ligvoets lewe

  • 2

Foto: Canva.com

ligvoets lewe

ek sou so graag wou 
meer opreg leef in die hede 
die heerlike hier en nou 
met minder steur aan ou verbrou 
en spoke van die verlede 
as ek kon sou ek nou

ek sou so graag wou 
minder wroeg oor toekomsonsekerhede 
lastige bobbejane agter die bult hou 
nooit weer lugkastele op waaisand bou 
in stede intiem aanwesig wees in die hede 
as ek kon sou ek nou

ek sou so graag wou 
stadig oordeel en vinnig vergewe 
meer stil wees en aandagtig luister 
na medemens en natuur se soete fluister 
ligvoets wandel en gedagtig lewe 
as ek kon sou ek nou

die skepping is oneindig ruim en ryk 
om brokkie deel daarvan te wees 
vêr bokant subjektiewe denke se bereik 
tog bewustelik een daarmee vlees en gees 
as pelgrim lig belas wandelend voort 
knus in plek en tyd waar ek kortliks hoort 
klip en plant is ek mos 
en ek is mos plant en klip 
lewende sterstof in die malende kosmos

as ek kon sou ek nou 
hierdie uitkyk bly vashou 
ek sou so baie graag wou

  • 2

Kommentaar

  • Louis du Plessis

    Hoe verfrissend is dit Desmond dat jy jou behoefte – om vlugvoetig te lewe – so ritmies met ons deel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top