LitNet Akademies: Cas Vos gesels oor godsdienstige verwysings in koerantberigte oor misdaad en ongelukke

  • 1

Cas Vos reageer op die artikel “’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Christo Lombaard en Johannes Froneman.

Die wêreldbeeld is nie net ’n geslote werklikheid nie, maar daar is ook ruimte vir ’n “poreuse wêreldbeeld” (vgl die filosoof Charles Taylor in dié verband). In sy jongste werke gee die filosoof Jürgen Habermas nie net aandag aan die semantiese betekenis van religie nie. Hy worstel ook met die vraag hoe die niereligieuse burger van ’n postsekulêre samelewing op die openbare diskussie wat in die religieuse taal geformuleer word, sal reageer (Cooke 2007:343; vgl ook Habermas 2007:34-36).

Hierdie ruimte vir die religie as gespreksgenoot in die samelewing bring mee dat die stem van godsdiens ook in die samelewing mag spreek en gehoor mag word.

Dit beteken verder dat godsdiens en godsdienstige oortuigings ook in die samelewing, en in koerante as spieëlbeeld van die samelewing, plaasvind. Hiermee word religie as gespreksgenoot erken sonder om die enigste normatiewe waarde daaraan toe te ken. Waardes in die samelewing word nie net deur godsdiens gevorm nie.

Koerante vervul ’n opinievormende of -versterkende of selfs -afbrekende rol in die samelewing. Koerante is soos brood op die ontbyttafel. Daarsonder kan die meeste mense nie die dag begin nie.

Artikels oor ’n aantal misdaad- en verwante berigte waarin godsdienstige verwysings voorgekom het, is kwalitatief ontleed deur Lombaard en Froneman. Die skrywers gee toe dat hulle opset beperk is. Dit is juis die beperktheid van die ondersoek en analise wat meebring dat bepaalde uitwerkings op die vier gekose temas nie in diepte verreken kon word nie. Dit maak die navorsing, hoewel beperk, nie ongeldig of sonder waarde nie. Bepaalde tendense kan ten minste uitgelig word, wat weer tot verdere navorsing kan lei.

Die lesers van net twee koerante bring mee dat die geloofservaring en uitdrukking van lesers van ’n ander lewens- en geloofsbeskoulike aard buite rekening gelaat is. Dit is vir my in ’n demokratiese samelewing met ’n pluraliteit van godsdienste ’n probleem. Daar word net vanuit ’n bepaalde hoek gekyk en geïnterpreteer. Demokrasie bied juis die geleentheid om steun te werf vir ’n eie geloofsoortuiging (De Kruijft 2008:96). Ander se oortuigings en ervarings in krisissituasies moet aanvaar word. Geloof kan nie afgedwing word nie. Ook nie deur koerante nie. Aangesien daar ’n pluraliteit van geloofsvorme is, sal die reaksies van mense ten opsigte van die sake waaraan die skrywers aandag gee, verskil.

Die skrywers se eie voorveronderstellings speel in die interpretasieproses ’n betekenisvolle rol. Hiermee word die subjektiewe komponent in die evaluering ingedra.

Die artikel bied ’n goeie inleiding om die diskoers te open. Hiermee skep die skrywers die breë prentjie. Hulle maak dit duidelik dat hulle beoog om aan te dui hoe geloof binne die breë samelewingskring verwoord word. Die skrywers maak van die kwalitatiewe analise gebruik. Doelgerigte steekproeftrekking is wetenskapsmetodologies verantwoord.

In hulle diskoers fokus die skrywers op die godsdienstige verwysings in koerante. Hulle werk met vier hoofkategorieë wat hulle noukeurig bespreek. Die skrywers beweer dat lesers se religieuse sienings oor tyd hoogstens deur die massamedia verander kan word, maar nie bepaal word nie. My kritiese vraag is: Indien ’n religieuse siening verander, word dit nie dan ook bepaal nie? Die skrywers maak dit duidelik dat beïnvloeding wel plaasvind. Indien dít die geval is, is dit tog bepalend.

