LitNet Akademies: Anne-Marie Beukes in gesprek met Alta van Rensburg

  • 1
Anne-Marie Beukes gesels met Alta van Rensburg oor haar LitNet Akademies-artikel "Die impak van revisie op vertaalde eksamenvraestelle in ’n hoëronderwysomgewing".


Sommer met die intrapslag wil ek vir jou vra waarom jy besluit het om die term revisie in plaas van die moontlik meer algemeen-gebruikte term hersiening te gebruik. Veeltalige Vertaalterminologie (2010), wat ’n poging tot die standaardisering van vertaalterminologie in die oog had, stel  juis hersiening voor in ’n poging om voorkeur aan Germaanse vorme te gee. Dink jy nie dat die konteks waarin hersiening in ’n standaardwerksomgewing soos ’n vertaalkantoor gebruik word, enige verwarring sou opklaar nie?

Die Afrikaanse term vir revision (Engels), révision (Frans), revisión (Spaans), Revision (Duits), of revisie (Nederlands) is inderdaad ’n tameletjie, aangesien moontlike Germaanse ekwivalente (soos hersiening) in ander kontekste gebruik word en dus elkeen ’n spesifieke betekenis het. Hoewel ek self ’n voorstander van die gebruik van Germaanse ekwivalente is, het ek in hierdie geval revisie as ’n vakterm gekies wat ondubbelsinnig as die verbetering van ’n vertaalde dokument gesien kan word.

Vertel ons asseblief meer oor die opset en bestuur van ’n universiteit se taalkantoor soos dié by die Universiteit Stellenbosch se Taaldiens. Ek weet dat daar die gewone vertaal-, redigeer- en tolkdienste gelewer word, maar stel daarin belang om meer te wete te kom van die aard en omvang van die werk wat daar gedoen word. En ook: Wie is so ’n kantoor se kliënte?

Ek het onlangs weer met kollegas in ander universiteite se taalkantore gesels, en opnuut besef hoe uniek elke kantoor se opset is. Die US Taaldiens is deel van die Taalsentrum (wat hierdie jaar sy tiende verjaarsdag vier) en is gesitueer binne die Afdeling Studente- en Akademiese Steun. Ons is agt permanente personeellede op kantoor: twee projekkoördineerders wat kliënte se versoeke ontvang en die werkvloei hanteer, vier taalpraktisyns, die administratiewe beampte en die hoof. Die meeste van die vertaling en redigering word deur ons ongeveer twintig gereelde vryskut-taalpraktisyns gedoen, waarna die revisie deur ons interne taalpraktisyns behartig word.

Die Taaldiens moet fondse genereer om lewensvatbaar te wees, daarom wissel ons kliënte van studente, dosente en ander steunafdelings tot privaat kliënte soos versekeringsmaatskappye, munisipaliteite en vaktydskrifuitgewers. ’n Groot projek wat ons saam met Dawid van Lill aangepak het, was om die Britannica Student Encyclopedia in Afrikaans te vertaal. Ons hanteer dus ’n wye verskeidenheid tekstipes – wat die lewe goed interessant hou!

In 2011 het die kantoor meer as 1 200 taalopdragte hanteer. Die opdragte wissel natuurlik in omvang, maar dit gee ’n mens ’n idee van die aanvraag na taaldienste. Revisie is een van die metodes van gehalteversekering wat ons toepas. Nog ’n metode om gehalte te verseker, is die aanbied van werksessies aan ons vryskut- en interne taalpraktisyns. Ons is veral opgewonde oor die werksessies in redigering en revisie wat deur ’n wêreldkundige op dié gebied, die Kanadees Brian Mossop, in September 2012 in Stellenbosch aangebied gaan word.

In die Wes-Kaap word drie tale meestal gebruik, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa. Vind hierdie “taaldemografie” neerslag in die taalopdragte wat julle kantoor ontvang?

