LitNet Akademies-resensie-essay: Rodriguez – ’n fiksionele werklikheid

  • 0
Rodriguez
Piet van Rooyen
Uitgewer: Queillerie (2012)
ISBN: 9780795800344
Prys: R175.00
Klik hier en koop Rodriguez nou van Kalahari.com.
 

 

Verhaalgebeure

Skerf Malan word in die tagtigerjare as bogemiddelde student in die staatsleer en as goeie Afrikaner deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensiediens (NID) geoormerk. Hy is kort, met ’n blas voorkoms, beswaarlik blank (9), en sou maklik as ’n Portugees deurgaan. Hy ontvang sy opleiding as agent in fases, en word onder andere Portugal toe gestuur, waar hy bedags rugby speel – en ’n woonstel met Toks van der Linde deel – en saans Portugees leer. Gereed vir sy missie, en met ’n vals paspoort onder die naam Rodriguez, word hy per helikopter in die Mosambiekse bos neergelaat. By hom het hy ’n brief vir die Renamo-president. Dit is die vroeë neëntigs. Dit is waar die roman begin.

Die NID het aan hom die taak as menslike hulpbron toegeken. Onder die dekmantel van ’n verteenwoordiger van ’n Suid-Afrikaanse houtmaatskappy moet hy Renamo infiltreer. Hy ontmoet die president, generaal Alfonso Dhlakama, oftewel Pappa, die poppemeester ... met ’n goed-ontwikkelde agterdog (79).

Pappa is beïndruk en binne afsienbare tyd styg Rodriguez se status in die Massala-basis, die hoofkwartier van die Renamo-weerstandsbeweging. Alda, die enigste vrou en algemene eiendom van die basis, word aan hom afgestaan om in al sy behoeftes te voorsien.

Die hoofkarakter word aan vele fisiese toetse onderwerp, maar slaag almal. Sy aansien in Renamo skiet verder die hoogte in, en ook sy medekarakters in die basis het oneindige respek vir hom. In die Mosambiekse bos word hy ’n tipe god. Ook sy werklike base van die Sirkus (die NID) is tevrede. Die wit doctore (Winterfeldt), Rodriguez se NID-baas, en ook een van die karakters in die bos, speel weldra die rol as antagonis in die verhaal. Rodriguez verloor stelselmatig sy vertroue in Winterfeldt, en dit word duidelik dat die direkteur van die Instituut vir Internasionale Aangeleenthede sy eie verskuilde agenda het.

Die keerpunt kom na twee jaar tydens ’n Renamo-beraad. Rodriguez staan die weerstandsleiers teen in hulle besluit om Beira aan te val. Hy word deur Pappa met ’n knik van die kop uitgelewer, en ontsnap as hulle hom wil doodskiet. Hy stap die hele pad huis toe, en word met agterdog deur die lede van die NID ondervra. Uiteindelik, na ’n gesprek met een van die sielkundiges, word hy tog skoon verklaar, maar gedegradeer.

Biografiese roman, of fiksionele werklikheid?

Een van die eerste dinge wat die leser vir die outeur vra as so ’n geleentheid hom voordoen, is wat in die boek het régtig gebeur, en watter gedeeltes is as fiksie bygevoeg. Is daar ander (werklike) insidente wat die outeur weggelaat het, en indien wel, hoekom is dit weggelaat? Het die karakters in die werklike lewe ander name as in die boek?

Die literêre kritiek worstel deurentyd met die kwessie van fiksionele representasie en hoe dit van die werklike wêreld verskil. Kan fiksie ooit die waarheid vertel, en indien wel, wat is die aard van die fiksionele waarheid?

Waugh (2005, hoofstuk 1) wys op die verskillende sienswyses van Plato en Aristoteles oor die representasie van die fiksionele waarheid. Vir Plato moes literêre fiksie die waarheid vertel, en die waarheid was vir hom ’n spesifieke siening van die metafisiese werklikheid wat gegrond was op etiese en politiese standaarde. Aristoteles het geglo dat literatuur nie op dieselfde manier beoordeel moet word as die historiese en die politiese nie, en dat literatuur nie gemeet moet word aan wat polities korrek is nie. Literatuur behoort volgens Aristoteles nie ontleed te word in terme van die waarheid of die leuen nie.

