker van Mosambiek, se dogter sterf tragies onder die sorg van haar Suid-Afrikaanse werkgewers, die Jordaans. Sy word gekonfronteer met ’n onmoontlike keuse: keer sy terug na die armoede van haar geboorteland, of bly sy, om haar visum te hou, en haar familie in Inhassoro te ondersteun? Dit raak selfs moeiliker wanneer sy uitvind die Jordaans verwag hul eerste kind. Sink verken verlies uit die perspektief van drie mense van uiteenlopende agtergronde.

Ook ’n treffer-film met Anel Alexander, Shoki Mokgapa en Jacques Bessenger. Die boek het oorspronklik in Engels verskyn as Rachel Weeping.


Hoofstuk 1

6 April 2014

“Rachel, ek weet dis ’n gesprek wat ons almal probeer vermy, maar ons sal móét praat.”

Rachel kyk oor die twaalfsitplek-houttafel na Chris en Michelle Jordaan.

Die lig van die ontwerperslamp val skerp op die blink gepoetste oppervlak wat haar van die twee skei. Sy kyk hoe die stoom uit die drie bekers tee stadig boontoe krul. Die gasverwarmer in die hoek van die vertrek gloei rooi, maar kry dit nie reg om die koue heeltemal te verjaag nie. Wanneer die seisoen eers begin draai, kry die koue altyd ’n manier om die huis binne te sypel. Onder die tafel vou dit om Rachel se kaal enkels.

“Dis nou vier weke,” sê Chris. Die baardstoppels is donker op sy gesig – nie van in die mode wees nie, meer van afskeep. “Ons moet besluit wat die volgende stap vorentoe vir ons almal gaan wees.”

Hulle praat altyd Engels met mekaar, want Rachel verstaan nie veel van die Jordaans se huistaal nie, net hier en daar ’n paar groetwoorde en ander losses wat sy deur die jare raakgehoor het.

Sy wag dat hy voortgaan, sien hoe hy sukkel om te sê wat hy wil sê. Michelle sit stil langs hom en staar na die tafel sodat sy nie vir Rachel hoef te kyk nie. Haar blonde hare wat gewoonlik perfek versorg is, is vasgebind in ’n slordige poniestert met donker wortels wat duidelik wys onder die salonblondheid. Chris se bruin hare het ligter geword in die byna ses jaar dat Rachel al vir hulle werk en by die hoeke van sy oë kan sy permanente kreukels sien wat veroorsaak is deur die glimlag wat gewoonlik so deel van hom is.

“Kyk, Rachel,” sê Chris toe hy weer woorde kry, “dit is vir ons baie lekker dat jy hier werk, maar ons sal verstaan as jy wil aanbeweeg.”

Sy bly swyg. Sy probeer hoor wat dit is wat Chris vir haar sê. Hy is ’n goeie man, dit weet sy, maar nou moet hy ’n probleem oplos en sy lojaliteit sal by Michelle wees. Dié het aan ’n groefie in die tafel begin krap.

Toe Rachel ’n paar jaar tevore vir Michelle haar dertigste verjaardag help reël, het sy besef hulle is ewe oud, maar dié ooreenkoms het vir haar net onderstreep hoe baie hulle van mekaar verskil.

“As dit die geval is,” gaan Chris voort, “sal ons jou vergoed ver bo wat die wet –”

“Ek sal bly.”

Haar woorde stuit hom in die middel van sy sin en laat Michelle vir die eerste keer opkyk van die tafel.

“Is jy seker?” vra Chris. “Wil jy nie eers ’n bietjie daaroor dink nie?”

“Ek sal bly.”

In ’n sagte stem bevestig Rachel haar besluit op ’n manier wat die Jordaans geen ruimte laat om dit verder te bevraagteken nie. Sy is self verras oor hoe beheers sy is. Sy sien hoe Chris vinnig na Michelle kyk.

Duidelik was nie een van hulle voorbereid op ’n onmiddellike antwoord nie en beslis nie op dié een nie.

Chris neem sy vrou se hand en die groefie in die tafelblad eis weer al Michelle se aandag op.

“Wel, as dit is wat jy wil doen,” sê hy, “dan moet ons jou vra om Maandag – môre – weer in te val. Soos jy kan sien, het die huis ’n ernstige skoonmaak nodig.”

