LitNet Akademies: ’n Stuiwer in die armbeurs van die debat oor die akkommodering van meertaligheid in Suid-Afrika

  • 0

Hennie Strydom reageer op die artikel “’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Koos Malan.

Die suksesvolle akkommodering van meertaligheid in ’n staat en die beskerming van die gepaardgaande regte van verskillende taalgemeenskappe berus op hoofsaaklik twee elemente. Die eerste het te doen met ’n mens se regsteoretiese perspektief op die aard en funksie van die staat, en die tweede met die praktiese hantering van meertaligheid binne die regsorde en as integrale deel van staatsfunksies. Wat eersgenoemde betref, kan uit ’n bepaalde perspektief geredeneer word dat die staat per definisie ’n publieke regsorde is wat op die basis van geregtigheid en ewewigtigheid moet omsien na die verskeidenheid van regsbelange van individue en niestaatlike entiteite. Ons sien iets hiervan in ons eie grondwet, wat in artikel 1 na die oppergesag van die reg verwys en in artikel 36 na ’n belange-afweging streef wanneer teenstrydige aansprake en inbreukmaking op fundamentele regte en vryhede hanteer moet word.

Wat die tweede element betref, het ’n mens te doen met die vraag na die owerheid se bestuursvermoë en -vaardigheid. Die praktiese akkommodering van meertaligheid verg ’n gesofistikeerde regulatiewe raamwerk en behoorlik-geskoolde amptenary wat by die uitvoering van hulle pligte professionele oordeel eerder as party-politieke sentimente aan die dag lê. Koos Malan het in sy bydrae reeds die gebreke met die regulatiewe raamwerk en die gevolge van die kragte wat daarop inspeel, behandel. In hierdie bydrae word met ’n breër kwas geverf wat daarop gerig is om die lig op die dieper liggende krake in ons sosiopolitieke bestel te laat val wat veel meer in die slag kan laat bly as die akkommodering van meertaligheid.

As vertrekpunt is dit gepas om kortliks te wys op ’n belangrike en beslissende historiese oomblik in die proses van staatsvorming in die 19de eeu en daarna. ’n Argetipiese en metafisiese norm vir die destydse oriëntering was die versmelting tussen politieke organisasie en ’n spesifieke, homogeen-dominante kultureel-linguistiese gemeenskap wat as templaat vir die vorming van die nasiestaat gedien het en noodgedwonge moes uitloop op ’n interafhanklikheid tussen politieke en kulturele lidmaatskap, regte en verpligtinge. Met die idee dat die staat bloot die politieke organisasie van ’n homogene kultureel-linguistiese gemeenskap is, is eentaligheid onproblematies verhef tot voorwaarde vir nasionale eenheid wat die staat veronderstel was om te handhaaf deur middel van vrywillige of gedwonge assimilasie.

Hierdie vorm van staatkundige ontwikkeling was die eerste stap na die politieke marginalisering van die sogenaamde “nienasionale” of “vreemde” kulture en die nasionalisering van die samelewing in die sin dat alle samelewingsinstellings, hetsy ekonomies, opvoedkundig, polities of sosiaal, die karaktereienskappe, belange en strewes van die gemeenskaplike en nasionale wil moes weerspieël. Die staat as politieke vorm en organisasie van ’n etnies-nasionale gemeenskap was in hierdie sin omvorm tot ’n politieke instrument vir kulturele oorlewing, ’n draaiboek vir die vergrype wat sou kom in die vorm van die Nazi-diktatuur, bolsjevisme, apartheid en etniese suiwering. (Sien H Münkler, Die Nation als Modell politischer Ordnung (1994 Suhrkamp, Frankfurt am Main), 367; J Habermas, Die Einbeziehung des Anderen: Studien zur politischen Theorie (1996 Suhrkamp, Frankfurt am Main), 17; ook die volgende treffende opmerking van T Schieder, Nationalismus und Nationalstaat (1992 Vandenhoeck & Ruprecht, Berlin), 80: “Sprachenkampf gegen Andersnationale war fast immer der Anfang einer Politik, die allmählich auch mit anderen Mitteln daran ging, nationale Homogenität in Nationalstaat mit Zwang und Gewalt herbeizuführen. Glaubte das 19. Jahrhundert mit der Sprache manipulieren, sie zu einem instrument der Macht miβbrauchen zu können, so manipulierte das 20. Jahrhundert mit den Menschen selbst.”)

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons meer noukeurig moet aandag gee aan die politieke ideologieë wat ten grondslag lê aan die oortuigings en sienswyses van die drieledige regeer-alliansie wat na 1994 beheer van sake in die land oorgeneem het.

