|
|
| Wat’s nuus? Riaan Cruywagen Uitgewer: Naledi (2012) ISBN: 9781920518158 Prys: R179.00 Klik hier en koop Wat’s nuus? nou van Kalahari.com. |
Inleiding
Riaan Cruywagen is onomwonde die gesig van die Afrikaanse nuus. Hy kuier al vir jare in Suid-Afrikaanse huise en hoewel sy nuuspersona deur die jare heen in talle grappies à laChuck Norris en David Hasselhoff opgeduik het, is hy meer as dit: hy is ons Larry King, ons Kenneth Kendall; en nóg belangriker, hy is dan ons Haas Das en Koning Rosekrans!
Tog is Cruywagen ’n baie private figuur wat nie te koop loop met sy oortuigings, opinies en private lewe nie.
Wat weet ons nou eintlik van Riaan Cruywagen? Te danke aan hierdie video op YouTube weet ons byvoorbeeld dat hy baie min tyd het vir onprofessionele gedrag by die werk, en dat hy onlangs as reklame vir die Loerie-toekennings saam met ’n paar mooi meisies in ’n borrelbad gesit het. Sy populariteit is nie beperk tot Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nie, soos sy verskyning saam met Sipho “Hotstix” Mabuse in die onlangse advertensies van die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings wys. Ons ken hom in verskillende rolle as nuusleser, stemkunstenaar en akteur, maar met die verskyning van sy memoires, Wat’s nuus?, leer ken ’n mens Riaan Cruywagen ook as onderhoudende verteller, platjie en gesinsman.
En soos met ’n hele boel Afrikaanse biografieë en outobiografieë wat die afgelope paar jaar verskyn het, sien mens ook deur Cruywagen se vertellings die Afrikaners vanuit ’n ander oogpunt. In hierdie resensie-essay volg eers ’n kort oorsig oor Wat’s nuus? as die verhaal van Riaan Cruywagen, waarna daar dieper ingegaan word op die breër konteks van hierdie boek – sowel wat betref die genre van die Afrikaanse outobiografie as die kwessie van die ontwikkeling van die Afrikaner en Afrikaner-identiteite sedert 1994.
Die nuus
Na Cruywagen se 47 jaar in die uitsaaibedryf (37 op die kassie en tien in die radiowese) bied sy memoires ’n uiters leesbare versameling herinneringe. Primêr handel dit oor gebeure uit sy eie lewe (sommige skreeusnaaks, ander baie hartseer), maar hier en daar dwaal hy af om ’n kostelike staaltjie van vriende, familie of kollegas te deel. Hierdie ompaadjies noem hy “’n ou Cruywagen-kwaal” (xv), maar dit is nie een waaroor hy skaam hoef te wees nie. Inteendeel. Die inhoud van Wat’s nuus? is chronologies uiteengesit, wat meestal help dat die draaie waarop die leser so nou en dan gelei word, nie te lank word nie.
