Lig wankelend deur Gerard Scholtz: ’n FMR-resensie

  • 0

Lig wankelend – die wese van die liefde en lewe van Utte Reuter
Gerard Scholtz

Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
ISBN: 9781928314172

In hierdie roman vertel Gerard Scholtz die verhaal van “die wese van die liefde en lewe van Utte Reuter”, aldus die subtitel. Uit die erkennings aan die einde van die teks blyk dit dat Utte Reuter ’n skuilnaam is en dat Scholtz die verhaal deels saamgestel het uit hierdie vrou se dagboeke, briewe, foto's en bandopnames. Die oorspronklike weergawe van Scholtz se teks verskyn in 2010, en hierdie hersiene weergawe in 2016 by Rapid Access Publishers, wat ’n druknaam is van SUN Media.

Utte se verhaal word aan die einde van haar lewe in die eerste persoon vertel vanuit haar kamer in ’n tehuis waarin sy opgeneem is vir Alzheimers.

Kort na die Tweede Wêreldoorlog, op 24 November 1949, kom sy uit Duitsland in Suid-Afrika aan om in die eg verbind te word met ene Christiaan Hofmeyr. By haar het sy ’n digbundel van Rilke en twee pakkies briewe. Die huwelik met Christiaan verteenwoordig ’n keerpunt in Utte se lewe, nie net omdat sy Duitsland en die oorblywende lede van haar familie daar agterlaat nie, maar ook omdat dit die einde beteken van haar soektog na haar geliefde Felix,  ’n dokter wat sy hartstogtelik lief gekry het tydens die oorlog terwyl sy as verpleegster op die slagveld gewerk het. Weens die soort omstandighede wat deur oorlog teweeg gebring word, is Utte sonder waarskuwing wreed van Felix geskei. Jare later ontdek sy dat haar eie vader ’n aandeel gehad het in die feit dat sy ná die oorlog nooit weer van Felix gehoor het nie. Uit die vertelling kom ’n mens weer duidelik onder die indruk van die verwoesting wat die oorlog gesaai het in die lewens van almal wat daarby betrokke was.

Die grootste gedeelte van die verhaal handel oor die verhouding met Felix en die ontsaglike impak wat dit op Utte se lewe na die oorlog gehad het. Dit is ’n tragiese verhaal van verydeling, afstanddoening, vervreemding, verlies en hartseer. Die huwelik met Christiaan is nie gelukkig nie – die egpaar skei en trou herhaaldelik. Twee seuns word uit die verbintenis gebore en hoewel die kinders dinge by tye makliker maak vir Utte (veral vanuit ’n emosionele oogpunt), maak hulle dit in ander opsigte ook moeiliker – Cornelius, die jongste, word op ses maande met spinale polio gediagnoseer, moet spesiale versorging ontvang en bring die res van sy lewe in ’n rolstoel deur.

Een van die hoofredes waarom Utte se lewe in Suid-Afrika met droefheid gevul bly, het te doen met die feit dat sy vir die grootste gedeelte van haar lewe nie werklik kan afstand doen van haar emosionele belegging in Felix nie. In hierdie opsig is Utte ’n melankoliese figuur. In sy vroeë werk het Sigmund Freud melankolie van rou onderskei deur daarop te wys dat dit vir die ego in melankolie onmoontlik is om die gehegtheid aan die verlore liefde te laat vaar, omdat die verlore liefde as ’n integrale deel van die Ek beskou word. Volgens Freud is dit vir ’n ego wat deur melankolie oorheers word, onmoontlik om blywende, vervullende nuwe verhoudinge te vorm, omdat dit vasgevang is in die hunkering na die verlore (ge)liefde. Soos Freud dit stel: met rou is dit die wêreld wat verarmd en leeg geword het, met melankolie is dit die ego self wat hierdie vermindering ondergaan. Freud het later sy denke oor rou gewysig en aangevoer dat die ego as sodanig deur melankolie gevorm word, dat melankolie ’n eindelose proses daarstel. In die geval van Utte is die punt egter juis dat sy deur melankolie oorheers word. Sy keer dan ook op ’n stadium terug na Europa, waar sy weer na Felix begin soek. Ook hierdie soektog verloop tragies. Tog bied hierdie laaste soektog ’n vorm van sluiting en mens sou kon argumenteer dat Utte ’n mate van balans tussen melankolie en rou bereik nadat sy uiteindelik op Felix se graf afkom.

Scholtz slaag daarin om die desperate toestand van die wankelende gees simpatiek en met gevoel te verwoord. Sy skryfstyl is vlot, sekuur en ryk. Veral die gedeeltes waarin Utte se fyn ingesteldheid vir die natuur verwoord word, bly my by.

Tog is daar aspekte van die teks wat as fasiel aandoen; veral die dele wat in digterlike vorm verwoord word, werk eenvoudig nie. ’n Interessante tegniek is egter die plasing binne die teks van kort opsommings van gebeure, plekke, name of toestande waarmee die gewone leser moontlik nie vertroud sal wees nie. Aan die een kant verhoog hierdie tegniek die toeganklikheid en leesbaarheid van die teks, omdat dit naslaanwerk verminder, maar aan die ander kant kry mens soms die gevoel dat Scholtz sy lesers onderskat. Nietemin help veral die beskrywing van sleutelgebeure van die Tweede Wêreldoorlog om ’n vollediger prentjie te konstateer.

Wat ander struktuurelemente aanbetref, kan die episodiese, gefragmenteerde vertelstyl mens soms verwar, maar aan die ander kant moet mens in gedagte hou dat dit gepas is gegewe die verteller se verwarde geestelike toestand. In hierdie opsig skemer die invloed van Marlene van Niekerk se magistrale Agaat op Scholtz se teks duidelik deur. Die strukturele afwisseling tussen liniêre narratief en verwarde, gebroke bewussynstroom is ongelukkig in Scholtz se teks minder geslaagd. Teen die einde begin mens die gevoel kry dat ’n goeie redaksionele hand die geneigdheid tot uitgebreide uiteensetting – en plek-plek selfs onnodige herhaling – sou kon getemper het.

Kort voor die geboorte van haar oudste, Walter, begin Utte tydens slapelose nagte met die ongebore kind gesels. Ek haal aan: “[M]y kind, my liefste kind, my grootste wens is dat jy nooit in ’n oorlog mag kom nie, dat jy nooit die wandade van mense teenoor mekaar mag aanskou nie, dat jou voete op paaie sal loop wat my nooit beskore was nie, mag die lewe met al sy seisoene vir jou goed wees, my kind.” Uiteindelik is oorlog die oorspronklike trauma, verantwoordelik vir al die ander traumas van Utte se lewe. Lig wankelend is ’n aangrypende herinnering daaraan dat ons grootste wens vir ons kinders, en dus vir die toekoms, moet wees dat hulle nooit die vernietigende gevolge van ’n oorlog in die gesig hoef te staar nie. In ons eie konteks kan ons maar net dink aan die vernietiging wat die oorlog teen apartheid in die hand gewerk het. En as ons vir ’n vredevolle toekoms wens, is ons ook daarvoor verantwoordelik om daadwerklik op te tree deur alles in ons vermoë te doen om die moontlikheid van oorlog, die oorsake van oorloë, af te weer en teen te staan. Soos die verhaal van Utte Reuter wys, kan die traumatiese, blywende en tragiese impak van oorlog op ons persoonlike lewens nooit onderskat word nie.

Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 20 September 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top