LitNet Akademies-resensie-essay: Gunther Pakendorf lees Woordeloos tot verhaal. Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans

  • 0

Woordeloos tot verhaal. Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans
Hans Ester, Chris van der Merwe, Etty Mulder (reds)
Stellenbosch: Sun Press, 2012.
ISBN 978-1-920338-74-9

Koop Woordeloos tot verhaal. Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans by Kalahari.com

In haar indrukwekkende ondersoek na lyding, dood en herinnering in Rusland in die 20ste eeu gee die historikus Catherine Merridale ’n onthutsende beeld van ’n samelewing wat geslagte lank aan die mees onvoorstelbare brutalisering vanweë revolusies, hongersnood, oorloë en die geweld van ’n totalitêre dwingelandy blootgestel is.[1] Die siniese traak-my-nie-agtigheid van die Sowjet-bewind tesame met ’n verbete en genadelose afdwing van die Kommunistiese dogma het der miljoene mense se daaglikse bestaan oor ’n lang tydperk haas ondraaglik gemaak. Tog moes Merridale tot haar verbasing vasstel dat die Russe self dinge blykbaar anders beoordeel:

The idea of psychological damage – mental distress, trauma, a central theme of Holocaust writing – is something that most Russians reject. Even psychologists and doctors have their doubts, and for many of the older ones, those who trained while Stalin was alive, the concept itself is entirely strange. They cannot picture it, this trauma, and they do not understand its privileged place in the western understanding of violence and its consequences. (Merridale 2000:20)

Dit is inderdaad so dat die woord trauma, wat in die tweede helfte van die 19de eeu sy eerste verskyning maak, soos die internet (Google Ngram Viewer) uitwys, eers vanaf die 1970’s met ’n redelik hoë frekwensie in Engelstalige tekste opduik, ’n voorkoms wat dan van 1980 af tot by die hede pal styg. (Interessant genoeg toon die grafiek vir die gebruik van dié woord in Duitse tekste ’n heel ander patroon: dáár lê sy hoogste frekwensie in die jare 1900 tot 1910/12.) En volgens dié bron het die term post-traumatic stress disorder nie voor 1960 bestaan nie en begin die gebruik daarvan eers rondom 1970 toeneem. Vanaf die laat jare tagtig tot die hede skiet sy verskyning in Engelstalige tekste dan die hoogte in. Volgens Merridale is dié sindroom eers in 1980 as ’n goedgekeurde diagnose in die VSA se handboek vir geestesiektes (Manual of Mental Disorders) opgeneem (soos onder andere ook deur Wytske Versteeg, 2012:62, vermeld).

Intussen is die term reeds goed ingeburger, veral onder opgevoede Westerlinge, en in akademiese kringe kan ’n mens deesdae byna van ’n trauma-bedryf praat. Ook in Suid-Afrika en Nederland het belangstelling in dié verskynsel die afgelope jare inkrementeel toegeneem in die geesteswetenskappe, en dan veral onder literatuurwetenskaplikes, soos hierdie bundel met sy 25 stuks bydraes (24 plus die inleiding) duidelik laat blyk. Die bundel verskyn dus tydig en gee ’n goeie inleiding tot sommige van die rigtings en tendense van navorsing op dié gebied.

Vanweë sy baie breë aanslag ly die bundel egter aan twee gebreke, van teenoorgestelde aard.

Aan die een kant is daar sprake van gebeure in die Europese konteks: die Holocaust, die Tweede Wêreldoorlog, die einde van die Nederlands-Indiese ryk, met verwysing na Nederlandse asook Vlaamse skrywers. Die meeste hiervan is interessant en insiggewend, maar nadat ’n mens ’n volle 16 Nederlandse artikels gelees het, kom die agt in en oor Afrikaans “van ver af” en praat skynbaar oor andersoortige temas, en dis nie maklik vir die leser om die Europese kloutjie by die Afrikaanse oor te kry nie. Ek wil byna sê: dis asof hulle by mekaar verby praat, sodat ’n dialoog tussen die twee nie werklik tot stand kan kom nie.

Aan die ander kant is die teoretiese raamwerk redelik eng gespan, met die gevolg dat daar in talle bydraes na dieselfde brontekste verwys word, en dat sekere kerngedagtes, selfs sekere aanhalings uit die bronne – ek dink hier veral aan Ricoeur en Van der Merwe en Gobodo-Madikizela – telkemale herhaal word.

