LitNet Akademies: Nadia Marais gee haar mening oor die veelduidigheid van tekste

  • 0

Nadia Marais reageer op die artikel “Oor die veelduidigheid van tekste” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Bernard Lategan.

Fronese1 en die veelduidigheid van tekste

Inleiding

Bernard Lategan huldig in sy miniseminaar “Oor die veelduidigheid van tekste” die opinie dat die veelduidigheid van tekste “’n onomseilbare gegewe in die huidige opset is”, wat hy bespreek aan die hand van taalkundige, literêre, historiografiese en filosofiese gegewens. Die implikasies van so ’n verstaan van tekste kan egter nie beperk word tot bloot teoretiese of metodologiese besinning en herbesinning (so belangrik as wat hierdie is!) nie, maar het waarskynlik wyer gevolge – inderdaad, “interpretasie het konkrete gevolge”, volgens Lategan. Lategan se seminaar herinner sterk aan David Kelsey se hantering van die konsep van die Christelike kanonieke Heilige Geskrifte in sy onlangse boek, Eccentric Existence (2009), waarin hy bybelse tekste as tekste konstrueer wat as gesagvol gelees behoort word vir die beoefening van wat hy noem “sekondêre teologie”.2 Hierdie artikel het ten doel om te reageer op Lategan se miniseminaar aan die hand van Kelsey se verstaan van Christelike kanonieke Heilige Geskrifte in sy teologiese antropologie, en wil veral Kelsey se konsep van fronese in gesprek bring met Lategan se veelduidigheid van tekste.

Fronese in interpretasieprosesse

Vir Kelsey funksioneer tekste binne die gesamentlike interpretasie en gedeelde lewe van gemeenskappe, en is bybelse tekste dan ook “texts that are lived within the common life of certain ecclesial communities that explicitly trust that God works through the communities’ employment of those texts to call them into being” (2009:137; skuinsdruk in oorspronklike teks).

Kelsey maak in sy denke oor die funksionering van tekste (en dan, by name, veral bybelse tekste binne die konteks van sy breër teologies antropologiese projek) groot erns met die belangrikheid van sekere tipes belange of stelle belange wat die bestudering van tekste rig en bepaal. Dit sou dan vir hom juis hierin wees dat die interpretasie van tekste in veelduidigheid uitmond: “different types of interests construe the same texts as different types of things” (2009:133). Hiermee vervat Kelsey nie alleen taalkundige of literêre elemente nie, maar sou hy ook verwys na historiografiese en filosofiese elemente, om die struktuur van Lategan se bespreking in verband te bring met Kelsey se verstaan van interpretasieprosesse en hermeneutiek. Kelsey verwys dan ook baie spesifiek na die bestudering van tekste met literêre belang, instrumenteel historiese belang, en sosiale wetenskaplike belang (wat elkeen uit eie reg interpretasie van tekste in ’n klomp verskillende rigtings kan begelei, maar wat nie as wedersyds uitsluitend beskou of hanteer behoort te word nie), wat hy dan ook as drie dissiplines vir die bestudering van tekste hanteer.

’n Vierde belang en dissipline in die spesifieke interpretasie van tekste is fronese. Kelsey verstaan fronese as “practical know-how” wat “practical reasoning” behels en ’n “mode of critical and self-critical knowing” beskryf (2009:142). Uitnemendheid in praktiese redenering benodig die verkryging van ’n verskeidenheid bekwaamhede en ingesteldhede, wat ten minste die kapasiteite vir goeie oordeel, verbeelding en ervare persepsie (“trained perception”) behels, hoewel die ingesteldhede (“dispositions”) wat ontwikkel behoort te word afhang van die spesifieke gebruik waarbinne fronese beoefen word.

Kelsey beskou goeie oordeel eerstens as kern tot fronese, en beskryf dié as die kapasiteit vir eerlikheid, kritiese selfkennis en ’n verskeidenheid ander algemene ingesteldhede, asook as spesifieke ingesteldhede vir goeie oordeel in die sekondêre teologie, soos danksegging, toewyding tot en vertroue in God.

