
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Vir ’n selfgepubliseerde bundel betower Ligspoor deur Juan Coetzer bo verwagting plek-plek met sterk kunsgrepe.
Ligspoor het my aandag getrek toe dit onlangs op Versindaba verskyn het as nuwe publikasie, tot my verbasing, want as ’n reël plaas Versindaba bundels uitgegee deur hoofstroomuitgewers. Dit is vanuit die beskouing dat so ’n publikasie noodwendig van hoër gehalte spreek.
Selfgepubliseerde bundels maak dikwels nie van eksterne insigte gebruik nie. In watter mate Ligspoor onder ’n alternatiewe stel (kenners-) oë beland het, weet ek nie, maar indien die publikasie slegs die digter se eie werk is, is ek mateloos beïndruk.
Coetzer se ligspoorsarsies – ’n ligspoor is ’n sigbare fosforkoeëlbaan wat ’n teiken aandui – tref in verskeie gedigte met sterk slotreëls. Die programgedig (bl 1) lui so:
Ligspoorsarsie
Kortstondig ril my magasyn.
Ou fosforkoeëls flits en donder
sonder mikpunt uit my karabyn.
’n Sarsie snoete poep kordiet.
Ek hoop die rooi snuffelspore
stuit daar ver teen iets solied.
’n Teiken gorrel nou sy weerklank
tot hier as bloedrooi opslagkoeëls
’n oomblik teen die rooidag rank.
Die digter moet egter let op die fyn semantiese balans. Die woord poep pas nie hier nie, so ook nie urineer op bladsy 7 nie. Die woorde ril en gorrel, alhoewel dit sterk sintuiglike ervarings skep, hel effens oor na melodrama.
Maar ek kan sê ek het die gedigte telkemale in my lyf gevóél. Mens sou kon sê ’n “somatisering” het plaasgevind (bl 7):
Somatiserings
Fotosintese
Sonlig omskep tot grasglukose
sal uiteindelik deur ’n weiende
perd se stram boudspiere sidder.
Rivierbrug
Bo sy droë rivierloop met klei
gekraak tot teëls van ’n legkaart,
hurk ’n brug en frons betongroewe.
In laasgenoemde tersine speel die herhalende r-klank saam om die droë grinterige gevoel van die rivierloop te gee. Nog ’n sterk sinestetiese vers is op bladsy 35:
Wakkerwonder
Vir Pieter Maré
In ’n ysige dam wil ek vannag
geen padda piksoen tot prinses:
ek weier ’n doodsbeswyming.
Steeds soek ek ’n paradys.
Naby my baljaar platannas
in die klotsende volmaan.
In al bogenoemde verse sien ons sterk vormbeheer. Dít ken Coetzer. Hy verstaan ook die kuns van metrum en rym en is in hierdie opsigte foutloos. Heelwat van die gedigte behoort dan tot ’n vaste versvorm, waarvan die halfsonnette op bladsy 31 tot 33 my gunstelinge is:
Viva
1. Dias
Deur die heuwelrige township patrolleer
ons onbekende deinings in ’n vegformasie.
Flonkerings van ’n straatlampkonstellasie
help ons snags óm korale rommel navigeer.
Ons vind die roete na sjebeens met bier.
Dorstig reis ek weer; soek die kelner
van Molotov’s Cocktail in my visier.
Hier sien ons Coetzer se sterk sin vir ironie in werking. Heelwat van die gedigte, soos bogenoemde, handel oor ervarings in die weermag en die deurgaanse gebruik van militêre metafore bind die bundel netjies saam.
Die digter dig nie net in vaste vorme en rym nie, maar dig ook óór die proses. Soorte rym – demprym, skimprym, en dies meer – fassineer die digter (bl 10–1). Ek het egter gesukkel om die verse wat daaroor handel, te ontrafel en was nie seker of alle terme, spesifiek goëlrym, korrek gebruik is nie. Waarskynlik is die duister, troebel aard van die verse te wyte aan woordoordaad: meersillabige woorde en vreemde samestellings soos poësiemutasies, tradisillusievers, klugdigsels, sillabeskille om ’n paar te noem. Sulke vreemde samestellings is ’n teken van ’n digter wat te hard probeer en nog aan die begin van sy skryfreis staan. Om lidwoorde weg te laat (“Gebore in ’n swart aurora om waterpas/te kyk in rampbestemde oë van ’n voetsoldaat” [bl 47]) is ook ’n teken daarvan.
Maar ek gaan nie die bundel vir die hersirkuleerders gee nie. Nee, hy kom op my boekrak tussen ander digbundels. Hier is genoeg sterk beeldende verse met slotreëls wat die asem wegslaan, verpak met uitstekende vormdissipline.
Ligspoor kan by die digter self bestel word by boeliemoer@gmail.com of by Groep7.