Interessant genoeg word daar baie minder gewag gemaak as wat ’n mens sou verwag het van die gebeure wat die trauma-gesprek in Suid-Afrika in die onlangse verlede aan die gang gekry het, naamlik die Grensoorlog en die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Kan dit wees dat hierdie ervarings reeds “ad Acta gelegd” is (om die titel van Jaap Goedegebeure se artikel hier aan te haal[2])? Of is ons eie Vergangenheitsbewältigung, oftewel verwerking van die verlede, te ongemaklik? Dit is in hierdie konteks seker nie heeltemal toevallig nie dat daar sedert die negentigerjare so sterk in Afrikanerkringe op die trauma van die Anglo-Boereoorlog gefokus word, waar Afrikaners makliker as slagoffers, of dan as deel van aanvaarde oorlogspraktyke, uitgebeeld kan word.

Die verwysing hier bo na die voorbeeld van Sowjet-Rusland laat ’n mens besef dat ’n gelaaide begrip soos trauma nie sommer as vanselfsprekend of as ’n universele gegewe behandel behoort te word nie. Die bundel gee ’n aantal sterk en oortuigende beskrywings van die begrip en as sodanig is die boek in sy geheel waardevol. Hier en daar word vrae oor die sin en selfs bruikbaarheid van geboekstaafde herinneringe, hetsy outobiografies of fiktief, geopper, asook oor die vraag of dit tot versoening of berusting kan lei al dan nie. Goedegebeure noem die alternatief. “Maar het kan evengoed zo zijn,” sê hy, “dat de omgang met het oorlogsverleden er juist toe dient de verlammende macht van de verschrikkingen intact te laten, in te gaan tegen de maar al te menslijke neiging tot verdringen en vergeten” (2012:45). Hierdie moontlikheid word egter nêrens in die bundel verder opgevolg nie.

Etty Mulder

Die bundel skop af met enkele prikkelende bydraes uit die Nederlandse hoek. Etty Mulder gee byvoorbeeld genoeg stof tot nadenke in “De aanhoudende tijd” met ’n uitspraak wat aan die tema van hierdie bundel ’n oorkoepelende verband verleen, naamlik dat die Europese kultuur sig sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in ’n voortdurende posttraumatiese tydperk bevind as gevolg van die massamoord van Europese Jode deur die Nazi-bewind, ’n eenmalige gebeurtenis in “onze beschavingsgeschiedenis” (2012:22). Dit is kennelik ’n groot veralgemening en as sodanig sekerlik aanvegbaar; nietemin kan ’n mens haar verwysing na die voortdurende aanwesigheid van die Holocaust in Europa nie sonder meer verwerp nie. Inteendeel, dit werp ’n baie interessante lig op politieke en kulturele leiers in die na-oorlogse Europa se verbintenis tot demokratiese waardes, beklemtoning van menseregte, verdraagsaamheid teenoor vreemde of ander kulture, verskansing van konstitusionele grondbeginsels, of ook die meer afstandelike buitelandse beleid, veral met betrekking tot oorlogvoering, byvoorbeeld in Bosnië of Irak.

Die uitdaging van hierdie benadering aan die projek van die boek is groot, naamlik: In hoeverre het die aanhoudende bewussyn van die morele dieptes waartoe die mens – die “beskaafde” Europese mens – in staat is, ook Suid-Afrikaners, en spesifiek Afrikaners, geraak? Is die besinning oor die Sjoa, oftewel die Holocaust, sy oorsake en gevolge, net tot Jode (en Duitsers), of dan net tot die Europese konteks, beperk? Mulder noem dit inderdaad “een specifiek Europees verschijnsel” (2012:27) wat selfs die Stalinistiese terreur oorskadu, ten minste in die uitgebreide en langdurige diskoers oor die Jodevernietiging. Is dit moontlik, selfs toelaatbaar, om van hier af ’n verband te trek na verontregting en staatsterreur gedurende die apartheidsjare in Suid-Afrika? (Is dit aan die ander kant nie dalk juis dringend nodig nie?) Dit klink tot vandag soos ’n taboe, maar ernstige navorsers kan en durf hulle tog nie daardeur laat afskrik nie.