Fronese het tweedens te make met verbeelding (wat Kelsey spesifiek as “paradigmatiese verbeelding beskryf) en wat veral twee kapasiteite veronderstel. Die eerste is die kapasiteit om die patroon van ’n komplekse geheel (wat daardie geheel maak wat dit is) te herken – die patroon funksioneer paradigmaties deurdat dit ’n normatiewe voorbeeld is van die onderliggende struktuur van die geheel. Die tweede is die kapasiteit om die beeld van die onderliggende struktuur van ’n komplekse geheel op ’n verskeidenheid maniere te gebruik – aangesien “Imagination is the means by which we are able to represent anything not directly accessible, including both the world of the imaginary and recalcitrant aspects of the real world” (Green 1989:66 in Kelsey 2009:143–4; skuinsdruk in oorspronklike teks). Fronese wat die bestudering van tekste, ook bybelse tekste as Heilige Geskrifte, dissiplineer, is besonder afhanklik van paradigmatiese verbeelding sover bestudering bepaal en gerig word deur spesifieke belange en stelle belange in tekste. In Kelsey se projek word dit bepaal deur die belang in die verskillende wyses waarop God in verhouding staan met alles wat nie God is nie (en menslike wesens spesifiek) en hoe hierdie verskillende realiteite en wesens (weer eens, menslike wesens spesifiek) op die verhouding met God en mede-lewende-wesens reageer.

Derdens behels fronese ervare persepsie wat relevant is tot die praktyke wat onderliggend is aan gemeenskaplike lewe en interpretasie. Inderdaad, “Phronesis also involves trained capacities to perceive other human beings, oneself, and various features of the context of their communal and personal lives, in ways relevant to the practices that constitute their common life” (2009:145). Interessant genoeg sien Kelsey ook hierin die kapasiteit om te verbeel – wat, indien Green se konsep van “paradigmatiese verbeelding” hier sou dien, “the ability to image the paradigmatic pattern that is the constitutive pattern of the complex whole that is the object of perception” (2009:145) behels. Verbeelding en persepsie beweeg dus baie naby aan mekaar in Kelsey se verstaan van fronese. Kelsey onderskei egter duidelik tussen handelinge van persepsie en handelinge van interpretasie. Waar handelinge van interpretasie doelbewus en opsetlik uitgevoer word, is persepsie nie noodwendig doelbewus of opsetlik nie, en word persepsie konseptueel gevorm deur bepaalde dissiplines. Dus, “Excellent exercise of phronesis requires the cultivation of certain imaginative and conceptual capacities that are the precondition of abilities to perceive oneself, others and the contexts we share in ways that are relevant to particular practices in which practical reasoning is to be exercised” (2009:145).

Fronese is dus vir Kelsey ’n dissipline waarin goeie oordeel, verbeelding en bepaalde persepsies gekultiveer moet word (wat elk weer uit eie reg ’n reeks meer spesifieke ingesteldhede en kapasiteite behels wat gekultiveer moet word), en binne sy projek is dit kern tot die praktyk van sekondêre teologie waartoe sy projek stem (in die besonder vir sy besorgdheid dat bybelse tekste sekondêre teologie verantwoordbaar moet hou). Fronese is egter binne so ’n beskrywing nie alleen ’n vierde dissipline vir Kelsey in die interpretasie van tekste nie, maar is kern tot elke belang en ingesteldheid en kapasiteit wat studie van tekste op ’n bepaalde wyse sou dissiplineer en stem. Dit is van uiterste belang vir Kelsey, aangesien ander dissiplines (literêr-krities, histories-krities, sosiaal-wetenskaplik) nie net in ’n groot mate verryk word deur die praktiese wysheid en redenering van fronese nie, maar ook kern is tot enige soort sinvolle interpretasie wat konkrete gevolge sou kon hê. Inderdaad, “technical information is not self-interpreting” (2009:147) en daarom sou gesê kon word dat “Phronesis is central to every discipline that is appropriate to each of the types of interest that may govern study of biblical texts” (2009:147), hoewel die argument waarskynlik ook vir tekste in ’n breër sin uitgemaak sou kon word.

Fronese het dus telkens te make met meer algemene ingesteldhede en kapasiteite (wat goeie oordeel, verbeelding en ervare persepsie in die breë beskryf) en meer spesifieke ingesteldhede en kapasiteite (wat goeie oordeel, verbeelding en ervare persepsie vir ’n spesifieke doel of binne ’n spesifieke konteks beskryf).

Veelduidigheid van tekste

In Lategan se bespreking van die taalkundige aspekte van die veelduidigheid van tekste argumenteer hy dat taal binne bepaalde sisteme funksioneer. Binne hierdie sisteme word bepaalde literêre strategieë, veral in die resepsie van tekste, ingespan om sin te maak van tekste binne en deur interpretasieprosesse. Geskiedskrywing speel verder sterk in op die narratiewe prosesse van die resepsie van tekste, deurdat die veelduidigheid van herinnering slegs gemedieerde ervaring kan wees (Ricoeur). Die prosesse van seleksie, reduksie en konsentrasie wat in hierdie interpretasiedinamiek aanwesig is (in terme van interpretasie op taalkundige, literêre en historiografiese vlakke), is vir Lategan bronne van surplusenergie en -betekenis “wat eenvoudig nie anders kan as om in die diversiteit en veelduidigheid van interpretasie hul uitlaatklep te vind nie”.

