LitNet Akademies-resensie-essay: Weermagstories deur Roelf Schoeman

  • 1

Titel: Weermagstories
Outeur: Roelf Schoeman
Uitgewer: Lux Verbi (NB Uitgewers)
ISBN: 9780796312723

Koop Weermagstories by Kalahari.com

1. Twee stories
Een van die mees ontmaskerende en aangrypende gedeeltes in hierdie besondere boek oor die grensoorlog is die uitgebreide vertelling (ble 139–46) oor Theron de Wit. Sy verhaal, wat ook groot opspraak in die media gewek het, gaan oor die gekookte moordaanklag teen hom na die skietdood van ’n 21-jarige dienspligtige weens ’n operasionele misverstand waarvoor die skuld op De Wit gepak is.

Schoeman neem die verhaal in sy boek op as ’n voorbeeld van stories wat soldate oor hul traumatiese oorlogservaringe vertel. Hy beskryf hoe De Wit uiteindelik, danksy ’n deurslaggewende bewysstuk van sy onskuld wat hy gelukkig by hom gehou het, vrygespreek is.

Baie jare na die saak worstel De Wit nog in posttraumatiese stres oor die spanningsvolle tyd, maar veral ook oor die skietdood van die jong soldaat. Dan volg dié opmerkings van Schoeman: “Vandag háát hy (De Wit) oorlog. Destyds was dit sy werk. As lid van Koevoet was hy en sy span tydens ’kontakte’ by ’99’ ’kills’ (die doodmaak van ’terroriste’ wat ’n prys op hulle kop gehad het) betrokke.

Hy sug waar hy die gehoorbuis vashou in Tsumeb, 400 km noord van Windhoek. ’Die destydse regering het daai woordjie “oorlog” gebruik om ons na die grens te jaag en mense dood te maak en toe die oorlog klaar is, toe ken hulle ons nie meer nie.

“Ons het oorlog toe gegaan as gewone mense en ons het as moordenaars teruggekom.

Die onthullende gedeelte in hierdie boek het my in een oomblik teruggevoer na my eie, ontnugterende ervaring as 'n jong dosent aan een van ons land se trotse Afrikaner-universiteite waar die “room” van die destydse samelewing na hul diensplig aan die grens kom studeer het. 

My deeltydse bestuursfunksie van studente se akademiese en sosiale lewe het my in daardie tyd soms in middernagtelike ure sulke insidente laat beleef dat 'n sigbaar onrustige student aan my voordeur geklop het met die opsigtelik-flou verskoning dat hy wil inloer vir 'n "kuiertjie". 

af.wikipedia.org

Ons het skaars aan die gesels geraak toe hy, duidelik in groot spanning, vir my vra of hy met my iets kan deel wat hy al vir ’n paar jaar lank vir niemand kon vertel nie.

Ek, maar ’n jaar of vyf ouer as hy, was nie voorbereid vir wat sou volg nie. Sy storie van destyds bly spook nou al oor vier dekades by my, soos dit duidelik ook sy lewe op sy kop gekeer het: die verhaal van 'n melkbaardseun, pas uit die skool, uit 'n tipiese Afrikaanse gesin met diep godsdienstige waardes wat in die grensoorlog in 'n kontaksituasie met die vyand beland het wat sy lewe vir altyd sou brandmerk.

En dit terwyl hy eintlik, soos studente in ander tye, sorgeloos op universiteit moes gewees het, dromend oor ’n toekoms, karring aan akademiese dinge, kuier met vriende en verlore in liefdestogte en jongmensdinge.

Met net sy troepe iewers versprei om hom heen in 'n oop gevegsone, vertel hy, en terwyl helikopters wild-woerend oor hulle gevlieg het, met bomme wat knallend om hulle ontplof het in ’n geveg wat rasend aan die gang was, het hy en een van die vyand eenkant en onverwags op mekaar afgekom.

Hulle was albei tot die tande gewapen. Die opponent staan daar, ’n paar treë reg voor hom: geweer in die hand, vinger om die sneller – gereed om te skiet op wie ook al van die vyand wat in visier kom.

