LitNet Akademies stel Bennie Linde aan as Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-redakteur

  • 0

Bennie Linde (Foto: verskaf)

Bennie Linde is aangestel as redakteur van LitNet Akademies se Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-afdeling. Hy neem die leisels oor by Dawid de Villiers, wat die afgelope paar jaar as redakteur waargeneem het.

Bennie is ’n professor in indiensnemingsverhoudinge by die Noordwes-Universiteit se Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-fakulteit in Potchefstroom. Hy het in dié stad aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer en ’n BCom Honneurs en MCom in arbeidsverhoudinge en mensehulpbronbestuur aan die voormalige PU vir CHO behaal.

Sedert 2001 doseer hy arbeidsverhoudinge, mensehulpbronbestuur en navorsingsmetodologie vir voor- en nagraadse studente by die NWU se Potchefstroomkampus. In 2007 het hy sy PhD-proefskrif in organisasiestudie by die Universiteit van Tilburg in Nederland verdedig. Hy is steeds by dié universiteit betrokke, waar hy lesings en studieleiding aan meesters- en doktorale studente bied.

Bennie is ook ’n besoekende professor aan die Kedge Besigheidskool van Bordeaux in Frankryk, waar hy jaarlikse seminaarreekse aanbied en aan navorsingsprojekte deelneem. Buiten artikel- en boekpublikasies sluit sy navorsingsaktiwiteite gereelde internasionale evaluerings van akademiese tydskrifartikels, boeke en tesisse in, en hy het ook al opgetree as die afdelingredakteur van South African Journal of Economic and Management Sciences (SAJEMS), ‘n internasionale akademiese tydskrif.

Tans spandeer hy ook heelwat van sy tyd aan die organisering van die vierde International Conference of the Human Resource Division, wat van 11 tot 13 Januarie 2022 in Potchefstroom aangebied gaan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top