Kelsey argumenteer, soos Lategan, baie sterk vir veelduidigheid van tekste: “Instead of defining the task of interpretation in terms of explaining a text’s meaning, a counterproposal is, as Stephen Fowl puts it, to frame disputes about the interpretation of a text ‘in terms of varied and diverse interpretive aims, interests and practices’” (Fowl 1998:58 in Kelsey 2009:134). Kelsey huldig dus nie alleen die opinie dat hierdie verskillende belange in interpretasieprosesse behels dat die bestudering van tekste op verskillende maniere gedissiplineer word nie (“They help to determine interpretation in its kind” (2009:135)), maar dat die interpretasie van tekste uiteindelik onbepaald gelaat behoort te word.

In sy bespreking van die veelduidigheid van tekste gee Lategan aandag aan ’n vierde dimensie van interpretasieprosesse, naamlik die filosofiese aspekte daarvan. Hiervoor fokus hy veral op imaginatio se “skeppende vermoë om alternatiewe moontlikhede en werklikhede te bedink”, wat Kearney beskryf as die kreatiewe interaksie tussen dit wat teenwoordig en dit wat afwesig is (“verbeelding put sy krag uit hierdie basiese jukstaposisie”). Vir Lategan, via Kearney, is verbeelding dus nie “persepsie van wat (reeds) teenwoordig is nie, maar die aktivering van wat afwesig is”. Kelsey se vierde belang of dissipline behels ook verbeelding, binne die groter geheel van fronese. Vir Kelsey, soos vir Lategan, behels verbeelding die ruimte waar die jukstaposisie van wat teenwoordig en afwesig is in taal en in interpretasie van tekste plaasvind en waar kreatiewe moontlikhede vir die ontwikkeling van konstruktiewe diskoers dus geskep en uitgewys word. Hierin word dit toenemend duideliker dat veelduidigheid as bate (eerder as probleem) funksioneer, hoewel die invloed van tradisie en persepsie op veelduidige interpretasies en verstane van tekste voortdurend verreken moet word.

Lategan se bespreking van die veelduidigheid van tekste bring ’n belangrike en implisiete dinamiek in Kelsey se bespreking van Christelike kanonieke Heilige Geskrifte na vore, en gee veral ’n duideliker prentjie van die interne diversiteit en veelduidigheid van interpretasieprosesse weer waarop Kelsey self staatmaak, maar nie veel op uitbrei nie. Kelsey dui die intieme verhouding tussen verbeelding (waarop Lategan in ’n groot mate steun vir sy hantering van die konsep veelduidigheid) en fronese aan, wat in Lategan self nie veel aandag geniet nie, maar wat ’n goeie bydrae tot die verstaan van die veelduidigheid van tekste sou kon lewer. Indien interpretasie dus wel konkrete gevolge het, soos wat Lategan in sy artikel beweer, sou fronese waarskynlik ’n kernrol speel in die interpretasie van juis veelduidige tekste.

Op hierdie punt sou ek graag in ’n spesifieke bespreking Lategan se “paradigmatiese verhoudinge” en “paradigmatiese alternatiewe” (na gelang van Eliade), en Kelsey se “paradigmatiese verbeelding” nader aan mekaar wou bring.

Lategan beskryf paradigmatiese verhoudinge as die wisselwerking tussen aanwesige en afwesige elemente in hermeneutiek (naamlik dat “die lid van die paradigma wat wel gekies word, medebepaal word deur die alternatiewe wat nie gekies word nie”) waarbinne paradigmatiese alternatiewe ander en diverse moontlikhede vir interpretasie bied. Ek fokus daarom op een spesifieke element wat herhaaldelik aandag geniet in Lategan se bespreking, en wat as ’n soort goue draad blyk te funksioneer regdeur sy seminaar, naamlik die teenwoordigheid van beide gekose én niegekose elemente (wat Lategan noem “gelyktydige teenwoordigheid”) in taal. Hierna keer hy telkens terug in sy aanbieding, sodat hy taalkundig aandag gee aan Saussure se sintagmatiese en assosiatiewe elemente in die geheue van taalgebruikers, literêr nadink oor die dialektiek tussen eksplisiete en implisiete elemente in tekste, historiografies argumenteer vir die mediëring tussen verlede en toekoms in prosesse van singewing (in die hede), en filosofies tussen persepsie en verbeelding (wat hy, na aanleiding van Kearney, beskryf as ’n kreatiewe interaksie tussen dit wat teenwoordig en dit wat afwesig is) beweeg.

