LitNet Akademies-resensie-essay: Sirkusboere maak my pa se helde toeganklik

  • 0

 

Sirkusboere
Sonja Loots
Uitgewer: Tafelberg (2011)
ISBN: 9780624053354
Prys: R175.95
Klik hier en koop Sirkusboere nou van Kalahari.com.
 

 

Groot historiese gebeure, en die mense wat daarvoor verantwoordelik is, skep dikwels hulle eie ideologiese sleurstrome. Persone wat later daaroor wil skryf, stel hulleself dan bloot aan ideologiese kritiek.

 

 

Dink maar aan Bloedrivier. Diegene wat vandag steeds Bloedrivier ten alle koste wil gedenk, het dikwels ‘n regse agenda. Diegene wat egter die belang van Bloedrivier doelbewus onderspeel, staan merendeels aan die linkerkant van die spektrum.

Of dink aan 16 Junie 1976.

Naas die slag van Bloedrivier en 16 Junie 1976 is die Anglo-Boereoorlog (ABO) waarskynlik die grootste historiese gegewe waarmee die ideologiese speelbal rondom die term “Die Afrikaner” rondgeskop kan word – behalwe natuurlik as jy apartheid wil betrek. Die ABO was ’n direkte oorsaak vir die latere rebellie van 1914. Kyk ook maar hoe gereeld die Vierkleur van die Transvaalse Republiek of die vlag van die Vrystaatse Republiek nog steeds te sien is by regse vergaderings. Bok van Blerk se trefferlied “De la Rey” was ook ‘n uitstekende voorbeeld van die ywer waarmee ‘n deel van ons samelewing hulleself steeds kon vereenselwig met een van die helde van die ABO en die latere rebellie.

Die probleem is dat talle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulle om ideologiese redes juis nié wil assosieer met die ABO nie en daarom word grootse dade uit daardie tydperk gewoon misgekyk – bitter min jong Suid-Afrikaners het deesdae enige grondige begrip van die ABO.

 

 

 

Tekste soos JA Smith se Ek rebelleer (1946) word in historiese kringe geag, maar dit word vandag merendeels aanbeveel op webwerwe met ’n regse strekking – en só word dit outomaties ideologies gekleur. Smith se teks, wat in ’n stadium deur die Unieregering verban is (vgl Venter 2007: 101), het ek as kind verslind en ek sou nie omgee as my seun dit eendag wil lees nie. Dis ’n jollie goeie storie – maak nie saak wat Smith se politieke oortuiging was nie. Smith was ’n rebel. Hy kon dus eerstehands vertel van sy stryd.

 

Maar wat doen skrywers wat veel later oor die ABO pen op papier wil sit?

 

 

 

NP Van Wyk Louw was alreeds ’n skeptiese ABO-skrywer. Sy drama Die pluimsaad waai ver (1972 in my weergawe) het reeds tydens republiekwording vir Hendrik Verwoerd die josie in gehad. Louw het dit durf waag om die klem nie op die heldhaftigheid van die Boere tydens die ABO te plaas nie, maar juis op die tweespalt tussen die Boere waarmee president Steyn moes worstel (vgl Steyn 1998 en Renders 2002).

 

 

 

 

HS van Blerk is meer simpatiek teenoor die Boere en in talle van sy tekste word Boerehelde vereer. Ek dink aan Die eerste verkenner (1969) en Boerespioen (1971) wat oor Danie Theron geskryf is. Van Blerk is ’n meesterlike verteller, maar dit is interessant hoe hy, skynbaar gewillig, gekaap is deur die regses wat spesifiek hierdie tekste oor die ABO nou weer heruitgee en dit opdra aan “die Jeug van die Boerevolk” (Van Blerk 2010: iv).

 

Daar staan ook voor in die jongste weergawe van Boerespioen, uitgegee deur die HS van Blerk Stigting:

Elke vader en moeder moet hierdie boeke self lees, en aan hul kinders gee om te lees, sodat ons weer murg in ons pype, durf in ons harte en besieling kan verwerf, om nie weerloos uitgelewer te wees aan die “Wêreldheersers” van ons tyd nie. (Van Blerk 2010: iv)

Tog is Van Blerk ook altyd nie eensydig teen die Engelse nie. In sy Tuin van herinnering (1982) word ’n Engelse kampdokter byvoorbeeld met groot deernis beskryf.

 

 

 

Etienne Leroux, daarenteen, was geensins van plan om ’n handlanger van die “Boerevolk” te wees nie en het hom die gramskap van die Nasionale Partyregering op die hals gehaal. Sy Magersfontein, o Magersfontein! (1976) is uiteindelik verban – hoewel dit nie was oor sy historiese verwysings na die ABO nie. Leroux slag wel talle heilige koeie daar op die slagveld en onteer só een van die grootste oorwinnings wat die Boere teen die Engelse behaal het.