Hy is reg, dit is vuil. Rachel het dit gesien die oomblik toe sy instap, dat die Jordaans haar afwesigheid gevoel het. Die swart-en-wit teëls in die voorportaal is vuil, die opwasbak in die kombuis loop oor van vuil skottelgoed en as sy badkamer toe loop, sal daar vir seker ’n wasgoedmandjie oorvol van die afgelope weke se vuil klere wees.

“Goed. Môre is reg.”

“Is jy seker, Rachel?” vra Chris met ’n ligte frons.

Rachel kyk na hom en knik haar kop om hom te probeer oortuig sy is. As húlle haar glo, sal sy dit seker mettertyd self regkry. Sy kyk nie weg toe hy stip na haar staar om te sien of daar enigiets is wat haar antwoord weerspreek nie.

Sy trek nie ’n spier nie.

Toe kyk hy weg en voer die gesprek in Michelle se rigting om dit te laat lyk asof sy deel is van die volgende besluit, terwyl hy in werklikheid besig is om dit te neem terwyl hy praat.

“Wel, dan sal ons vir jou ’n verhoging gee, want dit is in elk geval nou tyd daarvoor. Ons kan kyk of ons jou kamer ’n bietjie kan laat regmaak, miskien ’n nuwe stofie . . . ”

Hy probeer hard om sy ongemak met die situasie te onderdruk.

Rachel voel die gal in haar keel opstoot terwyl sy luister hoe hy al die gawes opnoem wat hulle aanbied as vergoeding.

“Dankie.” Sy sien ’n skrefie van ’n glimlag terugkeer na Chris se oë; hy is seker verlig dat hulle darem ’n soort oplossing kry. Rachel staar na hom; sy wil nie terugglimlag nie, maar sy wil ook nie lelik wees met hom nie. Net soos sy, is hy ’n slagoffer en sy kan haar nie so ver kry om sleg van hom te dink nie.

“Is daar enigiets wat jy wil weet of wat jy graag vir ons wil vra?”

“Kan jy dalk môre my maand se geld vir my gee?”

“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.”

Rachel knik en al drie bly sit in stilte, nie seker wat om te doen noudat alles wat gesê moes word uit die pad is nie. Sy kyk af na die tafel wat sy op Dinsdae en Vrydae poets. Na ’n paar minute besef sy die Jordaans wag dat sy die gesprek afsluit.

“As dit al is, wil ek graag nou na my kamer toe gaan.”

“Ja. Wel. Dis dan nou dit,” sê Chris. En toe skielik in Afrikaans: “Dankie.”

Rachel knik weer, dié keer in reaksie op die “dankie”. Toe sy opstaan, skraap die houtstoel oor die vloer en meer uit gewoonte as goeie bedoelings begin sy die drie bekers bymekaarmaak om dit kombuis toe te neem. Michelle spring op, wys sy moenie en steek haar hand uit voor Rachel haar beker ook kan optel.

“Ek sal dit doen.”

Rachel sit haar beker weer neer op die tafel. Sy trek haar hemp reg, kyk nog ’n slag na Chris en draai om. Agter haar is daar stilte.

Michelle staan en kyk hoe Rachel by die deur uitstap. Sy hoor die moeë flap-flap van haar pantoffels in die donker gang af verdwyn in die rigting van die voordeur. Haar gedagtes is ’n maalkolk wat al maller tol. Sy hoor hoe die deur oopgaan en dan weer toe, daarna die gekletter van die veiligheidshek.

Sy is veronderstel om te loop. Sy is veronderstel om die geld te vat en te lóóp.

Dof beweeg sy met die drie bekers deur die spogkombuis tot by die opwasplek. Wat op aarde besiel Rachel om te bly? Sy gooi die lou tee in die wasbak uit waar dit soos ’n bruin waterval oor die stapel vuil skottelgoed loop. Sy draai om. Deur die oop deur sien sy Chris sit steeds bewegingloos by die tafel in die sitkamer.

“En hoe is ons veronderstel om só te leef?”

“Ons kan haar nie in die pad steek nie.”

“Hoekom nie? Moenie vir my sê wat ons nou doen, is ’n oplossing nie.”

“Natuurlik is dit nie, Michelle, maar daar is nie ’n kans dat ons haar kan vra om te loop nie.”

Michelle gluur haar man aan hoewel sy goed weet hy’s reg, maar sy is gefrustreer deur die uitkoms van die aand se gesprek. Sy hou hom dop terwyl hy dinge sit en uitwerk, dan terugkeer van die afgrond waarheen sy gedagtes hom geneem het en na haar opkyk. Hy blaas sy asem uit.

“Ons sal eenvoudig ’n manier moet kry om dit te laat werk, Michelle. Om die een of ander rede dink sy dis beter om by ons te bly as om weg te gaan, so ons sal net moet aangaan.”

Sprakeloos draai Michelle terug na die wasbak. Hoe Chris die situasie kan vereenvoudig tot iets wat hulle daagliks net sal moet uitwerk, gaan haar verstand te bowe. Hy maak asof dit ’n verhoging in hulle elektrisiteitsrekening of ’n nuwe soort waspoeier is waaraan hulle gewoond moet raak.

Sy kyk af na die spul skottelgoed voor haar – borde, bakke en koppies wat oor die weke opgestapel het toe sy haar nie so ver kon kry om op te was nie. Dis nie dat huiswerk benede haar is nie; sy was tog op hoërskool ’n kelnerin in ’n pizzaplek en het op haar dag erger as dít gesien. Maar elke keer wanneer sy wou opwas, was dit asof al haar energie om die een of ander rede verdamp en met elke nuwe bord of beker op die stapel het dit net erger geword.

’n Swaar hart lei tot swaar hande, wil dit lyk.

Toe sy wegdraai van die oorlopende wasbak, sien sy Chris sit nie meer by die tafel nie. Sy spits haar ore; rugbywedstrydgeluide verklap hy kyk TV. Sy skakel die ketel aan, maak die kas voor haar oop en haal die laaste twee skoon bekers uit. Kitsch goed wat net Chris sou koop en wat sy net gebruik as hulle alleen is. Op die pers een staan Drama Queen en op die gele The Man, The Legend. Sy sit ’n teesakkie in elk.

“Nog tee?” roep sy. Haar stem trek verby die vier gastekamers met hul duifgrys skakerings van duur Weylandts-dekor, haar tuiskantoor, die gastebadkamer met sy Duitse stortkop wat Chris byna ’n oorval laat kry het, tot by die TV-kamer. Die huis is in die sewentigerjare gebou toe plafonne hoog en vertrekke ruim was, heel anders as die nuwe geboue wat deesdae in Johannesburg se noordelike voorstede opspring.

Dit is die eerste eiendom wat sy en Chris saam gekoop het, en om te sê dit het opknapwerk nodig gehad – soos die advertensie gelui het – is om dit hopeloos te sagkens te stel. Hulle het die bekende raad gevolg om die swak huis in die goeie straat te koop, maar met Chris wat ’n argitek van beroep is, was dit vir hom eerder ’n opwindende projek as ’n probleem. Op die dag wat die sleutels van Vyfde Laan 76 in Parkhurst aan hulle oorhandig is, het ’n jaar van breek-en-bou aangebreek wat Michelle sou verkies om te vergeet.

Die verbleikte matte is uitgeruk en vervang met groot granietteëls, die ou skuifraamvensters moes plek maak vir geïsoleerde dubbelglasruite, die mure is wit geverf en die skeidsmuur tussen die kombuis en leefvertrek is afgebreek. Elke vertrek is onder Michelle se wakende oog deur ’n topontwerper versier en die vermenging van meubels en kuns, alles in ’n palet van grys, room en beige, is aangevul deur teksture van hout en wol. Die kombuis was die ergste en op die ou end het hulle die hele spul uitgeruk en laat oorbou. Hulle het marmer-werkoppervlakke, ’n Smeg-gasstoof, ingeboude kaste, ’n hoekspens, ontbythoekie, dubbeldeur-yskas (ook die begeerlike Smeg), wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser en, in die hoek, ’n Italiaanse espressomasjien goed genoeg vir ’n restaurant laat insit.

Die lewe is te kort vir kitskoffie.

