Liewe (9.0)

  • 1

Foto: Canva

LIEWE (9.0)

ek moes jou ontmoet om te leer wat ek is: net arms
wat wolke probeer opraap om te bottel, net armleegtes

lug. ek moes probeer vasvang om te weet dat mens niks
kan vashou nie. ek moes hopeloos hark. al wat ek kon bottel
was beet, al wat ek kon beetkry was baie nulle. leë skottels
staan die wêreld vol, elkeen ’n les. ek moes woeker, fluks

werk maak van najaag en jag. ek wou jou opgaar en teen my
vasdruk, ek wou my elke leegte met jou vul maar ek moes voel
hoe jy vermis raak en moes die wegraak leer aanvaar. loswoel
was jou groot talent en jou geskenk aan my. weggaan, nooit bly

nie, was jou bydrae tot my groei. waar jy ook al waai, cumulus,
waar jy ook al oplos en weer vorm vat, wéét: ek het jou steeds
lief en sal jou ewig liefhê soos net leë arms kan, al is jy altyd reeds
afwesig. ek het geleer om losweg te vou om als wat soek is.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top