 

Meer onlangs (1998) verskyn Christoffel Coetzee se bloederige teks Op soek na Generaal Mannetjies Ments. Dit handel oor ’n aantal Boere wat hulle aan oorlogsmisdade skuldig maak – ’n totale ontluistering, dus, van die morele hoër hand wat die Boere kwansuis sou gehad het. Wium van Zyl (1999) skryf egter taamlik krities oor hierdie teks dat dit ’n totale versinsel is. Van Zyl is reg. Die roman is fiksie, tog, vrees ek, wás daar erge vergrype aan Boerekant. Pakenham (1982: 535) haal byvoorbeeld ’n brief van kolonel Rawlinson aan waarin hy aan lord Roberts skryf:

I found the bodies of four Kaffir boys none of them over 12 years of age with their heads broken in by the Boers and left in the Kraal of their fathers. Strong measures will be required to deal with this slaughter.

 

 

’n Paar jaar later (2008) verskyn PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Hierin word die haglike omstandighede van die swart mense ook onder die loep geneem. Van belang is egter dat die hoofkarakter in die boek ’n vooraanstaande Boer is, maar dat hy uitgebeeld word as ’n lafaard en ’n verkragter.

 

 

Die lys is langer. Lees gerus Chris Barnard se “Die vlindervanger” in Jeanette Ferreira se Boereoorlogstories (1998). Barnard se hoofkarakter blaas treine op onder Ben Viljoen (vgl Lemmer in Sirkusboere). Hierdie kêrel is egter lomp en sy dood word deur homself veroorsaak. Hy is dus nie ’n ware oorlogsheld nie.

 

HS van Blerk se tekste is geskep om die leiers van die ABO as helde uit te beeld. Leroux, Coetzee, Barnard en Du Plessis besluit egter om nié die ABO-soldate klakkeloos te vereer nie.

Toe daag Sirkusboere op. Sonja Loots se openbare uitsprake oor haar Afrikanerskap (Slippers 2011) plaas haar beslis aan die linkerkant van die politieke spektrum en daarom sou ‘n leser kon verwag dat haar roman Sirkusboere ook ‘n korrektief sou plaas op die oorlog en nie bloot in klakkelose heldeverering sou verval nie. Vir my was dit dus ‘n aangename verrassing om so ‘n uiters gebalanseerde roman te vind. Loots skets haar karakters met ontsettende deernis, al  het hulle dikwels voete van klei. Sy verval nooit in blinde heldeverering nie, maar sy maak ook nie van hulle monsters of lamsakke nie.

Oorlogshelde

Selfs my pa sou dalk van Loots se boek gehou het. Nie dat hy ooit regtig ’n leser was nie, maar soms het iets hom geïnteresseer, veral as dit oor die Boereoorlog gaan. (My pa sou wel gesteurd gewees het oor die seks. Nou ja.)

Dit is my pa se mesversameling wat my laat dink hy sou Sirkusboere kon geniet het.

Op my pa se kosbaarste knipmes was die gesigte van ‘n aantal Boeregeneraals gegraveer. (Ek kan werklik nie onthou wie nie.) ‘n Ander knipmes in sy versameling was baie soortgelyk: op ‘n plastiekhef is die gesigte van vier generaals afgedruk (in kleur). Die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse vlag is ook op die hef aangebring.

Daar was nie enkele Engelse leier in my pa se mesversameling nie.

My pa was van daardie generasie vir wie Chris Louw, oftewel Boetman, so die bliksem in was: hy het nooit in enige oorlog geveg nie. My pa het dus nooit, soos ek, die ambivalensie van ‘n oorlog gesmaak nie.

In my pa se kop was dus ’n duidelike skeidslyn tussen goed en kwaad. Die Engelse was die bose mag, die Boere was die goeie mense. Sy manier van kyk was amper kinderlik. Maar hoekom?

Ek moes soms probeer om in sy skoene te staan om hom te verstaan.

  • Die Engelse was bo alle twyfel die aggressor in die ABO (hulle wou die goud bekom).
  • Die sterftesyfer in die konsentrasiekampe was ongeveer 12% (sien Pakenham 1982: 508).
  • Mense soos Piet Cronjé en Ben Viljoen het vir ‘n aansienlike tyd groepies onopgeleide soldate met bitter min hulpbronne gelei teen ‘n algehele oormag van goedgedissiplineerde en goedtoegeruste Britte. ‘n Mens kan nie anders as om respek te hê vir hulle moed nie. Pakenham beskryf die ABO as a “most humiliating war for Brittain” (ibid:xv).

 

Bostaande verklaar egter nie die eenogigheid waarmee my pa sy lewe by tye gelei het nie.

Ek moes dieper krap om hierdie kant van hom te probeer verstaan – en die messe was weer eens ’n leidraad.