Michelle staan by die ketel en wag dat Chris antwoord, maar die sportgeluide is al wat sy hoor. Sy trek haar asem in om weer te roep en besluit toe daarteen. Sy sit een teesakkie terug in die houer en pak die Drama Queen-beker terug in die kas. Terwyl sy luister hoe die water begin kook, staar sy na die patrone in die marmer. Sy was steeds nie gelukkig met die spesifieke skakering van naaswit nie, maar toe sy die dag by die kombuis instap en sien die kombuisblaaie is klaar geïnstalleer, het sy besluit om stil te bly. Só het die werkoppervlakke vir haar ’n aanmaning geword dat as sy iets reg gedoen wil hê, of dit huisopknapping of die lewe in die algemeen is, sy dit nie aan Chris kan oorlaat nie. Hy was daar die dag toe die kombuisblaaie gelê is en toe sy later vir hom uitwys dat dit nie dieselfde wit is as die monster waarop hulle besluit het nie, het hy daardie tipiese glimlaggie van hom gegee en gesê niemand sal die verskil agterkom nie.

En nou is hy dit weer aan die doen. Neem besluite namens haar en sê dan dit sal nie so sleg wees nie. Maar dit is nie nou ’n marmerwerkblad nie; dit is nie ’n skakering van naaswit waarby sy net kan verbykyk en maak of dit nie daar is nie. Wat dit erger maak, is dat anders as met die kombuisblaaie, dit nie Chris se fout is nie. Sy is die een wat blameer moet word vir die situasie waarin hulle vasgevang is en hoe graag sy ook al daarby wil verbykyk en maak asof dit nooit gebeur het nie, weet sy as Rachel vir hulle aanhou werk, gaan dit onmoontlik wees.

Michelle draai om toe sy ’n gekrap aan die deur hoor. Dit is Hugo, hulle optelhondjie van onsekere herkoms, wat uitgelaat wil word. Sy buk af om die hond se kop te krap voor sy hom laat uitgaan. Toe hy klaar is met sy besigheid, draf hy terug met die trappe op en reguit na sy ontwerpersmandjie aan die ander kant van die vertrek waar hy nou sal opkrul vir die nag. Michelle glimlag toe sy die kombuisligte afskakel en na die ander kant van die huis stap. As dit nie vir haar verbod op diere in die slaapkamer was nie, het Chris beslis daardie mandjie by hulle voetenent staangemaak.

Op die diep leerbank rits Chris sonder enige doel of plan deur die kanale van die 49”-hoëdefinisie-TV wat hy en Michelle vroeër vanjaar aangeskaf het. Die rugby is al tien minute gelede klaar, maar hy is nog nie lus vir bed toe gaan nie. Hoewel hulle die duurste beskikbare packet gekies het, verstom dit hom altyd dat daar nooit iets is om te kyk wanneer hy in die bui is vir TV nie. Hy kyk op die PVR watter episodes en flieks hulle opgeneem het. Daar is ’n paar sitkoms van twintig minute waarna hy kan kyk, maar hy weet Michelle het dit nog nie gesien nie en dit sal haar vies maak as hy dit sonder haar kyk. As jy ’n lewensmaat het saam met wie jy reekse kyk, is die eerste reël dat jy nie na ’n episode mag kyk as die ander een nie by is nie. Die tweede reël is dat jy kyk na dit waarvan jou vrou hou, wat beteken Chris kan nooit enigiets wat net effens na wetenskapsfiksie of ’n riller lyk, geniet nie. In hul besige dae het dit beteken wanneer hy wel tyd het om TV te kyk, is dit gewoonlik ’n banale werklikheidsreeks.

Hy rol deur al die opgehoopte werklikheidsreekse op soek na die finale episode van ’n wetenskapsfiksiereeks wat hy weet hy verlede maand opgeneem het. Toe hy by die einde van hulle versameling kom, besef hy Michelle moes dit uitgevee het om te plek te maak vir iets anders, iets wat sy wou kyk.

Chris skud sy kop en tel sy silwer iPad Air op. Hy klik deur sy apps met CNN wat op die agtergrond blêr. Michelle het die tablet vir hom vir Kersfees gegee en na ’n dag se rondspeel daarop, het hy dit onder die knie gehad en was hy verslaaf. Hy kan ure lank verskillende apps uittoets en sy gunstelinge is dié vir sosiale media.

Hy maak sy Facebook oop en glimlag toe hy die rooi ikoon sien wat aandui hy het twaalf nuwe kennisgewings. Daar is die gebruiklike Candy Crusher-uitnodigings, wat hy dadelik uitvee, en ’n paar “likes” en opmerkings by ’n foto wat hy geplaas het van die cappuccino wat hy vanoggend by The Whippet gedrink het. Hy klik deur sy tydlyn, “like” hier ’n foto van ’n vriend se baba, wens daar mense geluk wat pas verloof geraak het en wens ook sommer ’n neef geluk met sy verjaardag, ’n datum wat hy in sy lewe nooit sou onthou as Facebook hom nie herinner het nie. Hy bekyk die mense in die “People you may know”-afdeling wat die Facebook-algoritme vir hom verwerk en uitgespoeg het. Die voyeuristiese aspek van Facebook is iets wat hy geniet. Hy bekyk dikwels die profiele van ou vriende en selfs vreemdelinge om te sien hoe hulle leef en hom in te dink hoe hy sou reageer as hy hulle ooit in lewende lywe moes ontmoet.

Die eerste een vir nou is Nicholas Alexander, ’n ou saam met wie hy op hoërskool waterpolo gespeel het en wat hy in jare nie gesien het nie. Chris gaan in op Nicholas se profiel, maar die veiligheidstellings laat hom nie toe om meer as die profielfoto te sien nie. Hy druk die “Add”-knoppie en keer terug na “People you may know” om te sien wie nog daar is.

Anja Fouché is volgende, ’n aantreklike rooikop wat onlangs by sy firma aangesluit het as een van die direkteure se PA. Hy kan nie sê hy ken haar nie, want hulle het mekaar eintlik nog net in die verbygaan gesien. Haar werkstasie is aan die ander kant van die groot oopplankantoor.

Chris maak haar profiel oop en sien daar is geen aktiewe veiligheidstellings nie; haar foto’s en persoonlike inligting is vrylik beskikbaar vir enigiemand wat wil kyk. Volgens haar “About”-afdeling is sy vier-en-dertig, Christelik, niepolities, het sy op Wits studeer en is sy, vreemd genoeg, enkellopend. Chris begin blaai deur haar fotoalbums, eers na hy instinktief opgekyk het om te sien of Michelle dalk ingeloop het. Daar is Anja op partytjies en bergkruine, voor Europese toeristeattraksies, by die eindstreep van driekampe. Op al die foto’s lyk sy natuurlik en lewenslustig, soos ’n vrou wat haar lewe en haar onafhanklikheid geniet.

Hy kyk na die “Add”-ikoon en vir ’n oomblik oorweeg hy dit om daarop te klik. Die tyd-ikoon boaan die skerm wys dis 22:54, ver verby sy gewone slaaptyd, en hy skakel die tablet af. Hy sal môre by die werk uitkyk vir Anja. Niks sal daarvan kom nie, natuurlik, maar noudat hy haar lewe in foto’s gesien het, is hy nuuskierig om te hoor hoe haar stem klink.

Dit wat tevore die “bediendekamer” genoem sou word, is ’n onopvallende geboutjie eenkant op die Jordaans se erf. Om dit ’n kothuis te noem sou oordrewe wees, want die enkelkamer met sy badkamer langsaan het min van die knusheid wat ’n mens met ’n kothuis assosieer. Rachel sit op haar bed met ’n ou rooi koekblik in haar koue hande. Die bittere koue van Johannesburg se winters is iets wat sy nie verwag het toe sy die eerste keer in Suid-Afrika aangekom het nie. Sy het steeds nie regtig daaraan gewoond geraak nie. Die koue vang haar nog elke jaar en vanjaar voel dit of dit vroeër gekom het. Dis nie dat die temperatuur so laag is in die winter nie – Chris het eenkeer vir haar verduidelik in Europa sal Johannesburg se winter tel as heerlike herfsdae – dis net dat die huise vir die somer ontwerp word en nie hitte kan binnehou nie. Die dae is sonnig, maar snags sak daar ’n ysige koue toe waaraan nie eens haar verwarmertjie iets kan doen nie. Rachel het gou geleer om met ’n baadjie en twee paar sokkies in te kruip as sy ’n ordentlike nagrus wil inkry.

