Burgert Senekal deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
![]() |
Out of the mountains: The coming age of the urban guerrilla deur David Kilcullen David Kilcullen staan wêreldwyd bekend as een van die voorste kenners van die teeninsurgensieteorie. As Australiese weermagoffisier het hy ’n PhD oor die onderwerp voltooi en is daarna onder andere aangestel as persoonlike raadgewer van generaal David Patraeus, toe die bevelvoerder van multinasionale magte in Irak, en het ook gewerk as senior teeninsurgensie-adviseur van Navo in Afghanistan. In Out of the Mountains volg Kilcullen in die spore van sy vorige boeke deur hedendaagse konflikte te beskryf as komplekse sisteme, en dan veral ten opsigte van vier “megatendense”: verstedeliking, bevolkingsgroei, toenemende interafhanklikheid en ’n skuif van die menslike leefruimte na kusstreke. Hy beskryf die selforganiserende swermgedrag van vegters in Somalië, die belangrikheid van tegnologiese verbindings in die Arabiese opstande, tot die terroriste-aanval op Mumbai in 2008. Deurgaans beklemtoon hy dat hedendaagse konflikte as lewende organismes funksioneer, en dat die stad – soos ’n lewende organisme – ’n metabolisme het wat ontwrig kan word en in die toekoms meer gereeld die sentrum van konflik sal wees (anders as tydens die Koue Oorlog, toe guerrillas oorwegend in landelike gebiede geveg het). Mense wat in veiligheidstudies belangstel, kan sterk aangeraai word om kennis te neem van sy voorspellings: ook in Suid-Afrika speel hierdie megatendense ’n rol in mense se hedendaagse en toekomstige veiligheid. |
![]() |
Duncan Watts het bekendheid verwerf na sy seminale publikasie in 1998 saam met Steven Strogatz waarin hulle die klein-wêreld-tendens in komplekse netwerke geïdentifiseer het. In Everything is obvious bou hy voort op vorige publikasies binne die teorie van komplekse netwerke, maar brei ook verder uit oor die wetenskaplike metode en dan veral oor hoe problematies die konsep van kousaliteit binne die wetenskap is. Terwyl kousale verbande in die alledaagse wêreld maklik getrek word, wys Watts op die ongeldigheid van “common sense”. Hy steun ook op sy vorige navorsing oor sosiale invloed wanneer hy byvoorbeeld aantoon dat die kunswerk nie bloot op grond van intrinsieke eienskappe ’n meesterwerk word nie, maar dat ekstrinsieke faktore ’n deurslaggewende rol speel in of ’n werk uiteindelik “klassiek” word. As fisikus wat sy loopbaan veral op die teorie van komplekse netwerke gebou het, werk hy ook interdissiplinêr en toon aan dat dieselfde beginsels geld vir of tegnologie gewild word: dit is nie noodwendig die “beste” tegnologie wat deur die massas aanvaar word nie. In breë trekke is Everything is obvious ’n wetenskapsfilosofiese besinning, maar een wat gegrond is op vorige kwantitatiewe navorsing en boonop baie toeganklik en boeiend geskryf is. |
![]() |
Big Data: A revolution that will transform how we live, work and think deur Viktor Mayer-Schönberger en Kenneth Cukier ’n Mens besef nie aldag hoeveel geleenthede die hedendaagse, digitale wêreld vir die wetenskap skep nie. So baie menslike handeling word in digitale databasisse opgeteken, van ons soektogte op Google, tot ons selfoonoproepe, tot ons elektrisiteitsverbruik. Big Data handel oor die wetenskaplike moontlikhede wat hierdie groot hoeveelhede digitale data inhou vir die begrip van die menslike beweegruimte. Die skrywers beskryf byvoorbeeld hoe Google reeds aangewend is om die uitbreek van epidemies vinnig te identifiseer, hoe Amazon mense se kooppatrone gebruik het om voorstelle te maak oor waarin hulle ook sou belangstel, hoe data rakende elektrisiteitsverbruik reeds aangewend is om dwelmlaboratoriums op te spoor, en hoe die polisie in die VSA Groot Data aanwend om misdaadpatrone te identifiseer. Een van die groot omwentelinge wat Groot Data volgens die outeurs vir die wetenskap kan bring, is dat steekproefneming nie meer altyd nodig is nie – ’n hele bevolking kan ondersoek word. Daarmee saam argumenteer die outeurs dat kousaliteit nie meer deurslaggewend is nie, maar eerder korrelasie, en toon aan hoe korrelasie gebruik kan word om menslike handeling te voorspel. Big Data maak stellings wat ek vermoed heelwat wetenskaplikes se hare sal laat rys, byvoorbeeld dat kenners van onderwerpe in die toekoms vervang kan word deur rekenaarwetenskaplikes, en dat hipotese-gedrewe navorsing vervang kan word met data-gedrewe navorsing, maar die boek verskaf nietemin interessante insigte rakende die werklike en potensiële impak van ’n digitale wêreld op die wetenskap. |
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter




