LitNet Akademies-resensie-essay: Brandwaterkom deur Alexander Strachan

  • 1

brandwaterkom250

1. Inleidend: die verhouding met ander tekste

Alexander Strachan se jongste roman, Brandwaterkom, vertel die verhaal van Esther van Emmenes wat besig is om ’n doktorale tesis te skryf oor SG (Fanie) Vilonel, ‘n figuur uit die Anglo-Boereoorlog.  In die proses word sy gekonfronteer met vrae oor die aard van geskiedskrywing, die wese van oorlog, die verwantskap tussen verskillende oorloë, die komplekse spektrum van emosies wat daaruit voortspruit, die nadraai daarvan en dus ook die impak van die verlede op die hede. Omdat dit hier gaan om ’n fiktiewe karakter wat navorsing doen oor ’n werklike historiese figuur, behels die roman uit  ’n verwikkelde spel tussen feit en fiksie, tussen waarheid en verdigsel. As sodanig neem dié roman sy plek in ’n ryk tradisie in en staan dit by wyse van spreke op die skouers van talle ander tekste, beide feitelik en fiktief.

As roman wat fokus op Vilonel, wat deel gehad het aan die Anglo-Boereoorlog, steun dit op die uitgebreide korpus tekste wat daar oor die Anglo-Boereoorlog bestaan. Hiervan getuig die uitvoerige bronnelys wat die skrywer aan die einde van die teks verskaf: dit bevat verwysings na biografiese tekste geskryf deur deelnemers aan die oorlog (oorlogsdagboeke en -herinneringe van figure soos Christiaan de Wet en FF Pienaar), akademiese studies oor die oorlog (soos Albert Grundlingh se Die “hendsoppers” en “joiners”), selfgepubliseerde weergawes oor die oorlog en dokumente uit persoonlike argiewe. Dié tekste word verwerk tot ’n boeiende uitbeelding van die eerste fase van die Anglo-Boereoorlog, meer spesifiek die aksies in Natal en die Vrystaat. Die historiese gegewens word veral verlewendig deur die karakters se persoonlike belewenis van die historiese gebeure, hulle emosionele ervaring daarvan en die aanvul van die klein besonderhede van die alledaagse roetine waardeur die roman uiteindelik die digte tekstuur verkry wat inlewing deur die leser moontlik maak.

Strachan se roman steun egter ook op die groot aantal Afrikaanse literêre tekste waarin die Anglo-Boereoorlog neerslag gevind het. Dié oorlog bly ’n terugkerende tema in die Afrikaanse letterkunde. In die eerste helfte van die 20ste eeu het daar ’n magdom literêre verwerkings van die oorlog verskyn, en ook sporadies daarna (vergelyk Van der Merwe 1998). Nader aan die honderdjarige herdenking van die oorlog en ook daarna het ’n hele reeks romans deur skrywers soos Karel Schoeman, AHM Scholtz, Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach, Christoffel Coetzee, Jeannette Ferreira, Eleanor Baker, Engela van Rooyen en Francois Smith verskyn. Hierby voeg Strachan nou sy eie stem en perspektief deur sy roman oor die Brandwaterkom.

brandwaterkom1

In verband met die fokus op die Brandwaterkom tydens die Anglo-Boereoorlog is daar veral twee romans wat hulleself uitsonder as voorgangers van Strachan se roman: Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach se Belemmering (1990) en Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998). Alhoewel Strachan se roman nie noodwendig direk inspeel op hierdie tekste nie, speel hulle beslis in die agterkop van die leser en gee hulle verdere resonansie aan dit wat Strachan aanbied. Viljoen/Winterbach se Belemmering teken ’n groep vryheidsvegters wat hulle tydens die apartheidsjare op ’n afgeleë plek besig hou met die beplanning van ’n aanval op die regering en hulle beroep op die heldhaftigheid van die vegters in die Anglo-Boereoorlog, onder andere met verwysing na die Brandwaterkom. Hier word ’n skakel gelê tussen die heldedade van die Anglo-Boereoorlog en dié van die vryheidstryd tydens die apartheidsjare, terwyl Strachan die Anglo-Boereoorlog verbind met die Grensoorlog. Coetzee se roman speel veral in op die oorgawe van Marthinus Prinsloo en sy mag van meer as 4 000 man aan die Engelse op 29 Julie 1900. Waar Strachan se roman fokus op die historiese gegewe van die oorgawe waarin Vilonel ’n rol gespeel het as onderhandelaar, fiksionaliseer Coetzee se roman die periode ná Prinsloo se oorgawe. Hy skep ’n fiktiewe “wraakkommando” (bestaande uit generaal Mannetjies Mentz en sy adjudante Vos en Nieman) wat ná hierdie oorgawe hensoppers en joiners voorlê, hulle dwing om terug te keer na die slagveld en hulle teregstel indien hulle weier (’n gegewe wat onder andere inspeel op die Waarheid-en-Versoeningskommissie van die 1990’s). Strachan se doel is eerder om die Anglo-Boereoorlog deur middel van sy karakters te plaas naas die Grensoorlog wat die Suid-Afrikaanse regering in die 1970’s en 1980’s in die noorde van Namibië en suide van Angola gevoer het (dit is veelseggend dat “Grensoorlog” deurgaans in die roman met ’n hoofletter gespel word). As sodanig kan dit dus ook gelees word saam met die grensliteratuur van die 1980’s, geproduseer deur skrywers soos Etienne van Heerden, Strachan self, Koos Prinsloo en Gawie Kellerman.

Strachan se Brandwaterkom steun ook op voorgangers in sy eie oeuvre. Sy eerste literêre bydrae was die kortverhaalbundel ’n Wêreld sonder grense waarin hy die ontreddering van soldate tydens die Grensoorlog opteken in ’n aantal verhale wat losweg met mekaar skakel. Dié teks lê die grondslag vir motiewe wat later uitgewerk word in sy romans Die jakkalsjagter (1990), Die werfbobbejaan (1994) en Dwaalpoort (2010). Kritici het in hulle besprekings gewys op raakpunte tussen Strachan se eie ervaring as soldaat in die Grensoorlog en hierdie tekste. Dit is duidelik dat Strachan se hantering van die Anglo-Boereoorlog-gegewe in Brandwaterkom uit hierdie agtergrond gevoed word. Sy invalshoek is veral die saambring van die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog deur middel van die karakter Bullet, wat ook in Dwaalpoort ’n rol gespeel het. Bullet is ’n verdere inkarnasie van die dwalende grenssoldaat, jagter of wildvanger uit Strachan se vorige romans. In Brandwaterkom is hy veral die een wat die rol het om die historikus Esther bewus te maak van die vergelykbaarheid van die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog. Alhoewel ’n mens Strachan se roman dus heeltemal op sy eie kan lees, is dit duidelik dat dit pas binne ’n hele netwerk van tekste waarmee dit bewustelik én onbewustelik in gesprek tree.

