LitNet Akademies-leesgoed: Janien Linde

  • 0

Janien Linde deel haar top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Kaar deur Marlene van Niekerk

Wat ’n ongelooflike bundel! Dit was die jare se wag werd. Ek was veral beïndruk deur die klankgedigte daarin wat duidelik in gesprek is met wat die Van Niekerk-karakter in Die sneeuslaper opmerk:

Ek sit in my jaart en die seisoene kom en gaan oor my, ek skryf nie meer romans nie, ek sien myself as ’n vertaler. Ek bestudeer die lys klankverbindings wat Kasper in my boek, my leë afskeidsgeskenk aan hom, opgeteken het. Ek maak met behulp daarvan die een na die ander vertaling van sy klankgedigte ... Veel gaan verlore in die proses, miskien word iets gewen. Ek skrap die adjektiewe, ek skrap die idees, ek heg woorde net-net aan betekenis, want betekenis is bysaak. Wat belangrik is, is die materialiteit van die woorde. Hulle moet word soos sandkorrels, onverskillig van gewig, soet, wit, droë sand wat nie omgee dat mens dit deur jou vingers laat lek nie. (41)

 

 


In die skadu van soveel bome
deur Hennie Nortjé

Hierdie debuutbundel het my regtig verras. Die digter het die eenvoudige tema van bome gekies en deeglik ontgin, met interessante gevolge. Die gedigte is onpretensieus, slim en vindingryk geskryf met die bome wat soms self as fokalisators optree. Alhoewel die boom-tema enduit volgehou word, raak die bundel nie vervelig nie, maar raak ’n magdom ander temas aan (byvoorbeeld materialisme, veranderende weersomstandighede en die inspirasie wat die natuur bied) en is gevolglik dig van betekenis.

 

The eudaimonic turn: well-being in literary studies deur James Pawelski en DJ Moores

Aan die begin van 2013 was ek nog besig met my M-verhandeling en het ’n stadium van studiedroogte ervaar. Met behulp van my studieleier ontdek ek toe ’n baie interessante en onlangse bron wat ’n moontlike manifestasie van die veranderende denke van die postteorie-era voorhou, naamlik The eudaimonic turn: well-being in literary studies. Die teks is ’n versameling van artikels wat deur verskeie letterkundiges geskryf is wat raak aan die onlangse fokus wat geplaas word op welstand, moraliteit en wat die skrywers “a hermeneutics of affirmation” noem. Hierdie teks is definitief nie die enigste wat vrae vra oor paradigmaverskuiwings wat besig is om in die literatuurstudies plaas te vind nie en dit het my geïnspireer om verder op hierdie spoor te loop in my PhD-studie om hierdie verskuiwings en vrae indringend te ondersoek.

 

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top