Vanmiddag, tydens ‘n kort etenstyd, steel ek gou ‘n uurtjie om te loer wat binne LitNet se spens aangaan. Wat ‘n ontdekking! Daar is die lekkerste stories en artikels om te lees. En dit alles gratis en verniet. Ek voel so bevoorreg.
Ek het net tyd gekry om tot by GR de Villiers se resensie: Reis deur die Bybel, te lees. Maar wat ‘n heerlikheid. De Villiers het my weer van vooraf geïnspireer om te besef dat die bybel se ‘geestelike impak’ altyd as belangrikste beskou moet word, en dat historiese, kulturele, poëtiese en literêre net as ondersteunende dimensie dien. Dat mens steeds moet onthou dat hierdie dinge slegs die agtergrond is waarop die bybel se geestelike krag gebou word.
Soos hy dit stel: Sonder hierdie konkrete inligting vergeestelik ’n mens die Bybel op ’n willekeurige en ongedissiplineerde manier ... dat ’n mens steeds weer moet onthou dat al hierdie kontekstuele dimensies funksioneel is en in diens van ’n geestelike kommunikasieproses deur die teks self staan. Daarom is die dieper vrae belangriker.
Die Bybel is immers 2500 jaar gelede al geskryf. De Villiers noem ook dat mense wat na aan die teks leef, weet hoeveel bespreking een klein gedeelte daarvan kan uitlok. Voeg nog sieninge van mens, kerk en dogma’s by, en dit gons behoorlik het op LitNet se briewe.
Daar is ook die wat heerlike artikels instuur en telkemale die nostalgie van menswees oproep. Ek begin al soek na hul name, raak kieskeurig. Want hulle laat my met ‘n glimlag my rekenaar weer afskakel.
Iemand het een keer gesê: ’Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan die huidige ruïneer deur te bekommer oor die toekoms’ of ‘Karakter word getoets deur voorregte, hoe meer voorregte iemand geniet, hoe beter kan jy sien wie hy werklik aan die binnekant is.’
Maar ek sê net dankie. Vir hulle wat in my lewe inbou, die positiewe kant van Suid-Afrika hoog hou, en weet dat as ons saamstaan, kan ons ‘n beter land vir onsself bou.
Dankie LitNet namens ons almal vir jul harde werk en lang ure. Voorwaar ‘n forum duisend!
Trienie