brandwaterkom2

’n Mens sou jou ook kon afvra waarom oorlog so ’n blywende tema in verskillende letterkundes bly, selfs lank nadat daardie oorloë afgeloop het. ’n Mens sou ’n magdom romans uit die wêreldliteratuur kon noem; as enkele voorbeeld sou ’n mens kon verwys na die Booker-pryswenner The Narrow Road to the Deep North deur Richard Flanagan wat handel oor die spoorlyn wat die Japannese in Birma tydens die Tweede Wêreldoorlog deur krygsgevangenes laat bou het. Miskien hou dit verband daarmee dat oorlog die menslike karakter onder uitsonderlike druk plaas en uiterstes van menslike gedrag na vore laat kom, iets wat vrugbare terrein vir ’n skrywer is. Op ’n meer siniese noot sou ’n mens kon sê dat dit die geleentheid skep vir skrywers om oor die mens se fassinasie met die meganiek van oorlogspeletjies en die dors na ekstreme ervarings te skryf. Ernstiger beskou is dit duidelik dat talle oorlogsromans ’n poging is om rekenskap te gee van die impak wat oorlogsgebeure op die mens het.

2. ’n Ruimte vir betekenisgewing

Die titel van die roman beklemtoon van meet af aan die belangrikheid van die ruimte waar die grootste deel van die gebeure hulle afspeel. Prinsloo se oorgawe het juis in die Brandwaterkom plaasgevind. Om hierdie rede gee Esther, wat besig is om haar te verdiep in die oorlogsgebeure waaraan Vilonel deel gehad het, as ‘t ware vir die leser die koördinate van die Brandwaterkom wanneer sy aan die begin van die roman sê: “’n Kom ingehok deur die Rooiberge, die Witteberge en Caledonrivier” (11). Die volgende beskrywing deur Erika van Eeden (2013), ’n inwoner van Fouriesburg, wat ek in ’n koerantberig oor die Brandwaterkom gevind het, het my gehelp om die omgewing nog meer presies te visualiseer: “Die Brandwaterkom word omring deur ’n reeks berge in die vorm van ’n perdeskoen. Die Witteberg vorm die kant tussen Fouriesburg en Rosendal en die Rooiberg strek na Clarens. Hierdie been is so ’n bietjie oopgebuig na Golden Gate se kant. Aan die oop kant van die perdeskoen vloei die Caledonrivier en vorm die grens tussen die Vrystaat en Lesotho. Hierdie ketting van berge kan net by ’n paar nekke oorgesteek word. Retiefsnek is in die holte van die skoen en as jy deur die nek ry, gaan jy die opvangsgebied van die Brandwaterspruit binne, vandaar die naam.”

Die suggestierykheid van die Brandwaterkom word verder deur Esther beklemtoon wanneer sy die roman vir die eerste keer binnetree in hoofstuk twee. Sy beskryf haar aankoms in die Brandwaterkom, vertel hoe sy die bergreekse op ’n kaart ingekleur het sodat hulle kan uitstaan en hoedat sy die buitelyne met haar vinger nagetrek het (11). Sy gaan dus ’n heel besondere, byna sintuiglike en taktiele verhouding met hierdie ruimte aan. Dit is vir haar meer as net ’n fisiese ruimte: sy beskou dit ook as ’n lewende entiteit waarmee sy as vrou kan identifiseer, ’n “lewende vroulike organisme” (11), ’n “[o]erkrag wat haarself om elke onverwagte draai bly voortplant het totdat selfs die kleinste holkrans uiteindelik haar eie vingerafdruk gekry het” (11). Dit is nie vreemd dat Esther die kom en die holkranse as vroulik beskryf nie: die kom of holte word immers van vroeg reeds as ikonies-verteenwoordigend van die vroulike gesien. Die holkranse in die Brandwaterkom is dan ook, volgens die geskiedenis wat Esther bestudeer, die ruimtes waarheen die vroue hulle tydens die oorlog teruggetrek het en waar die mans slegs by geleentheid binnetree. Vir Esther is dit tog ook ’n ruimte waarvan jy die vorm nie sonder meer kan vaslê nie: “Soos ’n skulp, of ’n holte wat jy in jou hand sou probeer toevou. Dalk die gevoelige oor van ’n wildsbok? Iets wat na willekeur van vorm kon verander. Lewend, maar stadig en tydloos soos ’n amoeba. By my lessenaar het my vinger oor die uitstulping tot in die hart van die kom beweeg. Dan het dit meer soos ’n baarmoeder gelyk” (11). ’n Ander eienskap van die kom waarvan Esther bewus raak, is die stilte daarvan: “Wat wou die kom vir my sê? Net ’n veraf geruis, ’n ligte wind of dalk die fluistering van verraad?” (11)

’n Wye verskeidenheid betekenisse kan dus aan die kom toegedig word: dit is die ruimte waar die historiese gebeure waarna Esther ondersoek instel, hulle afgespeel het; dit is enigmaties en adem die vlugtigheid en veranderlikheid van alle lewe; dit is delikaat en gevoelig vir indringing; dit hou as baarmoederruimte ook die moontlikheid van kreatiwiteit en nuwe lewe in; dit is gevul met ’n sprekende stilte. Hierdie beelde wat aan die begin van die roman vir die leser gegee word, beklemtoon dat dit ’n ruimte is wat gevul word met betekenis deur menslike aktiwiteite (soos vestiging en oorlog), deur menslike ondersoek (soos Esther se navorsing) en deur menslike nadenke (soos die leser se poging om die simboliese waarde van die ruimte te peil). Die Brandwaterkom is dus nie net die fisiese ruimte waar die historiese en fiktiewe gebeure in hierdie roman hulle afspeel nie, dit is ook die simboliese ruimte wat gevul word deur die betekenisgewingsaktiwiteite van die skrywer en sy lesers. Juis daarom is dit betekenisvol dat Esther haar afvra of die gevoel van vryheid wat ’n mens in die Brandwaterkom ervaar, verband hou met die feit dat die dimensies daarvan so onpeilbaar is (10). Dit is juis hierdie onpeilbaarheid wat die pogings tot singewing moontlik maak en akkommodeer.