In die outonomiebewegings is die rol van die outeur genegeer ter wille van die boodskap as sodanig. Barthes (1967) het die skrywer as dood verklaar in sy beroemde essay “The death of the Author”. Vandag neem die outeur weer die middelpunt in die literatuurteorie in (Waugh 2005, hoofstuk 2). Plato se benadering dat ’n teks ondersoek moet word binne sy kulturele en sosiopolitieke konteks, is weer mode.

Fiksionele representasie: die outeur

Die hoofkarakters in Piet van Rooyen se vorige romans is geskoei op mense wat hy in die regte lewe geken het: die Boesman, Paul Chapman (Die spoorsnyer, 1994), die Duitser Huber (Die olifantjagters,1997), die Uys-broers (Gif, 2001), die wildbewaarder Kallie Venzke (Etosha, 2010) en Hendrik Witbooi in sy voorlaaste roman, Op soek na Hendrik Witbooi (2011). In laasgenoemde het Van Rooyen gesteun op dokumente soos die dagboek van Hendrik Witbooi en briewe wat in ’n Europese museum ontdek en na Namibië teruggestuur is. In sy jongste roman, Rodriguez, word die tendens voortgesit: wat met die karakter Skerf Malan (alias Rodriguez) in die teks gebeur, het werklik met ’n mens van vleis en bloed gebeur – iemand wat vandag nog lewe en vir wie dit belangrik is dat sy verhaal vertel word. Slegs enkele karakters se name is in die teks verander om hul identiteite te beskerm.

Ek het Van Rooyen en die werklike1 persoon op wie die Rodriguez-karakter geskoei is, uitgevra oor wat in die boek feit en wat fiksie is.2 Sekere antwoorde kon Van Rooyen my gee, en ten opsigte van ander vrae het hy my na Rodriguez verwys. Van Rooyen het my ook tydens vroeëre gesprekke oor sy vorige romans gesê dat hy dit na ’n verloop van tyd moeilik vind om presies te onthou wat feit en wat fiksie is.

Ek het Rodriguez onder andere gevra of daar werklik ’n karakter soos Samatsengi was, en of Alda regtig voor die geweerloop ingetree het om hom te red. Die antwoord op die eerste vraag is “ja”, en op die tweede vraag “nee”, hoewel daar so ’n persoon soos Alda is wat aan hom toegeken is en haar naam ook werklik Alda is. (Gaspar is na die verklaring van vrede tydens ’n rooftog doodgeskiet, maar Alda, Maia, Matos en Winterfeldt leef nog. Al vyf hierdie persone se name is onveranderd in die roman gebruik.)

Ander lesers wat weet dat ek hierdie gesprekke met Van Rooyen en Rodriguez gehad het, het soortgelyke vrae aan my gestel. Lesers wil weet hoe wáár die boek is.

Op ’n vraag aan Van Rooyen of hy ’n sekere lesersgroep in gedagte gehad het toe hy die boek geskryf het, was sy antwoord ’n duidelike “nee”. Tydens die Protea Boekhuis-praatjie het hy verklaar dat hy hom jare gelede voorgeneem het dat hy ’n skrywer gaan word. Hy maak geen geheim daarvan nie dat sy skrywerspad soms opdraand loop en dat manuskripte dikwels afgekeur word. Van Rooyen skryf omdat hy wil, en nie omdat hy glo iemand het ’n behoefte om van die mens Piet van Rooyen se boeke te lees nie.
Oor die intensie van die outeur laat die Duitse literêre teoretikus Friedrich Schlegel (1797:190) hom só uit: elke eerlike outeur skryf vir niemand of vir almal. Hy verklaar selfs dat die outeur wat vir ’n spesifieke groep mense skryf, nie verdien om gelees te word nie.

