LitNet Akademies (Skole): Elzette Steenkamp gesels met Elna Barnard van die Grahamstadse Onderwys Distrikkantoor

  • 0

Vertel ons van die wiskunde- en wetenskapgerigte projekte van die Grahamstadse Onderwys Distrikkantoor.

Onlangse navorsing, onder andere die Graad 3 Sistemiese Evaluerings van 2004 en 2008, sowel as die Jaarlikse Evaluering aangaande vordering van Graad 3-leerders in wiskunde [ANA 2011], het beklemtoon dat twee derdes van graad 3-leerders in Suid-Afrika nie oor die nodige wiskundige vaardighede en wiskundige konsepte beskik nie. Verder het navorsing ook aangedui dat minder leerders wiskunde en wetenskappe tot graad 12 neem.

Om hierdie uitdagings die hoof te bied het die Grahamstadse Onderwys Distrikkantoor, in noue samewerking met wiskunde- en wetenskap-rolspelers, met verskeie projekte en aksies begin:

1. Nasionale Wetenskap-fees: Hierdie fees, wat hoofsaaklik deur Scifest Africa geloods word, behels dat 336 graad 9-leerders van 24 skole ’n wetenskapontwikkelingsprogram bywoon wat onder andere lesings, demonstrasies, ’n laservertoning en ’n besoek aan verskeie wetenskapstalletjies insluit. Om die wetenskapmomentum verder uit te brei besoek feessprekers en/of wetenskapdemonstrasiegroepe vyf hoërskole in die omliggende township om aan 600 wetenskapleerders (graad 9-11) verdere wetenskapblootstelling en -stimulasie te verskaf. In samewerking met die Sentrum vir Voorskoolse Ontwikkeling van die Rhodes Universiteit word ’n SciKidz 1-program vir voorskoolse en graad R-leerders aangebied. Die Grondslagfase-onderwysers van die plaaslike laerskole in Grahamstad bied, met die nodige finansiële bystand en fasiliteerders van Scifest Africa, ’n vyf dae lange wetenskapprogram getitel SciKidz 2 aan graad 1-3 leerders aan.

2. Wiskunde-insiatiewe: In samewerking met Rhodes se Wiskundeleerstoel vir Wiskunde en Gesyferdheid woon onderwysers (Grondslagfase en VOO-fase) van 17 skole twee keer ’n maand lesings, aanbiedings en demonstrasielesse van wiskunde-kenners by. Daar word ook gepoog om die wiskunde- en wetenskapskennis en -vaardighede van graad 12-leerders te verbeter deur middel van ’n “Broeikas”-program waartydens Saterdagklasse, asook herfs-, winter- en lentevakansieskole aangebied word. Verder vind daar in samewerking met SAEON graad 12-eksamenkampe plaas.

3. Wetenskap-inisiatiewe: In samewerking met Scifest Africa en die Distrikkantoor is distrik- en streekswetenskap-ekspo’s gehou wat daartoe gelei het dat 17 leerders die Grahamstad-distrik verteenwoordig het. Die nasionale wenner van die kompetisie is ’n leerder van Grahamstad wat die land nou by die internasionale Wetenskap-ekspo gaan verteenwoordig.

4. Nasionale Wiskunde-en-Wetenskap-week: Deur middel van ’n samewerkingsooreenkoms met wiskunde- en wetenskap-rolspelers (RU, AMESA, Scifest Africa, CSD en RUMEP] en die Distrikkantoor is ’n gekombineerde program van 38 aanbiedings vir 677 onderwysers en 1 740 leerders aangebied.