Dit bring my by die morele, of dalk beter: moralistiese, benadering. Is trauma net verskrikking, verwonding, lyding, of is daar nie ook ’n etiese dimensie en dus ook ’n morele verpligting mee verbonde nie, wat dan almal in hulle menswees aanspreek, anderkant die dikwels tog gerieflike kategorieë van dader en slagoffer? Die versoeking om vinger te wys is groot, soos uit Willemijn de Ridder se stuk oor “Zuid-Afrika: een verhaal van vergeving” (2012:195-208) blyk, wat skuld en vergifnis enersyds as universele verskynsels vanuit weliswaar ’n Christelike, en Protestantse, hoek benader, en andersyds bra polities korrek met die reeds holrug-geryde term ubuntu omgaan. Theo de Wit se bespreking van “Nederland gidsland” (“Land zoekt verhaal. Het traumatische afscheid van Nederland gidsland”) gee ’n fassinerende beeld van hoe die Nederlanders nà die Oorlog met die morele uitdagings van die verskrikking van die Duitse besetting, maar ook die kennelik groot probleem van medewerking met die vyand in die oorlogsjare, gestoei het. Interessant genoeg moes Nederland ná 1945 van sy eie koloniale besittings afskeid neem, ’n proses waartydens hulle self weliswaar nie slagoffers was nie en hulle inteendeel aan optrede skuldig gemaak het waaroor daar lank geswyg is. Dis ’n sweer wat tot vandag nog voort etter in die Nederlandse samelewing en Etty Mulder se basiese uitgangspunt bevestig.[3] Ons kom net nie weg daarvan nie.

Wytske Versteeg

Ek kry die indruk uit die bundel as geheel dat die teoretiese besinnings die leser tot nadenke stem, terwyl die toepassing op literêre tekste nie altyd oortuigend is nie. Ek wil hier Wytske Versteeg se voortreflike bydrae oor trauma en lyding as “afgrondervaring” (in “De afgrondervaring. Trauma tussen aporie en passage”) uitsonder. Haar uitgangspunt is beide verrassend en verfrissend, naamlik dat die gesprek rondom trauma eng verwant is aan die diskoers oor die sublieme en dat juis die konsep van die “onuitspreeklike” en die beheptheid (sy sê “fassinasie”) daarmee die verwerking van trauma eerder bemoeilik (2012:62). Posttraumatiese stres geniet ’n ongewone aanvaarding as diagnose en word nie as ’n stigma ondervind soos dikwels die geval met ander “geestesiektes” is nie, omdat dit “in de populaire verbeelding” as iets ervaar word wat van buite af kom.

Soos ook in ander bydraes genoem word (kyk veral Hans Ester se artikel oor Hans Keilson, 2012:31-40), is die normale taal ontoereikend om die ervaring van die “afgrond” waarmee die slagoffer gekonfronteer word, behoorlik te verwoord. Interessant genoeg is dit die beskrywing van die goddelike en die transendente wat blykbaar ’n woordeskat en taal bied waarmee hierdie ervarings beskryf kan word. Versteeg kom tot ’n verrassende gevolgtrekking: “De wond lijkt in onze tijd een zekere aantrekkingskracht te hebben gekregen, als toegang tot een waarheid die we anders niet kunnen ervaren” (2012:63). Sy verwys verder na die emblematiese betekenis van die wond en die verband tussen moderniteit en trauma, sy estetisering maar ook sy plek binne die metaforiese reis van die moderne mens met sy versplinterde identiteit.

Thys Human

Ek vind dit ’n jammerte dat net een artikel, te wete Thys Human se bespreking van Winterbach se Niggie, ’n fundamentele en kritiese blik op die aanvaarbaarheid van die term werp, en ek kan nie mooi begryp hoekom daar slegs in hierdie artikel na die belangrike debat tussen Philip John en Hennie van Coller en andere oor die problematiese aard van die omgang met vrae rondom die Waarheidskommissie verwys word nie. Want dit is goed en wel om die begrip behoorlik en deeglik te omskryf, maar die afwesigheid in baie bydraes van ’n kritiese omgang met kernbegrippe werp tog sekere probleme op en verskraal die kritiese waarde van die bundel.

In hierdie opsig is dit voorts opvallend dat daar feitlik nêrens in die bundel oor een van die heuristiese voorveronderstellings van die verskynsel van trauma en sy behandeling besin word nie. (Wytske Versteeg is hier die uitsondering.) Kyk ’n mens byvoorbeeld na die hoë frekwensie van die term trauma in Duits vroeg in die 20ste eeu (soos bo aangedui), dan is die slotsom duidelik dat sy oorsprong en akademiese tuiste (benewens in die patologie) by die psigoanalise lê, waar dit dan veral gedurende die bloeityd van die Weense Skool rondom
Freud mede ’n kernbegrip is. Die (skynbare) gelykstelling van geskrewe literêre tekste (“narratief”) met die gesproke relaas van ’n pasiënt tydens psigoterapie is egter allermins vanselfsprekend. Die pasiënt bevind hom/haar in ’n geheel en al ander situasie as óf die skrywer óf die karakter(s) in ’n fiksionele verhaal, wat as literêre teks aan ander, estetiese, simboliese en strukturele kodes onderwerp is - en tewens tot ’n leser of ’n groep lesers gerig is wat nie ’n vergelykbare plek in die konstellasie terapeut:pasiënt het nie. Die beste wat ’n mens kan sê, is dat ons hier met ’n analogiese situasie te make het wat nie in ’n 1:1-verhouding met die terapie ooreenstem nie. In te veel van die artikels in hierdie bundel ontbreek ’n werklik kritiese omgang met die basiese terminologie en is daar gevolglik boonop ’n onuitgesproke aanname dat “trauma” deur “narratief” herstel of baasgeraak kan word.