Reeds in die tagtigerjare is ons vergas met ’n reeks opstelle oor wat die rekonstruksie van die postapartheidstaat vanuit ’n Marxisties-Leninistiese perspektief inhou. In The National Question in South Africa (M van Diepen (red) 1988) onderrig die skrywers – onder wie prominente lede van die regerende alliansie – die Suid-Afrikaanse publiek in die intriges van die uiteindelike oogmerk van die bevrydingstryd, naamlik die sosialistiese rekonstruksie van Suid-Afrika. Die klas wat vir hierdie messiaanse taak geoormerk is, is die swart werker, deur wie ons nie alleen by ons sosialistiese toekoms sou aanland nie, maar deur wie ons die werklike verdieping van nasionale eenheid in ons ekonomiese, politieke en kulturele lewe sou ervaar. Slegs op hierdie wyse, word ons vertel, kan ons een nasie word, aangesien nasiebou, in hierdie sin, niks anders beteken nie as die vereniging (“unification”) van die werkersklas, wie se kultuur, aspirasies en ekonomiese belange toenemend die kultuur, aspirasies en ekonomiese belange van die meerderheid moet word.

In 1996 lig twee nuutverkose parlementslede vanuit ’n Marxistiese perspektief op nasionalisme en nasionale eenheid en identiteit die sluier oor wat gedoen moet word met die oënskynlik hardnekkige voortbestaan van etniese, ras- en ander identiteite in postapartheid-Suid-Afrika. Die uitdaging, so word geredeneer, is om die nasionale demokratiese revolusie te laat uitbrei tot buite die huidige beperkte aspirasies, soos demokratisering, nierassisme en nasionale selfbeskikking, en tot ’n meer volmaakte fase waartydens ’n sosialistiese nuwe nasie tot stand sal kom, gebaseer op die kultuur, waardes en belange van die swart werkersklas. Die belofte wat hierdie toestand inhou, is ’n uitwissing van die huidige verdelings in die samelewing aangesien die hegemoniale werkersklas en dié se ekonomiese belange slegs kulture, waardes en belange sal “duld” wat met die werkersklas s’n bestaanbaar is. Wanneer ons deur hierdie smeltkroes gegaan het, sal selfs ons verstaan van begrippe soos nierassisme verander, aangesien dit ’n spesifieke werkersklasinhoud sal kry, ’n resultaat wat ook die nuwe handves van regte en grondwetlike erkenning van diversiteit nie onaangetas sal laat nie (Y Carrim en P Dexter 1996).

Die standpunte hier bo herinner aan die Nederlandse regsfilosoof, Van Eikema Hommes, se vergelyking van die Marxisties-Leninistiese profesie oor die komende klaslose kommunistiese samelewing met ’n gesekulariseerde, eskatologiese geloof in die finale bevryding van die mensdom. In hierdie skema neem die proletariaat die rol aan van die Groot Verlosser wat die mens se sondeval (die toestand van vervreemding meegebring deur kapitalistiese uitbuiting) ongedaan sal maak (HJ van Eikema Hommes 1979).

Dit is egter te betwyfel of die ekstreme en taamlike kru Marxistiese analises hier bo nog hoofstroomdenke in Suid-Afrika verteenwoordig. Wat egter steeds blyk voort te leef, is die Marxistiese verstaan van die totstandkoming van moderne state, gebaseer op Marx se waarneming van die proses in Wes-Europa, veral in revolusionêre Frankryk, en dat dit steeds ten grondslag lê aan die alliansie se opvattings oor nasionale ontwikkeling, nasionale eenheid en die sogenaamde nasionale demokratiese revolusie, laasgenoemde synde die gemene deler tussen die alliansielede.

Volgens Marx se verstaan van staatsvorming is elke vorm van nasionalistiese ideologie en die daardeur geïnspireerde handelinge gerig op die vorming en konsolidasie van nasionale state. Gevolglik word alle nasionale bewegings en nasionale minderhede gedefinieer in terme van hulle funksionaliteit, dws in terme van hulle rolle in die teweeg bring van die verenigde nasionale staat. Die proses van nasionale assimilasie, wat Marx nie net as hoogs nastreefbaar nie, maar as onvermydelik en onopponeerbaar gesien het, verklaar sy ongeduld met etniese minderhede en ander “reaksionêre oorblyfsels van die verlede” wat moet verdwyn om plek te maak vir sosiale vooruitgang en nasionale unifikasie (E Nimni 1995).

In ag genome hierdie ideologiese onderbou is dit van belang om aandag te gee aan die alliansie se eie opvattings oor die nasionale demokratiese revolusie. In die mondstuk van die SAKP, Umsebenzi (5(66), 18 Oktober 2006), herinner Blade Nzimande, die sekteraris-generaal van die SAKP en huidige minister van hoër onderwys, ons daaraan dat die konsep van ’n nasionale demokratiese revolusie “emerged from within Marxism-Leninism in its analysis of the unfolding national liberation struggles of the 20th century. The NDR has historically been understood as a revolution led by progressive motive forces ... to defeat repressive and colonial regimes and build peoples’ democracies ... as the most direct route to socialism.” In ’n beleidsdokument wat tydens die 52ste Nasionale Kongres (2007) aanvaar is, stel die ANC dit ook ondubbelsinnig dat die hoofoogmerk van die NDR in die besonder te make het met die politieke en ekonomiese bevryding van swart mense, wat gepaard gaan met ’n sistematiese program vir die besetting van alle magsinstellings deur die kaders wat die drywende krag agter die NDR is. Ons leer ook dat die veelvuldige identiteite in die Suid-Afrikaanse samelewing, gebaseer op klas, ras, geslag, ouderdom, taal, religie, ens, “should feed into an overarching national identity”.