Kelsey beskryf paradigmatiese verbeelding as ’n tweeledige kapasiteit, naamlik om ’n onderliggende patroon van ’n groter geheel binne interpretasie te identifiseer, en om die patroon op verskillende maniere te kan inspan om sin te maak van persepsies en interpretasies van tekste, in hierdie konteks. Hierin sou dieselfde dinamiek tussen afwesige en teenwoordige elemente as in Lategan identifiseer kon word, naamlik die wisselwerking tussen wat aanwesig is in ’n patroon van ’n groter geheel en wat moontlik, maar noodwendig afwesig, is binne dieselfde patroon (hoewel juis hierdie tweede kapasiteit behels dat kreatiewe moontlikhede identifiseer word om die patroon van die groter geheel anders te konstrueer of te verstaan).

In ’n oefening om Kelsey en Lategan saam te lees oor die veelduidigheid van tekste, speel fronese dus in op tekste deur beide konkreet en partikulêr om te gaan met bepaalde interpretasies en verstane van tekste wat wel gekies word en gehandhaaf word binne veral religieuse tradisies, én universaliteit te wil voorstaan deur onderliggende patrone van ’n groter geheel te identifiseer en op bepaalde maniere te gebruik. Die sogenaamde praktiese wysheid van fronese sou dus allermins alléénlik tradisionele interpretasies van tekste ondersteun, maar sou kreatiewe moontlikhede vir nuwe en ander interpretasies en verstane van tekste skep deur die gebruik van goeie oordeel, verbeelding en ervare persepsie.

Fronese en veelduidigheid

Vir Lategan is kreatiewe hermeneutiek ’n “hermeneutiek van gesprek”, en daarom word dialoog beskou as kern tot die ontwikkeling van konstruktiewe diskoers, wat ’n “gewillige vennoot”, “basis van vertroue”, “demonstrasie van solidariteit” en “situasie van werklike gelykheid” vra indien die moontlikheid gebied sou word vir “gelyke geleenthede om tot ’n ander resultaat te kom”. Deur toe te laat dat fronese ’n vormende invloed op hierdie dialoog uitoefen, word daar nie alleenlik parameters (wat waarskynlik self veelduidig sou wees) daargestel vir die interpretasie van tekste nie, maar word verbeeldingryke kreatiwiteit en die konkrete partikulariteit van die interpretasie van tekste byeengebring, sodat die konkrete gevolge van fronese nie slegs in een rigting plaasvind nie (naamlik dat praktiese wysheid die gevolg is van bepaalde interpretasies nie), maar self ’n vormende invloed op interpretasie sou kon uitoefen – wat, uiteraard, weer nuwe moontlikhede, juis binne die dinamiek van aanwesige en afwesige elemente in interpretasie, vir die veelduidigheid van tekste sou kon skep. Deur Kelsey as gespreksgenoot in Lategan se bespreking van die veelduidigheid van tekste in te voer dui dus nie alleen die moontlike rol aan wat fronese sou kon speel in die verstaan en interpretasie van tekste as divers en plooibaar nie, maar beklemtoon ook die belangrikheid van ’n verstaan van veelduidigheid binne religieuse tradisies – en veral waar bybelse tekste die gewig dra van “standards of excellence” waaraan die beoefening van sogenaamde sekondêre teologie moet voldoen.

Bronnelys

Crisp, R (vertaal en geredigeer). 2000. Nicomachean Ethics. Cambridge: Cambridge University Press.

Fowl, SE. 1998. Engaging Scripture. Malden: Blackwell.

Green, G. 1989. Imagining God: Theology and the Religious Imagination. Grand Rapids: Eerdmans.

Kelsey, DH. 2009. Eccentric Existence. A Theological Anthropology. Louisville: Westminster John Knox Press.

Eindnotas

1 Daar is ’n paar uitdagings rondom die vertaling van hierdie woord. Fronesis is een van Aristoteles se drie vorme van kennis (waaronder ook techne en episteme) wat, onder andere, in sy Nicomachean Ethics bespreek word (Crisp 2000). Die Griekse woord φρÏŒνησις word in Engels aangedui as phronesis en sou waarskynlik in Afrikaans as fronesis geskryf kon word indien dit getranslitereer word. My gebruik van fronese word dus as nuutskepping ingevoer in hierdie artikel om die Griekse woord φρÏŒνησις weer te gee sonder om dit in Afrikaans te hoef te translitereer na fronesis, hoewel die twee woorde uiteraard baie naby aan mekaar sou lê.

2 Hiermee verwys Kelsey na ’n tweede vlak van teologiese beoefening (waar primêre teologie ’n eerste vlak van teologiese beoefening wil beskryf) wat die aannames en voorveronderstellings van primêre teologie herevalueer en herinterpreteer (Kelsey 2009:132–3). Daarom is dit ook “inherently and analytically descriptive, critical and revisionary practice” (2009:21).

 

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top