LitNet Akademies: Jasper van Zyl gee sy mening oor die voorgestelde verengelsing van die Universiteit Stellenbosch se Tygerbergkampus

  • 0

Jasper van Zyl lewer kommentaar op die voorgestelde verengelsing van die Universiteit Stellenbosch se Tygerbergkampus. Na aanleiding van Pieter Kapp se onlangse LitNet Akademies-artikel, “Stellenboschstudente se rol in die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch”, praat Van Zyl ook oor die rol van hedendaagse studente in die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch spesifiek met betrekking tot Tygerbergkampus

Gisternag lê ek lank wakker. Ek moet eintlik slaap, want my middeljaareksamen begin oor net bietjie meer as ’n week en ek het die nagrus nodig. Nie dat ek in elk geval aan die swot kom nie. Die Stellenbosch-taalbom het al weer gebars, hierdie keer op Tygerberg, wat vir vyf jaar lank vir my huis was.

As ’n stigterslid en voormalige voorsitter van Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans in die Klaskamer (TBAK) volg ek slaafs die mediaverslae. Gisternag het ek ’n video gesien waar daar met mense op kampus gesels word oor die taalkwessie. Ek ken bykans almal. Een van die kommentare slaan my veral hard: dié van ’n Afrikaanssprekende vierdejaarstudent wat sê dat hy in Engels studeer, omdat (ek parafraseer) dit die taal van medisyne is.

Terwyl ek rondrol, besef ek waarom hierdie kommentaar my so hard slaan. Dis omdat ek ’n liberalis is. Ek glo dat elke persoon inherent daarop geregtig is om te eintlik doen net wat hy wil (natuurlik binne die grense van menslikheid en ordentlikheid). As hierdie student as Afrikaanssprekende verkies om in Engels te studeer by ’n kwansuis tweetalige universiteit, is dit darem seer sekerlik sy goeie reg.

Waarom knaag dit dan so aan my?

Moedertaalonderrig en wetenskaplike onderrigmetodes

Die probleem is: hierdie is ’n mediese student, nie ’n taalnavorser nie. Nie ’n pedagoog nie. Die kern van die saak is: hy is doodeenvoudig waningelig en mislei. (Laat my asseblief hierdie veralgemening toe; miskien is ek die pad heeltemal byster en weet hierdie student alles wat daar te weet is rakende die onderwerp van moedertaalonderrig!)

Daar bestaan ’n magdom goeie, gerekende, objektiewe navorsing wat die waarde van moedertaalonderrig onderskraag. Om as Afrikaanssprekende in Engels te studeer omdat dit jou kwansuis ’n beter begrip van die wêreld daar buite gee en deure vir jou gaan oopmaak, is ’n fout, hoewel dit op die oppervlak, veral vir iemand wat oningelig is, na ’n baie logiese gevolgtrekking mag lyk.

En dít steur my geweldig. Wanneer ’n mens keuses uitoefen oor iets so belangrik soos jou opvoeding, is dit jou goeie reg om daardie keuses self te maak, maar dan moet jy doodeenvoudig ingelig wees.

Ek vind dit geweldig verontrustend dat ’n instelling soos die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, wat hopelik hul opleidingsmetodiek op grondige wetenskaplike navorsing baseer, so gewillig is om die moedertaal van verskeie studente bloot opsy te skuif, terwyl hulle hoog en laag sweer dat tweetaligheid aan die orde van die dag is.

Ek kan nie help om te wonder hoeveel van hierdie student se keuse om in ’n tweede taal te studeer deur sy omstandighede genoodsaak is nie. Ek kan nie help om te wonder of eerstejaarstudente, wat twee maande gelede nog, sonder om twee keer daaroor te dink, hul matriekeindeksamen in Afrikaans afgelê het, die skuif na Engels maak as ’n oorlewingsmeganisme nie.

’n Mens moet jouself nie kul nie. Enige universiteitskursus, maar veral kursusse in die gesondheidswetenskappe, is ontsaglik taai. Die werkslading is enorm en studente wil nie en kan ook nie almal as vertalers van hul werk optree nie. Hier sit jy nou met ’n Afrikaanse student, vir wie dit nie net moontlik is nie, maar waarlik wenslik is, om in Afrikaans te studeer, wat in Engelse klasse met Engelse skyfievertonings, Engelse notas en Engelse handboeke ’n “keuse” oor sy studietaal uitoefen.