Die ABO was ‘n besondere keerpunt in die kollektiewe psige van die wit Afrikaanssprekende en dit het my pa direk geraak. Hoe so? Sy pa, my oupa Izak de Vries, was oud genoeg om die letsels van die ABO aan eie bas te voel. Mense van sý ouderdom het almal vriende of familie gehad wat in die konsentrasiekampe dood is.

In 2012 is dit vreemd om die konsentrasiekampsnaar te bly tokkel, maar dit is nodig om perspektief te kry hierop. Ek sidder as ek na my seun se klas kyk en dink:

  • Wat sou gebeur as een of ander mag 12% van sy klas afmaai?
  • Of 12% van die kinders in sy skool vermoor?
  • Erger nog. Wat sou gebeur as 12% van ons stad se mense uitgewis sou word?

 

Dink daaraan. As daardie mag ‘n naam sou hê, wie sou nie bitter wees daarteenoor nie?

Vir my oupa Izak se generasie het daardie mag ‘n naam gehad: die Engelse. Daardie haat het my oupa gedryf om DF Malan blind na te volg en om die Nasionale Party (NP) ten alle koste te steun.

My eie pa het met daardie haat grootgeword en het tot sy dood vir die NP gestem.

Daardie helde van die ABO het dus nie net op my pa se messe nie, maar ook in sy gedagtes voortgeleef. In my pa se oë was mense soos Piet Cronjé en Ben Viljoen onkreukbaar – hulle het dit gedurf waag om “die Engelse” in eie munt terug te betaal. Wat hom betref, kon hulle nie ’n voet verkeerd sit nie.

Ons het helde nodig

 

 

Die skrywer Robert Bly beweer dat ’n polities korrekte opvoeding van jong seuns sonder die nodige blootstelling aan wat hy noem “the Wild Man”, probleme skep vir ’n hele generasie Westerse mans.

Here we have a finely tuned young man, ecologically superior to his father, sympathetic to the whole harmony of the universe, yet he himself has little vitality to offer. (Bly 1990:3)

Dit is hoekom hy in sy teks Iron John soek na die waarhede wat in sprokies opgesluit lê:

Stories, then, fairy stories, legends, myths, hearth stories – amount to a reservoir where we keep new ways of responding that we can adopt when the conventional and current ways wear out.

Kan verhale oor die ABO nie ook sulke rolle vervul nie? (Die HS van Blerk Stigting dink so.) Dit is waarskynlik goed om helde uit eie geledere te koester. Maar waar trek ’n skrywer die streep? En wanneer word heldeverering histories onjuis – om nie te praat van ideologies onhoudbaar nie?

At van Wyk (1982, 1985) se twee boeke oor die ontvangers van die Honoris Crux,  die hoogste eer wat ’n soldaat in die Suid-Afrikaanse Weermag tydens die apartheidsera kon ontvang, sou ’n goeie vertrekpunt wees vir ’n gesprek oor hierdie kwessie. Van Wyk skryf nugter, kort sketse wat gebaseer is op onderhoude wat hy met die ontvangers gevoer het (indien hulle nog gelewe het). Natuurlik is die perspektief dié van die ontvanger. Hier is helde wat hulle staal gewys het in die oorlog. Dit is werklik goeie leesstof, maar vir talle sal die ideologiese dilemma van die oorlog hulle daarvan weerhou om hulle kinders (of hulleself) hieraan bloot te stel.

 

Die probleem is dat baie van ons kinders se ideologiese helde glad nie eers histories akkuraat is nie. Tydens die Voortrekkers se oorlog teen die Zoeloenasie het ’n belangrike jong held ontstaan. Dirkie Uys sou kwansuis langs sy sterwende pa gaan kniel het en eiehandig drie Zoeloes met ’n voorlaaier afgemaai het voor hy self, daar neffens sy pa, gesterf het. Hierdie weergawe van die geskiedenis is in klip verewig op ’n reliëf in die Voortrekkermonument en word ook as sodanig gekanoniseer in PH Nortjé se Die groot Afrikaanse heldeboek (2007:114–21).

Die realiteit, soos oorvertel deur Uys se eie familielede, is egter gans anders. Die jong Dirkie en ’n makker het skynbaar agter geraak en Dirkie is van sy perd afgeruk toe dié vasgesteek het in ’n rivier (Uys 1976).

Waarom sou Nortjé, wat geensins regs is nie, kies om die verheerlikte weergawe in sy boek op te neem en nie die weergawe van die Uyse self nie? Die antwoord is maklik. Nortjé was nog altyd geïnteresseerd in die Afrikaanse kultuurskat. In die Afrikaanse kultuur, nie noodwendig die geskiedenis nie, is Dirkie Uys ’n oorlogsheld.

