LitNet Akademies: Almanak van stof – Waldemar Gouws gee sy mening

  • 0

Na aanleiding van Helize van Vuuren se LitNet Akademies-artikel van 30 November 2011, “’n Almanak van klippe’: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof, het ek enkele opmerkings.

Nadat ek my skaars ’n maand gelede kon verdiep in die eksplorasievaart van Van Vuuren se laatwerk-ysbrekerskuit (weer ’n vrou op ’n skuit) deur die diep en soms baie koue waters van Breyten Breytenbach se jongste bundel, besef ek net gister dat hierdie digter nóg ’n stem van ’n voorgangergeesgenoot ingespan het om te laat mee-resoneer in minstens een van die gedigte, benewens nou die sprake van al daardie ander figure van heinde en ver wat al reeds deur Van Vuuren uitgewys is.

Ek dink hier aan die Praagse skrywer Franz Kafka (1883-1924). En dis veral in die bruuske boedelgedig “vir oopmaak wanneer dood my oë toegemaak het” dat mens hom die heel duidelikste kan hoor.

Na Kafka se dood het sy toegewyde vriend, die skrywer Max Brod (aan wie Kafka sedert omtrent 1915 van sy manuskripte toevertrou het, en wat nie self publiseersku soos Kafka was nie), twee notas in die propvol laaie van die oorledene se lessenaar gekry. (’n Gewone testament was daar nie.) Die eerste een waarop hy afgekom het, lees as volg:

Beste Max, my laaste versoek: Alles wat ek agterlaat (in my boekboks, linnekas en my lessenaar – tuis sowel as op kantoor, of enige ander plek waar iets kon beland het waarop jy jou oë kan sit), te wete dagboeke, manuskripte, briewe (my eie, asook dié van andere), sketse en so aan, moet ongelees verbrand word; ook alle skryfwerk en sketse wat jy of ander mense mag besit; en vra dit van hulle in my naam. As daar briewe is wat hulle nie aan jou wil oorhandig nie, moet hulle ten minste eerlik beloof om dit self te verbrand. Joue, Franz Kafka.

In die tweede nota, wat op ’n latere datum as die aangehaalde een hier bo geskryf is, verwerp Kafka nie al sy werk voor die voet nie. Hy sonder die behoud van ’n paar publikasies van sy korter prosas uit, byvoorbeeld “Metamorfose” (1915), alhoewel hy niks wil laat herdruk nie. Maar die res, sê hy, moet sonder enige uitsondering so gou moontlik verbrand word. Die manuskripte van die twee romans Die verhoor en Die kasteel het onder hierdie res geval.

As Breytenbach dus repudiërend vra: “vernietig asseblief alles” en “verbrand die skryfsels” en “verbrand die hele armsalige kaboedel”, en mens weet dat ’n foto van Kafka destyds in die digter se woonstel teen die muur gehang het, dan lyk die geldigheid van ’n konneksie in Breytenbach se skynbare laaste-wens-gedig met Kafka se notas aan sy vriend nie vergesog nie.

Of Breytenbach ’n diskrete draai loop om die lot van sy skilderye, weet ek nie. Hierdie werke word nie direk geïtemiseer soos sy skryfwerk nie. Voordat ek as leser sal meedoen om sy boedel te help beredder, laat ek my ook eerder lei deur Max Brod se voorbeeld om niks postuum te vernietig nie. Ek het ook nie verniet R174 vir Die beginsel van stof opgedok nie.

My bron vir Kafka se geprojekteerde houding teenoor sy eie werk is Max Brod se nawoord tot Kafka se Die verhoor (in Landmark Edition, Londen, se 1983-uitgawe van The Trial and Metamorphosis, ble 195-6). Die vertaling in Afrikaans van Kafka se nota is my eie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top