Waugh (2005, hoofstuk 2) sien dit só: dat die leser nie in ag geneem word nie, het te doen met die feit dat die literêre werk – ideaal gesproke – ’n uitdrukking of bekentenis is van die outeur se intiemste gedagtes en gevoelens. Tog noem Van Rooyen, as ’n nagedagte, dat hy vir die Rodriguez’e, die Paul Chapmans en die Kallie Venzkes skryf, werklike mense wat oor sy pad gekom het en hulle verhale aan hom toevertrou het. Die leser word toevallig waarnemer van die gebeure. Volgens hierdie siening sou ’n goeie boek dié kenmerke kon hê dat dit ’n pretensielose produk is van ’n skrywer wat hom daarop toegespits het om ’n skrywer te wees. As dit boonop gelees word, en die leser met ’n nagmaal-gevoel laat, dan is die boek goed, ook vir diegene wat dit wil (en moet) verkoop om die wolf van die deur af te hou.

Die leser as interpreteerder van die fiksionele waarheid

Vanuit ’n hermeneutiese beskouing sou gevra kon word wat dit beteken as ’n leser ’n teks verstaan. Beteken dit dat die leser die teks verstaan sonder om die outeur se werke en sy lewe in ag te neem, of verstaan die leser dit binne die outeur se oeuvre, sy lewe en sy sosiale konteks? Indien die leser byvoorbeeld van Van Rooyen se vorige werke gelees het en die outeur persoonlik ken (of sy boekpraatjies bygewoon het), sou hy die romangebeure in Rodriguez moontlik anders interpreteer as wat dit die geval sou wees as Rodriguez die eerste Van Rooyen-teks is wat hy lees. Sou die leser verder weet dat Van Rooyen ’n professor in die politieke wetenskap is, en dat sy niefiksiewerke tekste insluit soos Swart Mannekrag in Suid-Afrika (1985), Ten years of endurance riding in Namibia (2000) en ’n artikel oor Boesman-tekeninge wat in November vanjaar in die internasionale tydskrif Rock Art Research sal verskyn, sal die leser die romangebeure op die Gorongoza-berg (hoofstukke 47 tot 50) en in die diep woude saam met die houtmanne (hoofstuk 30)waarskynlik anders verstaan.

Om oor ’n teks te dink, of te reflekteer, of te voel (doelgerig of onbewustelik) is kenmerkend van die menslike verstand, en het nie noodwendig te make met intelligensie of ’n aanleg vir die literêre nie. Tog voorveronderstel die hermeneutika ’n mate van oopheid van die leser se kant: iemand wat ’n teks probeer verstaan, is ook bereid om hom oop te stel vir dit wat die teks vir hom wil sê. As leser fokus ek op dit in die teks wat ek herken en waarmee ek my kan vereenselwig – ter wille daarvan om beter te verstaan.

Volgens Waugh (2005, hoofstuk 2) is die mees opspraakwekkende kenmerk van die hermeneutika juis dat dit kuns as ’n vorm van die waarheid aanbied. In ’n roman soos Rodriguez word die werklikheid van die Mosambiekse oorlog en Suid-Afrika se betrokkenheid daarby betrek, en die leser sou daarop kon reageer met: “Eintlik weet ek bitter min van die Mosambiekse oorlog”; of “Ja, so het die ou apartheidsregering ons almal om die bos gelei!”; of “Om te dink dat daar regtig sulke mense soos Rodriguez is.” Die leser word meer as net ’n toevallige waarnemer, en sou die leeservaring selfs as “an act of self-communion” (Waugh 2005, hoofstuk 2) kon beleef.