Nortjé weet dit kan nie waar wees nie. Vandag het ons outomatiese gewere wat blitssnel een koeël ná die ander kan vuur. Selfs ’n moderne jaggewere met ‘n goeie magasyn sal drie vinnige skote ná mekaar moontlik maak. Maar om ‘n voorlaaier drie maal ná mekaar te laai en akkuraat af te vuur, sou heelwat tyd neem.

Vir Nortjé was die kultuurhistoriese staaltjie, Bly se tipe “hearth story”, belangriker as die historiese feite.

Die probleem is verder dat selfs oorlogshelde oor wie die feite neergepen is, se biografiese inligting ook geplooi kan word.

 

 

In 2007 publiseer die historikus Fransjohan Pretorius ’n monografie oor Koos de la Rey, wat hy geskryf het ten tyde van Bok van Blerk se treffer oor hierdie Boeregeneraal. Van Pretorius, ’n knap historikus, sou ‘n mens ‘n gebalanseerde verhaal oor De la Rey verwag – daar is immers talle gedokumenteerde verslae oor De la Rey se lewe.

 

De la Rey, die leeu van die Noorde (Pretorius 2007) is inderdaad ‘n goeie, uiters toeganklike oorsig oor die Boeregeneraal se lewe en dood. Tog kies Pretorius om nié  Koos de la Rey se noue verbintenis met Siener van Rensburg té duidelik te skets nie. Dat De la Rey kontak gehad het met Van Rensburg, word nie ontken nie, maar die mate waarin hy hom aan die neus laat lei het deur die kêrel se charisma, word beslis onderspeel. Om die ware invloed van Siener van Rensburg op De la Rey se lewe, en leierskap, gade te slaan, word  die leser verwys na MCE van Schoor se Generaal JCG Kemp en die epiese woestyntog (2006). Hier word talle ooggetuieverslae opgeneem waarin vertel word dat Koos de la Rey te ruggraatloos was om Siener van Rensburg in sy peetjie te stuur.

Fransjohan Pretorius se teks is goed nagevors en hou by die feite, maar hy het duidelik gekies om talle feite gewoon te verswyg. Van Schoor, daarenteen, se doel was nié om De la Rey te verheerlik nie; hy wou De la Rey se aksies neerpen om die gevolge daarvan op Kemp se ekspedisie te belig.

Van Schoor gebruik boonop ’n interessante strategie om homself van vooroordeel te probeer vrywaar. Sy teks is ’n sonderlinge werk, aangesien hy die eerste 127 bladsye spandeer aan sy eie weergawe van die woestyntog tydens die rebellie (1914–1915). Hy haal telkens uit bronne aan en dokumenteer sy bronne fyn. Daarna plaas hy egter nie minder nie as 14 oorspronklike dagboeke en ander geskrifte uit hierdie tyd – net so, in die skrywers se eie woorde. Hy nooi dus die leser om sy eie teks te beoordeel aan die hand van talle ooggetuieverslae.

Vir Fransjohan Pretorius was hierdie luukse nie beskore nie. Hy moes ’n leesbare monografie skryf.

Ook Sonja Loots sou nie sommer Van Schoor se roete kon gevolg het nie. ’n Romanskrywer soek ’n storie, nie alle beskikbare feite nie. Daar is natuurlik uitsonderings, soos JC Steyn se Verlore Vader (1985), waarin Steyn, soos Van Schoor, sy storie aan die begin vertel en dan die res van die boek vol dokumente stop.

Beide van Schoor en Steyn tref dus ’n onderskeid tussen hulle eie interpretasies en die dokumente waarop hulle interpretasies gebaseer is.

Hierdie werkswyse word egter in die postmodernistiese milieu dikwels ondergrawe:

This kind of separation is precisely what postmodernism, in turn, has challenged by conflating this same kind of metafictive reflexivity with documentary materials. Historiographic metafiction always asserts that its world is both resolutely fictive and yet undeniably historical, and that what both realms share, is their constitution in and as discourse. (Hutcheon 1988:142)

 

 

 

Dink maar André P Brink (1993) se Inteendeel, waarin ’n ware historiese karakter, die soldaat Estienne Barbier, as fiktiewe karakter geskets word deur ’n slim spel tussen vertelteks, historiese geskrifte (sommige deur Barbier self geskryf) en ander romans wat as intertekste gebruik word.

 

Die historiese Barbier sou maklik as ’n held geskets kon gewees het – soos wel die geval is in Leon Maré (1923) se kortverhaal “Etienne Barbier” [sic], waarin Barbier ’n groot fortuin aan ’n jong vrou nalaat. Brink kies egter om nie ’n held nie, maar eerder ’n meesleurende skurk, te skets. So kan dieselfde historiese karakter ’n held of ’n boef wees – dit hang net af hoe die geskiedskrywer die werk aanpak.