Die storie van Riaan Cruywagen begin eintlik nog voor sy geboorte, want in ’n pragtige en onopgesmukte Afrikaans ontmoet die leser eers Cruywagen se grootouers en ouers voordat sy eie kinderjare aan bod kom. Die eerste agt hoofstukke handel hoofsaaklik hieroor: “Waar kom ek vandaan, wie en wat het in my lewe ’n rol gespeel wat van my die mens gemaak het wat ek is” (19). Cruywagen vertel in heelwat besonderhede van sy ouers, grootouers en sibbe en waar hy grootgeword het. By tye het van hierdie hoofstukke vir my te omslagtig geword, soos byvoorbeeld die beskrywings van die huise waarin die Cruywagen-gesin op verskillende stadia gewoon het, die daaglikse omgang van die huishouding, ens, maar dit is nietighede wat gelukkig kort-kort afgelos word deur een of ander anekdote, en tweedens is dit veral in hierdie gedetailleerde beskrywings waar die leser ’n groter verhaal kan lees as bloot dié van die Cruywagen-gesin, soos daar verderaan bespreek sal word. In een van die welkome staaltjies vertel Cruywagen byvoorbeeld van ’n uitstappie saam met sy ma, ’n vriendin en sy driejarige sussie Christien. Die vyfjarige Riaan en Christien was aan ’t speel agter in die bewegende motor toe sy die venster wou oopdraai en per ongeluk die deur oopmaak:
En daar val sy by die bewegende motor uit. Ek het net gegil: “Tina het uit die kar geval!” toe tannie Dollie die Mercury met slepende wiele op die stofpad tot stilstand bring. Gelukkig het sy nie vinnig gery nie, want toe ons uitspring, sien ons die bloedbesmeerde Christientjie uit die stofwolk aangestrompel kom, al huilende: “Moenie vir my wegry nie!” (55)
Na sy vertelling van sy grootwordjare by ’n liefdevolle gesin, volg ’n dosyn of wat hoofstukke wat eerstens handel oor Cruywagen se studentedae, tweedens sy ontmoeting met sy vrou Riana (en hulle gesinslewe daarna) en derdens sy beroepslewe. Hierdie verskillende dele van sy lewe word uiteraard nie so duidelik van mekaar geskei nie, en word afgewissel met kort vertellings oor spesifieke insidente of mense. Hierdie staaltjies is weer eens skreeusnaaks, en sal veral geniet word deur diegene wat nog grootgeword het met die radio. Dit beteken nie dat dié van ons wat eers na die koms van die televisie gebore is, nie hierdie verhale kan geniet nie, want Cruywagen is so ’n behendige verteller dat die fyn humor van baie van die vertellings nie verlore raak nie.

Wat baie van die stories van sy tyd in die bedryf ook waardevol maak, is dat die leser ook dikwels daardeur insae kry in hoe die uitsaaiwese destyds gewerk het. Een handel oor die tegnologie wat in die radionuusdiens ingespan is. Nuusberigte van nuusagentskappe is destyds per teleks rondgestuur. Die masjien wat dit ontvang het, kon net hoofletters tik, en die berigte was altyd in Engels. Gevolglik het ’n paar vertaalblapse deurgeglip:
Eendag is iemand iewers in Natal met ’n vuurwapen aangehou en beroof. Die teleksberig in Engels het gelui: “A MAN WAS HELD AT GUNPOINT IN NATAL AND ROBBED...” Die Afrikaanse nuusskrywer vertaal dit toe só: “’n Man is op Gunpoint in Natal aangehou en beroof ...” (137)
Hoewel hierdie gedeelte van Wat’s nuus? volgepak is met brokkies oor die werking en ontwikkeling van die uitsaaibedryf in Suid-Afrika van die laat sestigerjare tot nog heel onlangs, bly die fokus Cruywagen se lewe. Die leser kry die geleentheid om eerstehands te hoor van sy werksaamhede in Nederland by Radio Nederland Wêreldomroep (RNWO) en ook as korrespondent in Washington. Cruywagen vertel onderhoudend van sy belewenis van hierdie kulture: van die Nederlanders wat aan perdevleis smul – en die penarie waarin sy vrou beland het oor hierdie vleis (178) – en die konsertsale van Europa tot die onderhoude wat hy met bekendes in Amerika gevoer het. Maar, voeg hy by, “Amerika moet na my beskeie mening nog tot volle wasdom kom” (191).
Deur hierdie ervarings met die nuusleser mee te maak, sien mens ook hoe sy beroep hom as mens gevorm het. Hoewel hy dit nie eksplisiet in sy memoires stel nie, het sy tyd in Nederland hom ‘n nuwe perspektief gegee oor Suid-Afrika se apartheidsituasie, soos hy te kenne gee in ’n onderhoud met Riette Rust in Die Burger:“In Nederland het ek besef wat ware demokrasie is, dat jy nie mense stemreg op grond van velkleur kan ontsê nie” (Rust en Cruywagen 2012). In Nederland het hy ook besef dat die sogenaamde stamverband tussen Afrikaans en Nederlands nie sommer weg geredeneer kan word nie. Hy haal “Verborge-Eén” aan, ’n gedig wat Totius aan die RNWO gestuur het by geleentheid van hul eerste uitsending in Afrikaans. Hierin sê die spreker onder meer: “Hoe ver die golwe ons ook al omspoel,/ die diepe hart sal altyd voel/ ons is verborge-één” (164). Die handgeskrewe gediggie (“’n kosbare stukkie Africana”, 164) is in Cruywagen se bewaring, en hy beplan om dit eendag aan ’n museum te skenk.