3. Die struktuur van die roman

Omdat die betekenis van ’n teks onder andere opgesluit lê in die wyse waarop dit gestruktureer is, is dit belangrik om dit te probeer ontrafel. Die mees uitstaande kenmerke van Brandwaterkom se struktuur is die aanwesigheid van verskillende verhaallyne, die ordening van die vertelling, die wisselende perspektiewe op die gebeure, die vertelstyle waarmee dit gepaard gaan en die besinning oor die vertelproses.

Die roman vertel in hoofsaak twee stories, vandaar die verwysing na ’n “dubbellooproman” op die agterblad van die roman. Dit is duidelik dat die bemarkers van die roman toespelings wil maak op die skrywer Strachan se geskiedenis as soldaat wanneer daar verder gesê word dat hy “albei snellers gelyk” trek. Soos reeds gesê, handel die een verhaallyn in die roman oor Vilonel en die eerste fase van die Anglo-Boereoorlog. Uit die geskiedskrywing oor die Anglo-Boereoorlog is hy bekend as een van die Boere wat homself in 1900 oorgegee het aan die Engelse en later aan die Engelse kant geveg het. In die taal van die Anglo-Boereoorlog was hy dus ’n “hensopper” of ’n “verraaier” – hy is trouens een van die figure wat in Albert Grundlingh se Die “hendsoppers” en “joiners” (in 2006 vertaal as The Dynamics of Treason) ten tonele gevoer word. Dit blyk mettertyd dat die keuse vir Vilonel as fokuspunt deels bepaal is deur die punt wat Strachan oor die Grensoorlog wil maak, naamlik dat daar ook sprake was van verraad.

Die tweede verhaallyn is dié van Esther wat besig is om haar doktorale tesis oor Vilonel te skryf. Haar storie word gekompliseer deur drie ander karakters wat self as vertellers optree of uit wie se perspektief daar ook vertel word. In die eerste plek is daar Catharina Venter, ’n vrou wat tydens die Anglo-Boereoorlog een van dié was wat in die holkranse van die Brandwaterkom gaan skuil het en vir Esther wil bewus maak van onvertelde stories uit die geskiedenis. In die tweede plek word Esther se optekening van die geskiedenis en haar lewe gekompliseer deur die aankoms van Bullet, die eksgrenssoldaat, wat haar wil bewus maak van die raakpunte tussen die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog. In die derde plek is daar ’n ongeïdentifiseerde ek-verteller wat by tye versmelt of een word met Bullet, maar tog ook afsonderlik funksioneer. Hy is ’n skimagtige figuur wat slegs op enkele punte in die teks intree en iets van sy eie aard verraai. Dit lyk asof hy die vertelling stuur en dus die skrywer van die teks kan wees; tog bely hy by meer as een geleentheid sy onvermoë. Strachan gee self ’n leidraad wanneer hy in die onderhoud met De Vries (2015:13) sê dat Bullet “vir baie lesers die ongeslypte kant van die skrywer verteenwoordig”.

Die twee verhaallyne (dié van Vilonel en van Esther) word vervleg met mekaar aangebied en werk beide mee om die sentrale idees van die roman oor te dra. In my poging om die struktuur te ontrafel, konsentreer ek in die volgende afdelings op die twee verhaallyne afsonderlik.

3.1 Die verhaal van Fanie Vilonel

Vilonel se verhaal word aangebied deur ’n eksterne verteller wat hoofsaaklik – maar nie altyd nie – vanuit sy perspektief fokaliseer. Dit word ook aangebied in chronologiese volgorde, al word dit dan gereeld onderbreek deur die verhaallyn waarin Esther, Catharina, Bullet en die skrywer figureer. Dit is betekenisvol dat slegs die eerste hoofstuk waarin Vilonel aan die leser bekendgestel word, buite die chronologiese lyn val deurdat dit fokus op ’n moment naby die einde van dié deel van sy lewe wat in die roman beskryf word.

Dié toneel open die roman en toon Vilonel besig om homself met ’n groot mate van selfkoestering aan te trek in varsgewaste klere, gepoleerde stewels en helm, met die laaste item wat aandui dat hy besig is om ’n uniform van die Britse leër aan te trek. Die toneel skakel met die roman se uitbeelding van Vilonel as ’n goed-opgevoede, sjarmante en welgeklede man wat gou ingesien het dat die oorlog vir die Boere ’n verlore saak is en nie sy materiële welvaart wil prysgee nie. Dit wys ook vooruit na die slot van die roman, waar Vilonel die teregstelling van drie joiners wat saam met hom in die Orange River Colony Volunteers teen die Boere geveg het, vanaf ’n afstand dophou met die “kakiekleurige helmet” teen sy bors gedruk (376).

Vilonel se behaaglikheid in hierdie beginparagraaf van die roman staan ook in kontras met die toneel wat onmiddellik daarna volg in die eerste hoofstuk: dit teken die sfeer van verslaentheid van die 4 300 Boere wat onder die aanvoering van generaal Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom gedwing word om hulle op 29 Julie 1900 aan die Britse leër oor te gee. Vilonel se netjiese kleredrag is ook die teenoorgestelde van die gehawende kleredrag van die Boere wanneer hulle gedwing word tot oorgawe deur die veel beter toegeruste imperiale mag van die Britte, soos wat blyk uit die beskrywing van Cronjé se oorgawe by Paardeberg (239) en Marthinus Prinsloo se vuil of onvanpaste klere net voor die oorgawe (366, 367). As sulks is dit ’n sprekende voorbeeld van die materiële wanbalans tussen die Britse en die Boeremagte.

brandwaterkom3

’n Foto van die oorgawe van Marthinus Prinsloo op 29 Julie 1900 deur E Rosslien, in 2012 in die fotograaf se huis in Winburg gevind waar dit bewaar gebly het (Smith 2012:3).

Naspeurbare historiese gegewens verskaf die raamwerk vir hierdie verhaallyn, maar hulle word aangevul met ’n lewendige en geloofwaardige fiksionalisering van Vilonel. Die beginhoofstukke vertel van Vilonel se vooruitstrewende prokureurspraktyk op die dorp Senekal in die maande kort voor die uitbreek van die oorlog. In hierdie hoofstukke word Vilonel geteken as ’n knap, selfs opportunistiese prokureur, wat enige inligting tot sy beskikking gebruik om homself materieel te bevoordeel. Vanweë sy goeie opvoeding, daadkragtigheid en sjarmante persoonlikheid beklee hy ’n leiersrol in die samelewing: naas prokureur, is hy ook die jongste stadsklerk ooit op Senekal, afslaer en vooruitstrewende lid van die samelewing. Hy is ’n uitstekende skut en perdeliefhebber, iets wat hom leiersposisies sal gee in die oorlog wat volg.

