Chris Nelson deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
The South African Armed Forces, 1912-2012. A century’s perspective onder redaksie van Abel Esterhuyse en Ian Liebenberg Die eerste publikasie is The South African Armed Forces, 1912-2012. A century’s perspective onder redaksie van Abel Esterhuyse en Ian Liebenberg, Fakulteit Krygskunde van die US. Hierdie is ’n spesiale uitgawe van Scientia Militaria, South African Journal of Military Science in 2012 om die honderdjarige bestaan van die Suid-Afrikaanse gewapende magte te herdenk. Die uitgawe van 506 bladsye bevat 16 bydraes deur toonaangewende wetenskaplikes met ’n belangstelling in die krygskunde. Van die onderwerpe wat gedek word, is: Suid-Afrika se eerste oorlogservarings in Oos- en Noord-Afrika; die onderdrukking van interne onrus in SWA; Operasie Savannah; Suid-Afrika se deelname aan die Wesfront gedurende die Tweede Wêreldoorlog; die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Lugmag; die lesse wat uit die grensoorlog geleer is; die hidrografiese en mariniersvermoë van die Suid-Afrikaanse Vloot; en die nuwe rolle wat van die gewapende magte in postkonflik heropbou-en-ontwikkelingsprogramme verwag word. Vir lesers met ’n belangstelling in militêre aangeleenthede in die algemeen en die Suid-Afrikaanse gewapende magte in die besonder word hierdie publikasie sterk aanbeveel. (A Esterhuyse en I Liebenberg (reds), 2012. The South African Armed Forces 1912-2012. A century’s perspective. Special Centenary Issue. Scientia Militaria. Vol 40, Nommer 3. ISSN 224-0020 (aanlyn). ISSN 1022-8136 (druk).) |
|
|
Die rykste man in Babilon deur George S Clason, vertaling deur Martie Coetzee Die tweede publikasie is Die rykste man in Babilon, die Afrikaanse vertaling deur Martie Coetzee van die wêreldtreffer van George S Clason, The Richest Man in Babylon. Wat veral belangwekkend is rakende die Afrikaanse weergawe van hierdie klassieke verhaal, is die kommentaar wat regdeur die boek deur die finansiële kenner en beleggingsadviseur Hein Kruger gelewer word. Hy wys deurlopend daarop hoedat hierdie verhaal waarin die beginsels van spaarsin, finansiële beplanning en persoonlike welvaart uiteengesit word, steeds as relevant vir elke persoon in hedendaagse Suid-Afrika beskou kan word en selfs hul lewens ingrypend kan verander. Beslis die moeite werd om hierdie uiters fassinerende en leersame verhaal, tesame met Kruger se kommentaar, in Afrikaans te lees. (Clason, GS, Die Rykste Man in Babilon. 2013. Vertaling en verwerking in Afrikaans deur Martie Coetzee. Eerste uitgawe, vierde druk. Naledi, Tygerberg. ISBN 978-0-620-40360-3.) |
Strategic Challenges for African Armed Forces for the Next Decade onder die redaksie van GAJ van Dyk Die derde publikasie is getiteld Strategic Challenges for African Armed Forces for the Next Decade onder die redaksie van GAJ van Dyk, Fakulteit Krygskunde van die US. Hierdie boek beslaan 357 bladsye en dek 19 onderwerpe van belang vir weermagte in Afrika en die SANW in besonder. Verskeie nasionale en internasionale kundiges het bydraes gelewer en sluit onder meer onderwerpe in soos leierskap in huidige weermagte; die opleiding van offisiere uit Afrika aan die Koninklike Militêre Akademie in Brussels; die veiligheidsuitdagings wat Amerikaanse en Chinese belangstelling in die natuurlike hulpbronne van Afrika daarstel; sielkundige ondersteuningsprogramme vir vredesbewaringsoldate in Afrika; demobilisasie en herintegrasie van lede van gevegsmagte in die burgerlike samelewing; die noodsaak van opvoeding vir soldate in Afrika; die uitwerking van die Vigs-epidemie op weermagte in Afrika; ’n profielanalise van studente aan die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie; en strategieë vir die beveiliging van Afrika se energiebronne in die Golf van Guinee. Die boek word aanbeveel vir lesers met ’n belangstelling in die gewapende magte van Afrika. (Van Dyk, GAJ (red), 2008, Strategic Challenges for African Armed Forces for the Next Decade. SUN MeDIA, Stellenbosch. ISBN 978-1-920109-97-4.) |
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter