
Foto: Canva
my onthou van jou, ma
begin vinnig vervaag
ek onthou grepe van ons gesprekke
oor jou liefde vir lees, filosofie en astronomie
jy het my vertel van verre sterrestelsels
ek onthou jy het die helderste sterre vir my uitgewys
soos Sirius, Canopus, Betelgeuse en die Suiderkruis
as ’n dromer (en denker) het jy geglo
met die dood begin ons volgende reis
jy het gesê ons is swerwers
wat net vir ’n wyle vertoef
elkeen in ’n tydelike omwenteling
om eendag weer te vertrek
na ’n volgende, veraf bestemming
maar ma, as jy kan
op jou reise van
komeet na planeet
staan eers ’n rukkie stil
jou lig is nie meer vir my so helder nie
jou stem verdwyn in golwe van gesuis
ma, deur my lens is jou beeld besig om te verflou:
daar is reeds drie-en-dertig ligjare
tussen my en jou