Sy haal die blik se deksel af en sit dit op die kussing langs haar neer. Toe sy ’n paar papiere uitlig, klingel sleutels en munte op die blikbodem. Sy haal iets uit wat min weeg, maar vir haar is dit nie iets kleins nie – dit is toegedraai in sneespapier en sy maak dit versigtig oop. Dit is ’n diamantring. Sy hou dit op teen die lig en sien hoe die juweel steeds in die lig blink. Sy het die ring opgetel op ’n strand buite Inhassoro, ’n gelukskoot wat haar laat glo goeie dinge kan ook partykeer met iemand soos sy gebeur. Sy was nog nie lank in Johannesburg nie toe sy dit na ’n pandjieswinkel neem om te hoor wat dit werd is.

Hulle het vir haar gesê so R8 000. Sy wou dit nie verpand nie, want dit sou slimmer wees om dit eers te hou en veilig tussen haar ander waardevolle goed in die koekblik te bêre. Sy wil nie die geld wat sy daarvoor kan kry op onnodighede blaas nie. Die pandjieswinkel sal haar laaste uitkoms wees die dag wanneer sy geen ander keuse meer het nie.

Volgende haal Rachel ’n pak meticais, Mosambiekse banknote, uit wat sy hou vir die dag wat sy dalk so vinnig Inhassoro toe moet gaan dat sy nie tyd het om geld om te ruil nie. Sy sit die geld op die dennetafeltjie wat ’n ent van haar bed af staan.

Die plek wat die afgelope ses jaar haar tuiste is, is nederig. Die meubels is meestal ou goed van die Jordaans en ’n paar stukke wat sy self gekoop het by garageverkopings in die buurt. Die slaapkamer is oop na die kombuis en leefarea en daar is ’n aparte badkamertjie. Haar woonplek is klein, maar sy kla nie, want sy weet dis strate beter as die sinkhuisies waarin sommige huiswerkers woon.

Die tafel met sy twee stoele is die middelpunt van die vertrekkie. Dit word gebruik vir eet, lees en stryk. Nie meer as ’n armlengte ver nie is die kombuisie met sy tweeplaatstofie en opwasbak. In die slaapdeel staan ’n enkelbed, kanttafeltjie met ’n leeslampie eenkant ingedruk, en oorkant dit ’n laaikas waarin Rachel al haar besittings bêre. Bo-op staan ’n klein swart-wit TV.

Rachel haal haar paspoort uit die blik en sit dit langs die staple note neer. Die goue landswapen gloei teen die blou agtergrond in die lig van die kaal gloeilamp wat in die middel van die vertrek hang.

Sy grawe weer in die blik en haal ’n verweerde foto uit. Sy onthou so goed die dag toe dit buite haar ouers se huis met ’n weggooibare Kodak geneem is. Sy het Sergio, die bure se seun, gevra om die foto te neem sodat die hele gesin daarop kon wees en hy moes drie neem ingeval een nie goed uitkom nie.

Met ’n moeë glimlag bekyk Rachel elke gesig, ’n oomblik wat vasgevang is voor sy na Suid-Afrika vertrek het. Sy het vir haar ouers probeer verduidelik hoe ’n mens vir ’n foto poseer, maar hulle het nie geweet hoe om te maak nie. Uiteindelik het sy gesê hulle moet net vir Sergio kyk en hulle mag nie wegkyk voor sy so sê nie. Andrea, haar jonger broer wat toe twee-en-twintig was, het langs haar ma gestaan en Rachel het met haar hande oor haar maag, wat nog nie begin wys het nie, gestaan. Haar pa het ten spyte van haar opdrag kant toe gekyk.

Rachel laat sak die foto in haar skoot. In die verte is daar die geloei van ’n sirene, seker op pad na ’n noodgeval. Sy ril en probeer haar ore sluit teen die klank. Vir ’n oomblik voel sy duiselig en naar.

Draaiende rooi ligte weerkaats op nat teer, flitsend en draaiend.

Die dag toe haar wêreld verander het.