Die biografiese roman as plaasvervanger vir die verbloemde waarheid

Tydens ’n praatjie by Protea Boekhuis op Stellenbosch (Saterdag 2 Junie) het Louis Esterhuysen ’n onderhoud met Van Rooyen en die Rodriguez-karakter gehad. Laasgenoemde het tot die gesprek ingestem met die verstandhouding dat sy regte naam nie genoem word nie, aangesien hy destyds ’n verbintenis tot geheimhouding as agent vir die NID onderteken het. In ’n onderhoud met Ronelle Rademeyer van die Namibiese koerant Republikein (Vrydag 1 Junie) het hy verduidelik hoe dit gekom het dat hy destyds vir “diep plasing” gewerf is, en as ’n infiltreerder van Renamo vir twee jaar in die Mosambiekse bos gebly het: “Alles het daaroor gegaan om jou dekking in stand te hou – 80% van jou dag is daaraan gewy. Jou lewe het ’n driedimensionele skaakbord geword waar jy elke woord, elke aksie eers deeglik moet oorweeg.”

Die onderwerp van die biografiese roman leef nog vandag, maar in die alledaagse omgang, en op papier, het hy sy ware identiteit afgestaan. In ’n sekere sin word sy bestaan dus genegeer. Ironies word die waarheid in die werklike lewe as onwaar verklaar, sodat daar in die fiksionele roman met die waarheid uitgekom kan word. Dit is soos om ’n geboortesertifikaat te toon as bewys dat jy werklik bestaan; die ware entiteit is onbelangrik.

Gesprekke met Van Rooyen het die indruk by my gelaat dat die skeidslyn tussen biografie en biografiese roman in Rodriguez dikwels vervaag, en dat daar nóg swaarder gesteun is op wat werklik met Rodriguez se reële eweknieë gebeur het as wat dit die geval was met sy vroeëre werke (met die moontlike uitsondering van Op soek na Hendrik Witbooi).

Die wisselwerking tussen die vertelinstansie en die implisiete outeur

In Rodriguez word die leser bewus van twee soorte vertellers, waarvan die een ’n meer oorkoepelende (en meer ingewyde) vertellersrol vervul as die ander. Oor eersgenoemde: die alomteenwoordige verteller wil die leser op die hart druk dat hy hier nie noodwendig met fiksie te make het nie. Daar word byvoorbeeld vertel hoe dit gekom het dat die Alda-karakter in die basis beland het en hoe sy geweerkruit as ’n voorbehoedmiddel gesluk het. Ter wille van die outentieke benadruk die verteller dan verder dat dit wél so was: dalk was dit regtig die geval, want sy het nooit swanger geword nie(58).

Die tweede, minder ingewyde verteller neem die vertelstyl aan van die karakter uit wie se perspektief vertel word. In hoofstuk 9 word byvoorbeeld eers Gaspar se perspektief aangebied: die mense begin praat van die einde van die oorlog. Dis die laaste ding wat hy wil sien gebeur (39).

Maar dan word ’n ander stem gehoor, dié van ’n bykomende toesighoudende verteller wat bo almal staan en ’n finale relativerende perspektief bied wat in dié geval rapporteer téén Gaspar se perspektief: die oorlog is hopelik in sy doodsnikke (47). Die onmiddellikheid en groter spontaneïteit van hierdie verteller, wat tog buite die verhaal staan, sou as die stem van die implisiete outeur beskou kon word. Die implisiete outeur dui volgens Van Gorp (1998: 215) op die beeld wat die leser kry van die outeur agter die verhaal. Volgens Waugh (2005, hoofstuk 2) word kommunikasie beïnvloed deur dit wat uit die outeur se bewuste en onderbewuste vertaal word na buite (op papier of rekenaar), en hierdie kommunikasie (taal en simbole) word as bloot ’n kopie van die oorspronklike gedagtes en gevoelens van die outeur beskou. Die teks bestaan dus uit twee elemente wat nóú met mekaar verbind is, naamlik ’n oorspronklike abstrakte betekenis, en die formulering in woorde. Die outeur omskep sy idees, gevoelens, intensies en verlangens in ’n linguistieke artefak: in Van Rooyen se geval, ’n roman.

