Lima
Peru
probeer om te vergeet
waarsku die stad om lig te loop
want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie
gesig versluier agter vuillug garúa
probeer om te vergeet
die koue kind ruik Mercado del Indios
se alpakkatruie en musse van wol
laat die stad in vlamme opgaan
want ek wil haar nie so sien nie
die kind staan met hartseer speelballe
in 'n stad van waansin
waar sy stiptelik om spitstyd
al op die stippellyn wawiel
die munte traanblink in haar hand
steeds is haar voete duiwe
duiwe al op die stippellyne
kwetterend bo-oor die praatsang van priesters
swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei
singend teen niksseggende vaders met arendsneuse
en koppe van klei
en haar voete praat luider as die stemme van priesters
en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders
en haar voete dink verder as die koppe van vaders
fladderend in wawiele
is haar voete tweelingduiwe in vlug
asof die shajshas se bokhoewe ratel
en iemand 'n vyfsnaar-charango
tokkel teen haar vel
moet die geluid van remme nie onthou nie
en die kras gefluit van die wind deur die straat
probeer vergeet
probeer vergeet
dat Lima 'n dogtertjie was
Uit: woud van nege en negentig vlerke deur Carina Stander (Tafelberg, 2009)