Wat hy tot daardie aand nog van dié ewigheidsmoment onthou, is die kyk waarmee daardie soldaat hom aangestaar het. Hulle het álbei geweet, klokhelder, net één van hulle kon die konfrontasie oorleef.

My gespreksgenoot bly sluk swaar aan die knoppe in sy keel soos hy stamelend probeer om, vir die eerste keer, sy storie samehangend uit te praat, sy koppie koffie onaangeraak. Instinktief, sonder om te dink, het hy sy pistool getrek en geskiet. Hy was die een wat oorleef het. Donker nagmerries in die daaropvolgende jare het hom laat wakkerskrik in sopnatgeswete beddegoed oor die vretende wete dat hy iemand doodgemaak het.

Ons gesprek is lank nie verby nie, selfs nie op hierdie punt nie. Hy voeg by: die ergste was dat daardie eerste skoot wat ook die vyand neergevel het, sy kop laat uithaak het. Hy het eers tot sy sinne gekom toe sy makkers, wat intussen nadergestorm het, hom, al skietende, van die lyk van die vyand wegtrek. Hy was besig om die magasyn van sy geweer in daardie anargie-oomblik op die lyk leeg te skiet.

Die middernagtelike gesprek van die jong student met my (hier só vertel om sy identiteit te beskerm) was ook tóé nog lank nie verby nie. In die volgende ure het hy my vertel hoedat daardie insident sy persoonlike en familielewe vernietig het. Hy wou en kon nie vir ander vertel hoe hy ervaar het dat die oorlog hom tot ’n monster en moordenaar gemaak het nie. Hy het hom nukkerig afgesonder van sy gesin en van hulle vervreemd geraak. Hy was rebels. Sy geloof was tot niet. Sy kinderlike verhouding met God, altyd ’n gekoesterde steunpilaar in sy jeuglewe, aan flarde.

En ook, mettertyd, die eindelose, groeiende verwyt dat die man wat hy “vermoor” het, vir sy gesin 'n pa, 'n seun, 'n oom was en 'n vriend vir sy mense.

Maar eers later, vroegoggend, het sy trane begin loop toe hy begin vertel dat sy pa die vorige jaar dood is sonder dat hy versoen kon raak met sy kind wat nors in sy kamer gebroei het, wat nie met sy ouers wou praat nie en wat in alles stroomop en opstandig geraak het. Dit was dalk die grootste tol – die las van onversoendheid met die mens naaste aan hom.

2. Oorlogsdrif
Dié van ons wat die grensoorlog in daardie oorlogsjare van buite meegemaak het, is nie blootgestel aan baie sulke verhale van ons kinders, vriende en geliefdes nie, het ek toe al besef. Hulle, die oues inkluis, het dit weggesteek – veral vir mense naby aan hulle.

Die machokultuur, cowboys wat nie huil nie, manwees wat “stoïsyns uithou” beteken, maar ook skaamte het hulle daartoe gedryf.

En boonop was dit tye waarin die glorie van oorlog asof in ’n heilige litanie gevier is. Die militêre magshebbers, die politici, saam met sommige van hulle propagandistiese kapelane en hofteoloë as meelopers, het oorlog verheerlik, 'n lofsang daarop verhef en al die negatiewe kante met berekende beplanning bestraf, verswyg of weggesteek – onderwyl hulle sienderoë geweet het dat jong seuns kanonvoer geword het en gevoel het dat hulle tot moordenaars gemaak is.

Die kinders wat op die slagveld was, die “gewone ouens”, sou nie waag om teenoor familie en vriende swakheid te wys in die lig van hierdie grand recit oor die oorlog nie.

Veral in die kerke van die patriotiese Afrikaanse gemeenskappe was dit ondenkbaar dat 'n mens 'n kritiese stem oor, of eie swakheid in, oorlog sou laat blyk. Die vroue wat die oorlogspogings gesteun het, het legendariese figure geword: oor die land heen het ma's, tannies en veral ook vroue- en susterverenigings met onpeilbare liefde en ontferming vir hul kinders aan die grens pakkies ingesamel en verstuur met boodskappe dat hulle sterk moes staan. Dit was 'n tyd toe oorlog die bloed in die volksare en die vyand die konkrete gesig van die Antichris was.