 

 

Is Piet Cronjé en Ben Viljoen helde? In my pa se oë sou hulle ongetwyfeld wees.

Loots se roman, wat getuig van diep navorsing, word as stórie aan die leser gebied om dit te geniet. Oënskynlik is daar dus geen van die truuks wat iemand soos Brink inspan om sy karakter fiktief te maak nie. En tog: op ’n slim manier verplaas Loots haar karakters se heldedade na die verhoog, maar so ook hulle skande. Só beskryf Loots self haar karakter ’n hele paar jaar voor haar roman verskyn:

After the war he was shunned by the other generals, not invited to peace talks or asked to participate in post-war policymaking. His subsequent movements did little to still the antagonism. In 1904, circus man Frank Fillis recruited him to travel to America as part of the so-called "Boer War Circus". In a show that was seen by two million people at the 1904 World's Fair in St Louis, Cronjé helped recreate famous Boer War battles. American audiences could see him three times a day in re-enactments of his surrender at Paardeberg. He would stand with bowed head in front of an actor playing the role of his nemesis. (Loots 2004)

Sonder om dus die metanarratief aan die groot klok te hang, skets sy haar historiese feite as niks anders ’n tablo nie. (Vgl Naudé 2012 se resensie vir ’n verdere toeligting hierop.) Let ook op hoe sy erg problematiese feite oor die Boere én die swart Suid-Afrikaners in die vorm van Frank Fillis se geskrifte aanbied (130–5).

Loots se probleem is dat beide Piet Cronjé en Ben Viljoen veelkantige karakters is. Cronjé se sukses by Magersfontein is wyd bekend, maar dit was sy uiteindelike oorgawe by Paardeberg wat ’n enorme krisis vir die Boere geskep het. Die Boere wat saam met, of kort ná, Cronjé oorgegee het, sou vir generasies nog as die “hensoppers” bekendstaan. Dié wat aanhou veg het, was die “bittereinders”.

Viljoen was een van die manne wat vroeër oorgegee het.

In Sirkusboere skets Loots die positiewe én die negatiewe, maar sy behou haar afstand deur haar karakters tweedehands te skets:

Hierdie problematiese verband tussen lewe en vertelling word voortdurend in metafiksionele tekste op die voorgrond geplaas deur die aandag op die talige aspekte van die vertelling te vestig. Die moontlikheid om die werklikheid mimeties weer te gee, word enersyds in sulke tekste ondergrawe. Andersyds word ook die tekstualiteit, die taligheid van die lewe beklemtoon. (Burger 1995:112)

Die finale uitval tussen Viljoen en Cronjé gebeur wanneer Viljoen ’n biografie oor Cronjé skryf (310–5).  Terug in Suid-Afrika gaan Piet Cronjé ook aan die skryf – dié keer om sý kant van die saak te stel (350–5).

In die woorde van Louise Viljoen (2011):

Dat niémand onskuldig is aan die verdraaiings, sensasie-lus en eiebelang wat potensieel deel is van enige representasie nie, word te kenne gegee deur ’n veelseggende oomblik naby die einde van die roman. Wanneer Piet terug is in Suid-Afrika, skryf hy sy weergawe van die slag by Paardeberg neer. Wanneer hy klaar is daarmee, sê die verteller: “Hy moet sy hande was. Daar is ink aan.”

Die perspektiefskuif as ideologiese verskansing

Loots maak gebruik van ’n alwetende verteller, maar die verteller word deurgans gekanaliseer deur die oë van haar karakters, merendeels dié van Ben Viljoen, Frank Fillis of Fenyang Mokeyane. Slegs by enkele geleenthede word Cronjé se perspektief direk gegee.

Van Frank Fillis weet die leser van die begin af dat hy soms die volle waarheid verskuil. Die roman open immers so: “Daar is dinge waarvan net Frank geweet het, of waarvan hy gehóóp het net hy weet. Dit was dinge wat hy hardkoppig verswyg het” (7).

Maar Frank is ook ’n kranige uitvisser van feite. Die feite word egter op ’n subtiele manier ondergrawe deurdat die leser te hore kom hoe dit verkry is. In hoofstuk 7 besoek Frank die eerste keer vir Piet Cronjé op sy plaas. Hy is baie goed voorberei. Die hoofstuk begin só:

Nadat Frank maande lank saam met Ben gefuif het en ure lank na dié se oorlogsverhale geluister het, nadat hy in die menagerie by die olifante gestaan en sy briljante ingewing gekry het, kom hy op ’n dag met ’n spoggerige perd op Palmietkuil [Cronjé se plaas – IdV] aangery. (67)

Hierna volg twee bladsye waarin die leser vir Piet Cronjé beter leer ken. Dit is egter nie ’n objektiewe vertelling nie, want op bl 71, ná al hierdie feite aan die leser geopenbaar is, staan:

Toe hy met sy perd op Palmietkuil aangery kom, weet Frank al hierdie dinge. Hy weet dit omdat hy maande lank soos ’n geblikte sardientjie gelê het in die sous van Ben se stories oor Piet. Hy het heeltemal deurweek geraak van alles wat hy oor Piet gehoor het, van snoet tot stert ingesout met die besonderhede van al Piet se skades en skandes.