In Rodriguez bestaan daar ’n vertrouensverhouding tussen die verteller (of implisiete outeur) en die leser as die lesersreaksies gemanipuleer word en 'n sekere visie oor byvoorbeeld die Rodriguez-karakter se geskiktheid as agent geopenbaar word. Dus, sonder twyfel ons man (26). Aan die einde van die roman verklaar die verteller dat die hoofkarakter ná sy terugkeer na Suid-Afrika kort-kort deur Maia uitgenooi is om te gaan kuier, maar tot dusver het die man aanmekaar ’n verskoning om nie te gaan nie (288).

Die vertellersperspektief wissel reëlmatig tussen dié van die implisiete outeur en dié van die eksterne (alomteenwoordige) verteller (78). ’n Punt van kritiek sou hier kon wees dat dié wisseling so vinnig tussen die verskillende karakters (veral tussen Rodriguez, Pappa en Doc) plaasvind dat dit vir die leser moeilik is om by te bly. Ek het vroeg in die roman – die karakters toe nog minder gedefinieerd en ek onseker oor die plot – met moeite besluit wie sê wat van wie.

Rodriguez: ’n kulminasie van die eenheidselemente in Van Rooyen se werke tot dusver

Sou daar ag geslaan word op die implisiete outeur, sou dit die taak van die kritikus wees om die kern van die teks te bepaal vanuit die intensies soos gesien binne die totale som van die outeur se oeuvre (Waugh 2005, hoofstuk 2).

Die implisiete outeur neem ’n posisie in tussen dié van die vertelinstansie en dié van die reële skrywer, en die outeur se poëtika is die som van die implisiete outeur se hele oeuvre. Met die implisiete outeur in gedagte word vrae gevra oor die subjektiwiteit en self-bewustheid van die outeur, asook oor sy taalgebruik, oor dit waarmee hy hom besig hou.

In Rodriguez kry die leser ’n blik op Van Rooyen se ideologie, lewenshouding en waardebepalings met inagneming van sy vorige werke. So sou ’n navorser oor Van Rooyen se prosa die volgende handmerke kon identifiseer:

  • ’n tipe fassinasie met die dood, en daarom ’n herbesinning oor die lewe
  • die soeke na die self in die primitiewe en die onsienlike
  • ’n stem teen onreg en die wil om stem te gee aan die stemloses – mens en dier
  • vroulike karakters wat as sterk karakters uitgebeeld word, ten spyte van die feit dat hulle soms in magtelose posisies verkeer.

Om bogenoemde eenheidselemente in Van Rooyen se prosa te ondersoek sou ’n volwaardige nagraadse ondersoek tot gevolg kon hê, en sal nie in hierdie artikel tot sy volle reg kan kom nie.

Dié elemente is egter almal terug te vind in Rodriguez. Rodriguez leef in die skaduwee van die dood en ervaar dit op pad na die toermalynmyne as hy byna van honger en uitputting omkom; daar word kommentaar gelewer op die kinders wat soos slawe in die toermalynmyne werk; en by tye word die verteller (nie uit die hoofkarakter se perspektief nie, maar uit sy eie) woedend as hy ervaar met hoe min respek die natuur gehanteer word. Hy reageer soos volg op die feit dat alles en almal die olifante uitgemoor het tydens die oorlog: “Niemand het meer ’n fok omgegee vir die wilde diere nie (209).” Soos die hoofkarakters in Van Rooyen se Boesman-trilogie word Alda as ’n sterk vrou uitgebeeld ten spyte van haar rol as allemansbesit in die basis, en die vroue op die Gorongoza-berg vervul die verteller met euforie, en laat hom met ’n bewustheid van sy eie swakheid. Een van hulle sny ’n haarlok van hom af en hy voel (soos die bybelse Simson) hoe sy krag hom verlaat (201).