Dis geheel en al absurd. Die US kan hom maar tot in ewigheid daarop roem dat hy die taalvoorkeure van elke student respekteer, maar dis seer sekerlik onwaar as daar van studente verwag word om knaend as vertalers van hul eie werk op te tree.
 

Die Tygerberg-realiteit

Ek het Dianna Yach se verslag gelees nog voor dit in die media verskyn het, en my bloed het gekook. Die vooroordeel in die stuk is onmiddellik duidelik. Dis veral ook duidelik dat geen moeite gedoen is om die werklikheid van die kampuskultuur of die gebeure in die klaskamer te ondersoek nie. En dis jammer, want die navorsing bied ook inligting wat belangrike insigte bied, veral ten opsigte van gestremde studente. Al hierdie inligting word egter oorskadu deur die onsensitiwiteit en vooroordeel waarmee die taalkwessie aangespreek word.

Die idee dat lesings, saalrondtes en tutoriale oorwegend in Afrikaans geskied, is so ver van die waarheid dat dit byna lagwekkend is. Ek het in my vyf jaar op Tygerberg nie ’n enkele saalrondte beleef waar Engelse studente teenwoordig was en Afrikaans gepraat is nie. Om nie eens te praat van klasnotas nie. Ek kan op my tien vingers tel die aantal kere dat lesings net in Afrikaans aangebied is. Ek weet van net een stel notas wat oor die verloop van vyf jaar net in Afrikaans uitgedeel is (en dis intussen reggestel). Ek kan miskien een lêer vol maak met die klasnotas wat in Afrikaans uitgedeel is.

Dis miskien bietjie dramaties. Daar is steeds departemente wat moeite doen met die vertaling van klasnotas, en selfs enkeles wat handboeke in Afrikaans laat druk. Maar hierdie departemente is in die minderheid en selfs hulle volg die T-opsie net in ’n bepaalde mate.

Wat my die meeste van die verslag ontstel het, was die blatantheid waarmee Afrikaans afgeskiet is, sonder korrekte data. As me Yach werklik belanggestel het in die realiteit van Tygerberg en wat in die klaskamers gebeur, sou sy nooit die enorme feitefoute waarmee sy handel, begaan het nie. Verder, as sy enigsins moeite gedoen het om die ware kleure van kampuskultuur te ondersoek, sou sy bevind het dat Tygerberg waarskynlik die mees verwelkomende, liberale, vriendskaplike universiteitskampus in Suid-Afrika is. As blanke, Afrikaanssprekende “taalbul” het ek meer ware transkulturele vriendskappe gebou as enigiemand wat ek buite ons kampus ken. En dit is ook die ondervinding van die oorgrote meerderheid van mense wat ek ken, ongeag hul agtergronde, oortuigings of taal.

Die indruk wat geskep word dat Afrikaans in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe ’n skans vir transformasie is en die veralgemening dat Afrikaanse studente nie progressiewe denke wil aanneem nie, is vir my ongelooflik beledigend. Dis ook, terloops, onwaar.
 

TBAK

Ek en ’n studentekollega het TBAK in 2009 om twee redes gestig. Die eerste was dat ons werklik besorg was oor die kreeftegang van Afrikaans op ons kampus. Of ons ondervinding korrek is of deur ander studente gedeel word, sal goeie, objektiewe data moet toets. Nietemin was dit vir ons ontsaglik moeilik om met ons studies in Afrikaans voort te gaan, gegee die omstandighede wat daar vir ons geskep is.

Die tweede rede was dat ons soortgelyke organisasies op ander kampusse dopgehou het. Oor die algemeen het selfs daardie organisasies met goeie bedoelinge baie vinnig ’n rassistiese retoriek aangeneem. Vir my en my kollega was dit onaanvaarbaar om in die 21ste eeu nog deel te hê aan sulke kleinlikhede. Ons organisasie sou verhoudings bou en deur positiewe, doelgerigte projekte die saak van Afrikaans voorstaan sonder om inbreuk te maak op die regte van ander studente, wat net so geregtig soos ons is om hier te studeer.

TBAK het aanvanklik groot weerstand ondervind, en ek glo dat hierdie feit ’n tweesnydende swaard is: as nuwe organisasie het ons natuurlik foute begaan, maar die reaksie van sommige dosente was werklik skokkend en het ons ’n keer of wat nogal moedeloos gehad. Een dosent het ons toegesnou dat ons (ek parafraseer) “terughunker na apartheid” en dat ons oogmerke verkramp, verwaand, “entitled” en uit die oude doos is, terwyl ’n ander gedreig het om ons voor die Senaat te sleep. In elke geval dat TBAK met dosente gekommunikeer het, het ons moeite gedoen om te hoor hoe ons die betrokke dosent kan help om die T-opsie na te kom, veral deur die vertaling van notas teen absoluut minimale koste.