Die skrywers gee ’n definisie van spiritualiteit. Hulle gee toe dat dit beleef word, maar meer intellektueel. Dit is ’n dualisme wat vermy behoort te word. Spiritualiteit het emotiewe en intellektuele dimensies wat onderskei, maar nie geskei, kan word nie. Godsdiens raak die hart en die verstand. Soms oorspoel die emosionele die verstandelike kant. En dit lei dan tot ’n eensydigheid.

My grootste kritiek, naas die waardering, is die gebrek aan teologiese diepgang oor die vier hoofkategorieë wat geanaliseer word. Die rol van God as bewaarder word nie teologies voldoende ontgin nie. Daar is slegs ’n verwysing na God as redder uit nood in sekere Bybelse tekste. Hoe God as redder in die verskillende tekste optree, moet duidelik aan die bod kom. Dit gee dan eers teologiese diepgang aan die geloof in God as redder. Die kultuurhistoriese konteks waarbinne die verskillende Bybelboeke voorkom, belig ook die aard van die geloof in God as redder/bewaarder. God as redder is byvoorbeeld in die rigterstyd anders ervaar as in die ballingskapstyd.

Geloof as dra-grond van ’n mens se lewe speel vanselfsprekend in sulke krisistye ’n betekensivolle rol. Die skrywers stel die aspek té maklik teenoor die heil buite die mens in grenssituasies. Dit gaan immers om oorlewing in ’n krisistyd. Wat hierna gebeur, is ’n ander-orde-vraag.

Die skrywers behoort die geloofskrisis van slagoffers wat hier aan die orde kom, aan die hand van die teodisee-vraagstuk te belig. Wat beteken dit dat God iets kon toelaat? En is die toelaat nie ’n beperking van God se heerskappy nie? Hieroor moes die skrywers teologies meer gereflekteer het. Job sou in dié verband ’n uitnemende voorbeeld wees (vgl Schwienhorst-Schönberger 2007).

Die verwysings na die “hemel” vra dieper besinning. Dat die “hemel” vanuit ’n bepaalde geloofsinstelling ’n uitkoms is, spreek vanself. Daar is soveel voorstellings van die “hemel” dat die skrywers tog teologies moes nagedink het hieroor. Is die hemel die plek waar God teenwoordig is? In verskillende geloofstradisies verskil die opvatting oor die “hemel” ook hemelsbreed.

In ons droewe land is geweldsmisdaad en ongelukke ’n pynlik aktuele saak. ’n Saak van lewe en dood. Die reaksie: “Dit is nie deel van God nie” moes teologies dieper ontgin gewees het. Natuurlik is dit nie deel van God nie, maar dit gebeur nie sonder God nie. Is Hy maar net ’n toeskouer of is Hy nie dalk op ’n ander manier teenwoordig nie? Is sy engele nie vertroostend teenwoordig nie? Dit is juis die worsteling in onder andere Job: Waar is God in die krisis? Job hou aan God vas, maar dit voel vir Job of God hom los. Wat beteken geloof as dit voel of God jou los?

Sou ’n mens saam met Huub Oosterhuis kon sê: ’n mens val, maar jy val altyd in God se hand? Jy val na Hom toe. Die skrywers het te maklik by die problematiek verbygeseil.

Bibliografie

Cooke, M. 2007. Säkulare Ubersetzung oder postsäkulare Argumentation? Habermas über Religion in der demokratischen Offentlichkeit. In Langthaler R en H Nagl-Docekal (reds), Glauben und Wissen. Ein Symposium mit Jürgen Habermas. Akademie Verlag: Oldenbourg, 341-65.

De Kruijf, G. 2008. Ethiek onderweg. Acht adviezen. Tweede druk. Meinema: Zoetermeer. 

Habermas, J en J Ratzinger. 2007. Dialektik der Säkularisierung. Sewende druk. Herder: Freiburg, Basel, Wien.

Schwienhorst-Schönberger, L. 2007. Ein Weg durch das Leid. Herder: Freiburg, Basel, Wien.

Taylor, CM. 2007. A secular age. Harvard Press: Harvard.

  • 1

Kommentaar

  • Vernon Annandale

    Cas, hoe betroubaar is die weergawe van die brief aan Tiberius oor Christus en dan is daar ook 'n verwysing van 'n brief aan die keiser van Pontius Pilatus ook oor Jesus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top