Cruywagen formuleer sy werksetiek heel duidelik:
Ek beskou myself graag as ’n beroepsuitsaaier – omtrent soos ’n beroepsdiplomaat homself onderskei van politieke aanstellings. Want ongeag wie in die land aan die bewind was, of wie by die SAUK aan die stuur van sake gestaan het, het ek my nooit met interne óf eksterne politiek bemoei nie.
Op hierdie punt in die boek weet die leser reeds dat Cruywagen hierdie onpartydigheid ook in sy memoires handhaaf en sy beroepskredo hier toepas, met dieselfde professionaliteit, geloofwaardigheid en gesaghebbendheid. Dit is merkwaardig, veral as ’n mens die persoonlike aard van die memoir-vorm en gebeure uit Cruywagen se onlangse lewe in ag neem. Die grootste gedeelte van sy beroepslewe was hy in die diens van die SAUK. Na afloop van FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 het “almal in die TV-nuuskantoor” besef dat Suid-Afrika daarna onherroeplik sou verander (202). Soos die geval was met baie staats- of semistaatsorganisasies, is die SAUK kort na die bewindsverandering in 1994 herstruktureer. Cruywagen is persoonlik hierdeur geraak (soos talle ander werknemers van destydse staatsorganisasies) deurdat sy pos heeltemal geskrap is en hy op ’n gevorderde werksouderdom ’n ander werk sou moes vind. Vir hom en sy gesin was dit ’n traumatiese tydperk, en hierdie hoofstuk van Wat’s nuus? vertel die verhaal van ’n groot aantal Afrikaners na die eerste demokratiese verkiesings in 1994.
Op die vraag hoe hy na soveel veranderinge by die SAUK steeds as nuusleser kon aanbly, gee Cruywagen die volgende antwoord: “[E]k dra geen politieke bagasie nie. Ek is ’n trotse Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat graag my deel probeer doen om van Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak ... [a]s beroepsuitsaaier ... vir die breë spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing” (220). Dit is duidelik dat hy homself binne die groter opset van ’n diverse Suid-Afrika sien. Dit beteken nie hy skroom om sy betrokkenheid by sy eie kultuurgroep te waardeer nie; ooglopende voorbeelde hiervan is sy betrokkenheid by die kerk en sy uitgesprokenheid oor die belang van sy “Christelik-gereformeerde” geloof in sy lewe (91 ev), asook sy waardering vir die Afrikaanse taal en letterkunde – en ook dié wat daarmee doenig was en is.1 Hier is dit ook nodig om te noem dat Cruywagen se goeie Afrikaans nie beperk is tot die halfuur wat hy die nuus lees nie, en hy het min geduld met en respek vir diegene wat dit afskeep (209 ev). Ek deel nie al sy sentimente oor Standaardafrikaans nie (dit is ’n kwessie wat nog baie aandag moet ontvang in terme van die verhouding tot miskende variëteite van die taal), maar ek het baie respek vir sy deeglike argumente oor die toekoms van Afrikaans, sy entoesiasme om die taal verder te sien groei, en sy raak opmerkings oor die uitdagings waarmee Afrikaans te kampe het:
Die kurwes en naaktheid wat sigbaar geword het toe die borsrok [van Afrikaans] uitgetrek is, het ongelukkig by sommige mense ’n wellus gewek wat meermale tot die verminking van veral gesproke Afrikaans lei. (212)
Hy noem dan ook ’n paar voorbeelde. Net omdat Afrikaans nou “informeler, losser en gemakliker” geword het, “beteken dit nié mens [kan] nou maar ... sê huidiglik terwyl daar nie so ’n woord in Afrikaans bestaan nie; ... na die Australiërs as Australianers kan verwys nie; van Brussels pleks van Brussel kan praat nie.” Sela!