Ja, van die versoeke wat ons in die eerste vyf maande van 2012 ontvang het, is ietwat meer as ’n derde vir Engels, ongeveer ’n derde vir Afrikaans, en ongeveer ’n tiende vir Xhosa. Die res verteenwoordig versoeke vir Zoeloe, Suid-Sotho, en in ’n mindere mate Tswana en Europese tale soos Portugees en Frans.

Dit is algemeen bekend onder taalpraktisyns dat ons arbeid grootliks “onsigbaar” is en moontlik nie deur die taalgemeenskappe wat ons dien goed begryp en dus as professionele arbeid beskou word nie. Is dit ook ’n lastigheid wat julle kantoor ondervind? Indien wel, hoe gaan julle te werk om so ’n ingesteldheid te (probeer) verander?

Dit is inderdaad ’n probleem wat ons probeer oorbrug deur te beklemtoon dat ons van professionele taalpraktisyns gebruik maak, met ander woorde mense met ’n graad in tale/linguistiek/taalpraktyk, en/of SAVI-akkreditasie, en met minstens drie jaar voltydse ervaring in vertaling en redigering.

My ervaring is dat die meeste mense dink as jy twee tale magtig is, is jy bevoeg om te vertaal. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Die PACTE-navorsingsgroep in Spanje doen nou al vir ongeveer veertien jaar empiriese studies oor die vermoëns en vaardighede waaroor ’n vertaler moet beskik. Ek noem slegs enkele van hulle bevindinge: ’n vertaler moet nie net ’n kundige in die bron- en doeltaal wees nie, maar moet ook kennis hê van verskillende tekstipes, kennis hê oor die verskeie strategieë om vertaalprobleme op te los en oor die vermoë beskik om die gepaste strategie te kies en toe te pas, die vermoë hê om tegnologiese bronne te gebruik om byvoorbeeld navorsing te doen, en moet ’n kommunikasiekundige wees wat die boodskap van die oorspronklike teks ondubbelsinnig aan die leser van die vertaling kan oordra.

Die vertaler werk saam met die kliënt en moet weet om vrae te vra oor wie die leser van die vertaling gaan wees (bv ouderdom, leek of kundige op die betrokke gebied) en wat die doel van die vertaling is (bv ’n koerantartikel vir privaat gebruik of ’n jaarverslag wat gepubliseer gaan word). Die Taaldiens se projekkoördineerders probeer so ver moontlik om hierdie inligting in te win, en gee dit dan deur aan die vertaler en reviseur van die betrokke opdrag.

As kliënte ’n vertaling laat doen deur iemand wat nie vertaalopleiding en -ervaring het nie, moet hulle bereid wees om meer tyd en geld aan revisie te bestee om die hoë gehalte van die produk te verseker.

In die afwesigheid van ’n statutêre beroepsliggaam beywer die SA Vertalersinstituut (SAVI) hom om die breë (ver-)taalgemeenskap se belange te dien. Een van die maniere waarop die Instituut byvoorbeeld dialoog met sy lede bewerkstellig om beroepsolidariteit te probeer bevorder, is deur korporaatlidmaatskap vir taalkantore aan te bied. Kan taalkantore baat by groter onderlinge wisselwerking met die oog daarop om hoërgehalte werk te lewer, veral wat die deel van skaars hulpbronne betref?

Groter samewerking tussen taalkantore is beslis nodig, en ook hier speel SAVI ’n belangrike rol. As ’n mens skaars hulpbronne kan deel (soos mense wat uit Afrikaans in Xhosa vertaal), sal verskeie taalkantore daarby baat. Jy noem ook die lewering van hoërgehalte werk: as deel van my PhD-studie voer ek gesprekke met taalkantore by verskeie universiteite oor beste praktyke ten opsigte van gehalteversekering. Die uniekheid van elke taalkantoor maak hierdie gesprekke natuurlik interessant – ons kan baie by mekaar leer en ook só standaarde in die (ver-)taalgemeenskap help verhoog.

   
Alta van Rensburg Anne-Marie Beukes

  • 1

Kommentaar

  • Dankie dat julle 'n slag die vertaler in die kollig plaas! Vertalers is inderdaad veelsydig en veelvaardig, en fasiliteerders op talle gebiede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top