Lillie die heksie se towerkaskenades: Onderwysersindruk

  • 0

Titel: Lillie Die Heksie Se Towerkaskenades
Skrywer: Knister
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869198022

Koop Lillie Die Heksie Se Towerkaskenades by Kalahari.com.

Kinderboeke verg soms ander resensies as boeke wat vir volwassenes bedoel is. LitNet nader onderwysers, leerders en ouers om hul indrukke van 'n handvol kinderboeke te skryf. Vandag is Charlotte van der Merwe, Gr R-opvoeder, aan die beurt. Sy deel haar indrukke van haar klas se reaksie op die boek Lillie die heksie se towerkaskenades.

Die boek is in ongeveer twee weke vir ’n klas van 5–6-jariges voorgelees. Hulle het dit baie geniet en kon nie wag dat die einde van die skooldag aanbreek om die volgende episode die volgende dag (ek lees dit elke dag in die klas voor) te hoor nie. Die boek is op die kinders se vlak geskryf. Hulle kon identifiseer met die Lillie-karakter, want heelparty word ook gepla deur ’n lastige kleinboetie! Daar waar Lillie gedink het Ouma is besig om haar te toets om nie die deur vir ’n vreemdeling oop te maak nie, kon ’n paar lewenslessies sommer so ingeglip word sonder dat hulle dit eers agterkom ... En natuurlik dat alles so verkeerd loop, daarmee kan die meeste kinders hulle ook vereenselwig. 

Wat ek nie van die boekie gehou het nie, is die twee resepte agterin waarin kulkunsies verduidelik word. Alhoewel dit op die ou end blyk dat dit nie regtig towenary is nie, maar wel oëverblindery, is dit nie ’n goeie idee om kinders aan te moedig om met vuurhoutjies te eksperimenteer en te speel nie. Maar daar kon die juffrou darem die situasie red deur daarop te wys dat kinders dit nóóit mag doen sonder dat ’n ouer by is nie.     

Daar sal ook ouers wees wat dalk nie hul kinders aan towerkunsies wil blootstel nie. Dit is vir my egter op die vlak van Liewe Heksie en word hopelik slegs as fantasie opgeneem.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top