In ’n poging om haar aandag af te trek, onthou sy die gesprek wat sy vanoggend voor die ontmoeting met die Jordaans met haar ma gehad het. Sy praat gewoonlik Sondae met haar ouers, meestal van die betaalfoon buite die hoekwinkel op pad terug van die kerk af. Dit is goedkoper as ’n selfoon en wanneer dit kom by internasionale oproepe, duideliker ook. Die afgelope paar maande is haar ma die enigste een wat na die foon kan loop, want haar pa se besering maak dit vir hom te moeilik.

Vandag se oproep was nie anders as die voriges nie, behalwe dat sy nie kerk toe was nie en reguit na die betaalfoon gestap het om te bel. Die foon het vyf maal gelui voor Anisia, die telefoonoperateur, dit in Portugees geantwoord het. Rachel, wat saam met Anisia grootgeword het, het teruggegroet en gewag dat sy die foon vir haar ma aangee.

“Dit gaan goed met jou pa. Hy kan nog nie ver loop nie, maar hy kan staan.”

“Ek is bly, Mama.”

“Daar’s nou al vir vyf dae nie water nie.”

“Hoeveel het julle?”

“Ons behoort genoeg te hê vir drie dae as ons nie was nie. Toe daar laas water was, het ons die bad en al ons emmers volgetap.”

“Het julle die geld gekry wat ek gestuur het?”

“Ja. Jou neef is af Kosibaai toe en het vir ons kos gekoop by die Suid-Afrikaanse winkels, want daar’s niks hier nie. Ons het al die geld opgebruik wat jy gestuur het.”

“Ek sal probeer om nog te stuur wanneer ek weer betaal word.”

“Ai, dankie, my dogter. Is Maia by jou?”

Rachel het die foon weggevat voor haar mond.

“Rachel?”

Sy het haar asem diep ingetrek. “Nee, Mama. Maia is nie by my nie.”

Daar was ’n stiltetjie voor haar ma weer gepraat het.

“Jy klink siek, my kind.”

“Nee wat, Mama, ek’s net moeg.”

“Jy moet rus, Rachel. Al daai lugbesoedeling in daardie stad maak jou siek . . .”

Sy het haar hand oor die mondstuk gesit toe trane oor haar wange begin stroom. Hierdie vloed van emosie moes sy van haar ma weghou.

“Ek moet nou gaan, Mama. Hier’s mense wat wag om te bel.”

Rachel het die foon neergesit sonder om haar ma kans te gee om te antwoord. Sy het haar kop teen die muur laat sak en begin huil, al die trane wat sy vir haar ouers moes wegsteek en ondanks verbygangers wat haar aangestaar het. Sy sal hulle vertel wanneer sy terug is in Mosambiek, maar nou moet sy eers sterk wees en uitwerk wat haar volgende stap moet wees.

Haar werk beteken geld. Dis ’n dak oor haar kop. Dit hou haar ouers aan die lewe en dit beteken sy kan wettig in Suid-Afrika wees. Sy weet hoe moeilik dit is om werk te kry, veral as ’n huiswerker wanneer daar tien ander vroue gereed staan om die werk te doen vir die helfte van haar salaris. Sy het die vragmotors by die grenspos gesien wat onwettige werkers terugneem Mosambiek toe en sy het die stories gehoor van weke in aanhoudingsentrums as jy in Suid-Afrika betrap word sonder ’n werksvisum.

Sy pak haar goedjies netjies terug in die rooi koekblik en nuwe trane stroom oor haar gesig. Die stil vertrek bied geen troos vir die pyn wat sy voel nie.

Sy het geen keuse nie.


Lees ook:

Sink: An interview with Brett Michael Innes

Brett Michael Innes, Naomi Meyer
Books and writers

“The choice of the title is to do with the water connection in the narrative, as well as the emotional state that all the characters are in. It is a limbo of pain and circumstance, a place of entrapment.”


Sink deur Brett Michael Innes: ’n resensie 

Martin Botha 
Resensies 

"Die gedetailleerde beskrywings van die karakters, hul gedagtes en hul uiterlike en innerlike wêrelde in die roman bied ’n uiters waardevolle toevoeging tot die tragedie wat Sink is."

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top