Die verhouding tussen die diskoers en die historiese realiteite in die roman roep die verlede op soos gesien vanuit 'n verwyderde hede van byna drie dekades gelede, en saam met werke soos Op soek na Hendrik Witbooi en Agter ’n eland aan word die tema, identiteit, ’n belangrike bindingselement in Van Rooyen se werke. In Rodriguez word identiteit ’n deurlopende tema, veral gesien vanuit die implikasie wat ’n dubbele lewe vir die NID-agent inhou.

Skerp karaktertekening en knap ruimte-inkleding

Hoofstuk 48, oor Rodriguez se besoek aan die Gorongoza-berg, is ’n hoogtepunt. Van Rooyen skep ’n atmosfeer wat eg realisties (vanuit Rodriguez die strateeg se oogpunt) en terselfdertyd fassinerend eroties en misties is. Die toordokter, Samatsengi, self is deel van hierdie mistiek: hoewel hy oud en in ’n sekere sin verslete is (en bietjie getrek van die wyn wat Gaspar vir hom gestuur het), is sy stem melodieus en duidelik, en kontrasteer sterk met die uitgedroogde liggaam, sy kreupel bene. Hulle betwyfel nie sy woorde nie, weet bloot instinktief dat dit waar is (198).

Rodriguez wil hê dat Samatsengi hom moet help om die derde been van sy strategiese plan, die Tres Pernas, in werking te stel. Met hierdie gedeelte van sy drie-fase-plan wil hy die primitiewe Mosambiekse bos in sy staatsplan as faksie integreer,want as militêre en politieke strateeg besef hy hoe belangrik dit is dat die primitiewe onbekende faktor nie buite rekening gelaat word nie. En die vernuf waarmee Van Rooyen in hierdie hoofstuk die realistiese met die primitiewe sprokiesagtige kombineer, is ’n kragtoer.

Met Rodriguez het Van Rooyen ’n geloofwaardige karakter geskep wat dit vir die leser maklik maak om die hoofkarakter se waardeoordele as opreg te aanvaar. As die meisie op die Gorongoza-berg vir Rodriguez voorberei om Samatsengi te ontmoet, deel sy hom plegtig mee dat sy sy gesig moet was, waarop die passievolle Rodriguez wil reageer met ’n heilige, gees-geïnspireerde oorgawe: “Nie net my gesig nie, maar ook my hande en my voete” (200).

Ook hoofstuk 30, oor die reis na die heilige panga-panga-woud, het my met ontsag vervul, net soos vir Rodriguez, wat besef het dat die houtkappers hom soontoe gelei het om hom iets te leer (137). Tog vind ek dit jammer dat hierdie episode nie verder in die verhaalgebeure geïntegreer is nie.

’n Kyk van verskillende kante af na botsende Afrika-aangeleenthede versterk die idee van objektief kyk. Oor die Wit man in Afrika word daar via die Pappa-karakter byvoorbeeld verslag gedoen: hy is beïndruk. Hy besluit dat die Wit man in Afrika analities kan dink, maar dat hy sosiaal gesproke dikwels “sonder veel vaardighede ... selfs wanaangepas, (is) ... alleenlopers ... hopeloos te bewus van status en eie ego” (22).  (Ek het hoeka ’n bewondering vir Piet wat nie skroom om die manlike tekortkominge uit te wys nie!)

Steeds die oorlog

Hoewel daar al vir drie dekades lank oor die Grensoorlog geskryf is, is Rodriguez die eerste Afrikaanse roman wat oor die oorlog in Mosambiek handel. Die vraag hoekom daar nog steeds oor die oorlog geskryf word, is al meermale gestel. Die antwoord is dalk eenvoudig: alles is nog nie vertel nie. En helde moet vereer word. Ons het helde nodig, net soos wat ons die gemiddelde persone nodig het wat elke dag die gewone stryd moet stry. En net soos dit nodig is om aan dié gewones in die samelewing erkenning te gee (dink maar aan die gewilde Afrikaanse pikareske romans van die afgelope dekades), is dit nodig om oor ons helde te praat.