Om die karakter Vilonel, wat begin as ’n suksesvolle lid van die Boeremagte, maar hom later oorgee aan die Britte, psigologies te peil, konsentreer die vertelling ook op sy liefdeslewe. As jong man kort voor die oorlog voel hy aangetrokke tot ’n Skotse meisie, Miss Sutty, en flankeer met haar omdat sy vir hom die gevaarlike bekoring van ’n roofdier inhou (48). Hy besluit egter om met die oog op sy posisie en vooruitsigte in Senekal met die Vrystaatse Sarah du Toit Luttig te trou (28). Interessant genoeg bewonder Miss Sutty hom wanneer hy besluit om by die oorlogspoging aan te sluit (“I am proud of you, mister Vilonel, for riding out of our little village to meet the mighty Empire,” sê sy vir hom (67) en begin sy selfs ’n buite-egtelike verhouding met hom tydens die oorlog, duidelik onder die indruk van sy viriele soldate-persona. Wanneer hy egter besluit om hom oor te gee aan die Britte, wend sy haar van hom af. “My people never quitted the battlefield,” verduidelik sy haar kilheid (339). Hier staan oorlogsverraad dus in ’n ironiese spanning met huweliksverraad. Terwyl hulle op kommando is, word Vilonel ook gespot met die bynaam “runderpes” (109), omdat hy as jongman onder Senekal se jong meisies gemaai het soos die siekte. Hierdie spottery is vir die onverfynde Sarel Breedt, wat saam met hulle op kommando is, pynlik, omdat hy tot bywonerstatus gereduseer is deur die runderpes onder sy vee en omdat daar suggesties is dat sy vrou Gertruida ontrou is aan hom – onder andere met Vilonel. Deur die verdere inspeling van huweliksverraad op oorlogsverraad word die seksuele ondertone van die magstryde in die oorlog beklemtoon.

Tydens die veldtogte in Natal beklee Vilonel ’n leiersposisie vanweë sy vernuf as skut, sy manmoedigheid en ook sy eiesinnigheid. Verder is daar blyke van sy gefassineerdheid met die Britse soldate se gedissiplineerdheid en sy ontevredenheid met die gevegstrategieë van die ouer Marthinus Prinsloo (111–2). Na die veldtogte in Natal keer Vilonel terug na Senekal voordat hy hom weer aansluit by die Boeremagte wat in die Vrystaat veg. Hier ontstaan daar spanning tussen Vilonel en De Wet, in so ’n mate dat De Wet vir Vilonel dreig met ontslag indien hy nie self bedank nie, wat Vilonel dan ook doen (263). (Interessant genoeg ondermyn hierdie roman in ’n mate die oorweldigend positiewe beeld wat daar van generaal De Wet bestaan deur sy kortgebakerdheid, onverfyndheid en listigheid te beklemtoon (192–3).)

Hierna keer Vilonel terug na Senekal, wat intussen deur die Engelse ingeneem is, maar sluit hom mettertyd weer by sy ou kommando aan, waar hy tot leier verkies word. Hy onttrek hom egter kort hierna aan die oorlog voordat hy uiteindelik formeel die wapen neerlê. Hy skryf ook aan Hans van Rooyen om hom te oorreed om dieselfde te doen, maar sy brief word onderskep, met die gevolg dat hy op Reitz verhoor word op ’n klag van hoogverraad. Hy word skuldig bevind en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy appelleer teen die vonnis, maar dit word bekragtig en hy word as gevangene onder die sorg van Prinsloo geplaas. Prinsloo gebruik hom om die oorgawe van die 4 300 Boeresoldate met kolonel Hunter te onderhandel en na die oorgawe is Vilonel ’n vry man.

Hy onttrek hom vir ’n tyd lank na Basoetoland, maar keer later terug om hom nogmaals vir die beëindiging van die oorlog te beywer. Hy voer die Orange River Colony Volunteers aan en wanneer sy regiment deur die Boere verslaan word, slaag hy daarin om te ontsnap terwyl sommige van die ander joiners in die regiment gevange geneem en tereggestel word.

Die tekening van hierdie gebeure in Vilonel se lewe is sodanig dat dit uiteindelik vir die leser ’n genuanseerde beeld gee van die faktore wat aanleiding gegee het tot die optrede wat hom gebrandmerk het as die “verraaier” van wie generaal Hertzog gesê het dat solank as wat die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat gelees word, die naam Vilonel ’n ewige skandvlek daarop sal wees (Grundlingh 1977:255).

In teenstelling met die kras tekening deur Hertzog, probeer die roman op onbevooroordeelde wyse die oorsake van sy optrede peil deur die skildering van bepaalde karaktertrekke, soos sy voorliefde vir deftige klere en hoede (jammer dat daar twee maal verwys word na sy “rondebolkuil” in plaas van sy “rondebolkeil”!), sy gefassineerdheid met die eksotiese ander in die gedaante van Miss Sutty en die gedissiplineerde Britse mag, sy bereidheid om huweliksverraad te pleeg, sy neiging tot neerslagtigheid, sy gekrenktheid oor sy skuldigbevinding deur die krygshof en sy opportunistiese selfposisionering ter wille van materiële welvaart. Die padloper wat Vilonel soms raakloop (337), lyk na ’n soort dubbelganger (hoed en al) wat hom bly herinner aan sy verraad wat deur onder andere materiële gewin geïnspireer is.

Naas die fiksionalisering van Vilonel se lewe neem die histories verifieerbare weergawe van die eerste fase van die oorlog ’n belangrike posisie in hierdie verhaallyn in. Daar word gefokus op die gevegte in Natal in die vroeë fase van die oorlog, die veldtogte in die Vrystaat onder die aanvoering van Christiaan de Wet, Vilonel se onttrekking van die oorlog, die oorgawe van Marthinus Prinsloo in Julie 1900 en Vilonel se rol as aanvoerder van die Orange River Colony Volunteers wat aan die Britse kant veg. In hierdie gedeeltes word historiese feite tot boeiende handeling omskep; die beskrywings word tekstuur gegee deur nie net die veldslae en gevegstrategieë te beskryf nie, maar ook die kleiner besonderhede van die lewe op kommando, soos byvoorbeeld die stories wat die krygers mekaar vertel, die grappe wat hulle maak en die klein handelinge waarmee hulle hulleself besig hou (soos Sarel Breedt wat dassies in ’n hok aanhou en die “aaptwak” wat Rooi Sarel by die Zoeloes koop).

Dit is wel opmerklik dat die vertelling in hierdie verhaallyn meermale wegdwaal van Vilonel as sentrale waarnemer en fokaliseringspunt. Dit gebeur byvoorbeeld in die hoofstukke oor Buller tydens die beleg en ontsetting van Ladysmith, die tonele tussen Marthinus Prinsloo en Paul Roux, die oorgawe deur Cronjé by Paardeberg, waar lord Roberts se perspektief gegee word en daar selfs vooruit beweeg word na Cronjé se ballingskap, asook die tonele waarin Marthinus Prinsloo se gedagtes kort voor die oorgawe in die Brandwaterkom weergegee word. In dié gevalle verplaas die oorlog vir Vilonel as die hoofkarakter van die vertelling en word die romanskrywer deur die geskiedskrywer oorheers. Vir kort gedeeltes is die skryfstyl dan akademies-afstandelik en terugskouend eerder as gesetel binne die gebeure, soos wat uit die volgende sin blyk: “Die toneel [met Paul Roux] wat in Prinsloo se tent afspeel, het egter nie net verreikende gevolge vir die Boere in die Banwaterkom nie; dit beïnvloed ook die groter verloop van die oorlog” (186). Nietemin slaag Strachan daarin om die leser se belangstelling in die oorlog opnuut aan te wakker deur sy rekonstruksie daarvan.

Ten slotte is daar die vraag wie Vilonel se verhaal vertel of skryf. Is dit gewoon ’n neutrale eksterne verteller wat hier optree en meestal die gebeure uit Vilonel se perspektief weergee? Is dit Esther wat agter hierdie eksterne verteller sit en is die teks wat ons lees, dalk haar tesis? Of is dit die ek-verteller (skrywer) wat soms versmelt met Bullet wat in die laaste hoofstuk van die roman die twee verhaallyne bymekaar bring wanneer hy Esther en Bullet staan en afluister? In dié geval sê hy: “Is dit hoe dit afgeloop het? Is dit dan die einde? Van hierdie afstand kan ek min dinge met sekerheid sê. Vir Vilonel het dit wel daar geëindig, in die mate wat ’n graf ’n einde is” (374).

3.2 Die verhaal van Esther, Catharina, Bullet en die skrywer

Die tweede verhaallyn vertel dan die storie van Esther, Catharina, Bullet en die skrywer. Soos reeds gesê, is Esther besig met ’n tesis oor Vilonel en vestig sy haar op Fouriesburg in die Brandwaterkom terwyl sy geskiedenis doseer op die Qwaqwa-kampus van die Vrystaatse Universiteit in Puthaditjhaba. Terwyl sy op Fouriesburg woon, neem sy ook kunsklasse op Ficksburg en hou sy haar besig met die kerf van die beeld van ’n man wat sy Posman noem uit ’n stomp hout. Hierdeur word die skryf van Vilonel se geskiedenis en die maak van ’n kunswerk indirek met mekaar in verband gebring.

Die aard van geskiedskrywing is vir baie lank reeds ’n vrugbare gegewe in die Afrikaanse letterkunde. Veral in die laaste kwart van die vorige eeu was daar etlike Afrikaanse romans waarin skrywers besin het oor wat geskiedskrywing behels en onder watter voorwaardes die representasie van historiese gebeure plaasvind. Belangrik in hierdie verband is byvoorbeeld die werk van André Brink, Karel Schoeman, Etienne van Heerden, Abraham de Vries, Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach en Christoffel Coetzee, om maar net enkeles te noem. Wanneer Strachan dus die geskiedkundige Esther van Emmenes in sy roman invoer, sluit hy aan by ’n uitgebreide tradisie in die Afrikaanse letterkunde wat op sy beurt weer steun op die teoretiese geskrifte van navorsers soos Hayden White, Dominick LaCapra, Frank Ankersmit, Linda Hutcheon, Elizabeth Wesseling en vele ander wat hulle besig gehou het met vrae oor wat gebeur wanneer historiese gebeure opgeskryf word, of dit nou in geskiedenisboeke of in die letterkunde is.

Met die karakter Esther van Emmenes kan Strachan verskillende kwessies omtrent die hantering van die geskiedenis aanraak en ook spekuleer oor die uitwerking wat die geskiedenis op mense het. Esther is besig met ’n tesis oor Vilonel wat moet voldoen aan die eise van wetenskaplike navorsing – daarvan getuig die verwysings na haar studieleier wat aandring op ’n akademiese aanslag (148) en die tydige aflewering van hoofstukke (148). As doktorale kandidaat en iemand wat slegs ’n tydelike pos aan die universiteit beklee, is sy haar deeglik bewus van die mag wat haar studieleier oor haar het (148). Iets van die gelade mentor-leerling-verhouding kom hier na vore, omdat dit weldra blyk dat haar studieleier ook haar minnaar is en dat hulle met hierdie verhouding verraad pleeg teenoor sy vrou.

Dit blyk ook dat Esther se siening van die geskiedenis wyer strek as dié van haar kollegas. Wanneer sy in haar akademiese departement ’n nuwe kursus vir die volgende jaar moet voorstel, wil sy die leerplan begin met Australopithecus Africanus en die geskiedenis van die Sterkfonteingrotte, asook die hele Steentydperk wat met die Boesmans eindig (147). Daar word dus beklemtoon dat sy wyer kyk as die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog waarmee sy besig is in die figuur van Vilonel; ook dat sy waarskynlik deur die Oos-Vrystaatse omgewing geïnspireer word om terug te gaan na die geskiedenis van die vroegste bewoners van dié streek, naamlik die Boesmans. Dit blyk dus dat sy gevoelig is vir ál die historiese resonansies van die omgewing waarin sy haar bevind.

Dié nosie word ook beklemtoon wanneer Smuts se holisme ter sprake kom in ’n gesprek met Bullet, wat die konsep toepas op die holkranse in die Brandwaterkom: “Sou jy hulle een vir een uit die berg haal en elkeen op sy eie beskryf, beteken dit nie jy verstaan nou die hele gebergte nie. Eers as al die holkranse gesamentlik begin asemhaal, kry die bergreeks sy identiteit” (137). Die implikasie is dat daar na die geheel gekyk moet word en dat die samehang van die geskiedenis oorskou moet word, nie net ’n enkele gebeurtenis (of oorlog) nie.

Esther is ook oopgestel vir ’n byna magies-realistiese vereenselwiging met historiese figure. Dit blyk uit die invoering van Catharina Venter, die vrou wat tydens die oorlog saam met ander onder een van die hol kranse in die Fouriesburg-omgewing geskuil het, as karakter en ek-verteller in sekere gedeeltes van die roman. Dit is dan ook vanuit hierdie ruimte (waarvoor Esther so gevoelig is (10–1)) dat Catharina vir Esther aanspreek en haar aandag vestig op die verswygde gebeure in die oorlog, soos byvoorbeeld die toe-eiening van grond, die vroeëre galgdood van haar grootjie Hans Dons de Lange, die summiere teregstellings van mense soos Knichpschille en Mousley deur die Boere, haar skoonpa, WD Venter, se oneervolle optrede, en so meer. Haar uitgangspunt is: “Daarom is dit my plig om haar te vertel wat hier gebeur het. Skandalige goed, maar waarvan jy nie mog wegkyk nie” (266).

Deur haar fokus op die onregmatighede van die oorlog sluit sy aan by Esther se fokus op die verraaier Vilonel. Esther self sê by geleentheid: “Ek wil my terugleef in die tyd wat die Boerenasie verkies het om dele uit ons verlede weg te sny. Nou kan niemand meer ontken dat ook ánder Boeremense deel van die oorlog was nie” (196). Catharina praat vanuit ’n soort magiese ruimte wat tydsgrense oorskry met Esther oor die verlede waarin sy besig is om vir haar tesis te delf, maar ook oor wat vir haar voorlê (soos byvoorbeeld die koms van Bullet (12, 76)). Dit word bevestig deur uitsprake soos: “Om helder te kan sien, moet jy fyn in die verlede in kan kyk en jou oog skerp op die toekoms instel” (12) en “Hierdie stadsnooi wil haar toekoms sowaar in haar verlede gaan kry” (12). Teenoor die ander verhaallyn, waarin die manlike aktiwiteite in die oorlog voorgestel word, gee Catharina in hierdie verhaallyn ’n beeld van die vroue se bedrywighede tydens die oorlog.

Catharina se kommunikasie met Esther het mettertyd ’n impak op haar werkwyse en opskryf van die geskiedenis. Van haar studieleier dink sy: “Maar hoe kon ek hom vertel dat ek dit nie meer reggekry het om Catharina Venter se influisteringe te ignoreer nie. Dat sy die ritme van my studie bepaal het. Dat my skryfwerk ’n populêre styl aangeneem het, eerder as die strak akademiese aanslag wat hy wou hê. Ek het self nog nie geweet hoe ek dit gaan oplos nie. Enigiets was moontlik, dit kon selfs in verskillende werke ontwikkel. Solank die storie loop, wou ek dit nie onderbreek nie” (148). Indien Vilonel se storie in die ander verhaallyn van die roman wel Esther se teks is, verklaar dit die verhaalmatige aanbieding van die gegewe en die fiksionalisering van gegewens soos sy liefdeslewe wat nie in historiese bronne voorkom nie. Mettertyd lyk dit asof die onwerklikheid van Catharina as karakter uit die verlede ook op Esther geprojekteer word. Wanneer Catharina Esther vir ’n laaste keer onder die holkrans sien, lyk Esther vir haar amper “onwerklik […] kompleet of ’n engel hier voor my sit” (335). Esther verdwyn ook skielik met wat klink na ’n “geklap van duiwevlerke” en dit lyk vir Catharina of “daar flussies net ’n spook” op die kaal rots voor haar gesit het (335).

Verder kenmerkend van Esther se bemoeienis met die geskiedenis van Vilonel en die Brandwaterkom is haar persoonlike investering in die gegewe. Dit blyk nie net uit die wyse waarop sy haar soms verbeel dat sy met Vilonel praat nie (46, 66), maar ook uit die besef dat sy die ervaring van verraad met hom deel. Sy is die afstammeling van Dolf van Emmenes (252–3, 268–9, 334) wat saam met Piet Bouwer in die distrik Heidelberg as verraaiers tereggestel is (Grundlingh 1977:218). Haar betrokkenheid by die gegewe van verraad in die Anglo-Boereoorlog word verder beklemtoon deur die verraad wat sy en haar minnaar teenoor sy vrou pleeg. Die klein litteken aan haar hand herinner haar voortdurend aan ’n wond wat sy opgedoen het tydens een van hulle seksuele ontmoetings in sy kantoor (219).

Esther se ervaring in Fouriesburg word verder gekompliseer deur die koms van Bullet, ’n karakter wat, soos reeds genoem, ook in Dwaalpoort gefigureer het. Hy is tipies van die manlike hoofkarakters in Strachan se vroeër werke, ’n Wêreld sonder grense, Die jakkalsjagter en Die werfbobbejaan: ’n eksgrensvegter wat hom nou besig hou met wildvang en jag, iemand wat fisiek en emosioneel verwond is deur die Grensoorlog en deur ’n nomadiese rusteloosheid gedryf word. Hy dra ’n litteken op sy gesig en word voortdurend gepla deur ’n ou oorlogswond in sy sy. In Brandwaterkom is Bullet op pad om ’n jagkontrak vas te knoop êrens in ’n moerasgebied saam met sy vriend Arthur Nkosi (40), wanneer hy ’n boodskap kry dat daar ’n vrou in die Oos-Vrystaat is wat sy hulp benodig met haar navorsingsprojek. Bullet interpreteer dit as “’n [g]eweerlose sending”, “meer as net ’n verkenning” en ’n opdrag dat hy die vrou in die bergkom moet “brainwash om wyer te kyk as wat sy op die oomblik doen” (44). Hy weet nie presies wat hy vir die vrou moet gaan sê of vertel nie, maar dra ’n pak notas of die manuskrip oor die Grensoorlog met hom saam wat belangrik is vir haar projek: “In die notas opgesluit lê immers die boodskap wat hy na die Brandwaterkom moet dra” (70). Op haar beurt raak Esther – net soos Catharina Venter – bewus daarvan dat iemand op pad is: “Dis eers toe ek tussen die Iceberg-roosbome gaan staan dat ek die boodskap kry. Die berig van die reisiger wat onderweg is. So duidelik dra die tyding in die yl lug dat daar in my gemoed nie die minste twyfel bestaan oor die koms van dié persoon nie” (39).

