Links of regs (van die pad)

  • 7

Stap laat verlede jaar in St. Denis (Reunion) uit 'n kroegie uit en van die sypaadjie af amper voor 'n kar in.

Daar word vreeslik aan my beduie (snaaks hoe ek dit kon verstaan) om my f..... oë oop te maak. Ek weer op daardie oomblik skreeu terug op Afrikaans:  "Kyk waar ry die b.....se ou, is hy gesuip?", waarop my vrou my daarop wys dat ék fouteer en dat ek anderkant toe moet kyk! In die RSA as ons die straat wil oor, kyk ons eers regs, links en weer regs. Daar mos nie, jy kyk eers links, regs en weer links. Met ons aankoms later in Mauritius (eers Frans en toe Engels) is alles toe weer reg.

By die huis pleeg ek 'n Raed-a-google en vind uit dat dit nogal 'n heel interessante vraagstuk/onderwerp is. Met verdere rondblaai kom jy agter dat daar geen verskil aan voordeel of nadeel is aan watter kant van die pad 'n land se padreëls jou verplig om te bestuur nie. Die padverkeerbotsingstatistiek is dieselfde, maar www.citymetric.com is nogtans van mening dat die linkerkant beter en veiliger is omdat die mensdom regteroog-dominant is.

Die regterkant ryery is blykbaar meer polities geïnspireer as enige ander faktor. Die Engelse edelmanne het in die saal die swaard in die regterhand vasgehou en ook die perd aan die linker bestyg omdat sy swaard aan sy regterkant in die skede was. Voor die Napoleontiese oorloë was die hele Europa linksryers en omdat Napoleon linkshandig was het hy al die verowerde gebiede regs laat ry. Daarna het die een land na die ander gevolg en omgeswaai.

Noord Amerika (VSA) het in die laat 18de eeu om oa die Britse koloniale juk behoorlik af te skud, verander na regs. Nigerië, 'n Britse kolonie, het eers in 1972 om blykbaar dieselfde rede, na regs ry oorgeskakel. Dan is daar die interessantheid van Samoa wat in 2009 van regs na links oor geskakel het om die goedkoper Japanese (links ry) en Australiese voertuie in te voer.

Met die driftige anti-kolonialisme hier te lande -  is dit ook ons voorland? - regs ry.

Linksry-groetnis

Raed-na-Gael

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Jislaaik, laat my dink aan ou grappie. Die karre van SAPPE was destyds vol duike en rammelkaste, want hul wou nie op Nasionale Paaie ry nie ...

  • Of dit nou politieke oorkorrektheid is of nie, dis waar wat Raed-na-Gael sê. Die meeste mense is regteroog-dominant en daarom ry ons in RSA aan die veilige kant -
    links.

  • Hans Richardt

    Wat bestuur aan regterkant betref, selfs in Angola en Mosambiek. Doodgewoon is links bestuur in ou Britse kolonies.

  • Hans,
    Angola ry regs, maar Mosambiek (albei ex-Portugese kolonies en regs ryer) is links omdat almal van lg. se onmiddellike bure links ry.
    Ek verbeel my dat Namibië (ou SWA) oorspronklik regs gery het en later (post WO 1?) links forseer was.
    Polities is dit beslis.
    Onpolities korrekte groetnis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top