Reeds toe was daar egter tog wel ook sommiges wat dieper gekyk het en nader beleef het, en wat geweet het dit gaan nie goed eindig nie.

sadf.info

3. Narratiewe terapie
Oor hierdie tyd skryf Schoeman sy boek. Die boek vlek nou, dekades na die tyd, genadeloos die gevolge van oorlog oop wanneer Schoeman veral oor die kompleksiteite van posttraumatiese stres by oudsoldate skryf. In bladsy na bladsy wil hy dienspligtiges wat oor jare heen nie hul trauma kon verwerk nie, so ver kry om hul selfvernietigende stilte met hul verhale te verbreek ter wille van lank-begeerde genesing.

Die boek vertel sorgvuldig hoe die genesingsproses deur vertelling die beste kan verloop. Aandag word versigtig gegee aan verskeie aspekte van en teorieë oor narratiewe terapie, wat wêreldwyd erken word as ’n manier om posttraumatiese stres te oorkom.

Netjies en konkreet, maar ook eenvoudig en verstaanbaar, help Schoeman se boek die getraumatiseerdes om die lank-weggesteekte geheimenisse in hul verlede op ’n effektiewe manier te ontbloot.

Dit is ’n boek wat soveel waardevoller is omdat dit uit ’n betrokke, ontfermende hoek geskryf is deur iemand wat self deur die meule gegaan het en wat uit die ervaringswêreld van sy terapie met fyn waarneming en goeie teoretiese insigte ’n terapeutiese model ontwikkel.

4. Die ontwyking en die relativering
So nuttig as wat hierdie boek in sy terapeutiese aanpak is, so aktueel is die tema van oorlog wat dit eintlik ook aan die orde stel. Neffens sy waardevolle beskrywing van ’n belangrike terapie teen die gevolge van oorlog wil Schoeman die getraumatiseerdes soms op hul bene terug help met argumente dat hul deelname aan die grensoorlog en hul rol in die veiligheidsmagte nie futiel was nie.

Dit is vir hom ’n manier om sinvol deur die verlede te werk (42–3). Hy verwys in dié verband na die opheffingswerk van die Suid-Afrikaanse magte in Namibië (skole, klinieke, infrastruktuur – bv op bl 104), na die stabiele regering wat hulle daar help vestig het en die kritieke rol wat hulle in die 1994-verkiesing in Suid-Afrika gespeel het. Hieraan kan soldate hul dus vandag troos. Die oorlog was dus nie heeltemal sinloos nie.

Tog bly die besinning oor die sin van die grensoorlog duidelik knaag, asof die argumente te dun is: Schoeman bly by tye terugkom na die onbeantwoorde vrae oor die waarde van die grensoorlog wat onder soldate posgevat het, veral na skok van die onthullings by die WVK oor die vergrype deur veiligheidsmagte (37–8), maar uiteraard ook na die politieke ommekeer in 1994.

Dit is duidelik dat vele die waarde van die oorlog betwyfel, terwyl ander nog dieper (soos die inleiding hier bo uitwys) tot die eintlike kern van die saak deurdring om enige vorm van oorlog te bevraagteken – en, soos De Wit (hier bo)  – selfs intensief te veroordeel. Die ervaringswêreld van die meeste soldate ken min waarde aan die grensoorlog toe.

Die boek self wys hoe dit lol om iets goeds te vind om oor die grensoorlog te kan sê.

Hoe dit sukkel, word verder duidelik wanneer Schoeman op insiggewende maniere, en heel tereg, skryf oor die groot verskil in ervaringswêrelde van verskillende groepe in Suid-Afrika. By die WVK is hy gekonfronteer met “die werklike seer en ontnugtering van swart Suid-Afrikaners”. Dan volg skoorvoetend: “My aanvanklike geloof dat ons saak reg was, is gekonfronteer met feite wat ek nie kon wegredeneer nie” (152).