  • Neem ’n leerder na die werksplek (30 graad 11-leerders het 15 werksplekke besoek om ’n idee te kry van hoe wiskunde en wetenskap in daardie spesifieke beroep en werksplek gebruik word.
  • SciKidz1-aktiwiteite (10 vertonings is deur 10 skole, 20 onderwysers en 300 leerders bygewoon).
  • Grondslagfase Poster-kompetisie (die wenner se verfproduk is gebruik as ’n addisionele poster om die Nasionale Wetenskapfees te adverteer).
  • Scifest Africa Streek Wetenskapfees (4 vertonings, met onder andere ’n besoekende ruimtereisiger, is vertoon by 17 skole, waar 36 onderwyseres en 338 Graad 9 leerders die vertonings bygewoon het).
  • 8 Onderwysers en 393 laerskoolleerders het deelgeneem aan Wiskunde-afloskompetisies.
  • Twee Wiskunde Oop Dae is gehou waar wiskunde-les-demonstrasies gehou is vir 115-wiskunde onderwysers in die Algemene Onderwys- en Opleidingsfase.
  • Vier Wiskunde Bonanzas is gehou met 202 wiskunde-onderwysers daarby betrokke.
  • 3 AMESA Wiskunde-uitdagings is gehou met 310 leerders as deelnemers.
  • 3 Casio Rekenaarwerkswinkels is gehou vir 140 wiskunde-onderwysers en 30 leerders.
  • Graad 8-hoofrekene-vasvrakompetisies is gehou vir 30 leerders.
  • Die Nasionale Wiskunde-en-Wetenskap-week is voorafgegaan deur ’n opening- en afsluitingseremonie wat deur 80 onderwysers en 225 leerders bygewoon is.

Hoe kweek jy ’n belangstelling in wiskunde/wetenskap by leerders?

Deur hulle bloot te stel aan wiskunde- en wetenskapfeeste soos die Nasionale Wetenskapfees; deur wiskunde- en wetenskapkenners met hul demonstrasies na leerders te neem. So het leerders van verskillende grade en fases byvoorbeeld aan Steve Sherwin van Living Maths se lippe gehang tydens die sluiting van die Nasionale Wiskunde-en-Wetenskap-week toe hy hulle getroef het met wiskundige vasvrae en “truuks”. Dit is egter belangrik dat onderwysers oor die nodige wiskunde- en wetenskapkennis beskik en self entoesiasties en passievol oor hul vakgebied is. Daarom speel die wiskunde- en gesyferdheid-lesings wat deur Rhodes Universiteit, in samewerking met die Wiskundeleerstoel vir Wiskunde en Gesyferdheid, aangebied word, ’n kardinale rol om onderwysers te stimuleer en om die nodige vaardighede aan hul oor te dra, asook om die jongste navorsing rakende hul vakgebied aan onderwysers mee te deel. Dit is egter belangrik dat wiskunde en wetenskap op voorskoolse vlak by die ouerhuis begin, waar ouers wiskundige en wetenskaplike beginsels spontaan aan hul kinders uitwys, soos byvoorbeeld as dit koud is, om die kind te wys hoe dit geryp het en die kraan wat gelek het, nou geys is. Of as ’n kers geblus moet word, dit nie dood te blaas nie, maar aan die kind te demonstreer dat bloot deur ’n glasbottel, byvoorbeeld ’n blatjangbottel, oor die brandende kers te sit, die vlam geblus kan word omdat daar nie meer suurstof is nie. Of as ’n eier gekook word, verander dit van ’n vloeistof na ’n vaste stof, ensovoorts. Verder, in die graad R-klaskamer moet wiskundige konsepte spontaan regdeur die dagprogram geïntegreer word, byvoorbeeld deur ’n getalrympie op te sê, te tel hoeveel keer jy die boontjiesak kan gooi en vang, een-tot-een-afparing te doen as die tafel gedek word vir etenstye, ensovoorts.

Syfervaardigheid op grondslagfase is uiters belangrik vir die ontwikkeling van latere wiskunde-vaardighede. Hoe kan ’n agterstand by leerders op hoërskoolvlak oorbrug word?

Deur vas te stel waar die agterstand van die kind is. In die Grahamstad Distrikkantoor beskik sekere van ons skole oor rekenaarlaboratoriums wat met die CAMI-sagteware toegerus is. Hierdie programme, byvoorbeeld CAMI Maths, help elke leerder om na ’n volgende vlak te beweeg slegs as die nodige kennis en vaardighede bereik is. Andersins neem die program die leerder terug na ’n vorige vlak totdat daar vasgestel is op watter vlak die probleem ontstaan het en dan word daar remediërende oefeninge gedoen sodat die kind die nodige kennis en vaardighede kan verwerf. Soms funksioneer ’n leerder nog op die konkrete fase en het slegs ’n sosiale kennis van die wiskunde, maar weet nie hoe om dit toe te pas of te interpreteer nie. Daarom moet daar deur middel van manipulasie van werklike voorbeelde na abstrakte denke en insigte gevorder word.