Cruywagen se gevoelens oor Afrikaans sluit direk aan by sy perspektiewe oor die verlede en toekoms van die land. In Wat’s nuus? dink Cruywagen meestal met heimwee aan die verlede, maar dit is nie ’n sieklike nostalgie wat deesdae so gewild is in die rubrieke van Afrikaanse dagblaaie nie. Cruywagen is volkome gevestig in die hede en optimisties oor sy land se toekoms, want hy is gemaklik as beide Afrikaner en Suid-Afrikaner.

’n Storie van die Afrikaners
’n Mens sou Wat’s nuus? ook kon beskou binne die groter konteks van die Afrikaner-narratief soos dit in onlangse egodokumente tot stand kom. Die afgelope aantal jaar verskyn daar verskeie biografieë oor en outobiografieë deur prominente Afrikaners. Om maar net ’n paar te noem: daar is die talle biografieë oor literêre figure wat uit die pen van JC Kannemeyer verskyn het, soos Leroux – ’n Lewe (2008) en DJ Opperman: ’n Biografie (1986), 2 en dan ook Die laaste Afrikaanse boek (2002) deur Karel Schoeman, Elsa Joubert se ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2010), André P Brink se ’n Vurk in die pad, Magnus Malan se Magnus Malan. My lewe saam met die SA weermag (2006), en Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers se David Kramer: ’n biografie (2011). Intussen het Lizette Rabie die lewe van die joernalis Rykie van Reenen onlangs vasgelê in Rykie: ’n Lewe met woorde (2011), terwyl Max du Preez se outobiografie, Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan, in 2009 verskyn het. Ook die volgende is noemenswaardig: JC Steyn se outobiografie, Sonkyker (2008),en sy biografieë Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van MER (2004); Ingrid Jonker – Beeld van ’n digterslewe (2003) deur Petrovna Metelerkamp; Koos Human se ’n Lewe met boeke; Wilna Snyman se Memoires (2006); Mimi Coertse se Mimi Coertse, ’n stem vir Suid-Afrika: My storie soos vertel aan Ian Raper (2007); Jans Rautenbach: Dromer, baanbreker en auteur met Martin Botha en Deborah Steinmair (2006); en FW de Klerk se Die laaste trek – ’n nuwe begin (1999). Hierdie titels bied geensins ’n volledige oorsig nie, maar dit gee mens wel ’n idee van die ryke tapisserie van geskrifte wat probeer om, in Herman Giliomee se woorde, “saam die volledige verhaal van die Afrikaner van die laaste paar dekades [te vertel]” (Giliomee 2012). Riaan Cruywagen se Wat’s nuus? is ’n uitstekende aanvulling tot hierdie verhaal, want ook hierin kry ’n mens ’n beeld van die ontwikkeling van die Afrikaners deur die 20ste eeu.

Die moontlike konstruksies van die Afrikaner wat aan bod kom in Wat’s nuus? is egter op ’n subtieler vlak teenwoordig as wat die geval is met ander onlangse biografieë deur prominente Afrikaners wat baie openliker ’n bemoeienis toon met Suid-Afrikaanse en Afrikanerpolitiek, sowel as die gepaardgaande identiteitskwessies. Hoewel Cruywagen se outobiografie ’n volwaardige bydrae tot bogenoemde lys narratiewe is, voel ek dit nodig om in meer diepte in te gaan op die wyses waarop Wat’s nuus? juis verskil van sommige van die genoemde outobiografiese werke.