Die roman tree in gesprek met ander tekste oor helde, soos Joseph Conrad se The heart of Darkness, Anthony Burton se W6 The Battle of Britain en The Aeneid van Virgil. Die karakter maak dit waarvoor hy bestem is, kláár. Dít op sigself is in vandag se bestaan ’n heldedaad.

Die mense van Afrika het waardering vir besonderse karakters uit die oudae ... Die ou jagters stap nog steeds in hulle geheue rond, kromgetrek deur drank, tabak en die koors. Nou stap hulle eie Rodriguez met hierdie ou, mitiese figure saam (114).

Beslis nie ’n biografie nie, wel ’n biografiese roman, maar beslis die fiksionele waarheid

Die feit dat ons reeds ander (vroeëre) oorloë gehad het waaroor intussen in die Afrikaanse literatuur korrektiewe geskryf is, stel aan die skrywer ’n uitdaging: Het hy in alle opregtheid gesoek na die waarheid? Gaan dit nodig wees dat daar oor sy werk ’n korrektief geskryf moet word, sê oor drie dekades? Ek glo dat Van Rooyen hierdie uitdaging aanvaar het.

’n Magsinstansie soos ’n regering van die dag moet altyd bevraagteken word. Ironies word die waarheid in die werklike lewe juis deur die magsinstansies ontken. ’n Fiksionele roman soos Rodriguez as werktuig in die hand van ’n vaardige skrywer soos Piet van Rooyen kán met die waarheid uitkom.

Die boek is boeiend. Dit is Van Rooyen se beste tot dusver. Die hoofstukke eindig dikwels op ’n dramatiese hoogtepunt wat my oorrompel het, sodat ek nie anders kon as om gewyd verder te lees nie.

Hierdie Afrikaanse roman leen hom by uitstek daartoe om verfilm te word. Dalk word dit die eerste Afrikaanse Apocalypse Now.


Bibliografie

Barthes, Roland. 1995. The Death of the Author. In Burke (red) (1995).

Burke, Sean (red). 1995. Authorship: From Plato to the Postmodern, A Reader. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Rademeyer, Ronelle. 2012. Die lewe van ’n “sirkusnar”. Republikein, Vrydag 1 Junie, bl 8.

Schlegel, Friedrich. 1988. Critical Fragments. In Simpson (red) (1988).

Simpson, David (red). 1988. The Origins of Modern Critical Thought: German Aesthetic and Literary Criticism from Lessing to Hegel. Cambridge: Cambridge University Press.

Van Gorp, H ea. 1998. Lexicon van literaire termen. Groningen: Martinus Nijhoff-uitgewers; Deurne: WKBnv, Wolters Plantyn.

Van Rooyen, PH. 1985. Swart Mannekrag in Suid-Afrika. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch Uitgewers.

—. 2000. Ten years of endurance riding in Namibia. Windhoek: Capital Press.

—. 2012. (Reeds goedgekeur om te verskyn.) Two Southern African rock art sites as indicators of ancient migratory roots. Rock Art Research, 129(2).

Van Rooyen, Piet. 1994. Die spoorsnyer. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1995. Agter ’n eland aan. Kaapstad: Quellerie.

—. 1997. Die olifantjagters. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2001. Gif. Pretoria: Protea Boekhuis.

—. 2010. Etosha. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

—. 2011. Op soek na Hendrik Witbooi. Windhoek: MacMillan.

Waugh, Patricia. 2006. Literary Theory and Criticism: An Oxford Guide. Kindle-weergawe. (20 Junie 2012 van Amazon.com bekom.)


Eindnotas

1 Op versoek van die Rodriguez-karakter se reële eweknie word sy naam nie in hierdie artikel bekend gemaak nie en sal steeds van “Rodriguez” gepraat word as daar na die werklike persoon verwys word.

2 Afsonderlike gesprekke met Piet van Rooyen en Rodriguez in Stellenbosch en Wellington tussen 2 en 13 Junie 2012.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top