Steve Cornelius reageer op die artikel “’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Koos Malan.
Taalwet of Talewet? Die onderskeid is belangrik, want die een veronderstel dat een taal die politieke bestel, staatsadministrasie en regspleging sal oorheers, terwyl die ander veronderstel dat daar plek vir meerdere tale met gelyke status mag wees.
Waarskynlik is die grootste struikelblok in die weg van ’n doeltreffende talewet vir Suid-Afrika die mate waartoe die taalbewussyn onder verskillende taal-, etniese en kultuurgroepe verskil. Die taalbewussyn van ’n bepaalde groep hang nou saam met die bepaalde kollektiewe kulturele lewensbeskouing van die betrokke groep.
Anders as wat dikwels voorgehou word, is Afrikatale nie preliterêr (Malan 2012) nie, maar nieliterêr. Die uitdrukking preliterêr sinspeel daarop dat Afrikatale primitief en intellektueel minderwaardig is. Dit is allermins die geval. Afrikatale word egter hoofsaaklik gekenmerk, nie deur die primitiewe aard daarvan nie, maar aan die orale karakter en gebrek aan ’n literêre tradisie. Dit is dus nieliterêr. Orale kulture is, in die soeke na antwoorde, hoofsaaklik ingestel op verhoudinge, en waarheid is ’n dinamiese konsep wat nie noodwendig op feite berus nie. Kundigheid berus op die bemeestering van funksionele kennis (Jenkins 2012) en besluitneming geskied in die hede aan die hand van dit wat in elke bepaalde geval dienstig blyk te wees.
Literêre kulture, daarenteen, plaas hoofsaaklik die klem op die beskrywing van objektief-waarneembare werklikhede, en waarheid is feitelik onaantasbaar. Kundigheid berus op vergaarde feite (Jenkins 2012) en besluitneming geskied aan die hand van histories-bepaalde riglyne wat algemene beginsels neerlê en die verlede, hede en toekoms onlosmaaklik aan mekaar verbind.
Hierdie klemverskil verklaar dan ook die verskillende beskouings rakende taal. In ’n orale kultuur is taal funksioneel. Taal vervul in die algemeen ’n bepaalde funksie as kommunikasiemiddel. Dit is gereedskap wat vir ’n bepaalde doel gebruik word en wanneer ’n ander stuk gereedskap (of ander taal) in bepaalde omstandighede beter geskik is om daardie doel te bereik, is dit meer funksioneel en dus te verkies. Taal as kulturele verskynsel is ’n dinamiese werklikheid wat kan verander na gelang omstandighede dit vereis. Dit verklaar dan ook waarom koloniale tale so ’n belangrike rol gespeel het in die opkoms van Afrika-nasionalisme. Dit was funksioneel sinvol om uiteenlopende groepe saam te snoer en die boodskap van verset en nasionalisme aan die koloniale moondhede te kommunikeer.
In literêre kulture is taal egter ’n objektief waarneembare feit. Dit is, soos Malan (2012) dit stel, "’n objektief sintuiglik-beleefbare simbool van die gemeenskap se daadwerklike bestaan". Taal is as feit ’n onaantasbare element van identiteit. Wanneer die taal van ’n bepaalde groep bedreig word, word die groep as sodanig bedreig.
Die klemverskil verklaar waarom verengelsing anders deur verskillende groepe ervaar word. Swart gemeenskappe staan oënskynlik argeloos teenoor verengelsing en daar is geen sterk taalbewegings wat veg om die behoud van die onderskeie plaaslike Afrikatale nie. Op kort tot medium termyn sal die betrokke tale in die orale tradisie bly voortbestaan.
Hierdie verskil verklaar waarskynlik ook waarom Afrikaanssprekende mense nie die behoud van Afrikaans in dieselfde lig sien nie. Afrikaners beskou verengelsing as ’n ernstige bedreiging, en op verskeie terreine kom taalbewegings tot stand om die stryd vir Afrikaans te stry. Die bedreiging van Afrikaans is vir Afrikaners ’n vraag om persoonlike oorlewing in wat toenemend as ’n vyandige omgewing beskou word. Daarteenoor wil dit voorkom of die bruin gemeenskap minder bedreig voel in die huidige milieu van verengelsing.
Die verskil in klem verklaar voorts waarom opvattings aangaande die reg so verskil. In kulture met ’n orale tradisie is die reg funksioneel. Regsreëls is vae riglyne en elke vraag moet beantwoord word aan die hand van dit wat in die bepaalde geval dienstig is. In kulture met ’n literêre tradisie, daarenteen, is die reg ’n onaantasbare feit. Elke vraag moet beantwoord word aan die hand van bepaalde algemene riglyne sonder om noodwendig ag te slaan op die billikheid of wenslikheid daarvan in elke bepaalde geval. Uit die aard van die saak moet hierdie verskil in klem ook in die uitleg van die taalbepaling in artikel 6 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 neerslag vind. Afrikaners, met ’n ryk literêre tradisie, sien artikel 6 as dwingende bepaling wat veeltaligheid bevorder. Die ANC-regering sien dit as ’n funksionele bepaling wat gebruik van een of meer van die tale veroorloof soos wat die behoefte van tyd tot tyd en van geval tot geval mag bepaal.
Dieselfde teenstrydige verwagtinge sal onvermydelik ook in die debat rondom die beoogde Talewet beslag vind. Afrikaners plaas hul hoop op ’n feitelik onaantasbare stuk wetgewing om die status van Afrikaans en die ander amptelike tale as feitelik onaantasbare amptelike landstale te bevorder. Die ANC-regering streef na ’n vae riglyn wat in die huidige milieu van ANC-beleid funksionele oplossing kan bied.
Die ANC se verklaarde beleide rakende nasiebou, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en die posisionering van Suid-Afrika in die internasionale bestel beteken dat verengelsing ’n baie aanloklike funksionele oplossing bied. Indien almal oënskynlik dieselfde taal praat, handhaaf dit die skyn van nasieskap. Een owerheidstaal vergemaklik regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, omdat aanstellings op rassegrondslag gedoen kan word sonder om die taaldemografie in ag te neem. En verengelsing hou skynbaar die voordeel in dat Suid-Afrika internasionaal op politieke, wetenskaplike en ekonomiese vlakke as toeganklik en vooruitstrewend beskou sal word.
Dit is gevolglik onwaarskynlik dat die ANC-regering daadwerklik gehoor sal gee aan die oproep om uitvaardiging van ’n Talewet, in teenstelling met ’n Taalwet, vir Suid-Afrika. Dit is ewe onwaarskynlik dat ’n Talewet, met die uitsondering van Afrikaans, enigsins die lot van inheemse Afrikatale sal bepaal.
Bibliografie
Jenkins, OB. 2012. Orality and post-literate culture – secondary orality in a post-literate society. http://orvillejenkins.com/powerpoint/orality_and_postliterate.pps (20 Februarie 2012 geraadpleeg).
Malan, K. 2012. ’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet. LitNet Akademies, https://www.litnet.co.za/Article/n-oorweging-van-die-sosiopolitieke-kragte-wat-inwerk-op-die-betekenis-en-toepassing-van-di (20 Februarie 2012 geraadpleeg).