
Malgas (foto: www.westcoastlife.co.za)
Lighthouses are not just stone, brick, metal, and glass. There's a human story at every lighthouse; that's the story I want to tell.
― Elinor
Die blougrys eier het swart spikkels. Sy vou dit versigtig in haar hande toe. Dis yskoud.
Die malgaswyfie het ook nie teruggekom nie.
Sy onthou hoe die mannetjie dae lank sy gebied afgetree het. ʼn Hele ent weg van die duisende ander pronkende mannetjies se geskarrel vir ʼn broeiplek op die eiland.
Met haar rug teen die muur en haar knieë opgetrek, het sy sit en wag dat hy sy wyfie nes toe bring. Sy maat.
Sy het gelag vir hul hofmakery. Die uitstrek van die nekke, die danspassies en die hoflike buig.
Hulle het lank aan die nes gebou. Met moeite guano, vere en stukke skulpe aangedra.
ʼn Mooi paartjie.
Toe kom die mannetjie op ʼn dag nie terug nie. Die wyfie het nog ʼn paar dae gebly.
Die vrou maak ʼn gaatjie aan elke kant van die eier. Sy blaas. Daar is nie veel binne die eier nie. Dis byna leeg.
Die leë dop lyk mooi in die mandjie op die tafel langs die wieg.
Dit was winter toe hy haar die eerste keer eiland toe gebring het. Die houthuis naby die ligtoring was byna klaar gebou. Hulle het saam mooi skulpe, klippe en stukkies spoelhout aangedra en in die bak op die tafel gepak. Soms het hulle ver ente gaan stap. In die branders gespeel.
Hulle was opgewonde toe die lewe in haar begin groei. Hy het die wieg aanmekaar getimmer van vloerplanke uit sy ouers se vervalle huis aan die oostekant van die eiland. Dit sorgvuldig geskuur en geolie.
Na die derde miskraam het hy ʼn bed in sy kantoor in die lighuis ingedra.
Hulle het nooit weer gepraat nie. Hy het haar deel van die voorraad kos op die stoep gelos as hy land toe was. Hy het nooit gesê wanneer hy gaan nie. Sy het net aan die begin gevra of hy haar sal saamneem. Daarna het sy die stilte aanvaar.
Elke oggend vryf sy die eier versigtig af met ʼn doek. Op haar staptogte tel sy die malgasse se sagte geel keelvere op en pak dit om die eier in die mandjie. ʼn Knus nes.
Saans sit sy op die stoep en kyk na die ritmiese lig wat die ligtoring oor die eiland gooi. Die stuk land om die ligtoring en die houthuis is die donkerste. Die ligstrale skiet ver oor die eiland en die oop see.
Sy wonder soms wat maak hy so alleen in sy toring. Selfs bedags kom hy selde uit.
Saans sien sy die silhoeët in die venster: Die wagter van die toring. Die man wat skepe deur donker nagte en storms lei. ʼn Erfenis van sy pa en oupa. ʼn Trots wat hy aan sy seun wou oordra. So het hy haar dikwels vertel. Hy sou hulle seun alles van die lig en donkerte leer. Van die windrigtings en seestrome. Van stormnagte wanneer jou lig skepe deur duisternis navigeer.
Soms stap sy tot by die ou huis aan die oostekant. Sy verkyk haar aan die kliplabirint wat sy ma om die huis gepak het. Hy het vertel hoe hy en sy ma in die labirint gespeel het. Hoe sy gereeld die doolhof se paadjies verander het. Sy ma het altyd gelag as hy tussen die klippe verdwaal.
Sy het die klippe weer in rye begin pak. Die paadjies verander en selfs op donker nagte probeer om haar weg met ’n skuifelgang te vind. Soms het sy haar verbeel sy hoor in die stilte ʼn kind en sy ma lag.
Die nagte as die mis in ʼn digte kokon om die huis en eiland vou, is haar gunstelinge. Dan stap sy die mis in en voel die klamheid warm om haar lyf.
Maanlignagte stap sy ver ente langs die strand en op haar terugtog onthou sy toe sy spore nog langs hare oor die sand gekronkel het.
As die see spieëlglad die nag in strek, voel dit vir haar of die lighuis se strale haar diepsee in lok. Sy weet ver anderkant die horison is daar lewe.
Soms wonder sy of sy ooit die moed sal hê om buite die bereik van die lighuis se strale te beweeg. Die eiland was haar hawe weg van die onstuimigheid van haar ouerhuis.
Hy het ʼn goeie werk, het haar ma gesê. “Julle is so ʼn mooi paartjie.”
Sy het hom leer lief kry. Die lang stil man. Sy het hom weer laat lag soos sy ma hom kon laat lag, het hy vertel.
Hy het die swaai by die murasie gaan haal en langs die houthuis opgesit. Hy het haar vertel hoe sy ma hom so hoog kon swaai dat hy aan die wolke kon raak. Sy gaan dit ook doen, het sy belowe. Hulle kind gaan ook aan die wolke vat.
Sy pak die eier en sy verenes in ʼn groter bak. Elke dag soek sy nog meer sagte dons vir die nes. Sy klim elke dag die rots uit. Bo voel dit of die oseaan haar omring.
Kruisbeen maak sy haar oë toe en luister hoe die wind en branders gesels. Die blougroenwater plof skuimend teen die rotse en die ysige spatsels laat haar rok aan haar lyf klou.
Sy sien hom skielik in die verte oor die strand aangestap kom. Van die oostekant af. Sy maer lyf beur teen die wind. Hy stap na die houthuis. Dit is die eerste keer vandat hy uitgestap het wat hy weer die deur oopmaak.
Sy sit lank en wag voor hy weer uitkom. Hy gaan staan op die stoep en kyk in die rigting van die rots. Hy weet sy is daar. Dan stap hy lighuis toe.
Sy gaan nie dadelik terug huis toe nie. Sy wag vir die skemerte. Vir die ritmiese strale van die lig-huis wat oor die eiland flits.
Langs die wieg lê die stukke van die gespikkelde eier. Die wind waai die geel donse deur die huis.
Sy streel met haar vingers oor die gladde hout van die wieg. Vee met haar hande die stukkies eierdop bymekaar. Sy stap tot by die leë nes. Pak die stukkies dop tussen die verweerde splinters been en versteende guano.
Malgasse kies ʼn maat en vir ʼn paar seisoene, maar die paartjie het nooit weer teruggekom nie. Hulle wat so koddig kon hofmaak en dans.
Die mis waai ʼn sagte wolk oor die eiland. Dis vanaand moeiliker om teen die rots op te klim. Sy voel moeg.
Die strale van die ligtoring is net ʼn dowwe flits deur die mis. Sy strek haar hande op na die sagtheid van die miswolke. Sy voel dit aan haar vingerpunte.
Ver hoor sy die geswiep van die swaai. ʼn Kind lag.
Op die horison sien sy hoe die maan deur die mis breek.
Haar tenger lyf boog deur die lig. Die water is ysig, maar sy voel ʼn warm gloed deur haar trek. Voor haar is die maan. Sy weet sy moet nie land toe swem nie. Daar ver. Daar anderkant die maan. Daar is daar lewe.

