LitNet Akademies-leesgoed: Terrence R Carney

  • 0

Terrence Carney deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Soos dit maar met ywerige lesers gaan, bly dit vir my ’n moeilike besluit om drie boeke te identifiseer wat deur die loop van die jaar ’n indruk op my gemaak het. Dalk lê die probleem gedeeltelik daarin dat ek maklik deur ’n boek beïndruk raak. Ek is meestal ’n voorstander van populêre literatuur, soos uit my keuse blyk.

The Wedding Wallah deur Farahad Zama

’n Wallah is iemand wat ’n bepaalde taak verrig of beroep volg. As sodanig is mnr Ali die betroubare omie wat jou kan help om jou dogter in die eg te verbind. Vanuit sy huweliksagentskap kry die leser ’n realistiese blik op ’n hedendaagse en ontwikkelende Indië, van armsalige boere en hawelose kinders tot Hindoepriesters wat op motorfietse rondry en oor selfone praat. Zama hanteer ’n verskeidenheid kontemporêre en netelige kwessies met gemak: die ondergrondse gay-beweging in Moembaai wat stelselmatig hul plek in die groter samelewing opneem; die oorwerkte en onwaardeerde polisiëringsmag wat hul bes doen, maar maklik voor korrupsie swig; die politici wat hulself dien in plaas van die volk; en die interaksie tussen kastes en hul persepsies van mekaar. Die werklikheid omtrent gereëlde huwelike lei lesers waarskynlik tot die meeste insig. Westerlinge is soms geneig om te dink dat ’n gereëlde huwelik liefdeloos, geforseerd en ondraaglik moet wees – asof gereëlde huwelike altyd teen die betrokke jongmense se sin gebeur en dat die paartjie gedwing word. Dit is uiteraard nie noodwendig die geval nie.Ek hou baie van die feit dat The Wedding Wallah ’n totaal ander lig daarop werp en daarmee saam op kwessies van geluk en liefde.

 

Koop dit by Kalahari.com

Hero deur Perry Moore

Hero het my ’n aantal kere opgeval en tog het ek telkens besluit om die boek nie te koop nie. Ek is nie ’n groot aanhanger van Amerikaanse superhelde nie en ek was nie heeltemal daarvan oortuig dat ’n roman oor superhelde, in plaas van ’n stripverhaal, werklik boeiende leesstof sou kon bied nie. Ek is egter bly dat my nuuskierigheid die oorhand gekry het. Dit is in baie opsigte ’n bekende verhaal: die hoofkarakter, Thom Creed, ontdek dat hy superkragte het en word kort daarna deur die League genader om by hulle aan te sluit. Daar vorm hy deel van ’n groep misfits wat elkeen hul eie aspirasies het, ten spyte van die feit dat elkeen ’n buitestander is. Moore gebruik superhelde as medium om ernstige, universele sake aan te pak, naamlik ’n moeilike pa-seun-verhouding, kwessies van gay-wees en aanvaarding, vriendskap, eerlikheid en geregtigheid, spoke uit verledes, identiteit en ander se opinies van jou. Dat Moore eintlik ’n Hollywood-filmskrywer was, is duidelik sigbaar in sy skryfstyl: dit voel asof ’n boeiende, kleurvolle fliek voor jou oë afspeel. Sodra ’n mens die roman klaar gelees het, soek jy desperaat na die volgende aflewering. Wat vir my lekker is omtrent Hero, is dat dit gemaklik by uiteenlopende tekste, soos Watchmen (Alan Moore), en ’n groot aantal gay-jeugliteratuur, aansluit.

Koop dit by Kalahari.com

Death Note deur Tsugumi Ohba en Takeshi Obata

Is dit immoreel om moordenaars van kant te maak? Wat sou jy doen as jy die geleentheid kry om die wêreld te verander, selfs wanneer daardie verandering teen ’n prys kom? Death Note vertel die verhaal van die uiters skrander Light Yagami wat een middag na skool ’n notaboek optel. Kort voor lank ontdek hy dat ’n Shinigami (’n soort doodsengel) die notaboek laat val het. Die gebruik daarvan is oënskynlik eenvoudig: as jy ’n persoon se volle name daarin skryf terwyl jy aan daardie persoon dink, gaan hy/sy dood. Light sien die boek as ’n seën en hy begin om alle moordenaars uit te wis en só die wêreld van boosheid te suiwer. Maar sonder dat Light dit onmiddellik besef, raak hy op Tolkienagtige wyse self korrup. Nodeloos om te sê is Interpol, die FBI en Japan se eie nasionale intelligensie op sy spoor. Dié sjonen manga is ’n aksiebelaaide speurreeks met ’n fassinerende intrige wat diep in die mens se siel delf. Te midde van die stryd tussen goed en kwaad raak Ohba op subtiele wyse kwessies aan rondom selfsug, eiebelang, selfverheerliking en morele optrede. Die verhaalgebeure word versterk deur die pragtige, grafiese voorstellings van Obata. Diegene wat al in Japan was, sal die getroue visuele uitbeelding van Japan (straattonele, meublement, kleredrag, ens) waardeer. 

Koop dit by Kalahari.com

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top