Dit is sulke passasies wat Loots se teks so slim inkleur. Piet Cronjé, die held van Magersfontein, is ook die hensopper van Paardeberg. Albei situasies word gereeld in die boek genoem, albei word dikwels onderstreep. Dit is feite. Dit is egter die manier waarop die feite oorgedra word en die karakters ingekleur word wat Sirkusboere so interessant maak.

Piet Cronjé, met sy streng piëteit en sy mislukte tweede huwelik, sou maklik negatief geskets kon word; en daar ís inderdaad geleenthede waar hy geensins gunstig belig word nie:

  • Sien die stuk oor sy onwilligheid om mense te laat weet oor hulle geliefdes wat gesterf het (154–6).
  • Wanneer Cronjé uiteindelik in die VSA aankom (158): “En daar is Piet Cronjé ook. Kyk net vir Cronjé! Kýk net! Sy boordjie is verlep en sy klere hang druipstert aan sy lyf.”
  • Dan is daar die ete waarheen Cronjé genooi word om die beleggers te ontmoet (162).

 

Die punt is egter dat al drie geleenthede hier bo aan die leser gebied word deur die oë van Ben Viljoen. Viljoen is jonk en strydvaardig. Hy het hom ná die oorlog in Engeland tuisgemaak en nou word hy op die hande gedra deur die room van St Louis se rykes. In Ben Viljoen sy eie gedagtes is hy wat Ben is, opgevoed in die wêreldse dinge: “Ben weet alles, want hy het álles beproef” (157).

Die leser word dus subtiel beïnvloed om nie te veel van Cronjé te verwag nie, maar dit word ook aan die leser duidelik gemaak dat die aanbieding op ’n bevooroordeelde opinie berus.

Die lesers kan ook self besluit of hulle van Cronjé se piëteit hou, al dan nie – sien byvoorbeeld die stukkie dialoog waar Cronjé karring en karring oor Viljoen se ontroue vrou (160–1). Selfs hiér besef die leser egter ook dat Cronjé, wat duidelik dwars is, tog ook uitgelok word.

Die held van Magersfontein het dus ook foute. Natuurlik. Want hy is ’n mens. Loots skets hom ook so, met sy foute. Sy plaas hom in ’n ruimte waar hy nie anders kan as om ’n spektakel te word nie – hy word immers betaal om presies dít te wees. Frank Fillis het Piet Cronjé omgekoop om ’n spektakel te maak van homself.

Dit is egter ook so dat hierdie manne nie sou geval het vir Fillis se aanbod as hulle ná die oorlog kon teruggekeer het na florerende plase en uitstekende besighede nie. Lees gerus weer die beskrywing van Maans Lemmer se opstal toe hy ná die oorlog teruggekeer het (142). Dit plaas dinge in perspektief.

Loots maak seker haar lesers besef hoe nodig hierdie mense die geld het wat Fillis hulle belowe het. En sy kies nogeens vir Ben, nou al goed ingekuier by die rykes, om die fokalisator te wees (157–8):

Kyk daar. Ag Here, kyk net. Kyk hoe verflenterd en ontredderd lyk hulle. Van die bekendes het net een arm of been, almal se klere is verslete en hul bagasie is dié van swerwers sonder huise.

Die helde word mense. Daardie Boere wat alles in die stryd gewerp het vir God en Vaderland, staan nou in vertoiingde klere en sirkus hou.

Hierdie blikke op die oorlewendes, asook die briewe wat Maans Lemmer aan sy seuntjie geskryf het, ruk ’n mens baie diep, en dit is hierdie menslikheid wat Loots telkens ten toon stel tussen dramatiese gebeure rondom die opvoerings.

Loots neem egter een ander groep óók in gedagte, en daarmee steek sy ’n dolk dieper in die ribbes van Piet Cronjé as wat Frank Fillis of Ben Viljoen dit ooit sou kon gedoen het: sy laat die swart stemme hoor.

Swart mense in die ABO

 

 

Een van die opvallendste kenmerke van Sirkusboere is die swart stemme wat saam met die wit stemme gehoor word.

 

Papier is nie altyd ’n held se vriend nie, veral nie as mense in eie hand woorde neerpen wat eeue later nog gelees kan word nie. Piet Cronjé was ’n rassis. Dit blyk duidelik uit ’n brief wat hy aan kolonel Baden-Powell gerig het tydens die ABO (sien Pakenham 1982:397):

It is understood that you have armed Bastards, Fingos and Baralongs against us – in this you have committed an enormous act of wickedness … Reconsider the matter, even it costs you the loss of Mafeking … disarm your blacks and thereby act the part of a white man in a white man’s war.