Aanvanklik het hy verraai gevoel omdat sy leiers by die WVK verskoning gevra het. Maar hy is ook “gekonfronteer met die wandade van die veiligheidsmagte waarvan ek deel was en met die realiteit van die stories van mede-Suid-Afrikaners. Apartheid het ons so ver van mekaar geskei dat ons nooit voorheen werklik mekaar se stories gehoor het nie en daardeur begrip vir elkeen se konteks en wêreld gehad het nie.”

Dieselfde dinamiek kenmerk sy ontmoeting met die bekende vader Lapsley, die bekende anti-apartheidstryder wat deur ’n briefbom vermink is (159–60). Schoeman konfronteer hom in ’n eerste gesprek omdat “hy as geestelike betrokke was by die ondersteuning van gewapende geweld en selfs terreur”. Lapsley se daaropvolgende verduideliking dat hy gedryf is deur die veiligheidsmagte se optredes in Soweto in 1976, laat Schoeman tog dan ook weer wonder wat hy “in soortgelyke omstandighede sou doen”. Ten minste het die gesprek hom ingelei in “die ervaringswêreld van my voormalige vyande” en hom bewus gemaak van hoe belangrik dit is om ook met die vyand te gesels in ons proses van soeke na sin en betekenis.

sabov.co.za

’n Mens kan heelwat vrae oor hierdie insigte en opmerkings opper, veral omdat hulle ’n duidelike verstaan van oorlog ontwyk: eerstens sou ’n mens oor Schoeman se verwyt aan Lapsley oor sy betrokkenheid as geestelike by geweld, kon vra waarom ’n gewone soldaat meer reg het as ’n geestelike soos Lapsley om gewapende geweld en selfs terreur te ondersteun. Niemand het die reg om dit te doen nie, want alle vorme van oorlog is op een of ander manier en vir sekere deelnemers terreurhandelinge. As ’n geestelike nie oorlog moet bedryf nie, geld dit sekerlik, indien nie des te meer nie, ook vir die gewone persoon.

Verder is die groot vraag uiteindelik wat ’n mens met jou “vyand” se “ervaringswêreld” doen. Te gou word ander se ervaringswêreld gerelativeer, selfs wanneer jy dit bloot net met jou eie ervaringswêreld as ’n alternatiewe belewing gelykstel.

Met die grensoorlog kan dit nie gebeur nie: die ervaringswêreld van ongewapende mense wat in die apartheidstryd die aanslag van gesofistikeerde veiligheidsmasjinerie en ’n diskriminerende, verontmenslikende politieke sisteem in eie land moes verduur, is nie maar net nóg ’n belewing naas ’n wit ervaring nie. Hulle ervaringswêreld het direk te doen met apartheid as ’n misdaad teen die mensdom – soos dit deur die internasionale gemeenskap meer as duidelik en by herhaling uitgespel is. ’n Mens kan nie twyfel oor watter van die twee die hoë morele posisie inneem nie.

Deur die blootstelling aan die alternatiewe ervaringswêreld in só ’n konteks pas dit ’n mens eerder om meer as beskeie oor jou eie wêreld te wees. Opmerkings soos hoe konstruktief die grensoorlog tog nou ook eintlik was, kan dan net beskou word as verdere geweldsmomente teenoor hulle wat onder die wit rassistiese bestel gely het.

Oor ’n oorlog wat só ’n rassistiese sisteem wou verskans, kan ’n mens nie ontwykend in jou skrywes wees nie, en dit ook nie probeer rasionaliseer nie. As selfs weermagsleiers om verskoning gevra het, as politieke leiers die toon aangegee het oor die onverskoonbaarheid van daardie tye, en as feitlik alle kerke al hul skuld aan daardie sondige sisteem en tye bely het, vra dit van ’n boek soos hierdie een duidelike, helder uitsprake: die grensoorlog was onverdedigbaar.

5. Alle oorlog
’n Mens behoort selfs verder te gaan. ’n Boek soos hierdie is ’n besondere bydrae tot die genesing van ’n klomp getraumatiseerde mense as gevolg van die grensoorlog. Genesing werk reaktief. Maar in enige terapeutiese benadering moet ’n mens ook proaktief werk om trauma te voorkom. Daarom is dit vanuit ’n terapeutiese hoek noodsaaklik om enige vorm van geweld eens en vir altyd as immoreel en onregverdig af te wys. Veral om te voorkom dat mense hul hand weer daaraan waag.

Dit is ’n wete wat nou instinktief wêreldwyd uitgewys word. Daar is ’n groeiende beweging onder samelewingsgroepe en geloofsgemeenskappe in vele lande om oorlog te herken vir wat dit is. Oorlog het so 'n besoedelde saak geword dat honderde duisende mense in beskaafde lande die strate invaar wanneer Amerika Irak inval. Libië en Egipte het uitgewys hoe oorlog verdere geweld en verwoesting genereer. In onlangse tye het Israel se aanval op Gaza gemoedere in feitlik alle wêrelddele – ook in Israel self – hoog aangeblaas. Rusland is tans die muishond van die wêreld oor sy aanvuring van geweld in die Oekraïne.

Die gedagte dat mense ’n slagveld ingestuur word of dat oorlog aangeblaas word, het onfatsoenlik geword tot op die punt dat dit nou as barbaarsheid belewe word.

Oorlog is lank nie meer die heldhaftige bedryf van selfs ’n dekade gelede nie. In onlangse herdenkings van die Eerste Wêreldoorlog word die verskriklike tol van daardie oorlog, die barbaarsheid daarvan en die onvoorstelbare gevolge in fokus geplaas. Daar is nie ’n vaal teken meer in hierdie vieringe van enige verheerliking van oorlog as ’n edele stryd vir die vaderland of as ’n nobele onderneming nie.

In enige terapie moet hierdie instinktiewe wete prinsipieel verreken word en uitgespel word, omdat dit ’n deurslaggewende houding teenoor oorlog begin vestig.

Dit is waarom genesing van trauma ’n eerlike pad moet loop: die eerlike gevoelens oor die nutteloosheid en selfs die totale sinloosheid van oorlog moet nie gerasionaliseer word nie. Daar steek dalk meer wysheid in as wat ’n mens wil toegee. Genesing moet eerder kom deur die pyn te ervaar dat ’n mens groot foute begaan het en te leer om van sulke situasies weg te bly.

In hierdie verband was daar vir my ’n stuk terapie in die boek se vertelling oor De Wit se eerlike, woedende reaksie dat hy oorlog haat, dat hy besef hoe dit van mense moordenaars maak. Só ’n snydende, eerlike opsomming laat my dink aan die tollenaar in die Bybel wat eenvoudig en pynlik sy eie feilbaarheid en mislukkings net bely het – en regverdig huis toe is.

Om ’n mens se verlede só in te sien, kan besonder bevrydend wees. Jy weet ten minste hoe die toekoms nie behoort te lyk nie. De Wit, die een wat oorlog leer haat het, se verdere geskiedenis, sy ontfermende soeke na die familie van die slagoffer en die uiteindelike vryheid wat hy daardeur ervaar, is in hierdie boek ’n aangrypende voorbeeld van pynlike, maar grondige, persoonlike groei en rypwording.

In hierdie konteks van nuwe denke speel hierdie nuwe boek van Schoeman onbedoeld 'n positiewe rol: die ontstellende inligting daarin oor ons eie verwoestende grensoorlog en optredes teen die bevrydingsbewegings, die verminking en dood van seuns op die slagvelde, die aanstootlikhede van militêre boelies wat byvoorbeeld dreigend spog oor hulle reputasie dat hulle sigarette in soldate se ore kan doodbrand sou dit hulle behaag, die skandelike manier waarop die weermag by tye verwonde soldate in die steek gelaat het, hulle soms aan minderwaardige mediese hulp blootgestel het, ouers by tye op 'n wrede manier van inligting oor hul kinders se dood en beserings ontsê het, en vele ander verhale vanuit die binnekant van die oorlog, kan 'n mens net tot een slotsom bring: oorlog is die allerslegste saak waarin enige land of gemeenskap betrokke kan raak. In ’n oorlog is daar nie helde nie. Ons kan nie oorlog op enige manier meer probeer rasionaliseer nie. Dit het in ons wêreld nie meer ’n plek nie.

 

blog.solidariteit.co.za

 

6. Die waarde van die boek vir alle getraumatiseerdes
Ten slotte ’n paar ander gedagtes oor die boek. Lesers sal die boek se waardevolle insigte oor posttraumatiese stres op 'n wyer terrein as net oorlogslagoffers kan toepas. Nie alle traumaslagoffers is soldate nie: mishandelde en geboeliede kinders en vroue, verkragtingslagoffers, slagoffers van plaasaanvalle, selfs mense wat oor hul velkleur hul werk verloor, ervaar trauma, soos Schoeman ook verduidelik.

Ook sulke mense sal deur die boek kan leer om hulle trauma te verwerk deur in 'n vertroude omgewing met 'n ervare gespreksgenoot hul verlede te verwerk op reis na nuwe lewensverwondering.

Maar ook mense wat daagliks met getraumatiseerde persone saamleef, en sekerlik ook professionele persone, terapeute en predikante wat gespreksgenote vir hulle wil wees, sal die publikasie waardevol vind.

7. Meer as net narratiewe terapie
Op hierdie punt moet ’n mens wel daarop bedag wees dat narratiewe terapie op sy eie nie die antwoord op al die uitdagings van posttraumatiese stres is nie. Die terapie moet soms en by tye aangevul word deur mediese en/of kliniese begeleiding, sosiale ondersteuning, maatskaplike hulp, huweliksterapie, of bloot net konkrete bystand – soos byvoorbeeld kortliks na vore kom in bylaag 5, waar ondersteuning van staatsweë vir ouddienspligtiges hanteer word.

Posttraumatiesestres-sindroom kan immers moeilik net op een vlak aangespreek word. Dit is so kompleks in sy verwoestende werking dat 'n mens immer bedag daarop moet wees om dit in spanverband op 'n holistiese manier te begelei.

8. Slot
As my eie blootstelling aan die verhaal van ’n getraumatiseerde jongman my opvattings oor alle vorme van oorlog vier dekades gelede beslissend bepaal het, het hierdie boek my denke oor oorlog op vele maniere verder versterk.

’n Mens wat met die realiteite van oorlog gekonfronteer word, kom nie ongeskonde daar uit nie.

Die groeiproses deur blootstelling kom ook na vore in een van die roerendste oomblikke in die boek, wanneer Malan Nel, een van ons land se gerespekteerde teoloë, die publikasie van Schoeman op ’n voorblad aanbeveel. Hy doen dit vanuit ’n intiem persoonlike belewing van die gevolge van die oorlog. Hy skryf (bl 2):

Ek is 'n pa van twee seuns wat daar (op die grens) was. Een van hulle het in 1999 sy lewe geneem. Omdat hy nie 'n brief agtergelaat het nie, sal ek nooit weet watter rol “ongedeelde trauma” in sy dood gespeel het nie. Wat ek wel weet, is die woorde van sy vrou: “Pa, hy slaap nooit.”

Die tweede seun is nog by my op aarde. Ook in sy lewe is daar na 32 jaar elemente van ongedeelde trauma. Hulle was net te jonk vir ’n oorlog wat later as “verkeerd” getipeer is. Die oudste het net vir een kamp terug grens toe gegaan en toe gesê: Pa, hulle kan my maar opsluit, maar nie weer nie.

Dit is sulke opmerkings in hierdie boek wat lesers vra om, verby alle terapie heen, dieper te begin dink oor oorlog. Wat Mandela oor apartheid gesê het, moet oor oorlog navertel word: nooit, nooit en nooit weer sal dit in hierdie mooi land gebeur dat ons sal ervaar dat een mens die ander onderdruk deur teen mekaar oorlog te voer nie, dat jong seuns tot moordenaars gemaak word nie …

 

  • 1

Kommentaar

  • Yolanda McCabe

    Ek het hoendervleis. Hoe kan ek vir Roelf in die hande kry? Ek is besig om 'n TV-reeks te skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top