Intussen kan ’n mens trauma skynbaar by wyse van spreke agter menige en enige bos uitskop, en daardeur ontaard hierdie belangrike metodologiese instrument wat soveel waardevolle insigte veral met betrekking tot Holocaust-studies moontlik gemaak het, maklik van ’n vlymskerp lanset in ’n stomp knipmes. Dis byna asof elkeen ’n reg op sy eie trauma het, en afhangende van jou invalshoek wemel die literatuur van traumatiese ervarings en hul narratief. By ’n hele aantal artikels in hierdie bundel moes ek my afvra of die term trauma nog hoegenaamd toepaslik is. Kyk byvoorbeeld Jaap Goedegebeure oor Nederlandse skrywers wat die oorlog meegemaak het; beide Wim Couwenburg en Etty Mulder se andersins fassinerende besprekings van die (post)koloniale geskiedenis (“Nederlands Indië, land van herkomst ...”); Theo de Wit se prikkelende stuk oor Nederland gidsland; of Anton van Niekerk oor die taaldebat. ’n Aantal Afrikaanse tekste en temas word ook hier betrek sonder dat die trauma-verband helder of oortuigend is: ’n verhaal van Herman Wasserman (deur Jacques de Visscher); Fransi Philips en JM Coetzee (deur Marcel Becker); huisbediendes in die Suid-Afrikaanse literatuur (deur Ena Jansen); Die Sprinkaanbeampte van Sluis (deur Vasti Roodt); twee romans van Etienne van Heerden; Eben Venter en Tom Dreyer; en les bes, Henk van Woerden se (Nederlandse) teks oor Tsafendas. By te veel van hierdie bydraes word dit nie duidelik hoe trauma verstaan word nie: Wat is die rol van die vertellersinstansie byvoorbeeld in Van Tonder se Roepman, en is dit hoegenaamd geregverdig om by die Sprinkaanbeampte of Henk van Woerden van trauma (maar wie se trauma?) te praat? By Chris van der Merwe se bespreking van Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam kon ek nie mooi sien hoe die trauma-hef in die liminaliteit-vurk steek nie. Die bydraes wat oor Afrikaanse tekste handel, is minder konsekwent deurdink en teoreties maar redelik wankelrig.

Hierdie voorbehoude ten spyt is daar baie wat ’n mens uit hierdie boek kan leer. Uiteraard het die verwerking van skok of verwonding gevolge vir die betrokke persoon se begrip van die self in omstandighede wat vooraf as normaal ervaar en beskou is en na die gebeure nie meer sin maak nie. Verwoording van die toestand is ’n sterk behoefte, maar dikwels ontbreek die vermoë, juis omdat die “normale” taal as ontoereikend ervaar word. Tereg word daar dus veral met verwysing na die getuienisse van Holocaust-oorlewendes van die onuitspreeklikheid van die ervarings en sielkundige wonde gepraat. ’n Aantal gevallestudies is eweneens fassinerend en oortuigend, byvoorbeld Hans Ester oor die Duits-Joodse skrywer Hans Keilson, Etty Mulder oor David Grossman, asook die tema van “transgenerasionele” trauma, soos byvoorbeeld in die besprekings van Jessica Durlacher (Petra van der Velde en Philippe Codde).

[1] Merridale, C. 2000. Night of Stone. Death and Memory in Russia. Londen: Granta.

[2] Die volledige titel is “Ad Acta gelegd. Verwerking van oorlogservaringen in de Nederlandse literatuur van na 1945“.

[3] Kyk in hierdie verband veral Wim Couwenburg, “Indië verloren, rampsoed geboren – Het Nederlandse dekolonasietrauma” en Etty Mulder, “Nederlands Indië, land van herkomst – Boven Digoel en Joden Savanne; trauma’s zonder narratief”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top