Hierdie toedrag van sake word verder ondersteun deur ’n dominante populistiese politieke kultuur wat in wese assimilerend is in die sin dat elkeen opgeneem word in en saamsmelt met ’n amorfe institusionele organisme, “die mense” (“the people”), wat as organiese geheel baasspeel oor die verskeidenheid van kulturele en ander identiteite. Vanuit die perspektief van “die mense” se oorkoepelende kollektivistiese belange kan die akkommodering van diversiteit beswaarlik anders as antagonisties of reaksionêr gesien word. Sprekend hiervan is die opdrag in die ANC se beleidsdokumente dat, in die lig van die ideale van die NDR, teenstrydighede tussen die mense (“contradictions among the people”) so bestuur moet word dat dit nie die langtermynoogmerke van die “nasionale demokratiese transformasie” ondermyn nie en dat gewaak moet word teen pogings van enigeen om die “nasionale demokratiese transformasie” gevange te hou deur, byvoorbeeld, die nastreef van eng sektorale belange.

Enige half-skerpsinnige student van die materialistiese regsleer sal insien dat hierdie opvattings geen prinsipiële onderskeid handhaaf tussen staat en burgerlike samelewing nie. Trouens, die samelewing (“the people”) is die ongedifferensieerde geheel waaruit die staat as politieke beheersingsinstrument voortkom. In die bovermelde beleidsdokument lees ons gevolglik in geen onduidelike taal nie dat “the state is an organ of the people as a whole” wat deur die ANC as sodanig bestuur moet word. Dit kan gevolglik nie anders nie as dat elke handeling, optrede, aanspraak, ens wat nie meewerk aan, of nie versoenbaar is met, die oogmerke van die NDR nie, as reaksionêr of (nóg beter) teenrevolusionêr gebrandmerk word. Dit sluit waarskynlik ook “regeringsonvriendelike” hofuitsprake in! Waar ons in die 19de-eeuse nasiestaatsgedagte te doen gehad het met ’n homogene, kultureel-linguistiese gemeenskap as voorwaarde vir nasionale eenheid wat die staat deur middel van vrywillige of gedwonge assimilasie moes handhaaf, het ons met die staat as ’n orgaan van “die mense” dieselfde punt bereik. In laasgenoemde skema is die staat geroepe om as politieke instrument die kollektivistiese belange en strewes van “die mense” soos uitgedruk in die NDR, te verwesenlik. Die vraag is of diegene wat nie daartoe assimileer nie - soos die sogenaamde “nienasionale” of “vreemde” kulture van die vorige eeu - ook polities en andersins gemarginaliseer sal moet word. Dit is ironies dat Marx self by geleentheid opgemerk het dat die geskiedenis sigself herhaal, die eerste keer as tragedie, die tweede keer as klugspel! (K Marx 1869).

’n Verdere probleem is dat begrippe soos die NDR en “nasionale demokratiese transformasie” sonder veel inhoud is, behalwe vir die geykte gemeenplasighede waarna reeds vroeër verwys is. Buiten die feit dat sulke begrippe as nuttige rookskerm kan dien om besluite respektabel vir “die mense” te maak, kan dit ook gerieflikheidshalwe ’n inhoudsverandering van tyd tot tyd ondergaan wat as buitejuridiese mag verreikende implikasies vir die regsorde en die beskerming van regsbelange kan inhou. In minder as twee dekades na die eerste demokratiese verkiesings het ons by ’n punt gekom waar ons oor die volgende vrae moet besin: Wat geld as die werklike grondwet van die land: Wet 108 van 1996 of die “nasionale demokratiese revolusie”? En tweedens, waar sit die werklike regering, in die Uniegebou of in Luthuli Huis?

 

Bibliografie

Carrim, Y en P Dexter. The African Communist, 3de kwartaal, 1996, 49 en 59 respektiewelik.

Marx, K. The Eighteenth Brumaire of Louis Bonaparte (1869, Hamburg).

Nimni, E. “Marx, Engels and the National Question” in W Kymlicka (red), The Rights of Minority Cultures (1995, Oxford University Press, Oxford), 57 ev.

Nzimande, Blade. Umsebenzi (5(66), 18 Oktober 2006).

Van Eikema Hommes, HJ. Major Trends in the History of Legal Philosophy (1979, Kluwer, Deventer), 276.

Van Diepen, M. (red) 1988, Zed Books, Londen.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top