Louise Viljoen (2008:186-187) voer aan dat die outobiografie – ’n genre wat dikwels in die marge van die literêre kanon staan – interessante geleentheid skep vir die ontleding van die impak van nasionalisme op die konstruksie van identiteit juis vanweë die groot besonderhede van die alledaagse wat normaalweg in tekste van hierdie genre opgeteken word. Viljoen (2008) fokus met name op die interaksie tussen nasionalisme, gender en seksualiteit in die outobiografiese werke van twee Afrikanervroue, Elsa Joubert en Petronella van Heerden, en hoe hierdie vroue se lewens beïnvloed is deur gebeure van groot sosiale, politiese en ekonomiese belang.3 Die impak van sulke gebeure op die vorming van identiteite verskil sonder twyfel van persoon tot persoon, soos egodokumente kan toon. By die literêre outobiografieë van Elsa Joubert en André Brink, wat in teenstelling met Cruywagen wél “met interne óf eksterne politiek bemoei[d]” is, gaan dit byvoorbeeld juis oor die wyse waarop die materiaal aangebied word. Die proses van “writing or narrating the self” (Viljoen 2008:187) word dus komplekser as gevolg van sekere literêre tegnieke wat die outeur beoefen by die skepping van die narratief. Die verhaal van die jong vrou in ’n Wonderlike geweld word byvoorbeeld hoofsaaklik deur ’n derdepersoonsverteller behartig en die boek neem die vorm van Bildungsroman aan (Viljoen 2008:194), waardeur die leser dalk die gevoel van afstand kan ervaar wat Joubert self voel wanneer sy na haar jonger self kyk. Brink se memoires vertoon ’n soort wisselwerking tussen fiksie en werklikheid: “[D]it word duidelik dat sy romans beïnvloed is deur sy werklike ervarings, maar ook dat sy weergawe van werklike ervarings die skyn van romantonele begin kry” (Viljoen 2009). Joubert en Brink gebruik dus met verskillende oogmerke doelbewus sekere vertelstrategieë om hul niefiksionele materiaal aan te bied. Dit sou onregverdig wees om sodanige kreatiewe verwerking van niefiksie van Cruywagen te verwag – hy is immers nie ’n skrywer nie, maar ’n nuusomroeper, en hy erken dat Wat’s nuus? “niks anders [is] nie as ... vertellings oor my lewe en loopbaan soos ek dit onthou en voor die gees roep, en geskryf soos ek praat” (xv). En hoewel Cruywagen nie so uitgesproke is oor die politiek soos Joubert en Brink nie, vertel sy memoires ’n ander belangrike aspek van die Afrikaner se geskiedenis: die opkoms van ’n groot Afrikanermiddelklas en hoe dit uiteindelik ook die familiestrukture en identiteite van hierdie mense beïnvloed het.

“As ek ’n Amerikaner was, sou ek my naam seker geskryf het as Adriaan Johannes Cruywagen IV – my oupagrootjie, my oupa, my pa en ek het immers dieselfde voorname” (20). Terwyl Wat’s nuus? fokus op die lewe van Riaan Cruywagen, is dit ook die verhaal van vyf geslagte Cruywagens in Suid-Afrika en die gevolge van belangrike gebeure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir hierdie familie. Cruywagen se oupa Attie en oupagrootjie Arrie het in die Suid-Afrikaanse Oorlog geveg, en moes ná die oorlog in moeilike omstandighede ’n sukkelbestaan voer. Lizzie de Beer, die vrou met wie Arrie Cruywagen later sou trou, het as kind ’n Engelse konsentrasiekamp oorleef. Hoewel Attie Cruywagen as gevolg van die oorlog nie sy skoolopvoeding kon voltooi nie, kon hy wel deur ywerige werk ’n goeie bestaan vir hom en sy gesin maak. Met Riaan se geboorte het daar vier geslagte Afrikaners op sy oupa se grond gewoon. In teenstelling met sy voorgeslagte kon Cruywagen se pa hom as elektromeganiese ingenieur bekwaam en goed na die behoeftes van sy gesin omsien (39). Hy was die hoof van ’n middelklasgesin met groeiende kapitaal – ekonomies sowel as kultureel: “Hoewel ons dit as gesin nie breed gehad het nie, het ons nooit gebrek gely nie. My pa het die betiteling as broodwinner van sy gesin dubbel en dwars verdien” (43). Hier is dit dan ook die moeite werd om te sien hoe ’n tipiese weeksaand aan huis van die Cruywagen-gesin verloop het:
My pa het saans klokslag sesuur tuisgekom van die werk af. Teen halfsewe het ons aangesit vir aandete en daarna het ons die radio aangeskakel om na die nuus en die vervolgverhale te luister. Mits daar nie te veel huiswerk was nie, of as my pa nie moes huisplanne teken of my ma moes koekbak nie, het ons as gesin musiek gemaak, plate gespeel, radio geluister, gelees, skaak gespeel of sommer net gesels. (59-60)
Verdere tekens van hierdie vooruitgang kan ook gevind word in Cruywagen se herinneringe van sy skooldae. Hy noem byvoorbeeld die “vreemde waardestelsel” van skoolkinders daardie tyd:
Dit was belangrik watse soort motor jou ouers gery het. Die Chev-brigade was voortdurend in botsing met die Ford-gesindes, terwyl die Pontiac-, Chrysler-, Plymouth en De Soto-aanhangers die goeie hoedanighede van hulle rygoed teen dié van die Opel-, DKW-, Rover-, Zodiac- en Zephyr-ondersteuners afgespeel het. Die Mercedes-Benz-manne was yl gesaai en in ’n onvergelykbare klas van hulle eie. Wat belangrik was om in tel te kon wees, was dat jou pa se kar verkieslik een van die heel nuutste modelle moes wees. (63-64)
Hierdie waarneming dui op die toenemende rykdom van ’n groeiende Afrikanermiddelklas, en ook op die materiële bewustheid wat met so ’n toename gepaardgaan. Die algaande verbeterde lewenstandaarde van die Afrikaners in die tweede helfte van die 20ste eeu blyk ook uit die onderrigsgeleenthede waartoe jongmense toegang gehad het, en die vormende impak van Cruywagen se studentejare (hoofstuk 12).
Saam met klas is ook ras en geslag belangrike snypunte aansnypunte van identiteitskonstruksie. Hier wil ek kortliks fokus op hoe Wat’s nuus? waarneembare verandering in genderrolle aanstip. Cruywagen se beskrywings van sy moeder – “’n engel” (45), “’n toonbeeld van die Bybelse dienende Marta” (46), “[s]oos Florence Nightingale” (48) – dui op die rol wat baie Afrikanervroue destyds vervul het. Die outeur is deeglik hiervan bewus, en sy beeld van sy moeder word ook meer genuanseerd wanneer hy skryf dat sy “ooreenkomstig die destydse gebruik ... opgehou werk [het] toe [sy ouers] getroud is”, maar steeds “haar kant gebring [het]” om na hul gesin om te sien (46). Benewens haar bekwame bestuur van haar huishouding en versorging van haar kinders (47) was sy ook ’n entrepreneur wat met groot sukses ’n klein bakkery uit haar kombuis bedryf het (46). Hoewel daar geargumenteer kan word dat die lewe van Christie Cruywagen sprekend is van die streng tradisionele genderrolle en die beperkte geleenthede vir vroue van daardie tyd, toon haar seun se genuanseerde notisie van paradigmas dat dié rol ook in sommige gevalle ’n keuse was wat net so geldig is as ander minder konvensionele lewenslope. Dit is dan interessant om waar te neem hoe Cruywagen se dogter Anita ’n aantal dekades later ook aantoon hoe konsepsies rondom genderrolle onder Afrikaners verander het. Haar eie keuses as jongmens stem heelwat meer ooreen met dié van haar pa en oupa, omdat sy die geleentheid tot tersiêre onderrig gehad het (waardeur sy ’n BCom-graad, BEd-graad, asook ’n diploma in skoonheidstegnologie behaal het), waarna sy eers haar eie besigheid bestuur het en later ook ’n loopbaan as onderwyser begin het (201). Hier toon Wat’s nuus? dus ook hoe die Afrikaners deur die loop van Riaan Cruywagen se lewe nader beweeg het aan geslagsgelykheid.
