Liggelowig

  • 1

Ek sit nou hier en wonder “mag ék ook ’n slag gatvol raak”?

Ek praat nie van moeg of geïrriteerd of gefrustreerd of selfs hardlywig nie, nee, die beste beskrywing is net daardie kort woordjie wat alles opsom – gatvol.

 Ek hou nie van hierdie gevoel nie. Dit is asof daar net te veel irritasies op een tydstip op ’n mens neersak. Soos ’n klomp vlooie, maar jy kan dit nie doodklap nie.

Hierdie gatvolheid is meegebring deur die een ding wat my kruitvat maklik kan brandsteek – “wanneer mense dink hulle is uitgeslape, maar inderwaarheid is hulle egter vet van onnoselheid!”

 Wanneer ’n stommerik my skakel; let wel: dis nie een van daai algemene SMS’e wat mens vertel dat jy die een of ander prys gewen het by ’n kompetisie waarvoor jy nie eens ingeskryf het nie, nee, in plek daarvan, is dit ’n “gewone Afrikaanssprekende jongman – Jacques de Wet” wat hierdie “Oom Hennie” skakel om hom geluk te wens want hý kwalifiseer vandag vir derduisende rande en ’n gratis Iphone!

 Ek het vir ’n oomblik of meer nog aan die oproep en oor die Britte se sêding gesit en wonder, “If it sounds too good to be true, it probably is …” toe die Maandagoggend ’n blink randjie kry ná die volgende SMS op die slimfoon se skerm pronk:

M18111252315258 [PIN####] R10 000. M18111286375412.[PIN####]. R10 000. CONGRATULATIONS ON YOUR REWARD FROM VODACOM PLAY AND SHAKE EVERYDAY MR HENNIE FRITZ. OUER (sic) CONSULTANT WILL CALL YOUR (sic) SHORTLY REGARDING YOUR PIN CODES. THANK YOU FOR USING SA'S LEADING NETWORK.

En nog een …

 CONGRATULATIONS ON YOUR REWARD FROM VODACOM [SA].YOUR REF NUMBER FOR YOUR IPHONE 7 IS [GTA762235452]AND YOUR SN NUMBER IS[1826643902217] THANK YOU FOR USING OUER VODACOM [SA] NETWORK. MR HENNIE FRITZ

 En toe nog een …

HENNIE FRITZ WHE (sic) HAVE VERY GOOD NEWS FOR YOU TODAY FROM VODACOM PLAY AND SHAKE EVERYDAY. YOUR NUMBER HAS BEEN GRANTED A DUBBLE (sic) BONANZA THAT MEANS YOUR REWARD IS A BIG TOTAL OF R40 000.YOU WILL RECIEVE (sic) YOUR OTHER VOUCHERS SHORTLY. WHE HOPE YOU STAY WITH SA'S LEADING NETWORK FOR ANOTHER 10 YEARS.=

 En daarna nóg ’n oproep:

“OMDAT DIT NIE ’N KOMPETISIE SE PRYS IS NIE, MAAR EERDER ’N ERKENNING VAN DANK VIR U BESONDERSE LOJALITEIT AAN VODACOM, MOET U SLEGS R500 VIA “CASHSEND” NA HIERDIE NOMMER STUUR +27 (60) 789-5212 … DIT SAL DIE “PIN” NOMMERS AKTIVEER EN U SAL DIE R40K ONTVANG!

Sommer so.

 Ek glo die Britte het nogal iets beetgehad met die gesegde “a fool and his money are easily parted …”

 Terwyl Jacques my probeer oortuig om die R500, wat nogal na Mandela se Kinderfonds sal gaan, te betaal, is ek op die ander lyn met Vodacom se regte mense doenig. Hoe meer hulle vrae vra en praat en aanlyn soek, hoe drastieser word die behoefte om deur die “lyn” te spring en die Jacques aan sy strot te gryp, om ...

 Dit is toe net hier, waar die intensiteit van die gatvol-gevoel verdiep het. Hier binne-in my vind daar ’n beheerste inploffing onwaarneembaar plaas … ek sien hoe die gelukkigheid van oomblikke tevore soos water op ’n warm pad verdamp … verdomp, ek het al begin dink wat ek met die geld gaan doen!

 Ek het nie gewen nie. Ek kan sien dat ek ook nie gou sál nie.

 Ek sal egter – dink ek toe in kalme betragting – eerder iemand moet waarsku wat dalk ook uit die bloute ’n goeienuus-oproep van +27 (71) 514-1281 ontvang, sodat hy of sy of hulle die gebelgdheid kan vermy en die liggelowigheid eerder hier en nou saam met my mag geniet.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ag nee gewoonlik stuur ek 'n sms terug met die volgende bewoording:
    'Thank you very much. Please post cheque to ....On receipt of same and honoured by bank.10% will be donated to your favourite charity.'

    Daarna pla hulle my nie meer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top