LitNet Akademies (Opvoedkunde): Bekendstelling

  • 0

26 November 2014
Van die Redaksie

LitNet Akademies brei uit na Opvoedkunde

  • Geakkrediteerde akademiese aanlyn tydskrif
  • Waarnemende redakteur van LitNet Akademies (Opvoedkunde) is dr. Francis Galloway
  • Verdien R7 000 per portuurbeoordeelde artikel direk in jou sak bo en behalwe die normale subsidievloei vir navorsing
  • LitNet Akademies vra geen bladgelde nie.


LitNet Akademies

LitNet Akademies is die bekende webwerf LitNet (www.litnet.co.za) se afdeling of node vir portuurbeoordeelde Afrikaanse navorsingsopstelle. Dit is reeds sedert Februarie 2008 by die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys geakkrediteer.

LitNet Akademies staan onder hoofredakteurskap van prof. Etienne van Heerden en bestaan nou uit vyf bene, naamlik Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Regte, Godsdienswetenskappe en die afdeling vir Opvoedkunde. LitNet Akademies (Opvoedkunde) bevat opvoedkunde-verwante artikels wat alles deel van LitNet Akademies vorm. Alle tradisionele vakgebiede op die terrein van opvoedkunde word hierby ingesluit. Dit sluit alle studies in oor onderwerpe wat deur akademiese en ander opvoedkundiges belangrik geag word. Adviesraadslede vir hierdie afdeling sal mettertyd aangestel word. Die waarnemende redakteur van LitNet Akademies (Opvoedkunde) is dr. Francis Galloway.


Opvoedkunde
Francis Galloway
E-pos: francis@litnet.co.za

Bioskets


LitNet Akademies
(Opvoedkunde) skakel nóú met ons onderafdelings vir die Basiese en Toegepaste Natuurwetenskappe, Geesteswetenskappe, Regte en Godsdienwetenskappe. Elke artikel wat hier gepubliseer word, is dus deel van ’n multidissiplinêre en dinamiese benadering binne ’n hiperteksomgewing.

Hierdie geakkrediteerde gedeelte van LitNet is volkome geïntegreer met die LitNet-hiperteksomgewing: Die akademiese artikels wat hier geskakel word, word aangevul deur LitNet-onderhoude, videogrepe op LitNet se YouTube-kanaal, aanlyndebatte op LitNet se SeminaarKamer en resensie-essays in ons node Boeke en skrywers.

  • LitNet Akademies is ’n ooptoegangtydskrif en skrywers behou kopiereg op artikels en ander materiaal.
  • LitNet Akademies vra geen bladgelde van bydraers nie.

 LitNet Akademies (Opvoedkunde): Nog inligting

LitNet Akademies (Opvoedkunde) kom in die volgende ononderhandelbare opsigte met tradisionele opvoedkunde-vaktydskrifte ooreen:

  • Dit bestaan grotendeels uit die volledige rapportering van nuwe navorsing, maar bevat ook oorsigartikels oor aktuele onderwerpe en onlangse navorsing.
  • Elke gepubliseerde artikel is deur minstens twee keurders aanbeveel.

LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskil in ’n paar belangrike opsigte van tradisionele vaktydskrifte:

  • Daar is geen papieruitgawe nie: alles is slegs elektronies beskikbaar. Vanweë hierdie formaat is daar geen beperking op die lengte van artikels nie. Nadat die keur- en redigeerproses afgehandel is, word alle bydraes so gou moontlik op die internet geplaas om sodoende die bekendmaking van nuwe navorsing te bespoedig.
  • Daar is geen intekengeld nie: alles is gratis beskikbaar vir enige besoeker aan die webwerf.
  • ’n Hoër vlak van joernalistieke bedrewenheid word van skrywers verwag (kyk asseblief hier onder watter eienskappe artikels moet hê).
  • LitNet Akademies betaal R7 000 per artikel direk aan skrywers van gekeurde bydraes. Navorsers kwali?seer daarbenewens steeds vir insluiting by die normale subsidiestelsel via hulle onderskeie universiteite of ander instellings.
  • Keurders word vir hulle tyd en moeite vergoed.
  • Geen bladgelde word gehef nie.

’n Artikel in LitNet Akademies het die volgende eienskappe:

  • Dit moet in Afrikaans wees.
  • Die hoofdeel van die artikel lyk op ’n haar na soos ’n tipiese artikel in ’n toonaangewende vaktydskrif, en is ewe oorspronklik en van dieselfde hoë gehalte.
  • Die artikel word vergesel van ’n uitgebreide Engelse opsomming, gemik op kundiges op die betrokke vakgebied, met al die belangrikste resultate behoorlik in konteks uiteen­gesit. Die opsomming moet tussen 1 000 en 1 500 woorde lank wees.
  • Die inleiding van die artikel is op byna-populêr-wetenskaplike vlak. Die bedoeling is dat enige leser van LitNet die inleiding grotendeels moet kan volg. Die volgende dien as algemene riglyn: ’n graad in geesteswetenskappe of opvoedkunde behoort voldoende te wees vir iemand om die hele inleiding te verstaan.
  • Bestaande Afrikaanse vaktaal word gebruik vir sover dit van toepassing is, en nuwe vaktaal word desnoods geskep.

Die verwagte leserspubliek van LitNet Akademies bestaan uit:

Artikels vir LitNet Akademies se Opvoedkunde-afdeling kan nou voorgelê word. Besoek LitNet Akademies se webblad vir verdere inligting, asook vir die stylriglyne.

Laat ons ook gerus weet indien u belangstel om met die portuurbeoordeling van artikels te help. Stuur asseblief ’n kort CV, insluitend ’n aanduiding van u spesialiteitsveld, aan akademies@litnet.co.za. Keurders ontvang tans R1 000 per keuring.

Bydraes of navrae kan gestuur word aan die waarnemende Opvoedkunde-redakteur, Francis Galloway, by akademies@litnet.co.za, of skakel die LitNet-kantoor by 021 886 5169.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top