Loots kies om hierdie sotheid, dat dit bloot ’n “white man’s war” was, te ondergrawe deur nie net heelwat tyd aan die swart karakters af te staan nie, maar ook deur vir Fenyang Mokeyane ’n gelyke stem in haar roman te gee. (Meer as 12 000 swart mense het in die ABO gesterf, aldus Pakenham 1982:xv. Sien ook Nkuna 1999.)

By Fenyang Mokeyane vind die leser uit dat Piet Cronjé as arm man transport gery het op ’n wa wat aan sy swart medewerker behoort het (88).

Dan is daar Fenyang Mokeyane self wat die bitter van die ABO saam met Cronjé deurmaak – tot en met die oorgawe by Paardeberg. Daarna is Mokeyane saam St Helena toe om Cronjé hand en voet te aanhou bedien. En toe Piet Cronjé teken om St Louis toe te gaan, toe moes Fenyang Mokeyane ook weer saam. (Sien ook Danie Marais 2011 se stuk in Die Burger vir ’n interessante blik op die “Skimruiters” van die ABO.)

Ná Piet te lamsakkig is om sy agterryer van soveel jare te beskerm teen Corver se honde, verdwyn Mokeyane. Die wrang ironie waarmee daardie verdwyning die dramatiese geskiedenis beïnvloed, kry gestalte op bl 282:

Toe Piet daardie dag aan Roberts oorgee, en met elke oorgawe daarna, staan sy agterryer nie soos gewoonlik kop onderstebo langs hom nie. Daar is niemand om die trappie van Roberts se verewaentjie vir Piet of Johanna af te slaan nie. Piet buk en doen dit self, en wanneer hy dan inklouter en onder die seilkap gaan sit, is daar ’n leë plek neffens hom op die wa se oorlogsbank.

Wat Loots hier aan Cronjé (in absentia) en aan die leser sê, is dit: neem die swart man uit die oorlog, en jy herskryf daardie oorlog.

Ter afsluiting

Die ABO is steeds ’n ideologies sensitiewe kwessie. Daar is genoeg mense wat na meer as ’n eeu die ABO-vegters as helde wil vereer, en daar is ook genoeg Suid-Afrikaners wat nie gemaklik voel met ’n klakkelose verering van die Boerevegters nie.

’n Ouer generasie as ek, en die een daarvoor, was dikwels, om ideologiese redes, baie verknog aan die ABO. (Sien byvoorbeeld Van Coller 2012 se beskrywing van sy eie pa se betrokkenheid by Cronjé.)

Dit ís egter nodig vir my en my generasie om genoeg te weet van daardie deel van ons geskiedenis. Loots se boek, meer as baie ander in die onlangse verlede, het mý weer aan die lees gesit oor die ABO.

Sonja Loots se slim gebruik van tekste binne tekste, én die slinkse gebruik van perspektiefwisselings, maak dit vir haar moontlik om baie deernis te toon teenoor die hensoppers van Paardeberg. Sy beskryf hulle omstandighede op so 'n wyse dat die leser besef waarom hulle na St Louis reis. Sy herskryf nooit hulle lewens nie, maar sy plaas hulle in perspektief.

Loots is egter ook krities. Dit is veral Cronjé se aandrang dat die ABO ’n “white man’s war” was wat direk ondergrawe word. Op hierdie manier maak sy ook die ABO toeganklik vir die jonger, meer liberale Suid-Afrikaners, maar sy doen dit só dat ek, en my geslag, beter kan verstaan waarom mense soos Piet Cronjé en Ben Viljoen my pa (en sy geslag) se helde was.

Bibliografie

Amid, Jonathan. 2012. Sirkusboere: Dr Piet Croucamp gesels met Sonja Loots, 8 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch. SlipNet, 8 Maart 2012. http://slipnet.co.za/view/event/om-donker-hoeke-te-belig.

Anon. 2011. Sirkusboere deur Sonja Loots. Republikein, 17 November 2011. http://www.republikein.com.na/kollig/sirkusboere.137943.php.

Awerbuck, Diane. 2006. ABSA Chain: Diane Awerbuck in conversation with Sonja Loots. LitNet, 9 September 2009. http://www.oulitnet.co.za/youngwriters/sonja_loots.asp.

Barnard, Chris. 1998. Die vlindervanger. In Ferreira 1998.

Bly, Robert. 1990. Iron John.