Bullet se koms stuur inderdaad Esther se navorsingsprojek in nuwe rigtings. Hy gee vir haar nuwe inligting en maak haar bewus van die feit dat die inligting oor die donker karakters in die oorlog nie in biblioteke te vind is nie, maar in geskrifte in private besit. Veral maak hy haar bewus van die moontlikheid om die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog langs mekaar te plaas: “‘Jukstaposisie,’ sê hy, ‘ek het die woord onthou wat die geleerde mense gebruik om goed langs mekaar te sit’” (157). Vir Bullet is dit belangrik dat die Grensoorlog saam met die Anglo-Boereoorlog onthou moet word, omdat dit ’n oorlog is “waarin daar nog geen berusting gevind is nie” (69). By hulle eerste ontmoeting in die begraafplaas op Fouriesburg vestig hy Esther se aandag op die graf van ’n valskermsoldaat wat in die Grensoorlog gesneuwel het en vra haar of sy al gedink het om dit in haar boek te sit. Wanneer sy antwoord dat sy oor ’n ander era skryf, sê hy: “Dalk dink jy nie wyd genoeg nie. Jy kan dit mos langs die ouer oorlog sit. Dan kan jy die gevegsetiek van die ou dae beter uitlig” (144). Esther is skepties oor sy voorstel en wonder of hy een van die grenssoldate is wat sukkel “om by die veranderde politieke klimaat aan te pas” (143). Wanneer sy Bullet later raakloop in die holkrans waar Catharina Venter indertyd gebly het (een van die vroulike ruimtes wat Bullet binnedring met sy aandrang op die Grensoorlog), verwys sy in een weergawe van hulle gesprek na die grensoorlog as ’n “hang-up” wat hy “sukkel om uit [sy] sisteem te kry” (159). In ’n ander weergawe van die gesprek vra sy “waarom die Bosvegters steeds hierdie ding met die Grensoorlog” het. Volgens hom is dit “omdat hulle nooit afsluiting gekry het nie” (179). By ’n latere geleentheid sê hy dat die Grensoorlog ook sy helde gehad het, maar dat hulle “weggesteek” is na die oorlog omdat niemand geweet het wat om met hulle te maak nie, omdat hulle oorbodig en in die pad was (193). Die boeke oor die Grensoorlog (70) sowel as die pak notas wat hy saamry en waarvan hy vir Esther een bladsy gee (sy sal uiteindelik self die notas uit sy motor haal), is ’n tasbare herinnering aan die oorlog en laat haar mettertyd wel nadink oor die raakpunte tussen die twee oorloë (170).

Bullet neem Esther ook na Dwaalpoort, die plaas waar die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog volgens hom bymekaarkom (306). Dwaalpoort het aan die einde van die roman Dwaalpoort afgebrand as ’n aanduiding van die finale ondergang van die ou bestel, wat onder andere deur die Grensoorlog probeer het om apartheid in stand te hou. Die murasies wat Bullet en Esther daar aantref, herinner op hulle beurt aan die karakter Henriette in die roman Dwaalpoort se beskrywing van die afgebrande geboue wat sy op Dwaalpoort aantref met haar terugkeer na die afloop van die Anglo-Boereoorlog (Strachan 2010:230). Tydens hulle besoek aan die plaas vind daar ook ’n vorm van vereenselwiging tussen Bullet (die grenssoldaat) en Vilonel (die Boereoorlogsoldaat) plaas. Terwyl hulle op Dwaalpoort is, gee Bullet vir Esther sy grootjie Henriette se dagboek waarin sy geskryf het dat ’n netjies-geklede en goedgemanierde soldaat op sy perd hulle plaas aangedoen het en vir haar ’n pouveer gegee het (314). Esther wonder of hierdie soldaat dalk Vilonel kon wees; kort hierna verwar sy vir Bullet wat op ’n perd aangery kom met die beeld van Vilonel wat sy in haar kop het na die lees van Henriette se dagboek. Wanneer sy uiteindelik tydens hierdie besoek met Bullet seks het, kan sy dus so ver gaan as om omgang met Vilonel te hê en vloei die twee oorloë as ‘t ware ineen. Dit blyk egter later dat sy haar die omgang met Bullet slegs verbeel het, of dat sy dit gedroom het (331). Nietemin word die verbeelde vereenselwiging tussen Bullet en Vilonel onderstreep deur die verband wat daar gelê word tussen Bullet en Posman, die beeld wat Esther besig is om uit ’n stomp hout te kerf. Esther voel byvoorbeeld dat haar werk aan die beeld nuwe impetus kry nadat Bullet gearriveer het (149); sy sien Posman oral en voel selfs sy teenwoordigheid in haar bed (149). Deur die vereenselwiging met Posman is daar die suggestie dat Bullet dalk ’n skepping van Esther is, net soos die Vilonel van die tesis vir wie sy ’n agtergrond skep omdat hy andersins as ’n “onthoofde mens” sal voorkom (45). Interessant genoeg het sy egter ná die verbeelde seksuele omgang met Bullet op Dwaalpoort die behoefte om op gewelddadige wyse die ooreenkomste tussen Bullet en Posman af te takel en te vernietig (332).

Alhoewel Bullet as ek-verteller optree in sommige van die hoofstukke, word sy ek-vertelling geleentheid onderbreek deur ’n ander ek-verteller. Soos reeds gesê, wil dit voorkom asof hierdie ek vir Bullet manipuleer en dus ook die vertelling stuur soos wat die skrywer van ’n teks sou doen. Terselfdertyd het hierdie skrywer nie volkome beheer oor sy teks nie en weet hy self nie wat gaan gebeur nie, soos wat blyk uit uitsprake soos die volgende: “Die pak notas …. Soos met die pensketse van die kroegman, het ek nog nie heeltemal raad hiermee nie. Behalwe dat dit die kern gaan vorm van ’n plan waarvan Bullet nog net ten dele bewus is” (69). Sy gebrek aan beheer blyk ook uit die vraende, tentatiewe wyse waarop hy hom uitspreek oor die verloop van sy roman. Daar is byvoorbeeld uitsprake soos: “Iewers tussen hulle, op ’n manier wat ek nog nie voorsien nie, lê hierdie woorde, iets tussen syne en hare” (222); “Maar eers moet ek iets anders met Esther probeer, en dalk lê hierdie ene my nader aan die hart” (269); en “Nou moet Esther en Vilonel maar sê wat hulle te sê het. Om nie van daardie Catharina te vergeet nie! Maar die vreemdste ding, en dit moet ek ook bely, is dat ek haar nooit self kon hoor praat nie. Sy is die enigste een wat deur Esther op hierdie bladsye beland het” (370).

