Pirow Bekker sê die limeriekgogga het hom gebyt, Julio Agrella kletsrym vir Ace, Fanie Viljoen het ’n limeriek vir elkeen van ons #politieklimeriek-beoordelaars – en ’n klomp ander limerieke, sommer vir die lekker.
Pirow Bekker
Eskom se herbedrading
ʼn Platinumdelila van Leeudoringstad
Sê Gordhan kan aan haar mane kom vat:
Sy weet hare, geiles en langes,
Onderhou ʼn arsenaal kragsentrales
En die lokke skiet vonke soos dié van ʼn kat.
Fanie Viljoen
Vir die #politieklimeriek-beoordelaars
Philip de Vos
Daar was ene Philip de Vos
By LitNet daar op Stellenbosch
Hy ‘like’ limerieke
Veral sonder brieke
Want self is sy tong mos maar los
Jonathan Jansen
Daar was ʼn prof genaamd Jansen
Wat kon sien daar is onderwys-waansin
Hy’t hard probeer
Om die klomp iets te leer
Maar steeds gaan ons aan met die onsin
Bibi Slippers
Daar was ʼn ‘girl’ genaamd Bibi
In die bed was ʼn boek haar alibi
Want toe iemand haar vra:
Wat maak jy dan daa’?
Sê sy: LEES! … dis NIE wat jy dink nie
Heindrich Wyngaard
Daar was ʼn man genaamd Wyngaard
Hy kon skryf, want hy’t immers ʼn skryfgraad
Hy’s toe moeg vir die skryf-net
En ‘join’ toe maar kykNET
En nou’s hy by Kom laat ons praat
Julio Agrella
ʼn Kletsrym vir Ace in 7 limerieke
Die Vrystaat het ʼn nuwe kletsrym
Klap jou vingers en slaan jou duim
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE skree ons sonder versuim
Swaai jou lyf en laat ruk jou kop
Ná die Vrystaat het hy ʼn groter job
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE vir die party is jy top
Wikkel daai heupe en swaai jou gat
Druk jou hande ver verby jou blad
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE hulle wil jou beklad
Rol jou skouers en ruk jou maag
Hy sal doen net wat hom behaag
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE het almal uitgedaag
Bewe jou lyf want dit word nou rof
Hoernaliste en skrywers onbeskof
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE sleep hulle na die hof
Stamp nou voete en klap hande saam
Lankal se gerugte word nou beaam
Dissie gangsta rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE jy behoort jou te skaam
Party noem hom Secretary wa’Tsotsi
Maar moenie te hard op hom kotsi
Dissie gangsta Rap
Dissie money trap
ACE, ACE, ACE, moet noggie met hom botsi
Pierre de Villiers
Zuma
Zuma nie dieselfde kaliber
As Nkrumah of Tina Turner
Nkandla maak bespotting
Van Amandla, wys verrotting
Van bra JZ, die Zulu spekskieter
Franz Dullaart
Madiba is ons groot indoena
ʼn Vryer en ʼn bobaas soena
Maar toeʼt hy gaan wei
In ʼn ander kontrei
Want daar is die Graça mos groena!
Koot Pieterse
ʼn Vogtige Batha Dlamini
het ʼn interessante opini:
ˮOns het elk ʼn kas
waar skelette in pas –
ons kon nie vervolging voorsini”
Met ywer het ene Agrizzi
Mokonyane ontbloot as ʼn kietsie
wat ietsie van alles
Vir gunste betaal is
Maar, sy sê sy issie ʼn bietsie
Sonja Brown
ʼn Grootmond genaamd Juli-us
Kry jy nie dood in ʼn Pri-us
Mercedes vir hom
Dis hoe hy aankom
Gelei deur ê-F-F-minibus
Die Guptas bly suid van die Eufraat
Na die geskenk-kaping van ons staat
Dikgevreet aan geld
Verdwyn die groot speld
En los ons met ʼn land intestaat!
Die een ouman genaamd Kgalema
Se woorde herhinner aan grênma
Hoes-hoes, kug-kug
A-hem, sug-sug
Hy sê boggerôl, so ék sê ma!
Plasticboer
ʾn Pan-Afrikaan affie Kaap
Het pigeons ge-poison op straat
Haar gif is goed
Haar ketting soek
Dié Pan-Afrikaan affie Kaap
Bevan Boggenpoel
roekeloos rooi
daai rooi roekelose bra, julius malema
daa's net grondonteiening op sy agenda
hy willie boere se landerye vat
met uie, blomkool en patat
waarom moet ander se eiendom hom so pla?
Daan Prinsloo
Pravin Gordhan
Apteker by name Gordhan
Help oral net waar hy ook kan
Hy werk hard by SARS
En kom buig of bars
Die stelers sal hy help verban
Louise van Eeden
Kragteloos
Die krag is weer af in die nag
Daarʼs werk in die huis wat nog wag
Trek nader ʼn kers
En skryf maar ʼn vers
Oor kragteloos voel teen die Mag
Susan Tiervlei
Zuma is kapoet!
hy kry nou al die ritteltit
soos sy vrouens hom uitput
hulle het ál sy balpies gefuse
hy is no-use!
but feels too legit to quit!
Evanthe Schurink
ken jy vir arme ou Eskoei
gup-gup uitgesuig en uitgeroei
maar moet geboorte gee
aan een kalfie plus twee
maar haar 3 kalfies mag nie groei
Dawie Swart
Voor in die wapad brand ʼn lig
Wie was so slim om dit te dig
Want hier sit ons nou
Met ons arms gevou
Steeds wagtend met f*kkol in sig
Staan jy in die regte skoene
Kwalifiseer jy vir Bosasa-miljoene
Maar gekke soos ek
Wat die rande moet rek
Kan vergeet van sulke visioene
Hoe later hoe kwater
Eers krag toe water
Wat moet ons doen
Om als te versoen
Of hou jy slegs jou snater