Brink, André P. 1993. Inteendeel. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brummer, Willemien. 2011. ’n “Sideshow” by ’n sirkus. Beeld, 21 Oktober 2011. http://m.news24.com/beeld/By/Nuus/n-Sideshow-by-n-sirkus-20111021. Burger, Willem. 1995. Om inteendeel te sê: oor selfskepping – wanneer lewe en vertel deurmekaar raak. Literator, 16(1):111-26.

 

Coetzee, Christoffel. 1998. Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad: Queillerie.

Du Plessis, PG. 2008. Fees van die ongenooides. Kaapstad: Tafelberg.

Ferreira, Jeanette. 1998. Boereoorlogstories, 34 verhale oor die oorlog van 1899–1902. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2011. Wanneer generaals “sirkusnarre” word.” Beeld, 16 Oktober 2011. http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Wanneer-generaals-sirkusnarre-word-20111016

Hutcheon, Linda. 1988. A poetics of postmodernism: history, theory, fiction. Londen: Routledge.

Leroux, Etienne. 1976. Magersfontein, o Magersfontein!. Kaapstad: Human & Rousseau.

Loots, Sonja. 2004.Circus Boers”. LitNet, 14 October 2004. http://www.oulitnet.co.za/youngwriters/sonja_loots.asp —. 2011. Sirkusboere. Kaapstad: Tafelberg.

 

Louw, NP Van Wyk. 1972. Die pluimsaad waai ver. Kaapstad: Human & Rousseau.

Marais, Danie. 2011. Skimruiters. Die Burger, 11 November 2011. http://www.dieburger.com/By/Nuus/Skimruiters-20111111-3.

Maré, Leon. 1923. Ou Malkop en ander Afrikaanse sketse en verhale. Pretoria: Van Schaick.

Naudé, SJ. 2012. Die tirannie van die simulacrum. SlipNet, 1 Maart 2012. http://slipnet.co.za/view/reviews/die-tirannie-van-simulakrum.

Nkuna, Nosipho. 1999. Black involvement in the Anglo-Boer War, 1899-1902. Military History Journal, 11(3/4). http://samilitaryhistory.org/vol113nn.html.

Nortjé, PH. 2007. Die groot Afrikaanse heldeboek. Pretoria: Protea.

Pakenham, Thomas. 1982. The Boer War. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.

Pretorius, Fransjohan. 2007. De la Rey, die leeu van die Noorde. Pretoria: Protea.

Renders, Luc. 2007. Die dramatiese werk van NP Van Wyk Louw: met volk-wees as inspirasie. LitNet, 13 Junie 2007. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=17713&cause_id=1270.

Rust, Riette. 2011. ’n Sirkus van ’n oorlog. Rapport, 3 Desember 2011. http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/n-Sirkus-van-n-oorlog-20111203.

Slippers, Bibi. 2011. “Ek wou eerder stilbly as om een of ander twakkerige gedoentetjie op te klits.” Sonja Loots gesels met Bibi Slippers oor Sirkusboere. LitNet, 6 Oktober 2011. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=110276&cat_id=179.

Smith, JA. 1946. Ek rebelleer. Kaapstad. Nasionale Pers.

Steyn, JC. 1985. Die verlore Vader. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1998. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

Uys, Ian S. 1976. A Boer Family. Military History Journal, 3(6). http://www.samilitaryhistory.org/vol036iu.html.

Van Blerk, HS. 1969. Die eerste verkenner. Johannesburg: Voortrekkerpers.

—. 1971. Boerespioen. Johannesburg: Voortrekkerpers.

—. 1982. Tuin van herinnering. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2010. Boerespioen. HS van Blerk Stigting: Fonteinriet.

Van Coller, HP. 2012. Sirkusboere. Tydskrif vir Letterkunde, 49(1).  http://www.ajol.info/index.php/tvl/article/viewFile/73560/62473

Van der Merwe, Chris. Sirkusboere: ’n Boeiende en vermaaklike historiese roman. LitNet, 6 Oktober 2011. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=1102732011.

Van Schoor, MCE. 2006. Generaal JCG Kemp en die epiese woestyntog. Pretoria: Protea.

Van Wyk, At. 1982. Honoris Crux. Kaapstad: Saayman & Weber.

—. 1985. Honoris Crux II. Kaapstad: Saayman & Weber.

Van Zyl, Wium. 1999. Roman oor generaal Mannetjies Mentz lieg 'n skrikwekkende waarheid oor Anglo-Boereoorlog. Die Burger, 7 Oktober 1999. http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/1999/10/7/6/16.html.

 

Venter, Rudi. 2007. Inventing an alternative through oppositional publishing: Afrikaans alternative book publishing in apartheid South Africa – the publishing house Taurus (1975-1991) as a case study. Innovation, 35. http://www.ajol.info/index.php/innovation/article/viewFile/26540/4935.

Viljoen, Louise. Met ink aan hulle hande. Beeld, 16 Oktober 2011. http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Met-ink-aan-hulle-hande-20111016.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top