Dit blyk ook mettertyd dat hierdie ek-verteller, oftewel skrywer van die teks, ’n persoonlike betrokkenheid by die Grensoorlog het, net soos die werklike skrywer Strachan. Hy verwys byvoorbeeld na Bullet se notas oor die Grensoorlog as “my notas” (179) en verwys ook daarna dat Bullet die Suiderkruis as rigtingaanwyser gebruik “nes dit altyd ons s’n was” in die weermag (221). Hy is veral vasberade  dat Esther die notas of manuskrip oor die Grensoorlog moet lees. Wanneer Esther Bullet se notas uit sy kar neem en dit begin lees, sê hy: “Dalk is hierdie voorstelling nou effens oordrewe, maar ek sou tog wou hê dat dit een of ander indruk op haar maak” (272). Wanneer Esther verdiep raak in Henriette se dagboek, meen hy: “Esther sit nou met die dagboek opgeskeep, nie met die manuskrip nie. Dis op die manuskrip wat sy moet konsentreer. Dis nie hoe ek dit wou gehad het nie” (318). Die bewusmaking van die belangrikheid van die Grensoorlog naas die Anglo-Boereoorlog is dus eintlik sý agenda eerder as Bullet s’n. Hy wil haar bewus maak daarvan “dat oorloë aan mekaar gebind word asof dit momente is van dieselfde verhaal” (319). ’n Mens kan verder aflei dat die roman se sterk klem op verskillende soorte verraad daarop gemik is om die leser bewus te maak daarvan dat daar ook in die Grensoorlog sprake was van verraad. Miskien is die boodskap wat hy so naarstig aan Esther wil oordra dat daar verraad gepleeg is teen die grenssoldate, wat opgelei is om vir ’n onregverdigbare saak te veg en wat na die oorlog geïgnoreer is deur die politieke leiers wat hulle die oorlog ingestuur het.

Hy verduidelik uiteindelik in die slothoofstuk sy posisie as dié van “die skilder wat deel wou wees van sy skildery” (370) en daardeur die volledige beheer oor sy karakters prysgegee het. Aan die slot van die roman staan die skrywer en luister hoe Esther en Bullet met mekaar praat. Esther verseker Bullet dat sy notas wel ’n weg na haar studie gevind het (372); hy vertel haar dat hy op pad is (soos wat die manlike karakters in Strachan se oeuvre dikwels is: “As jy aanhou beweeg, is daar nie eensaamheid nie,” skryf die hoofkarakter in Die jakkalsjagter). Hierna sê Esther vir Bullet dat Vilonel ook ’n paar maal van Senekal af weggery het, maar dat hy Senekal nooit “vir goed” agtergelaat het nie (374). Dit sou kon beteken dat Bullet kan wegry, maar daar geen manier is waarop ’n mens jou verlede kan ontvlug nie. Die hede ís dus verbind met die verlede.

Dit is betekenisvol dat die roman hierna eindig met ’n toneel waar Vilonel met sy verkyker kyk hoe drie van sy makkers in die Orange River Colony Volunteers deur die Boere tereggestel word. Die klank van die geweerskote dra tot by Vilonel eers nadat die tereggesteldes reeds agteroor in hulle grafte geval het. Hierdie verstilde toneel speel asof in vertraagde aksie af en suggereer dat die weerklank en nadraai van oorlog nog steeds deur die lug trek om die nageslag te affekteer.

4. Ten slotte

Strachan keer met Brandwaterkom terug na vraagstukke in verband met die geskiedenis wat reeds die afgelope dertig, veertig jaar groot prominensie in die Afrikaanse letterkunde geniet, maar slaag tog daarin om ’n vars perspektief daarop te gee. Sy uitwys van die raakpunte én verskille tussen die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog bring ’n nuwe invalshoek. Dit is veral die idee dat verskillende oorloë “momente is van dieselfde verhaal” wat stof tot nadenke bied. ’n Mens sien uit daarna dat Strachan in sy verdere werk die raamwerk van die “verhaal” waarin hierdie twee oorloë met mekaar verbind is, in groter besonderhede uitwerk nadat hy dit op so ’n evokatiewe wyse in Brandwaterkom gesuggereer het.

Sy hantering van die skrywersfiguur wat tegelyk binne die teks is en dit van buite manipuleer, sluit aan by die metafiksionele strategieë wat tipies was van die postmodernistiese tekste van die 1980’s en 1990’s. Deur die verglyding van die karakter Bullet met die skrywer binne die teks en die werklike skrywer Strachan verkry die gegewe egter ’n bepaalde kompleksiteit en onmiddellikheid. Verder skep die lewendige rekonstruksie van die Anglo-Boereoorlog, die liriese evokasie van ruimtes soos die Brandwaterkom en Dwaalpoort en die geloofwaardige karaktertekening ’n roman wat die leser se aandag uit die staanspoor  vasvang en deurgaans behou.

Bibliografie

Coetzee, Christoffel. 1998. Op soek na Generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad: Queillerie.

De Vries, Willem. 2015. Verhaal oor oorloë “groot uitdaging”. Onderhoud met Alexander Strachan. Die Burger, 3 Augustus, bl 13.

Grundlingh, Albert. 1979. Die “hendsoppers” en “joiners”. Die rasionaal en verskynsel van verraad. Kaapstad, Pretoria: HAUM.

—. 2006. The Dynamics of Treason. Boer Collaboration in the South African War of 1899–1902. Pretoria: Protea Boekhuis.

Smith, Charles. 2012. Foto-skat gekry. Beeld, 1 September, bl 3.

Strachan, Alexander. 1990. Die jakkalsjagter. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2015. Brandwaterkom. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Merwe, Chris. 1998. Verhale oor die Anglo-Boereoorlog. Literator, 19(3):85–97.

Van Eeden, Erika. 2013. As kranse kon praat … Die Volksblad, 5 Augustus, bl 5.

Viljoen, Lettie. 1990. Belemmering. Bramley: Taurus.

  • 1

Kommentaar

  • Die saamvleg van al die verskillende stemme oor verskillende historiese tydperke was soms verwarrend maar dit was 'n goeie verwarring - dit dra by tot die kompleksiteit van ons geskiedenis en hoe diep genuanseer ons menslike ondervinding kan wees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top