TBAK het daarin geslaag om deur ons projekte steun te werf en ons eerste ledetal was meer as 200 (by verre die grootste studentevereniging op Tygerberg), waarvan ongeveer 30% Engelssprekend was. Ons het moeite gedoen om ons standpunte aan alle studente te bring deur onder andere ons vereniging se inligtingspamflet tweetalig te publiseer en rondetafelgesprekke met ander kampusorganisasies te hou. Rassistiese optrede word volgens ons grondwet verbied en enige student wat hom of haar daaraan skuldig maak, is nie welkom as lid van TBAK nie.

Ek twyfel sterk of me Yach gedurende die ses maande waartydens sy R150 000 se navorsing gedoen het, ooit eens van TBAK kennis geneem het. Ek weet wel dat sy ons nooit probeer kontak het om ons idees rondom transformasie te verkry nie.
 

Die rol van die student in die bevordering van Afrikaans in die 21ste eeu

Uiteindelik, glo ek, is dít die rol van die moderne Afrikaanse student in die “stryd” vir Afrikaans op ons kampusse. Moderne Afrikaanssprekende universiteitstudente, veral Maties, is nie fanatikusse nie. Moderne Afrikaanse universiteitstudente weet dat dit nie net inherent immoreel en oneties om ’n eksklusiewe kampus te bevorder nie, maar ook dat daardie denkwyses ook nie die saak van Afrikaans bevorder nie.

Studente moet uiteindelik hul eie keuse uitoefen oor hul studietaal, maar om dit te kan doen, moet studente ingelig word oor die voordele en nadele van hul bepaalde keuses. En ’n mens kan nie van studente verwag om self op datum te bly wat betref navorsingsverslae oor moedertaalonderrig nie. Hierdie onus berus op ons leiers, van wie ons verwag om onemosioneel en wetenskaplik met hul onderrigmetodes om te gaan. Studente moet wéét waarmee hul besig is wanneer hulle in ’n tweede taal studeer en moet dan ongehinderd wees in watter keuse hulle dan ook al uitoefen. Hierdie ongehinderdheid impliseer vrye toegang tot inligting in die taal van hulle keuse, die vryheid om te kommunikeer in die taal wat hulle die beste pas, en vryheid van verdagmaking wanneer studente hierdie reg uitoefen.

Die vals dichotomie waarmee me Yach haarself besig hou (dat daar kamtig ’n keuse gemaak moet word tussen Afrikaans en Engels), is nie net miopies nie, maar werklik ook kinderagtig. Sy noem in die verslag dat die taalkwessie vir Afrikaanssprekendes ’n “kulturele” kwessie blyk te wees, terwyl dit vir nie-Afrikaanssprekendes ’n kwessie van “oorlewing” is. Ek wil haar graag daarop wys dat (a) al sou dit ’n blote kulturele keuse wees, ’n mens van ’n volwasse persoon verwag om met sensitiwiteit en insig daarmee te handel; en (b) Afrikaanse onderrig vir my, en baie van my kollegas, en baie Afrikaanssprekende plattelandse jongmense, óók ’n kwessie van oorlewing is.

As sy my nie glo nie en dink dat ek maar net weer probeer moeilik wees om my eie rassistiese ideologie op slinkse wyse na die kampus te bring, sal ek graag my werkslading na haar kantoor toe bring. Dan sal ek vir haar vra wat sy met die letterlik duisende bladsye vol ingewikkelde Engelse inligting sou doen as sy ’n tweedetaalspreker was, veral as jy met die verwagting van moedertaalonderrig gelok is en duisende rande vir daardie reg betaal.

 

Die bedoelinge van die vaderfigure van die US was dan juis om inklusiwiteit op Suid-Afrikaanse kampusse te bevorder, en in hierdie geval het hulle die noodsaaklikheid van taalvryheid in akademiese opvoeding raakgesien. Uiteindelik het inklusiwiteit en medemenslikheid vir hulle swaarder geweeg as blote ideologie. Ek wil graag glo dat Ons Weldoener selfs in die 21ste eeu aanvaarding en inklusiwiteit, tesame met wetenskaplik sekure onderrigmetodes, bo ideologie sou kon stel. Dis jammer dat baie mense, soos Dianna Yach, nie dieselfde kan doen nie.
 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top