Riaan Cruywagen se memoires lewer ’n sinvolle bydrae tot die groter Afrikanernarratief. Tog is die boek so geskryf dat dit op sigself ook die lees werd is vir ieder en elk wat bloot lekker saam met Cruywagen wil kuier.

Net voor ons groet
Wat’s nuus? is ’n belangrike boek, omdat dit die verhaal van een van Suid-Afrika se groot ikone vertel. Dit bied ook ’n informatiewe blik op die Suid-Afrikaanse radio- en televisiewese van die sestigerjare tot en met die hede deur die oë van iemand wat ten nouste daarby betrokke was. Na die lees van Wat’s nuus? sal die leser presies weet waar Riaan Cruywagen grootgeword het, skoolgegaan het, studeer het en gewerk het, dat hy ’n liefhebber van en kampvegter vir Afrikaans is, en selfs van welke soort motor hy hou. As egodokument vertel die boek ook insiggewend die verhaal van baie Afrikaners van die afgelope sestig jaar – van ’n groeiende middelklas in die sestiger- en sewentigerjare, tot ’n groep mense wat nou, amper twee dekades na die eerste demokratiese verkiesing, op verskillende maniere hul identiteite vind in ’n veranderde Suid-Afrika.
In sy voorwoord maak Cruywagen die grappie dat hy na dese nie meer media-onderhoude sal hoef toe te staan nie, “want daar sal mos niks meer wees om te sê nie!” Ook dít is darem nie heeltemal waar nie, want Cruywagen bly nog bietjie van ’n enigma. En dit is nie ’n slegte ding nie.
Bibliografie
Brink, AP. 2009. ’n Vurk in die pad. Kaapstad: Human & Rousseau.
Giliomee, H. 2012. Biografie van ’n volk (in vier boekdele). By (Beeld), 17 Maart. http://www.beeld.com/By/Nuus/Biografie-van-n-volk-in-vier-boekdele-20120316 (25 Mei 2012 geraadpleeg).
Joubert, E. 2005. ’n Wonderlike geweld. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2009. Reisiger. Kaapstad: Tafelberg.
Rust, R en R Cruywagen. 2012. Hier volg die nuus. Die Burger, 17 Maart. http://www.dieburger.com/By/Nuus/Hier-volg-die-nuus-20120316-2 (25 Mei 2012 geraadpleeg).
Viljoen, L. 2008. Nationalism, gender and sexuality in the autobiographical writing of two Afrikaner women. Social Dynamics, 34(2):186-202.
—. 2009. Die voeë en nate van André P Brink se lewe en werk boeiend tot stand gebring in memoir. LitNet, 27 Mei 2009. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=67071&cat_id=200 (25 Mei 2012 geraadpleeg).
Eindnotas
1 Hy skryf onder meer oor sy dae as student van onder andere WEG Louw, DJ Opperman en WJ Du P Erlank en Willem Kempen (110).
2 Hierby kan mens voeg Wat het geword van Peter Blum? Die soeke na die Steppewolf (1993), Die lewe en werk van Uys Krige: die goue seun (2002), en verskeie noukeurig-versorgde versamelings briewe, gedigte en essays wat saam met die biografieë insiggewende leesstof bied.
3 Die tyd waarin hierdie twee Afrikaners se lewensverhale afspeel word gekenmerk deur ’n paar belangrike gebeure met betrekking tot die geskiedenis van die Afrikaners: die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902), die standaardisering van Afrikaans (1925), die simboliese Tweede Trek (1938) en Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) (Viljoen 2008:188).
Foto regs bo: Marie Claire



Kommentaar
Dankie, goeie stuk.