Wetenskap en wiskunde het ’n reputasie as “moeilike” vakke. Speel dit ’n rol in leerders se prestasie in hierdie vakke? Hoe kan hierdie “mental block” aangespreek word?

Ja, dit speel ’n rol in die prestasie van leerders. As ’n leerder glo die vak is te moeilik, het hy/sy tou opgegooi voordat daar nog eers geprobeer is. Verder speel onderwysers se houding ook ’n rol. ’n Onderwyser wat van mening is dat ’n leerder nie in wiskunde of wetenskap sal presteer nie, dra soms direk of indirek hierdie boodskap oor aan die leerder sonder enige wetenskaplike bewyse daarvoor. Hierdie “mental block” kan aangespreek word deurdat leerders wat reeds suksesvol was in die bemeestering van hierdie twee vakke, met hul medeleerders praat en aan hul meedeel hoekom hul sukses ervaar het – portuur-oorreding, dus. Daar moet egter aan leerders uitgewys word dat wiskunde en wetenskap ’n presiese vakgebied is waar sekere formules en teorieë van toepassing is wat nie net gememoriseer moet word nie, maar toegepas moet word. Hierdie insigte en toepassing vind deur inspanning en herhaalde oefening plaas. Daar is dus ook ’n vaardigheidsaspek ook hier aanwesig. Deur wiskunde en wetenskap so prakties as moontlik te maak, en so na as moontlik aan die werklike leefwêreld te bring, sal leerders bewus gemaak word van die belang van wiskunde en wetenskap in hul alledaagse leefwêreld.

Het jy ’n onderwyser gehad wat jou geïnspireer het?

Ja, maar nie in wiskunde of wetenskap nie. Wel in tale. Ek het egter as vakadviseur wonderlik passievolle en toegewyde Grondslagfase-onderwyseresse ontmoet wat hulle leerders blootstel aan wiskunde en gesyferdheid met goedbeplande aktiwiteite wat opwindend, speels maar selfs uitdagend is. Hierdie onderwyseresse het my laat besef dat ’n positiewe en entoesiastiese houding teenoor wiskunde, gepaardgaande met kennis en vaardigheid, meer beteken as net om die kind te leer tel en tafels opsê. Hierdie onderwysers besef die belangrikheid van probleemoplossing, die interaksie van leerders deur middel van redenasie, dialoog, en dat daar meer as een manier van probleemoplossing is. Hierdie onderwysers inspireer my nie net nie, maar maak my nederig en vul my met ’n dankbaarheid en hoop dat as al ons onderwysers oor hierdie positiewe houding en wiskundige vaardighede beskik, ons nie die negatiewe resultate sal hê wat in onlangse studies na vore gekom het nie. (Sien eerste paragraaf.)

Op watter maniere bied julle organisasie leiding of mentorskap vir onderwysers en leerders op die gebied van wiskunde en die wetenskappe?

Afgesien van die gewone kurrikulumhulp en leiding wat deur die vakadviseurs op ’n daaglikse basis aan onderwysers tydens besoeke aan skole en tydens werkswinkels verskaf word, is ons in samewerking met rolspelers in Grahamstad wat ’n belangrike bydrae kan lewer, om nie net die leerders se kennis en vaardighede aan te vul nie, maar ook die onderwysers s’n. In hierdie verband word die jongste kennis en praktyke en navorsingsresultate met beide die onderwysers en die leerders gedeel. Sien in hierdie verband die agtergrond wat in paragraaf 3 hier bo gemeld is.

Watter rol kan aanlynbronne soos LitNet Akademies (Skole) in die bevordering van wiskunde en wetenskap speel?

Geweldig baie. Eerstens kan Afrikaanse leerders toegang kry tot inligting in hul moedertaal, maar ook onderwysers sal met meer vertroue en insig ’n les kan beplan deurdat dit in Afrikaanse wiskunde- en wetenskapterme is en nie in Engels nie. Die probleem is egter dat die meeste van ons skole nie oor internettoegang beskik nie, veral nie die Afrikaanssprekende skole nie. Die meeste Afrikaanse laerskole beskik ook nie oor rekenaarsentrums nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top